BOEKIE VIR (AMPER) 80

 

Op 3 Januarie 2021 – ‘n bietjie meer as twee maande – word ek 80.  Ietwat prematuur of nie, maak ek dit die onderwerp van vandag se blog. Hoekom, sal mettertyd duidelik word, hoop ek.

In die (amper) 80 jaar staan verskeie hoofelemente uit. Almal wat my ken, sal kan raai watter dit is. Buiten my naastes,  is daar onder meer (plus-minus chronologies) Potch-Volkies, Kollege-tehuis, Tukkies, Harvard, Bloemfontein, Randburg, Sabiepark, die Krugerwildtuin, Melkbos en skeepvaarte, waaraan ek in die later jare verslaaf geraak het.

Van al die dimensies is my koerantverbintenis ongetwyfeld die onuitwisbaarste.  Niks identifiseer my in dieselfde mate nie,  glo ek, al het 24 jaar verloop sedert ek my kantoordeur aan die Heerengracht die laaste keer agter my toegetrek het.

Middel 2020 sou die noodlot egter ingryp.  Media24 kondig ‘n ingrypende  nuwe  bedeling vir sy drukmedia aan. Ook Volksblad se ink droog op. Sy lewe as papierkoerant ruk ná 116 vrugbare jare tot stilstand.

Vir geen oomblik sou ek ooit kon droom dat hierdie trotse koerantgewel uit die hoofstroom sou verdwyn voordat ek die 80-baken bereik nie.

Die afskaling van my geliefde koerant waar ek 12 jaar redakteur was,  was nie net volslae onverwags nie.  Dit was ook ontugterend  en ‘n moeilik verteerbare skok –  ‘n sware verlies.

Vir my 80ste verskyn ‘n gedenkboekie met die titel “Koerant”.  Dit is ‘n selfpublikasie met ‘n beperkte oplaag, versorg deur Coenie Nolte se De Novoboeke. In die boekie  is die rou oor Volksblad se lot nog vars. Ek probeer nie my hartseer verbloem nie. Dit bied trouens die kapstok vir die boek.

Die rou is egter maar net die vlammetjie wat ‘n groter vuur aansteek. In ‘n stuk of 50 essays skryf ek darem nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekotes is opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor  ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

Noem ‘n aspek van my  loopbaan –  iewers steek dit kop uit. Moet dus nie verras wees nie as selfs onverwagte name soos Dallas, Anneline Kriel en Racheltjie de Beer in die bladsye van Koerant opduik.

Onder die jongste nuuswaardighede in my boekie is die roemlose aftog van die uitgewery Tafelberg rakende die snertboek oor “die seuns van Bird Island” en sy gruwelike beswaddering van eerbare leiers in die vorige bedeling. Van die aanvanklike onboetvaardigheid uit daardie oord het niks oorgebly nie.

Die sage was ‘n stukkie pynlike Persgeskiedenis waaroor ek my uit die staanspoor nie onbetuig gelaat het nie. Oor ‘n tydperk het ek agt koerantbriewe daaroor geskryf in Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad.

Dat my radar nie verkeerd was nie, is vir my hier aan die vooraand van my 80ste ‘n bron van vreugde. Ek draai daaroor nie doekies om nie. Nie almal wat die boekie onder oë kry, sal daardie hoofstuk met welgevalle lees nie – en dalk enkele van die ander hoofstukke ook nie. Ek maak nie ‘n moordkuil van my hart nie.

Die boekie verskyn in gedrukte formaat vir naaste familie, vriende en kollegas.  Vir die grootste gros ontvangers bied ek dit as e-boek aan. Die skakel sal binnekort aan hulle bekend gemaak word.

Die aflewering is ietwat prematuur. Dit is met die oog op die einde-van-die-jaar-gewoel aan vele fronte. Dit is nog te meer die geval om my Volksblad-storie te vertel terwyl dit nog relatief vars is.

Aan al die lesers: lees die boek en klink saam ‘n glasie op 80 vervullende jare.

 

 

 

 

EEN AAND IN LONDEN

Johan en sy wen-kar,.

