VIR MY 80STE: GESPREK OP LITNET

Koerant deur Hennie van Deventer: ’n lesersindruk en gesprek

  • 0

Titel: Koerant
Outeur: Hennie van Deventer
Uitgewer: De Novo Boeke,  Langebaan

Nadat hy 20 boeke sedert sy aftrede as koerantman geskryf het – en seker miljoene woorde in sy lang loopbaan in die perswese – gee skryf en kommunikeer vir Hennie van Deventer sin in die lewe. Skryf bly vir hom ’n passie en daarsonder sal hy opgeskeep wees met homself, het hy aan Sarel Venter, ’n oudkollega, gesê.

Aan die vooraand van sy 80ste verjaardag het nog ’n boek van Van Deventer verskyn. Dit sy twintigste in die byna 24 jaar sedert sy aftrede as hoof: koerante van Naspers, en nadat hy onder meer 12 jaar redakteur van Volksblad was.

Sy boeke handel oor ’n verskeidenheid temas: van outobiografiese werk en koerantsake tot mense, humor, diere en reiservarings.

Om saam te val met sy naderende verjaardag (3 Januarie 2021) verskyn ’n gedenkboek, Koerant. Dit is ’n selfpublikasie met voorlopig ’n beperkte oplaag, versorg deur De Novo Boeke, wat dit ook as e-boek aanbied.

In die boek van 215 bladsye is die rou oor Volksblad se lot – die einde daarvan as gedrukte koerant – nog vars. Hy probeer nie sy hartseer verbloem nie. Dit bied die kapstok vir die boek. Die rou is ’n vlammetjie wat ’n groter vuur aansteek. In sowat 50 essays skryf hy nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekdotes is in hierdie terugblik opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor mense, kollegas, ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

Hoekom woel hy nog so op 80?

Eenvoudig omdat “kommunikeer” die lewe vir my sin gee. Ek sit maklik agt uur per dag voor die rekenaar. Ek skryf twee blogs, deel gedagtes op Facebook, werk tussenin aan artikels en boeke. Wat anders? Daarsonder sal ek opgeskeep wees met myself. Ek pak nie veel ander dinge aan nie. My hande is dom. Maar my geprese “geesdrif” soek ’n uitlaatklep. Daardie uitlaatklep is skryf, debatteer, saamgesels, tred hou met die nuus, kommentaar lewer …

’n Fokus in hierdie boek?

My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette. Ook onvergeetlike karakters agter die skerms. En hope humor. Sonder ’n sin vir humor sal ’n koerantmens moeilik oorleef.

Geliefkoosde nuusonderwerpe?

Alles wat nuus is. Versot op politiek, op sport (buiten skopboks), op menslike stories (“human interest”), en op elke ander nuusonderwerp.

Sy hebbelikhede?

Ander moet liewer oordeel. Ek self is bewus van ’n kort lont. Altyd agterna jammer en verleë as ek ’n vloermoer gegooi het. Lief vir humor/kwinkslae/rympies.

Sy voorliefdes?

Ek het drie groot passies: koerant, die bos, reis (veral vaar). Ek borg die woord “koerant” eksklusief by die WAT. Minstens vyf van my boeke het koerantonderwerpe.

Die bos?

Ek is gek na Sabiepark, waar ek ’n boshuis net langs die Krugerwildtuin het. Verkies selfs – tot die verbystering van vriende – die hitte van die somerbos (Desember–Januarie) bo die “Kaapse Dokter”. My nuwe bosboek (Mei 2021) sal die sesde oor dié onderwerp wees.

Reis?

’n Interessante reis was in Rusland in Gorbatsjof se tyd. In my Niemanjaar by Harvard het ons Amerika platgery. In die laaste jare het ek verslaaf geraak aan vaar. Onvergeetlike vaarte was met die Queen Mary ll na Sydney en met die MSC Musica langs die ooskus van Afrika tot in Venesië. (Dis alles in my boek Na verre hawens. Jare gelede het ek ook ’n humorboek oor reis geskryf: Oos, Wes – Reismoles).

Hy het ’n vierde voorliefde: musiek, alle musiek, buiten kletsrym en Afrikaanse oornag-treffers (“bokkie,sokkie,frokkie”). Tien jaar lank het hy vir vriende vir Kersfees CD’s geskenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, ens. Hy en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.

Sy renonse?

