Apr 27, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In loshande die rofste pers-uitstappie waarvan ek kennis dra, het ‘n 20-tal redakteurs en assistent-redakteurs letterlik kaal uitgekom.
Dit was ‘n besoek per Dakota aan die Unitaleier Jonas Savimbi by sy hoofkwartier, Jamba, diep in die Afrikabos in die 80’s. Die spannetjie het in ‘n tropiese storm papnat gereën. Ook hul koffers was deurweek – niks was droog nie. Bedremmeld, stroop hulle hul nat klere, en daar staan hulle toe in die Dakota terug Johannesburg toe soos natgereënde hoenders: poedelkaal, bibberend en blou van die koue. Ook uitgeput en ergerlik. .
Alles begin by ‘n besoek aan die kleurryke Savimbi deur Tertius Myburgh, redakteur van die Sunday Times (foto). Savimbi vra in ‘n stadium: “Hoekom bring jy nie ’n volgende keer jou mede-redakteurs saam nie?”
So gesê, so gemaak. Tertius begin toe rondvra oor ‘n huurvliegtuig en ‘n vlieënier wat sy pad Jamba toe sal kan vind. Op Wonderboom, Pretoria, loop hy ‘n ou Dakota raak wat reg lyk vir die safari. Die vlieënier wys die duime op; ja-nee, dis reg so.
Myburgh verneem na die koste en werk uit hoeveel dit per kop sal beloop as hy ‘n span van so 20 kan versamel. Daarna stuur hy telekse aan al die koerante in die land, Afrikaanse en Engels. Hy kry ‘n geesdriftige respons. Enkeles wil weet hoe veilig dit is. Dink daaraan as ‘n ietwat rudimentêre Mala Mala, kom die antwoord. Tops, dan’s ons in.
Vroegoggend is die klomp op Wondeboom, uitgevat in hul khaki-bosdrag, oorgehaal vir die groot avontuur. In die Dakota met sy parkbankies teen die sye is twee trommels vol bier op die ys en genoeg whiskey. Vyf uur lank dreun die Dakota se motore egalig oor die Afrikakontinent met sy vrag persmense. Onder hulle heers lughartigheid en afwagting.
Hulle word ontmoet deur Unitasoldate en word agterop twee Tsjeggiese vragmotors geboender vir die hobbelrige reis van nege uur oor primitiewe paaie Jamaba toe. Die whiskey hou nog en die gees is ongedemp. Avontuur is in die lug.
‘n Dag en ‘n half kuier hulle ‘n hond uit ‘n bos saam met Savimbi. Ná ‘n laaste aandete saam met die gulle gasheer val hulle om tienuur die aand in die pad terug. Behoort dus ligdag die landingstrook te haal. Toe drie probleme: i. die whisky is op; ii. Die Tsjegge weet skynbaar nie van skokbrekers nie, en iii. ‘n magtige Tropiese storm bars los. Dit giet. Ure lank ploeg, swaai en bokspring die gehawende voertuie sans skokbrekers deur die nag voort terwyl die manne bibberend onder bokseile skuiling soek . Rudimentêre Mala Mala se voet, brom hulle in ‘n koor en werp beskuldigende blikke in Myburgh se rigting.
Ligdag bereik hulle die Dakota. Dankie tog, sug die manne. Nou kan ons droë klere aantrek. Helaas. Toe hulle hul koffers optel, stroom die water uit elke skrefie. Niks – maar niks – binne het droog gebly nie.
Hulle bestyg die Dakota, nat en koud. Die motore het skaars begin brom, toe’s hulle soos een man uit hul nat klere: 20 redakteurs op ‘n ry sonder ‘n draad aan hul lywe. Die vliegtuig binne lyk soos ‘n wasgoeddraad met al die nat bosmonderings wat druppend aan die sye hang.
Die manne is hoendervel en dik die duiwel in. Myburgh moet net bontstaan. Alles is sy skuld. Hy gaan vra later die vlieënier of daar nie ‘n verwarmer is nie. Dié beduie na ‘n handvatsel agter hom . Dis of vrek warm of yskoud, waarsku hy. Werk dit maar self uit. Die hele vyf uur in die lug op pad terug is Myburgh heen-en-weer. Hy sit dit op warm todat hy die sweet sien pêrel. Dan sit hy dit weer op koud.
Die uitgemergelde groepie was nog nooit blyer om op Suid-Afrikaanse bodem neer te stryk nie.
