Jun 30, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Klompie gryse Kollegemanne oefen die stembande in die bos. Van links is Piet Henning, Manie Steyn, Vos Grey, die uwe, Pierre le Roux en Cas Jacobs.
Wyle Piet Henning van Makhado/Louis Trichardt het ‘n indrukwekkende repertorium oneerbiedige rugby songs van St. John’s College in Johannesburg saamgebring na Tukkies se Kollegethuis toe waar ons in 1958 saam eerstejaars was. ‘n Lewenslange vriendskap is daar aangeknoop.
Van Piet se songs weerklink soms by my bosplek Tarlehoet as ‘n klompie Kollegemanne soos vanouds saamkuier. Net, nousedae gaan dit darem heelwat stigteliker! Omdat baie van die woorde in die vergetelheid geraak het, klink dit meermale soos ‘n minder harmonieuse neuriekoor.
.Van die een van die liedjies het ek vanoggend op Facebook vertel n.a.v. Horatio Nelson se stoflike(?) oorskot wat in ‘n vaatjie gevul met brandewyn op ‘n lang skeepsreis bewaar is: And when I die, and when I die, don’t bury me at all, don’t bury me at all, just pickle my bones, just pickle my bones, in alcohol, in alcohol. (Kyk In ‘n vaatjie brandewyn)
‘n Gewilde Piet-lied, The Ball at Kerriemuir, lui so: Four and twenty virgins came down from Inverness, and when the ball was over, there were four and twenty less… Oor daardie deel struikel die “kampvuursangers” soms.
My ervaring is egter dat hulle die akrobatiese doen en late van ene Mrs McGinty in dieselfde lied uitstekend onthou: Mrs McGinty, she was there; she kept us all in fits, by jumping off the mantle piece and bouncing off her t**s.
Nog ‘n lied met ‘n sterk vroulike dimensie handel oor die meisies van Rodean High, St. John’s se buurskool in Houghton, Johannesburg: We are the girls from Rodean High, we take pride in our virginity, we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.
Ons sing ook graag nog Way down in Arizona where the doggies shovel coal, a doggie shovels shovels up another doggie’s hole. ‘n Tweede strofe kan selfs (baie) verlangs op ‘n “bostema” aanspraak maak: Way down in Arizona where the birdies pick up grass, a birdie picks a feather from another birdie’s a**e.
Voëls maak ook hul buiging in die “koor” van die ietwat weemoedige Quarter Master Stores: My eyes are dim, I cannot see, I haven’t brought my specs with me… …And now ladies and gentlemen, we come to the kee-kee bird … the ostrich … the ooh ah bird… Dan word o.m. uitgewei met watter moeite elke soort haar eiers lê.
Laasgenoemde uiter na die verskriklike inspanning van die eierproduksie net “oee-aaa!”
Piet, my vriend, hoe mis ek jou nie as ek jou liedjies so in herinnering roep nie.
Jun 28, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In die 90’s is die beeld van Petrus Stephanus (Fanie) de Villiers deur die media so blink gepoets soos die Kookaburras of Dukes waarmee hy sy blitsballe afgestuur en kolwers geterroriseer het.
Veral vir Afrikaanse media was hy ‘n goue seun: die krulkop Afrikaner wat skielik in ‘n “spel vir Engelse” sy stempel met mening afdruk. Vinnige Fanie is hy gedoop. In hoeveel hoofopskrifte die naam Vinnige Fanie in daardie dekade op sportblaaie geskitter het, sou ‘n interessante stukkie navorsing kon wees.
Soos Vinnige Fanie se reputasie as die suinigste blitsbouler in toetskrieket en as hardnekkige stertkantkolwer deur hom op die veld uitgekerf is, het krieketjoernaliste dit in kolomme en kolomme in hul koerante help doen. Die gesindheid tussen speler en sportskrywers was hartlik. Hulle het mekaar se geselskap opgesoek. ‘n Band van wedersyde vertroue was die kenmerk van ‘n konstruktiewe verhouding.
Toe, heel aan die einde van sy skitterloopbaan, skryf die Sunday Times se Colin Bryden, ‘n berig wat nie lekker in Vinnige Fanie se klere gaan sit nie. HY voel dat hy te na gekom is deur ‘n rasse-insident op sy brood te smeer waaraan hy onskuldig is. Wat eintlik gebeur het, is dat ‘n toeskouer vir kolwerprins Jacques Kallis iets lelik toegesnou het.
Daardie berig wat hom so ongelukkig gemaak het, is telkens daarna deur hom opgerakel. Nou weer in ‘n TV-gesprek met Kwêla se Hannes van Wyk in De Villiers se asemrowende herehuis wat hy uit sy krieketverdienste kon laat bou as ‘n monument vir sy gedenkwaardige loopbaan.
