SY WAS ‘N ROTS

Sy/haar onderhoude met spesiale mense is deel van elke joernalis se memoires. Gedenkwaardige eie onderhoude wat vinnig by my opkom, was met  uiteenlopende karakters soos Thabo Mbeki, Harry Oppenheimer, Tretchikoff,  Gerhard (Spiekeries) Viviers, Francesco, die witgesig-nar, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Jamie Uys, Anneline Kriel, Sonja Herholdt,  Ampie Roux, vader van ons eie  “bom”, Buurman van Zyl, legendariese Bloubul-afrigter, Thys Lourens en Paul Nash, een van ons grootste atlete.

Een onderhoud wat onuitwisbare indrukke gelaat het, was met mev, Tini Vorster, minder as 20 uur nadat premier (en later staatpresident) John Vorster weens die Inligtingskandaal skielik as premier moes bedank.  Die onderhoud van anderhalfuur in die premierswoning Libertas in Bryntirion, Pretoria, het my aangegryp. Dit het gelei tot die treffende plakkaat op die foto met die foto van die Vorster-egpaar en die volgende bewoording: My man John – mev Tini Vorster.  Dit  is nie elke onderhoud wat met so ‘n plakkaat bekroon word nie.

By haar was in daardie bittere uur geen bitterheid, verydeling of teleurstelling oor haar man se premierskap  wat so dramaties gestuit is nie. Inteendeel. In haar was ‘n fierheid, blymoedigheid en stille krag wat ek nie sal vergeet nie. Daar was ook die teerheid, liefde en lojaliteit van ‘n sorgsame eggenote. So ‘n mengsel van aristokratiese waardigheid en vroulike sagtheid kry ‘n mens nie elke dag nie. Ek bewonder dit nou nog.

Geen wonder nie dat die naam van hierdie rots aan John Vorster se sy dadelik by my opgekom het toe die tydskrif Sarie in 1989 by my en ‘n paar ander mense wou weet watter vroue ons die meeste bewonder.

Sy was teenwoordig toe mev. Betsie Verwoerd haar man, dr. HF Verwoerd, aan die dood afgestaan het, het sy my daardie oggend oor ‘n koppie tee en keurige fyngebak rustig meegedeel.  Dit het haar diep getref.   Toe haar man as opvolger gekies word en dit hul beurt word om by Libertas in te trek, was dit met die gebed in haar hart dat hulle by die dag van afskeid saam oor die drumpel sal kan stap.  Daardie gebed is verhoor. Daarom verlaat sy Libertas met ‘n dankbare hart.

In 1993 met die verskyning van my debuutboek, Flaters en kraters, het ek uit die aftree-oord Serenitas in die Strand van haar ‘n handgeskrewe briefie op blou Croxleypapier gekry om my geluk te wens. Mert verwysing na my stukkie in Sarie het sy bygevoeg: “Wat u op skrif gestel het, is steeds en sal altyd vir my ‘n kosbare kleinood bly – veral in hierdie dae dat ek op die lewenspad terugloop en graag die mooi na vore bring om te onthou.”

Natuurlik is dit vir my ‘n kosbare briefie. Dit word steeds met sorg bewaar.  Koerantmense kan ook sentimenteel raak!

(Mev. Vorster het in 1978 ontvang ‘n eredoktorsgraad van die Potchefstroomse Universiteit ontvang vir haar maatskaplike  diens  – sy was Suid-Afrika se eerste geregistreerde maatskaplike werkster – en haar geskiedenisnavorsing oor die presidentslandgoed Groote Schuur in Kaapstad. In 1990 ontvang sy die D.F. Malan-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar bevordering van die Afrikaanse kultuur.  Sy was ook ‘n ereburger van  Kareedouw waar die egpaar ná hul aftrede gewoon het. In 1987 het oud-president PW Botha die Orde vir Voortreflike Diens aan haar toegeken. ‘n Britse koerant het by geleentheid geskryf dat, as sy in ‘n later geslag gebore was, sy self die eerste minister sou kon wees. Sy verdien waarlik ‘n buiging van diepe bewondering.)

‘N MUSEUM VIR KOERANTE

Vir almal wat drukkersink in die are het, ook almal wat nuuskierig is oor wat agter die papiergordyn gebeur het of steeds gebeur, en in die mense wat dit laat gebeur het of steeds laat gebeur, is die digitale mediamuseum mediamense.com die ideale inloerplek.

Gaan kyk gerus wat die skepper en kurator, prof. Johannes Froneman, en sy helper, James Kemp, reeds in die kort tyd vermag het. Dit is reeds ‘n skatkis van gesaghebbende inigting oor joernaliste, koerante, tydskrifte en die uitsaaiwese.

Nou reeds is daar al genoeg stof sodat die gedrukte media se enorme bydrae nie vergeet word nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media.

Die versameling koerantvoorblaaie is verstommend. Die geskiedenis van (Die) Volksbad word treffend en kernagtig weergegee. Vir lekkerlees is die afdeling By Nabaat sterk aan te beveel.

In By Nabaat is ‘n stuk uit pen van prof. Johannes Froneman oor my eie loopbaan. Dit is nie sonder kritiek nie.  Ek beskou dit egter as besonder ewewigtig. Gaan lees dit gerus by https://mediamense.com/hennie-van-deventer-koerantman/

Dat hy my een van die “mees energieke joernaliste” noem, sal vele kollegas seker beaam – nie almal sonder ‘n wrange herinnering of twee oor hul eie ervarings in daardie verband nie.

In Nabaat is ook ‘n grafskrif uit my pen vir Sapa wat in Maart 2016 in die Afrikaanse koerante verskyn het.

Besoek hierdie museum en beveel dit wyd by mense met harte vir die media aan.  Dis ‘n juweel wat hier tot stand kom.

 

KUIER OM ‘N HARDEKOOLVUUR

Op die boekeblad van die Afrikaanse dagblaaie word “Bure van nature”, my nuwe bosboek, soos volg aangekondig:

“Hierdie stories is inheems soos kremetartbome, onderhoudend soos ‘n kuier om ‘n hardekoolvuur.

“Die skrywer en sy vrou het ‘n huis in Sabiepark, ‘n private natuurreservaat aan die Sabierivier, waar wilde diere name het, soos die luiperd Vin Diesel en die vlakvark Brood. Waar ‘n hiëna vir aandete by die stoeptafel opdaag. Hulle het met die jare boekgehou van buitengewone verskynings en gebeurtenisse. Sy stories oor Sabiepark en die Wildtuin blaai die veld oop en gee ons ‘n intieme kykie op wilde diere. Dit stem tot nadenke, soos die uitstekende “Skurwe slaapmaats” waar die leser leer hoe om ‘n olifant te benader: met groot nederigheid, neergeslane oë en geknakte nek. Daar is interessante inligting, soos dat baldadige jong olifantbulle uit die trop verban word totdat hulle geleer het om hulle te gedra. Dat olifantkalwe 100 tot 120 kg kan weeg.

“Die stories word gekenmerk deur fyn waarneming, ‘n droë humorsin en buitengewone woordvaardigheid.”

Die ou man is nogal in sy skik hiermee.

“Bure” behoort beskikbaar te wees by Protea en elke boekwinkel van betekenis.