Ek was gelukkig nie op die uitstappie nie. Seker maar ‘n “premonisie” gehad, soos my ouma Elsie Visser altyd gesê het. Toe stuur ek Willie Kühn, ‘n assistent-redakteur. Hy was nog bleek om die kiewe toe hy in Bloemfontein aankom ná die nagmerrie-safari.
* Willie wat voor my troue my woonstelmaat was, het later redakteur van Beeld en van Huisgenoot geword. Tertius is aangestel as ambassadeur in Washington maar is aan pankreaskanker oorlede voordat hy die pos kon opneem. Hoe jammer. Hy sou ‘n voortreflike ambassadeur gewees het: slim, sjarmant en spitsvondig. (Dankie aan Joel Mervis. Het my geheue gaan verfris in sy boek “The Fourth Estate” , Jonathan Ball, 1989).
Apr 23, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Alf Ries (voor) en Neville Krige (langs hom). Foto: Johan Pretorius.
Sou die uwe die enigste oorlewende van die parlementere persgalery van 1964 wees? Tussen my en Johan Pretorius, ‘n SAUK-veteraan van ‘n latere generasie, het ons tot die slotsom gekom dat ek waarskynlik laaste in die ry is – nogal ‘n taamlik eensame plekkie om ‘n mens te bevind.
In Januarie 1964, skuins ná my 23ste verjaardag, het ek by die persgalery opgedaag. Alf Ries was die gedugte politieke beriggewer van die Nasionale Pers. Schalk Pienaar was die deurlugtige indrukskrywer. Ander Pers-mense was die Burger-manne Louis Louw en Bob van Walsem. Die Transvaler se Sakkie van der Merwe en Johan Kruger was saam in die tuig. (In 1965 het die weë met Die Transvaler geskei. Wiets Beukes (Die Volksblad) en Ebbe Dommisse (Die Burger) het hulle toe by ons span aangesluit.
Voorsitter van die persgaleryvereniging was daardie tyd Donald Prosser van die Evening Post van Port Elizabeth. Hoof van die Sapaspan was Arthur Classen. In sy span was o.a. Robert Postma, Bossie Boshoff en Gordon van der Merwe. Ander bekendes in die omte was o.a. Tertius Myburgh, latere redakteur van die Sunday Times, Carel van der Merwe, Daan Esteen en Neville Krige van die SAUK, Tony Heard van die Cape Times, Tos Wentzel (oud-Volksbladder) van die Argus en Stewart Carlyle van die Natal Mercury.
Saam met Daan en Neville het ek vir die parlementêre span krieket gespeel; saam met Gordon van der Merwe ek in ‘n inry na “Dr. No” gaan kyk – my eerste James Bond-fliek – saam met Carel van der Merwe ‘n nagklub besoek en saam met Bossie ‘n paar biere in die Kimberleyhotel gaan drink.
Die hoofbode was die kleurryke Fred (nooit sy van te hore gekom nie) en ‘n nuwe lid in die bodespan ene Demetrio Tsafendas, ‘n Mosambieker wat later berugtheid sou verwerf as die moordenaar van dr. HF Verwoerd. Dikwels by Tsafendas ‘n getoosterde kaas-en-tamatoetoebroodjie bestel.

Neville, Daan en HvD met ons parlementêre krieketpette.
Die persgalery het nog nie sy eie eetplek gehad nie. Etes is geniet in ‘n anneks van die parlementệre eetsaal, die “Dikeet”. Goeie kos, redelike pryse.
Alf het die nuweling onder sy vlerk geneem. Onthou die eerste keer toe hy my die galery gaan wys het. Daar van bo af was die volksraad onder ons waardig en indrukwekkend. ‘n Voorreg gewees om juis in daardie tyd in Alf se politieke span te werk. Ons verhouding is deur ‘n paar driwwe maar ons het jarelange vriende geword.
As werksakker was die volksraad ‘n boeiende plek. In die kabinetsbanke was die oorheersende dr. Verwoerd, wat bo sy tydgenote uitgetroon het, die ietwat stugge oud-stoker Ben Schoeman, die korrekte Eben Dönges, rustige wynboer Paul Sauer, pyprokende diplomaat Hilgard Muller en opkomende ster, John Vorster – almal in my oë groter as lewensgroot. ‘n Jong vuurvreter, PW Botha, het begin aandag trek.