Van Wyk en De Villiers gesels lekker oor laasgenoemde se krieketprestasies. De Villiers vertel (weer) die storie hoe hy Alan Donald en André Nel uit hul begeerlike hotelkamer in Pakistan probeer verdryf het deur ‘n vis in die lugversorger weg te steek. Die reuk was liederlik. Die twee het later op die stoep gaan slaap. Maar hul kamer prysgee? Aikona.
Alles gesellig en gemoedelik. Dan buk De Villiers vorentoe . Hy kry ‘n verbete trek op sy gesig. Afgemete begin hy vertel van Bryden se berig. Toe sommer ‘n veeghou na alle koerante: Die berig wys presies presies hoe boos hulle kan wees.
Ek het gister na die heruitsending van Kwêla gekyk omdat ek in die ander gesprek met Gysie Pienaar graag ‘n foto wou sien wat aan die begin op die skerm flits. Dit is van Pienaar as onder-15-kannetjie by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein. Sy afrigter, netjies ge-pak en ge-das is niemand anders nie as my oorlede swaer, die wellewende Fanie van Wyk.
Nietemin, ek geniet toe ook die De Villiers-gesprek: tot op daardie ongelukkge moment. Dit steek my dwars in die krop. Kan ‘n mens werklk die hope lof wat jou oor tien jaar beskore was, so goedsmoeds vergeet en net aan een dwarsklap bly vasklou asof dit ‘n dekadelange verhouding met die pers identifiseer?
‘n Lewe by koerante het my sinies gemaak vir mooiweersvriende wat die ene glimlagte en skouerkloppe is waneer berigte in hul kraam val en tot hul voordeel is maar vinnig-vinnig hul rug op ou bondgenote keer as die wind ‘n slag teen hulle waai. Ongelukkig is dit ‘n gewoonte van meer bekendes as Petrus Stephanus (Fanie) de Villiers om koerante so te beoordeel: nie op grond van die positiewe 99.% tot hul voordeel nie maar op grond van die 1% negatiewe tot hul nadeel. Sulke windskewe reaksies strek die betrokkenes nie tot eer nie en vertel gewoonlik meer van hulle as van die koerante wat onverdiend in die algemeen so met ‘n teerkwas bygekom word.
Iemand kan gerus hierdie stukkie vir Vinnige Fanie stuur. Ek hoop dat hy so vinnig soos hy veroordeel het, sal besef hoe onredelik en onbillik so ‘n veralgemening was. ‘n Mens verwag dat hy ewe vinnig verskoning sal aanbied daardie onskuldige krieketskrywers wat saam met hom die loopbaan help bou het wat aan soveel derduisende krieketliefhebbers soveel plesier verskaf het, en waarvan hy die vrugte nou pluk.
Jun 20, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In ‘n onthutsende hoofstuk in sy e-boek, Kannie is (lankal) dood, lig kollega Piet Theron, veteraan-joernalis van die Vrystaat, die sluier oor hoe sy seun, Pieta, ná breinskade weens ‘n onverskillige operasie deur gewetenloses uitgebuit is. Watter skok vir sy ouers toe hulle uit die mond van ‘n prostituut moet verneem dat ‘n “belegging in ‘n meubelfabriek” weens ‘n gekonkel in ‘n bordeel gestort is.
In ‘n skrynende hoofstuk met die veelseggende titel Hiënas om ‘n gekweste bok ontmasker Piet ‘n hele reeks mooiweersvriende en opportuniste se verbysterende wandade jeens die goed vertrouende Pieta. Erge professionele argeloosheid en agtelosigheid kom aan die lig.
Kannie is (lankal) dood is Piet se memoires van ‘n veelbewoë lewe. Veral drie hoofelemente kom sterk na vore: die beproewende tog met Pieta, ‘n harde plaaslewe in die Wes-Vrystaat wat die Theron-familie gestaal het – onder meer in ‘n nare potjie met builespes – en sy kleurryke loopbaan as Volksblad-joernalis met top-stories op sy kerfstok.
‘n Hoofstuk Ongeluksvoëls, vertel van ‘n rits ongelukke, teenspoede en terugslae wat oorkom moes word. Die ergste dal waardeur hulle is, was ongetwyfeld die ontsettende lyding van Pieta nadat n doodgewone blindedermoperasie weens mediese onbeholpenheid skeefgeloop het. Pieta het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Tot veertien keer op ‘n dag het die stuiptrekkings hom platgetrek.
Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer ook sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Hy kon nie meer motor bestuur of in enige opsig die normale lewe van n man van sy jare lei nie. Pieta, die vader van twee, was skielik weer Piet en Petro se “groot baba” totdat hy op 38 oorlede is.
