GOUE SEUN NIC BOJE

Elke keer as ‘n bohaai iewers oor studentemoleste ontstaan, gee my gedagtes ‘n groot sprong die verlede in. Kollege-tehuis toe – 60 jaar gelede.  Die Kovsies en die Maties sal dit nou nie weet nie, maar in Tukkieland was Kollege ‘n gedugte plek. Die jare 60 was ‘n glansryke era en Nic was een van die goue seuns.

Kollege se reputasie is gerespekteer of afgekeur.  As daar moles was, kon jy maar weet Kollege is in die episentrum. Soos een aand toe ‘n serenade by Karadyn ietwat te luidrugtig geraak het. Die polisie het die hele Kollegekoor na die Brooklyn-polisiekantoor gemarsjeer. Ek sien nou nog hoe Nic en sy vriende die konstabel in die aanklagkantoor se pet onder mekaar aangee. .

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het Nic en sy maats van die berugte tweede verdieping ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend  uit die H.F. Verwoerd te gaan haal vir ‘n nagtelike Fonteineparty. In ‘n stadium word hy die slagoffer van ‘n onverwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.

Die pasiënt is ‘n uur of wat  later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Ons  geliefde Kollege was ‘n uiters mededingende plek. Ons het nie gehou van tweede kom nie.  Nic en sy skakelmaat, Propie Goosen, was in die opsig ysters.  Op die rugby- en die krieketveld was hulle staatmakers. Ek onthou met verkneukeling ‘n wedstryd teen Sonop.  Die eerste bal van Sonop se selfvoldane snelbouler, die SR-voorsitter, lig NIc oor die skerpbygrens vir n sierlike ses.  Die volgende een dryf hy deur die dekke vir vier. Die arme man was verslae.

Koning Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic,   Proppie , Jan Tromp, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels. Nic was ons eintlike angel. Hy kon sy agterlyn blitsig wegstuur. HY kon pale toe korrel soos ‘n skerpskutter – selfs sekuurder as Naas Botha.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith, Nic se tuisdorp.  Op ‘n groot rugbydag op Ladysmith wen ons, ‘n derdeligapan in Pretoria, die eersteligabeker.  Nic skop weer nie mis nie. Ek is die dag vlagman.  As hy met sy aanloop begin, lig ek al die vlag.

Toe ons ons oë uitvee, kom haal die Tukkiekeurders ons losskakel-held kort daarna  uit Kollege se span eerste span toe. Hy en Proppie Goosen, ook ‘n Kollegeman, word ‘n gedugte skakelpaar.  Die dag toe Nic sy eerste wedstryd vir die eerstes speel, sit ons Kollegemanne op Lofrus bankvas agter die pale.  Ons bulder soos een man vir ons maat instruksies: “Nic, skop die bal. Nic gee uit.”  In ‘n stadium kyk hy direk in ons rigting en gee ‘n teken dat ons ons bekke moet hou. Ons was daarna effens stiller.

“Ta’ Bella”, die ou Belvedere-hotel in Kerskstraat, was ‘n gewilde kuierplek om “tee” te gaan geniet.  Voor Nic se eerste wedstryd vir Tukkies teen die Bobbies besoek ‘n klompie Kollegemanne die Vrydagaand vir Ta’ Bella om die senuwees te laaf. Bobbies het ‘n uitblinkers soos Mof Myburgh  en Piet Uys . Ons beduie vir Nic hy sal die volgende dag sekuur moet korrel.

Hy stel ons gerus: “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” Toe demonstreer hy, tot die verbasing van die ander klante, hoe hy die skepskoppe elegant pale toe gaan jaag. Die Saterdag op Loftus ‘drop’ Boje twee keer. Albei kere seil die bal oor die dwarslat. Die tweede beklink die sege. “Boje ‘drop’ en die Bobbies huil.” So was dit toe. Baie ander spanne sou nog huil as hy hulle flenters skop.

Vandag huil nie sy teenstanders nie, wel sy spanmaats: al die Kollegemanne van daardie era wat nog oor is, die ganse rugbygemeenskap van Suid-Afrika en sy naastes wat vir hom lief was en op hom trots was.  Soos ek op Facebook geskryf het: Ons huil nie omdat ons ‘n wedstryd verloor het nie maar ‘n “wedstrydwenner” wat die spel van die lewe soos ‘n kampioen gespeel het.

(Die volledige weergawe van ‘n huldeblyk vir NIc se gedenkdiens gister in die rugbymuseum by Stellenbosch. ‘n Ietwat verkorte weergawe is deur sy seun. Louis, voorgelees. Ek was weens Covid-19-protokolle tot my spyt afwesig. )

WOONWA: NET EEN KEER GEBRUIK

In die klein advertensie in die koerant lees jy die TE KOOP-advertensie:

“Woonwa. Amper splinternuut. Net een keer gebruik. Spotgoedkoop.”  Die meeste kere is dit by die een oog in by die ander oog uit. Jy soek nie ‘n woonwa. So watwou.

 

Dat agter die klein advertensie dalk ‘n pynlike verhaal van groot menslike verydeling en ontreddering opgesluit kan wees, gaan by jou verby. Hoe sal jy dan nou ook weet?  Bring my ny die deerniswekkende woonwastorie van ’n vername politikus uit ‘n vorige bedeling. Sy naam is Piet Parlement.