In die opposisiebanke was die Sappe (lede van die Verenigde Party) se gedistingeerde leier, sir De Villiers Graaff, Marais Steyn, wat kon praat dat skuimvlokkies in sy mondhoeke staan, die waardige Piet van der Bijl en die netjiese Ossie Newton-Thompson, ons krieketkaptein. Helen Suzman was vir die PFP (Progressiewe Federale Party) ‘n bekwame een-vrou-span vir wie almal bra lugtig was. (Marais Steyn het later jare na die NP oorgestap.)
‘n Karakter soos Blaar Coetzee van Vereeniging, ‘n latere minister, se toesprake, besprinkel met kwinkslae, was altyd eersteklas-vermaak. Op ‘n keer was Coetzee aan die woord. Dr. Jan Moolman (VP, Oos-Londen) kom half orent om ‘n vraag te stel. “Orde, orde,” raas speaker Henning Klopper van Parys: “Die agbare lid weet mos hy moet opstaan as hy ‘n vraag wil stel.” Soos blits kom dit van Coetzee: “Ja, staan op Jan. As jy sit, is die drukking op jou verstand te groot!”
Coetzee het Klopper, terloops, Here Jesus genoem na aanleiding van sy voorletters HJ en sy aanspraak dat hy die Bybel 20 keer deurgelees het. Klopper het ook gespog dat hy nooit ‘n druppel sterk drank oor sy lippe geneem het nie. In al sy jare in die politiek het hy nooit ‘n drankie vir iemand gekoop nie.
Omdat Die Volksblad nie ‘n eie politieke beriggewer gehad het nie, het sy galeryman ook ‘n wandelgangkaartjie gehad. Het nogal graag in los tydjies in daardie eksklusiewe portaal uitgehang. ‘n Keer het ek my senior kollega gescoop met ‘n voorbladberig oor ‘n onenigheid tussen Jan Visse, Nasionale Party-LV vir Gezina, en een van die destydse Kleurlingverteenwoordigers, Bill Hollander. Die misverstand het na die wandelgang oorgespoel.
‘n Paar geniepsige houe is gewissel. Maar die eerste wat die politieke beriggewer daarvan te wete kom, is op ‘n Burger-plakkaat in Tamboerskloof waar hy gewoon het. Hy was nie geukkig nie. Speaker Klopper was ewe min geïmponeer. Drie lesse vir ‘n groentjie: 1. die speaker is baas van die parlement; nie die eerste minister, soos hy in sy onkunde gedink het nie; 2. die wandelgang is ‘n “heilige hal” en wat daar gebeur, gebeur as ’t ware met gegrendelde deure; 3. ‘n jong abjater krap nie in die politieke beriggewer se slaai nie.
Geen permanente skade is gelukkig aangerig nie. Gou het die Vrystater ‘n gereelde oppasser vir die Rieskinders, Hartman en Marianne, geword as pa Alf en ma Maggie die aand uitgaan. Marianne was nog in doeke. Nou die dag sien ek op Facebook ‘n foto van oupa Hartman met twee nuwe kleinkinders in die arms. Toe voel ek soos die enigste oorlewende van 1964; die laaste in die ry.
Apr 21, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

OP die trappies tussen die suile van Harvard se indrukwekkende Widenerbiblioteek
Die verwoesting van die Jaggerbiblioteek by Ikeys in die onverklaarbare bergbrand die naweek gryp elke boekeliefhebber aan die hart. In daardie biblioteek het baie mense oor die jare boekejuwele ontdek wat hulle lewenslank geestelik verryk het.
Drie biblioteke beklee in my eie lewe spesiale plekke: dié van Potchefstroom, Tukkies en Harvard. Van elkeen troetel ek herinneringe – nie almal ewe loflik nie.
By Tukkies se Merensybiblioteek het ek een laataand in my derde jaar gaan inbreek. Manie Steyn is saam. Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange in. Die inbraak was nie met kwade bedoelinge nie. Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd.
Het ek die boek gekry en my taak betyds ingedien ? Inderdaad. Gelukkig het ek naastenby geweet waar om te gaan soek. Seker net ‘n halfuur of wat die rakke gefynkam . Toe: eureka! Ek en Manie is triomfantlik met die Santa Maria (my 1957 Peugeot 203) terug koshuis toe – missie met welslae voltooi. Moet tog onthou om hom opnuut te bedank as ek hom weer op Krugersdorp bel. In daardie stadium was ‘n goeie punt vir daardie taak onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.
Slaan my dood maar ek kan die naam van daardie boek nie onthou nie. Maar wees gerus: hy is wel terugbesorg. Oop en bloot by die sierlike voordeur van die Merensky ingetap en hom op sy plek gaan sit.