Die skuldige dokters moes ruim skadevergoeding betaal. Niks kon Pieta en sy ouers, Piet en Petro, egter vergoed vir die dekade van hel wat daarna vir hulle aangebreek het nie. Om die verhaal met al sy kronkelweë te volg, kan nie anders as om die leser ‘n beklemming om die hart te gee maar ook met groot deernis en bewondering te vervul nie.
Piet se loopbaan by Die Volksblad het half terloops begin. Hy – die amper onwaarskynlike joernalis – het tot topposte gevorder en as assistent-redakteur afgetree. Hy sonder as hoogtepunte uit: die Duiwelspiekramp tydens die Republiekfees in Mei 1971, die ineenstorting van die woonstelgebou Tempest in Welkom in 1976, die terreuraanval op Sasol in 1980 en die sogenaamde Brugberaad op die Zambezi in 1975.
Piet was daar, op die toneel of intens betrokke in die hitte van die stryd. Sy boeiende vertellings sal die drukkersink in die are van elke joernalis of oud-joernalis opnuut laat tintel.

HvD en Piet Theron, studentemaats, woonstelmaats en kollegas, op Melkbos se stoep.
In Kannie is (lankal) dood is ook verskeie juweeltjies en kamees, soos oor die ongewone blitsromanse met die spogatleet Petro du Plessis wat sy vrou geword het. Plek-plek in die boek lyk Piet soos ‘n bakleier; hy was klaarblyklik ook ‘n bobaas-vryer!
Bestel die e-boek by De Novo Boeke by die volgende skakel:
http://www.denovowebs.co.za/product/kannie-is-lankal-dood/ Dit kos R80.
Jun 19, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vladimir Ttretchikoff, sogenaamde “Koning van kitsch”, was as kunstenaar geliefd by die publiek en ongereken by kunsresensente. Ek onthou hom ook as die koning van die byvoeglike naamwoord. Hy kon die adjektiewe inryg soos aan ‘n sosatiestokkie.
As iets nie “fantasties” of “geweldig” was nie, was dit “vreeslik”. “Fantasties” het ek tydens ‘n onderhoud vir my rubriek “Onder Vier Oë in Beeld in die jare 70 ‘n stuk of ‘n dosyn kere getel; toe word ek moeg van boekhou.
Hy was ook lief om met ‘n dubbelloop te skiet. Hou Afrikaanssprekendes besonder van sy werk, sou jy hom byvoorbeeld vra. “Geweldig,” sou Tretchi antwoord. “Dis fantasties, fantasties!”
Ek het hom oor sy gevoel jeens kunskritici gepols. Tretchi het sy arms teatraal in die lug gegooi. Toe sak hy terug in sy stoel en gryp sy kop vas. “Kunskritici? Wie de duiwel is die kunskritici? Krap aan die oppervlak en wat kry jy? ‘n Verydelde kunstenaar!”
Dit was so ongeveer sy geloofsbelydenis. Kritici het hom afgekraak as ‘n prul-kunstenaar, ‘n goeie verkoopman wat die massas met goedkoop sentimentaliteit verlei. Maar hy het geglo: “Dit is nie my kuns wat hulle kritiseer nie, dit is my sukses.”
Met ‘n meewarige laggie. “Jy weet, toe ek nog gesukkel het, was die kritici tevrede met my werk. Toe ek begin geld maak, toe’s dit skielik nikswerd.”
Nie dat dit eintlik saak gemaak het nie, as jy Tretchi kon glo. “Dit maak my nie seer nie en dit maak nie my sukses seer nie.” Die Chinese meisie – bekend as die Mona Lisa van kitsch – is “beroemder as Tretchikoff,” het hy gemaak verontwaardig bygevoeg. Dan het sy oë geskitter van trots.
Buiten die Chinese meisie was immergroen gunstelinge onder meer die Verlore orgidee, die Sterwende swaan, die Wenende roos, onthou u? Hulle is almal lank na sy dood nog springlewendig. Trouens, sedert die millenium begin die pryse eers klim! In Amerika, Kanada, Brittanje, Australië, die Verre Ooste … selfs Ciprus – die mense hou net nie op om te koop nie.
Die Chinese meisie dateer uit 1952 en het een van die bekendste kunsreproduksies van die twintigste eeu geword.[ Die skildery vertoon ‘n Chinese meisie met ‘n ongewone blougroen veltoon, wat die skildery die bynaam The Green Lady gegee het. Die oorspronklike is op 20 Maart 2013 by Bonhams-veilinghuis in Londen vir byna $3.5 miljoen (Amerikaanse dollar, nie rand nie) verkoop. Dit is deur die Britse juwelier Laurence Graff opgeraap.
Selfs in Suid-Afrika het versamelaars groot geld vir Tretchi-werke uitgehaal. Op 27 Mei 2008 het sy Vrugte van Bali op ‘n veiling in Kaapstad ‘n (destydse) rekordprys (vir hom) van R3,74 miljoen behaal. Tretchi het daarmee o.m. stof in Irma Stern se oë geskop. Haar Kaapstad se hawe (vooraf die groot trekpleister) is vir (net!) R2,2 miljoen van die hand gesit.