Ek haat moderne brabbel-Afrikaans, en kastige “ondersoekende joernaliste” wat ’n “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” uit hul duime suig. Moet ook nie dink ek sal afval eet en simpel TV-sepies en -storietjies kyk nie.

Hoogtepunte in sy lewe?

Die redakteurskap van Volksblad op 39 in 1980. Dit het ’n ambisie verwesenlik wat ek van my eerste dag by die koerant gehad het.

  • Nieman Fellowship aan Harvard 1976/77 – ’n plek wat drup van tradisie en karakter.
  • Phil Weber-prys, Naspers se hoogste eerbewys, in 1997.
  • My bydrae om die beswaddering oop te vlek van ministers Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley in Tafelberg se prulboek The lost boys of Bird Island met agt kritiese briewe in koerante.
  • Drukmedia SA se lewenslange Genootskap (Fellowship) – die eerste aan ’n Afrikaanse mediamens in 1998.

Teleurstellings

Die keldering van Volksblad as gedrukte koerant. (In Koerant brei ek uit op die tema). Nog ’n teleurstelling was die latere besluit om Volksblad se Kunsmark nek-om te draai.

Ten slotte ’n paar dinge waarvan hy die vader is

Pendoringprys vir Afrikaanse advertensies die hoog aangeskrewe Nat Nakasa-prys vir joernaliste (toegeken aan joernaliste wat oor COVID-19 geskryf het); die Matrieknooiwedstryd, die Kunsmark en die Bloemfonteiner van die Jaar-wedstryd.

Drukmedia SA het sy verering van Van Deventer so gemotiveer: “Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe. He is recognised for his wisdom, his diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.”

‘N TUKKIE EN ‘N TOKKIE

Die jong Tokkie toe sy in my lewe gekom het in 1964.

Een middag, vroeërig in 1962, stap die huisvoorsitter van Kollege-tehuis op die Tukkie-proefplaas ewe vernaam in die lang gange van die eerstejaars-vleuel af. Almal moet hul meisies se foto’s uithaal en wys. Die kommentaar was nie bedoel om ienk-ego’s te streel nie.

Daardie arrogante (ai tog) huisvoorsiter was die uwe.

‘n  Eerstejaar in Ingenieurswese, Dirk C. du Toit (latere regsprofessor en Adjunk-minister van Landbou in die ANC-regering) diep ‘n foto’tjie op van ‘n vrolike skoolmeisie met ‘n sonkyn-glimlag. “Pure kind,” is die bevinding. “Maar h’m, ‘n oulike kind. Wat sien sy in ‘n vent soos jy?”

Min het ek geweet ek kyk op daardie oomblik na die gesiggie wat oor ‘n tydperk van veertig jaar my foto-albums — en my lewe! — sou oorheers. Tokkie van Wyk, gedoop Gesina Susara, ‘n talentvolle Bultfonteinse dogter. Vir haar weduwee-ma, Marietjie, was die hele dorp lief. Haar broer, Fanie, my portuur, was op sy dag ‘n uitblinker-sportman.

Tokkie (kort vir Tokkelossie, haar pa,  Kotie, se naam vir haar omdat sy so ‘n kortetjie was) was in my primariusjaar in standerd nege, ‘n kranige pianis met ‘n string Unisa-sertifikate en diplomas agter haar naam (o.m. Klavier, finaal, met eervolle vermelding). Dirk wat van Boshof gekom het, was ook ‘n doring op die klavier, maar het Kollege se seniors vervreem toe hy — weens akademiese redes nogal! — weier om op Lentedag sy koshuis te gaan verteenwoordig met sy gevoelvolle vertolking van die  destydse treffer Tell Laura I love her.

Ek het jare lank met die idee geloop dat Tokkie en Dirk se paaie by die Bloemfonteinse Kunswedstryf ewe onskuldig gekruis het. Later  het sy my reggehelp: dit was eintlik op ‘n piekniek by Maselspoort. Ek sou eerlik eersgenoemde scenario verkies het.

Tokkie het in 1964 na die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gekom. Dirk was toe  ‘n regstudent aan die Vrystaatse Universiteit. Ek was parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. ‘n Ouer broer van Dirk,  Ben — ook later ‘n regsprofessor, aan die Universiteit van Zoeloeland — was my kollega. Ben nooi my een aand na ‘n partytjie. Daar sien ek toe die nooientjie op die foto die eerste keer in lewende lywe.  Die skamerige standerd-agt-meisie het intussen ‘n sprankelende eerstejaar-student geword — ‘n meisie om wie die jong manne draai .