Van die Potch-biblioteek is my herinneringe aan boektitels helderder. Noem elke boek in Topsy Smith se Trompiereeks. Ek het hulle in my standerd-vyf-jaar een vir een gaan haal en verslind. Met die fiets gery van ons huis, Du Plooystraat 62, na die biblioteek daar langs die stadsaal waar o.a. die Weense Seunskoor en die Duitse sopraan Erna Sach in die 50’s gedenkwaardige konserte gehou het.
In standerd ses het ek Paul Gallico se klassieke werk The Snow Goose daar leer ken. In matriek word die gunsteling toe ‘n geliefde voorgeskrewe boek. Dit was ‘n inspirasie; ek het selfs ‘n gedig oor die hartroerende boekie geskryf. In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: ‘Tell the story of The Snow Goose in your own words.’ Onderskeiding gekry vir Engels.
Die indrukwekkendste biblioteek wat ek ooit leer ken het, was die Widener van die tradisieryke Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts – ‘n plek wat jou aan die hart gryp. Op die statige kampus is die rolprent Love Story verfilm met die mooie Ali MacGraw en Ryan O’Neal as verliefde paartjie. Die twee ontmoet mekaar in die manjifieke biblioteek.
Dié boekskatkamer van derduisende titels bevat ‘n Gutenberg-Bybel en selfs ‘n klompie Afrikaanse boeke. Een is oud-kollega Blaar Grobbelaar en Gerard Ludi se boek oor Bram Fischer (Die verbasende Bram Fischer, Nasionale Boekhandel, 1966). Ons Nieman Fellows van 1976/77 se klasfoto is op die trappies tussen die massiewe suile geneem.
Die foto hang in my studeerkamer. Die Widener sal ek nie vergeet nie – nie sy boeke binne nie en ook nie sy oorheersende teenwoordigheid op ‘n skilderagtige kampus nie. .
Apr 16, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In die koerantwêreld het ons gepraat van die “angle” of die “hoek” van ‘n storie. Dis die kapstok waaraan jy jou storie ophang: die enkele stuk inligting met die sterkste trefkrag. Om vandag hier by sy gedenkdiens die Sakkie Bruwer-storie te “skryf “, is nogal ‘n uitdaging. Soveel “angles” of “hoeke” bied hulleself aan dat jy amper magteloos staan voor die rykdom van keuses.
Kies jy sy weergalose entoesiasme vir sport – veral vir rugby?
Sy legendariese braaivernuf? Sy rol as verbeeldingryke sosiale kommandant van die Probusklub en al die heerlike uitstappies wat hy gereël het? Sy dae as potjiekoskoning by kerkbasaars in die goeie ou tyd toe die wyntent nog langs die vuurtjies opgeslaan was?
Sy liefde om by Food Lover’s Market te gaan snuffel en met die keurige bestanddele fynproewergeregte te berei?
Sy integriteit en sterk standpunte oor reg en verkeerd, hetsy in die politiek, sport of kerk – en sy uitgesprokenheid oor wat hy dink?
Sy trotse loopbaan in die versekeringsbedryf by Guardian en sy lewenslange kundigheid met syfers?
Sy menswees? Sy uiterste hulpvaardigheid en daar wees vir sy vriende, sy gasvryheid, gemoedelikheid en humorsin?
Sy blymoedigheid, veral ook nadat sy gesondheid begin kwyn het, en sy versiendheid om die regte skuiwe betyds te maak?
Oor elke aspek van hierdie veelkantige mens – groot van gestalte en groot van gees – kan jy ‘n selfstandige storie maak. Om in een huldeblyk aan die hele spektrum reg te laat geskied, is klaarblyklik onmoontlik. Dan sou ek moes vra dat almal asseblief hul horlosies afhaal en wegbêre. Vergeef dus maar die gate as ek net op enkele spitspunte fokus.
Ek het verwys na Probus, ‘n hegte klub vir afgetredenes waaraan Sakkie my ook in 1998 bekend gestel het. Die klub het ‘n spesiale ere-toekenning, die Honoris-oorkonde, waarmee hy baie suinig is. Net drie is na my wete nog toegeken. Die standaarde is dus hoog. Dit sal niemand verras nie dat een van daardie drie aan Sakkie en Helmien gegaan het.
Dit is in 2007 toegeken vir “voortreflike diens en ‘n uitsonderlike bydrae tot die kameraderie en vreugdevolle samesyn van Probuslede en hul gades oor baie jare.”