Vyf ander werke van Tretchi het saam R1,452 miljoen opgelewer. Beleggers in kunswerk was geskok en die afslaer het die prys vir Vrugte van Bali as “ongelooflik” bestempel.
Buiten die kritici was daar nog iets wat Tretchi gekwel het: die persepsie dat hy – hy was toe “iets in die sestig” – jong meisietjies ateljee toe jaag en hulle so vinnig moontlik uit hul klere kry om hulle te skilder. “Soos ‘n seksmaniak,” het Tretchi gekla.
Die waarheid, volgens hom, was dat hy in 20, 25 jaar net vier halfnaakte meisies geskilder het. Die boodskap van een van daardie skilderye is: “Jy mag nie egbreek nie.” Die meisie – ‘n Afrikaanse nooi, Brenda, met ‘n “pragtige figuur” – wek die indruk dat sy aan die verbode vrug lê en dink, of dit dalk pas klaar gepluk het, aldus Tretchi.
Soos die man geskilder het, het hy gepraat. Soos hy gepraat en geskilder het, so was die man. Flambojant en emosioneel. Geen ander woorde kan hom beter beskryf nie.
Vladimir Tretchikoff is op 26/8/2006 oorlede
Jun 12, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Ou koerant moet ‘n mens nie op sy baadjie takseer nie. As jy klaar gelees is, gooi jy hom nie sommer weg soos ‘n nikswerd-piesangskil, ‘n sardiensblikkie of ‘n plastieksakkie nie.
Onder koerantpapier kan jy slaap. Jy kan dit vir honger donkies voer. Jy kan jou vis en tjips toedraai. Jy kan die hond se plassies opvee. Jy kan vuur maak en ruite was. Jy kan bevrore vleis koud hou op lang ritte. Jy kan die papegaai se hok uitvoer. Die nut is amper onbegrens.
Kollega Johan van Wyk het ‘n keer ‘n nogal uitvoerige studie gedoen oor waarvoor ‘n ou koerant alles deug. HY kom toe tot die insigryke gevolgtrekking dat dit op een plek werklik tot sy reg kom: “In die kleinhuisie met die boerpampoene op die dak. “Nệrens lees jy lekkerder in ‘n ou koerant as daar nie.”
Johan kon bygevoeg het: Nệrens is jy dankbaarder oor die beskikbaarheid nie as wanneer jy skielik papier op sy dringendste nodig kry en die verfynde vorm vir daardie doeleindes ontbreek. Ja-nee, die toegevoegde waarde is enorm.
Ek hoor graag van ander vindingryke idees. Hier egter drie aanwendings wat vir die uwe nuut en oorspronklik was.
Nommer een is die sogenaamde Paper House in Pigeon Cove, Massachusetts. Die hele huis en sy inhoud bestaan uit ou koerante, hoofsaaklik uit Boston. Sowat 100 000 eksemplare is vir die doel gevou of gerol. Die volledige takie het 20 jaar in beslag geneem.
In die woonkamer staan ‘n klavier – ‘n uitnodiging vir iemand wat kan om die klawers met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” te gaan tokkel. Daar is ‘n radio in ‘n outydse kabinet. ‘n Boekrak is gemaak uit buitelandse koerante en ‘n oupastaanhorlosie uit koerante van die hoofstede van die Amerikaanse deelstate. ‘n “Nuuswaardige” lessenaar is uit koerante met die nuus van Charles Lindberg se epiese vlug.
‘n Koerantman voel so tuis, jy wil sommer dadelik sak en pak intrek en begin lees!
In die Suid-Tiroolse vakansiestadjie in die Alpe Merano ontdek hierdie gryse koerantman toe nog ‘n nuwe nut wat aan hom onbekend was. Op ‘n straathoek pryk dit: ‘n reuseblombak van monumentale hoogte en omvang. Die struktuur het HvD verdwerg – en dit verg nogal ‘n struktuur van stoffasie om HvD te verdwerg!
Die foto’s is bedoel om kreatiewese te prikkel om daardie stukkie Tiroolse vindingrykheid na te aap. Laat dit ‘n uitdaging wees.
Van nader tuis is die pragtige tabberdjies wat vir die Kovsies se joolkoningin en eerste prinses aangetrek is ter viering van Die Volksblad se verskuiwing na die oggendgleuf op 4 Maart 1991. Mooier “uitgawes” was daar gewis nie in my tyd as hierdie aan die mooi lyfies van Liezel le Riche en Almie Cloete nie. By hulle is Die Volksblad se Alta Beetge wie se breinkind die mode-ding was. (“Haar rokkie het ‘n skeurtjie in en almal kyk daarna …”)