‘n Week later was ons eerste afspraak — ‘n middaguitstappie na die restaurant op Naval Hill. Vir Kersfees is ek Bultfontein toe. ‘n Paar maande later kom kuier sy in die Kaap saam met my ouers in die parlementêre Paasreses. ‘n Jaar later, op haar twintigste verjaardag, 15 Maart 1966, steek ek ‘n verloofring aan haar vinger.

Die besoek aan die Kaap sorg vir die eerste Tokkiefoto in my albums: ‘n stippeltjie in die hoek van ‘n kabelkarretjie by Tafelberg. Daarna volg die foto’s vinnig: verlief, verloof, getroud, moedertjie…

Ek en Willie Kühn, latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, was tot met die huwelik woonstelmaats. Tokkie het saans kom kuier en kosmaak. Een aand in die kombuis konfronteer sy Willie met die vraag: “Wat is ‘n ballas?”

“Ekskuus?”

Sy herhaal die woord, en verduidelik die rede vir haar navraag. ‘n Seuntjie in haar klas het kom kla ‘n maatjie sê sy ballas. Omdat sy — o soete onskuld! —  nie geweet het watse ding dit is nie, het sy van die aangeleentheid korte mette gemaak met ‘n besliste: “Ag nee, man, gaan sit.”

Willie het keel skoongemaak en diplomaties geantwoord:  “Ek stel voor jy vra vir Hennie nadat julle getroud is!”

Ewenwel, die getroud-kom was net enkele maande later. Op ‘n snikhete 31 Desember 1966 in die N.G. kerk neffens die ou begraafplaas op Bultfontein, met rye grafstene as dekor op verskeie van ons troufoto’s. ‘n Mens se troudag onthou jy, selfs al is dit in bitterheid. Myne kan ek om verskeie redes — maar gelukkigheid nie uit bitterheid nie! — nooit vergeet nie.

Een herinnering is natuurlik die jong bruid aan my sy. Vir my was sy te mooi vir woorde! In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega Kas Dreyer, soos Lappies ‘n knap fotograaf, haar gelukkig op pakke pragfoto’s verewig.

Die tweede is die onbeskryflike Desemberhitte wat veral die blomme — ‘n trougeskenk van Frank Budd, Zola se vermoorde pa — en die arme bruidegom in sy gitswart pak behoorlik opgedreun het. Dan het my Kollegemaats teenwoordig die bruidegom boonop so deeglik geborsel dat sy boude brand – nie die laaste keer dat ek dit in die huwelik hotagter gekry het nie.

Die belangrikste herinnering is die oorweldigende vreugde in die hart van daardie dag, ‘n vreugde wat voortduur omdat die verbintenis wat aangegaan is, die beste ding bly wat my in my amper 80 jaar op aarde oorgekom het. (Uit “In Kamera”, Protea Boekhuis).

 

 

 

 

 

 

 

‘N SOET GESKENK VIR MY 80STE

So ‘n deeglike, indringende resensie sien ‘n mens nie aldag nie. Louise Viljoen,  gerekende resensent, het my en my verjaardagboek, “Koerant”, die eer aangedoen om haar werklik diep in die boek se bladsye in te grawe. Die resultaat was die resensie hieronder op die webblad Kragdag-gemeenskap.  Haar vriendelike woorde oor my en my pennevrug is soet op die verhemelte, en ‘n lekker 80ste verjaardaggeskenk.

Titel: Koerant

Outeur: Hennie van Deventer

Uitgewer: De Novo Boeke,  Langebaan

 

Hennie van Deventer, die outeur van Koerant, skryf op bladsy 3 só oor sy liefde vir koerantlees: “Ná 23 jaar van aftrede bly die eerste tintelende aanraking elke dag met die kraakvars produk steeds ’n hartsgenot; die kennismaking met die nag se nuus oor ’n koppie oggendkoffie ’n vreugdevolle roetine”. Lesers wat hierdie liefde deel, sal saam met Van Deventer die feit betreur dat Volksblad nie meer in papierformaat verskyn nie, maar slegs vyf dae per week op Netwerk24 se digitale platform te kry is. Die “oudste koerant in Afrikaans” is dus “nie meer ’n tasbare entiteit waaruit jy ’n knipsel kan maak of waarmee jy ’n netjiese pakkie kan vou vir jou vis en skyfies nie” (p. 2). Hy skryf: “Ek treur oor Volksblad en sy ou korps verknogte lesers wat hom in papierformaat moes groet” (p. 3). Hy wonder ook “oor hoeveel uitgawes, hoeveel rolle papier, hoeveel konkas ink” Volksblad  ’n gister-ding geword het (p. 7).