Kameraderie en vreugdevolle samesyn. Dit is die sleutelwoorde. Waar Sakkie was, was kameraderie. Waar hy was, is vreugdevol saam verkeer. Of dit nou op Melkbos was – ai, die Jan se Gat darem – of op Montagu; in die Cederberge of Swartriet: kuier was koning. Onder aanvoering van braaimeester Sakkie is ramkatvure gebou en berge skaaptjoppies en wors perfek gebraai.
Oor twee dinge was Sakkie adamant: i. hy – uitsoekerige vleiskenner wat hy was – gaan koop die vleis en ii. jy hou jou hande tuis. Dit was SY vleis en SY vuur. HY braai en vlieg jy in jou maai as jy wil kom slimstories maak.
Ons ander het, op sy bevel, minder verantwoordelike handlangertakies verrig soos om die hout aan te dra, speserye aan te gee of die glasies vol te hou.
Wat is die verste wat vir so ‘n spanbraai gery is? Honderd kilometer? Vyfhonderd kilometer? Nee, 2 000 kilometer. Daardie braai was op 11 Augustus 2001 in Sabiepark by die Krugerwildtuin. ‘n Groep van 24 Melkbosse vriende het “oorgekom vir ‘n Bosveldbraai”. In ‘n konvooi het hulle daarheen opgeruk. Vriend Sakkie het soos ‘n Voortrekkerleier van ouds die trek na die verre noorde gelei.
Ja-nee, met Sakkie aan stuur van sake het die klub hom nie geografies laat vaspen nie. Afstande het die lede nie afgeskrik nie. Swakopmund aan die soom van die Namib was die tweede verste – iets soos 1 800 km – maar hierdie keer het ons darem gevlieg. Kgalagdi wat 1037 km ver in die ou Kalahari is, lê op nommer drie. Sakkie het groot gedink.
Sakkie se rugbyverbintenis strek terug tot sy jong dae toe hy – bekend as Tiny, hoe anders? – ‘n kranige slot vir die klubs Noordelikes, Unie en Valsbaai was. Die beroemde Hennie, “Windhond”, Muller was afrigter en Springboksenter Colin Greenwood ‘n spanmaat. Groot wedstryde is op Nuweland en elders gespeel teen ysters soos Jan “Boel” Pickard en kwiksilwer Dawie de Villiers.
Appels is toe nog lustig geswaai. ‘n Saterdagaand is die Bruwers inry toe met Sakkie skuins op die agterste sitplek met ‘n stuk steak op sy potblou oog. ‘n Keer is ‘n rammetjie-uitnek Matie-agtsteman goed reggesien. Jare later daag Sakkie by die KWV op om sy besigheid te werf, en wie is die hoofbestuurder? Die nimlike agtsteman. Het Sakkie die besigheid gekry? Ja.
Hy was ‘n stoere WP-man – lank met toegang tot ‘n losie op Nuweland. Wen die streeptruie, nooi hy die hele boksemdaais vir ‘n Sondagbraai.. As Helmien haar oë uitvee, dam die onverwagte gaste by die voordeur op. Dan moes vinnig gespring word om vleis te ontdooi en wyn koud te kry.
Later het TV sy rugbygrense verskuif. HY het ure voor die TV deurgebring om na wedstryde te kyk. Elke moontlike oorsese kompetisie – van die Sesnasies en die Heinekenbeker tot die Pro-14 en die Ranfurlyskild – het hy intens gevolg. Hy het elke span geken, asook die spelers, met vaste insigte oor wie goed is en wie nie so goed is nie. Die minder goeies in sy oë het ‘n paar bekende Springbokke ingesluit.
As jy Sakkie smoorkwaad wou maak, moes jy hom ontydig bel op ‘n kritieke oomblik in ’n kritieke wedstryd. Die vriendelike, gemoedelike ou vriend was skielik amper bruusk.
Ook vir bofbal, sagtebal, krieket, fietsry en rolbal was Sakkie baie lief – as deelnemer of toeskouer. Hoe ver en hoe dikwels gery is om na wedstryde te gaan kyk, sal sy gesin weldeeglik onthou.
‘n Minder bekende voorliefde was renperde. Hy was in die 70’s die trotse eienaar van drie met kleurryke name: “Sweet Lady”, “Volcanic Noise” en “Every Night”. Dit was die eienaar beskore om meermale ‘n wenner by die wenkampie in te lei. Vir die doel het hy ‘n lang swart jas met ‘n rooi voering gekoop – baie gedistingeerd en deftig. Aitsa, mnr. Bruwer!
