Jun 6, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

As ek vir Sarel Venter, oud-adjunk-redakteur van Die Volksblad, by sy 80ste Woensdag (9 Junie) ‘n rapport moet gee vir vakke soos Ordentlikheid, Onkreukbaarheid, Beginselvastheid, Voorbeeldigheid, Christelike waardes, Koers hou en Gesonde insigte slaag my rotsvaste kollega summa cum laude.
Sarel was ‘n soliede steunpilaar in my eerste hoofredaksie in die 80’s – een van die Aärons en Hurs wat ‘n jong, idealistiese redakteur se arms in uitdagende tye omhoog help hou het. Ek eer hom vir sy onskatbare bydrae tot ons soms wroegende besinning en met sy gevleuelde “pen” in hoofartikels en rubrieke in ‘n moeilike en veelbewoë dekade wat ons saamgestap het.
Ons koerant se politieke standpunte het ons in die hoofredakie gedurig aan die geregtigheidsbeginsel getoets. Ons het geglo om geregtigheid te laat geskied, is ‘n Bybelse opdrag. ‘n Ware staatmaker in hierdie eerlike strewe tot geregtigheid was Sarel, wat soos so baie ander joernaliste, eers predikant wou word. Hy is ‘n Gereformeerde wat aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO gestudeer het.
Weens sy fyn aanvoeling en ewewigtigheid het ek hom ingespan om ons meeste hoofartikels oor kerksake te skryf. Ek kon telkens aan Sarel gaan oordra met watter waardering sy bydraes ontvang is in kerklike kringe wat vir ons saak gemaak het. Ene oor ‘n regse predikante-aksie uit Silverton (die sogenaamde Silverton-193) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse NG Sendingkerk in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge”.
‘n Hegte vriendskapsband bestaan tot vandag, en ook op persoonlike vlak is ek aan Sarel hope dank verskuldig vir bankvaste lojaliteit en ondersteuning. ‘n Mens hoef maar net op Google die name van Hennie van Deventer en Sarel Venter saam in te tik om te sien wat ek bedoel. In welwillende resensies en ander geskrifte het hy oor jare telkens my hart warm laat klop.
Oor een ding is ek spyt: dat ek en Tokkie nooit die voorreg gehad het om saam met Sarel en Liesbeth ‘n bootvaart te onderneem nie. So ‘n kundige entoesias soos Sarel kry jy nie elke dag nie. My en Tokkie se vaart op die Queen Mary II na Sydney het hy byvoorbeeld op sy rekenaar seemyl vir seemyl saam meegemaak. Sy intense meelewing op hierdie salige ontdekkingstog was ‘n belewenis. Ek is seker ons sou genotvolle ure saam ter see kon deurbring as omstandighede daarna
was.
Die Venters het onlangs hul gewilde gastehuis, “Kom weer” in Fichardtpark, Bloemfontein, se hortjies gegrendel en na ‘n kleiner oord in Universitas verhuis. Mag hulle daar ‘n ryke nuwe skof beleef, mag die vreugdes by hul voordeur opstapel en mag nog talryke heerlike nuwe herinneringe vir hulle geskep word.
(Die saamgestelde foto wys Sarel op sy 70ste verjaardag, regs onder, saam met my en Herman le Roux in my kantoor by Die Volksblad, ontspanne saam met sy medelede van die hoofredaksie in die 80’s, en by ‘n Volksblad-saamtrek in 2016 in Sabiepark en Balule. )
Jun 5, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Elkeen uit die Jamie Uys-era het ‘n gunstelingtoneeltjie uit ‘n Jamie-rolprent wat hom die lekkerste laat lag het. Vir party is dit iets uit sy eerste, Daar doer in die Bosveld; vir party uit sy laaste en grootste sukses, ook internasionaal, The gods must be crazy.
Wat het die veteraan-rolprentmaker – wat einde Mei 100 jaar oud sou geword het – se eie lagspiere die meeste geprikkel? Die vraag het ek hom in ‘n onderhoud vir my “Onder vier oë”-rubriek in Beeld gestel. Dit het hom geen oomblik laat twyfel nie. Dit was in Funny people: die toneel van ‘n man se gespartel om ‘n klomp glibberige ballonne te verpak. Die papier was te klein en die tou te kort. Maar onderkry was min. Met toewyding en konsentrasie het hy deurgedruk totdat die spulletjie netjies toegewikkel was.
Net toe verskyn Jamie se skoonseun met ‘n stempel. So ver soos hy stempel, hoor jy net ballonne bars. Die pakker het hierdie onverwagte verwikkeling onbegrypend betrag. Maar toe ‘n balhorige ballon uit die pakkie peul, was hy rats by om dit op te raap en terug te dwing – net om ook aan flarde gestempel te word.
In sy versteekte kas het Jamie so gelag dat die kamera geruk het. Die pakker het nooit ‘n woord gesê nie, maar net die manier waarop sy oë dan op, dan af geflits het, het sy eie storie vertel.
Jamie, ‘n oud-onderwyser, was drie jaar lank boer. In 1950 kry hy die bevlieging om ‘n rolprent te maak: Daar doer in die Bosveld. Hy het gedink dit sal sommer kinderspeletjies wees – binne twee weke is alles kant en klaar. Maar toe duur dit twee jaar. Hy het alles wat hy besit, daarin gestort. “Toe moes ek maar aangaan.”
The gods must be crazy het die miljoene laat inrol. Beautiful people het ook sy merk gemaak. Maar, snaaks genoeg, het Funny people wat eintlik net gemaak was vir die plaaslike mark, in sommige lande nog beter as Beautiful people geloop. Jamie was verras. Hy het nie gedink dit sal in die buiteland slaag nie omdat buitelanders candid camera al lank op televisie het.
Sy lekkerste rol was in Lord Oom Piet. Miskien was dit veral omdat hy ‘n baard gedra het; so het hy ‘n lang grimeringsproses elke oggend vrygespring. ‘n Ander lekker rol was dié van die Rus in All the way to Paris, die internasionale variasie van die gewilde Hans en die Rooinek.
‘n Suid-Afrikaanse Rus, George Korelin, moes hand bysit om Jamie die regte aksent te leer. Dit was darem nie te moeilik nie. “’n Boer se aksent en ‘n Rus se aksent wanneer hulle Engels praat, verskil nie so baie nie.”
Sou hy ‘n Suid-Afrikaanse prent van iemand anders graag gemaak het? Ja, Emil Nofal se Wild season met Gert van den Bergh. Dit was ‘n lekker prent, die hele stemming, die hele aanslag.
Sy swakste prent was Geld Soos Bossies, volgens Jamie. Hy het pas sy eie maatskappy gestig en geld was skaars. Daarom was dit so ‘n “haastige prentjie”. Die eerste twintig minute was baie bevredigend, maar daarna “kon jy sien dit is afgerammel”.
Jamie Uys is op 29/1/1996 oorlede.