Volksblad se bestaan as papierkoerant het op die vooraand van Van Deventer, wat twaalf jaar lank redakteur was, se 80ste verjaarsdag tot ’n einde gekom ná 116 jaar se vrugbare jare. Volgens die lokteks op Koerant se agterblad, was Van Deventer by Die Volksblad (só genoem voor 20 April 2001) onder meer “parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur, nuusredakteur en redakteur. By Beeld was hy die eerste nuusredakteur en senior assistent-redakteur. By Naspers was hy uitvoerende hoof: Koerante van die Pers”.

Van Deventer skryf dat hy in Koerant onder meer fokus “op Volksblad se nuwe gedaante; uiteenlopende elemente van my eie lang loopbaan, en enkele mense met wie my paaie gekruis het” en noem dit ook “’n versameling humorstories wat hopelik ’n glimlaggie sal ontlok” (p. 4). Die boek beslaan 223 bladsye oftewel 50 essays wat opgedeel is in Afdeling Een: Einde van ’n era; Afdeling Twee: O wêreld; Afdeling Drie: Voetspore; en Afdeling Vier: ’n Skeutjie humor. Hier deel Van Deventer herinneringe aan ’n vervullende loopbaan saam met topkollegas. “Dit behels groot nuusstories wat hanteer moes word, maar ook allerlei ander gedenkwaardige insidente wat maklik vergete kan raak. Hierdie boek is ’n willekeurige verkenningstog op laasgenoemde terrein” (p. 4).

Op bladsye 13 tot 19 bring Van Deventer, ook ’n gesoute bootreisiger en liefhebber van die bos, ’n ode aan die rolpers. Hy vertel van die vreugde en bekoring om ’n kraakvars gedrukte koerant by die rolpers in te wag. “Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap. […] Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, is elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure is perfek ingestel. Die koerant is gereed vir die lesers wat wag.”

Van Deventer noem spesiaal ook die onmiskenbare (en dikwels onderskatte) rol van die koerantverkoper. “Die rekord vir ’n lang “dienstermyn” is iets soos sewe jaar. Dit word gehou deur ene Louis Slump. Hy het alles mooi opgeteken en sy “loopbaansyfers” is indrukwekkend: in die sewe jaar het hy 15 288 km (sic) op sy fiets agter 82 intekenare aangery” (p. 18). Hy gesels oor foto’s wat saak maak, bv. “Een van die ikoniese foto’s in Volksblad se argiewe is deur hooffotograaf Lappies Labuschagne geneem toe ’n kwaai bul ’n kollega, verslaggewer Jan Lombaard, skraap” (p. 20). Koerant is vol nostalgie, staaltjies, bekende en nie so bekende name – dit wat die voorblaaie gehaal het én dit wat agter die skerms gebeur het. Dit is sonder twyfel ’n skatkis van herinneringe en anekdotes wat verlore sou wees vir die nageslag sou Van Deventer nie die tyd geneem het om dit te boekstaaf nie.

Tussen die bladsye van hierdie boek is dekades se onthou vasgevang en ook die passie wat ’n merkwaardige man vir sy taal en nuuswaardige gebeure het.

Hier volg slegs enkele van die interessante hoofstuktitels in Koerant, nl. “Moord Wat My Geruk Het”; “Mnr. Vorster Trek ’n Leeu Plat”; “Wie het vir J.R. Geskiet”; “Uit die Hand van “Groot Krokodil””; “Kluitklap op die Kis”; “Pot Vol Skoon Doilies” en “Moedertjie Wysdbeen”. Voorwaar koerantstories op sy beste!

+ Lees die resensie op die webblad Kragdag-gemeenskap by die volgende skakel:  https://kragdag-gemeenskap.co.za/boekresensie-koerant/

KERSBRIEF UIT MELKBOS

Liewe vriende

Dit is die maand Desember in die jaar 2020.  Koronajaar.  Of Covid 19 die jaar. Dis weer tyd vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand.