 

Piet is ’n deeglike kêrel. Toe hy sin kry in ’n woonwa, begin hy wyd lees oor dié onderwerp. Partymaal ry hy sommer by woonwaparke in en knoop met ’n verskeidenheid eienaars geselsies aan. Hul geesdriftige vertellings oor onvergeetlike vakansies by allerlei begeerlike bestemmings gee die deurslag.

 

Hy doen toe sy keuse, en met ’n meevallertjie uit ’n vergete niggie se boedel stap hy by ’n handelaar in om sy droom te verwesenlik. ’n Verruklike model was dit inderdaad. Uiters modern en met elke denkbare gerief vir ’n ontspanne vakansie. Piet begin as ’t ware die slapies tel totdat hy die eerste keer sy huis op wiele vir ’n gesins-uitstappie kan haak.

 

Toe D-dag aanbreek, was die logistiek al hóéveel keer uitgewerk, en was die moets en moenies aan elke gesinslid volledig bekend. Ook die staanplek is met sorg uitgesoek: ’n rustige oase van reusebome, netjiese grasperke en ’n blouselblou meer waarin ’n kantige berg-kruin op sy rug lê.

 

’n Genotvolle, kommervrye langnaweek het gewag … hopelik die eerste proeseltjie van ’n nuwe heerlikheid wat belowe het om net aan en aan te hou. Die eerste aand is vroeg reeds ’n vuurtjie aangesteek. Later, bier in die hand, strek Piet hom agteroor uit op ’n opvou-swembadstoel en met behae en dankbaarheid mymer hy oor hoe goed die lewe vir hom is.

 

Teen slapenstyd is hy in ’n romantiese stemming. Gelukkig is die kleinkinders wat saamgebring is, moeg gebaljaar. Hul rustige asemhaling verskaf algou die sein dat die tyd aangebreek het om ’n perfekte dag liefdevol af te rond.

 

Maar “oupa! ouma!” klink dit toe skielik ontsteld uit die verste hoek op. “Is hier ’n aardbewing?” vra een benoude stemmetjie.“Hoekom skud die karavaan so?” koor ’n ander.

 

’n Kortaf ontkenning was onvoldoende. ’n Verduideliking is stotterend verskaf. Nie juis oortuigend nie. Die Maandag het Piet die koerant gebel en navraag gedoen oor sy advertensietarief. “Onder watter hofie?”

 

“Woonwaens te koop,” was Piet se antwoord. Omdat hy nog altyd ’n man met ’n goeie sin vir humor is, begin hy toe op die daad en tot die advertensiemeisie se verbasing onbedaarlik giggel.

 

VLOERMOER OOR ‘N VOORBLADFOTO

Tokkie in 1966

‘n Voorbladfoto wat toe nie ‘n voorbladfoto was nie, was die voorloper vir ‘n vloermoer waarop die uwe nie trots is nie, maar wat ongelukkig nie weggewens kan word nie.
Die suurderige herinnering dateer uit 1966. HvD neem die eerste keer waar as nuusredakteur van Die Volksblad, en is – nodeloos om te probeer ontken – heel bewus van die belangrikheid van die amp en ipso facto dan ook van die 25-jarige tydelike bekleder daarvan.
Lappies Labuschagne, hooffotograaf, word gestuur om ‘n voorbladfoto te gaan neem. Die onderwerp is drie of vier mooi onderwyseresse wat nog met punte en rapporte doenig is nadat die kinders reeds vort is met vakansie.

Tokkie 75 op 15 Maart 2021

Op nommer 99 kom sit Lappies die foto voor my neer – tegnies so onbesproke soos al sy foto’s, waarvan letterlik duisende oor die jare die koerant versier het. Net daar sink my hart egter deur die vloer. Want in die middel van die foto is die dierbare gesiggie van my verloofde, Tokkie van Wyk, die ene soet glimlaggie.

My oordeel was dat my kollegas my sou verdink van ‘n erge graad van nepotisme en onsensitiwiteit op die vooraand van my huwelik met Tokkie op 31 Desember daardie jaar op Bultfontein. Ná al die jare dink ek nog die gebruik van die foto was om daardie rede nie aan te raai nie. Maar ‘n grote krisis was dit. Tyd was daar nie. Enigste alternatief vir die voorblad was ‘n foto van twee Duitse meisies in sjoebroekies wat op ‘n leer staan en ‘n olifant in Berlyn se dieretuin met besems was. Dié het al dae lank in my mandjie gelê. Die redakteur was nie geamuseer nie.
Vir die tweede uitgawe was Lappies terug met drie ander onderwyseresse. Nie een naastenby so mooi soos Tokkie van Wyk nie. Maar gelukkig almal aan die waarnemende nuusredakteur geheel onbekend. Agterna het ek vir Tokkie die dood voor die oë gesweer as sy ooit weer op ‘n Volksblad-foto sou verskyn. As jy ‘n kamera sien, dra jou mooi beentjies, gehoor!
Maandag is Tokkie 75. Sy het mooi vir haar aanstaande geluister. Was nooit weer ‘n kandidaat vir die voorblad nie.