‘n Gewilde daguitstappie van Probus in ‘n stadium was dan ook na die Kenilworth-perdewedrenbaan waar ‘n geldjie op ‘n perdjie of wat gewaag is en waar die tafels gekreun het van die kos.
Al die voortreflikhede van hierdie soliede, standvastige mens-mens gaan ek nie probeer opnoem nie. Ware vriendskap – veral in tye van nood – is egter hoog op die lys. Danie Grundlingh en Hennie Jonker was maar twee vriende wat in swaar tye sy oop hart en helpende hand eerstehands beleef het. As hulle vandag hier kon wees, sou hulle dit van harte beaam het.
Niks was ooit vir hom te veel moeite nie. In my kop is ‘n prentjie van die groot lyf plat op die vloer voor my TV-stel in die slaapkamer om ‘n haakplek uit te sorteer. As jy ongemaklik wou raak om net gedurig aan die ontvangkant te wees, het hy jou besware met ‘n wuif van die hand afgemaak.
Sakkie was ‘n welwillende, toeganklike mens, maar hy kon ook ysterklou in die grond slaan. Wat verkeerd was in sy oë was verkeerd, en hy het nie geskroom om dit hard en duidelik van sy hart te kry. Ongeduld kon nogal deurslaan as dinge hom nie aangestaan het nie. Of hoe, Helmien?
Kwynende gesondheid het in die laaste jare sy vlerke geknip. Die afnemende kragte en onafhanklikheid het hy stoïsyns aanvaar en met blymoedigheid sy pad bly loop.
Dat daardie pad uiteindelik weg van sy geliefde Melkbos na Vredekloof gelei het, was tekenend van sy realisme, gesonde verstand, versiendheid en onselfsugtige fokus op die beste belange van diegene die naaste aan hom.
Daar was maar een soos hy – ‘n onvergeetlike eggenoot vir Helmien, ‘n onvergeetlike pa vir Johan en Sandra, ‘n onvergeetlike oupa vir Jean-Marie en Le Roux en ‘n onvergeetlike vriend. Baie mense se harte is vandag baie seer oor liewe ou Sakkie.
Foto: Grootste en kleinste in Probusgeledere: wyle Sakkie en wyle Andries Brewis.
Apr 13, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Lande sluit hul grense om hulle te beskerm teen vreemdelinge wat wetend of onwetend die Covid-19-virus kan binnebring. Die Kaapstad-Metro verwag – nee, eis – dat belastingbetalers hul voordeure oopgooi vir wildvreemde kontrakteurs wat nuwe koopkragmeters moet kom insit.
So ‘n kennisgewing is Saterdag in ons buurt in posbusse gedruk. Ons word net ‘n maand gegun om afsprake te maak. Wat die gevolg gaan wees as ons nie binne ‘n maand reageer nie, word nie uitgestippel nie. Wel word vermaan: “Neem asseblief kennis dat die vervangings verpligtend is.” Klink nogal onheilspellend.
Die tydsberekening slaan die asem weg. Die wêreld spartel opnuut in die kloue van die monstervirus, en vrese bestaan dat Paasnaweek-uitgelatenheid ook in Suid-Afrika tot ‘n ernstige derde vlaag van die pandemie kan lei.
Nou word een en almal – ook kwesbare bejaardes met stringe komorbiditeite in hul lywe – voor hierdie onbekookte eis gestel. Jammer, in my oë sou dit onbesonne wees om gehoor te gee. Ek gaan NIE in hierdie risikotyd mense sonder enige bewys van hul Covid-status in my intieme lewensruimte toelaat nie.
Hoe moet ons weet hoe versigtig of onverskillig die kontrakteurs oor Covid-protokolle is? Hoe het hulle die Paasnaweek deurgebring? Was hulle nie in kontak met mense wat besmet is nie? Is hulle nie dalk self draers nie? Boonop word nie eens hul koorse gemeet soos wat by openbare plekke, van winkels tot kerke, normale gebruik is nie.
Klaarblyklik moet mense met voorbehoude tegemoet gekom word totdat hulle ingeënt is of die Covidkrisis bedaar het. Of nog beter: stel die projek uit totdat omstandighede gunstiger is.
Ek moet meld dat die kennisgewing eentalig Engels is. Nogal vreemd dat die DA sy stem dik maak oor Afrikaans by Maties maar vir die taalregte van sy Afrikaanse belastingbetalers nie dieselfde simpatie het as vir die taalregte van Afrikaanse studente nie. Politieke opportunisme?