Hoe ook al, soos almal ter wêreld het die Van Deventers nie ongeskonde uit die verderflike virus se kake ontsnap nie. Die eerste winter in 24 jaar was ons nie in Sabiepark nie, net tuis hier in Penguin Place 11. Die Kaapse winterweer het ons nogal verras. Darem nie net storms nie. ‘n Namiddag-wyntjie op ons bankie by die see was ons by geleentheid beskore.

Die Oppiwaterkunstefees op die MSC Musica (en die bekendstelling ter see van “Na verre hawens” ) is gekelder. Van swartwoudkoek saam met Johan en Mariza op Swakopmund het niks gekom nie, en die boks boeke staan maar hier in die studeerkamer en stof vergaar. Die feesvaart is geskeduleer vir einde Januarie op die MSC Orchestra. Lyk maar twyfelagtig.

Op Tokkie se onversadigbare leeslus was die impak groot. Eers het sy haar verknies oor die biblioteek wat sy deure gesluit het. Toe herontdek sy die juwele op ons eie boekrakke – ‘n vreugde soos min. Die rehabilitasie van ons grasperk  ná die verwoestende Kaapse waternood van die vorige jaar het onverpoosd haar aandag geniet.  Ons kan weer sing van: ”The green, green grass of home”. Dis haar monumentjie van die grendeltyd.

Al die kinders en kleinkinders het natuurlik uitdagings en frustrasies beleef – soos in elke familie. Kan gelukkig aan meeste fronte ‘n relatief goeie uitkoms rapporteer. Slegste ervaring is arme Thomas s’n. Moet Maandag ‘n tweede keer in 15 weke teater toe vir ‘n stuitjieoperasie (pinoilidale sinus) – nes oupa Hennie s’n in 1967 en pa Brent s’n (weet nie watter jaar  nie). Dis maar ‘n ongemaklike saak met allerlei implikasies, o.m. met die eksamen.

Asof dit nie erg genoeg is nie, moet hy ‘n derde keer deur die onplesierige Covid-19-toets. Boonop het Covid-19 hom die geleentheid ontneem om sy WP-kleure in aksie-netbal amptelik te verwerf. Hy was in die span. Toernooi is egter afgelas.  Thomas sal 2020 nie lig vergeet nie.

Op George moes die jaarlikse Groot Stap vir Mariza (en Migael) se Legacy Centre verander word in ‘n virtuele stap.

‘n Groot Covid 19-skok was die dood van buurman Kosie Olivier S.C. in November.  Hy was slank, fiks en in sy middel-60’s. Sy mooi vrou, Jammie het in 2016 skielik gesterf. Dat hy net vier jaar later sou volg, was volslae onverwags.

Die ontnugterende verdwyning van Volksblad uit die hoofstroom van koerante – die geliefde blad verskyn nou net in digitale gedaante – het Hennie geskud. Dit het ook die vonk verskaf vir ‘n vinnige selfpublikasie,  “Koerant”, waarmee hy  terselfdertyd sy 80ste (op 3 Januarie 2021) vier – as “vier” in hierdie konteks die regte woord is. Die stemmiger “gedenk” is waarskynlik meer gepas.

De Novoboeke, uitgewer van selfpublikasies, het “Koerant” ‘n alternatiewe e-baadjie aangetrek, soos tevore ook vir drie vorige titels, “Spore in die bos”, “Kroniek van ‘n koerantman” en “Praat-praat in Tamatiestraat”.

Bakenverjaardae in 2020 is/was Mariza se 50ste op 12 Desember en die tweeling, Jacob en Thomas, se 16de op 26 April. Twee yslike groot seuns geword. Albei is weer in Stellenberg se leerlingraad.  Oupa en ouma blom. Vir Thomas wag die begeerde WP-kleure in die nuwe jaar.  Hy is weer in die span.

Wat die nuwe jaar vir ons inhou? Wie weet in hierdie onsekere tye? Weet darem dat ‘n nuwe bosboek uit Hennie se pen in Mei by Protea Boekhuis verskyn – sy 21ste en waarskynlik laaste. Die naam is “Bure van nature”.  Julle sal die twee mense op die voorblad herken al sien ‘n mens net hul rûe.

Daarmee fluit-fluit. Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense vir een en almal. Laat ons strewe tot die maksimum-kontak in 2021.  Nie een van ons word jonger nie, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut onderstreep het.

Hennie & Tokkie