My storie gaan oor ‘n herinnering aan my goeie kollega, vertroueling en gewaardeerde gespreksgenoot  Chris Moolman (79) wat vanoggend  oorlede is. Om by die storie te kom, moet ek eers ‘n draai maak by ’n motorwedstryd van die Vrystaatse Nasionale Party, ter viering van dié se vyf en twintigste bewindsjaar.

’n Deftige maroen 1973-Dodge SE met ’n ligbruin vinieldak was die eerste prys. Deelnemers moes ’n limeriek voltooi wat soos volg lui:

Vir vyf-en-twintig jaar ’n wakker Party
wat gereeld die Opposisie
met mening kasty –
Nasionaal is sy naam,
hy kan baie hard slaan
taradam, taradam, taradam.

Ek skryf toe in op my vrou, Tokkie, se naam. My slotreël (namens Tokkie) was: “Soos die vuisvose Sappe met verdriet moet bely!”  Dit wen vir haar die Dodge.

Met die maroen Dodge veilig in ons motorhuis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, word ek aangestel as eerste nuusredakteur van Beeld, die te stigte Naspers-dagblad in Johannesburg. Begin April groet ek Die Volksblad en vertrek dadelik op ’n studiereis van vyf weke na Londen om my voor te berei vir my nuwe taak.

Kollega Chris verteenwoordig daardie tyd die Nasperskoertante in die Londense kantoor. Een aand het ons groot planne vir ‘n “manne-aand” by Soho se kuierplekkies. Hy daag by my in die Charing Cross-hotel op met die vreemde vraag: “Wat gaan jy met die kar doen wat jy gewen het?”

“Nee, ons ry hom al,” antwoord ek.

“Albei?”

Eers toe snap ek daar is weer goeie nuus. Dié keer was die wenmotor ’n 1974-Valiant Charger, die eerste prys in ’n wedstryd van die Vrystaatse Universiteit. Ek het op my seun Johan se naam ingeskryf.Die driejarige knaap stap toe met die tweedeur-Charger weg en op die foto (hierby) lyk hy nogal heel in sy noppies agter die stuurwiel.

Aan my en Molie (soos ek Chris genoem het) se “kuier-aand” is meteens ‘n ekstra dimensie gevoeg, ‘n Dop of twee op die Charger was sekerlik nie buite orde nie.

Om te wen, moes ’n mens die beste rede gee waarom jy graag die betrokke motor sou wou besit. Ek het (namens Johan) in rympievorm geantwoord:
Hy’s vir die oog ’n fees en so sterk soos ’n bees,
Dis waarlik ’n spogwa om trots op te wees!

In Naspers-koerante was daarna berigte met opskrifte soos: “Twee motors gewen binne ses maande!” en “Koerantman wen twee motors”. In die berigte is daarvan gewag gemaak dat die twee nuwe motors saam meer as R9 000 werd is. Goeie ou dae!

Hoe ook al, ek het nog nooit weer soveel geld vir so bietjie skryfwerk verdien nie.

Dikwels moes ek daarna hoor hoe “gelukkig” ek dan is. Nou nie juis die toonbeeld van nederigheid nie, was my respons altyd dié van Gary Player oor sy suksesse op die gholfbaan: “Hoe meer ek oefen, des te gelukkiger word ek!”

OM TE KOES VIR ‘N SOEN

Hoe reageer jy as ’n dierbare vriendin, soos haar pikante Swartlandse manier is, jou gesig in haar hande toeskulp en jou met ’n klapsoen groet? Of as ’n goeie buurman onaangekondig jou voordeurklokkie lui sonder ’n masker op die gesig?

Volhard jy om “nee dankie” te sê vir die een hartlike uitnodiging op die ander na aandetes by vriende wat al hoe lank sukkel om ’n afspraak te beklink? Bly jy liefs steeds ver weg van byeenkomste van jou klub, leeskring of kerk? Vermy jy alle partytjies en was jy Braaidag maar stoksielalleen by jou vuurtjie?

Skielik maak COVID-19 vrae soos hierdie nogal relevant omdat verskillende lewenswyses spanning en onbegrip tussen vriende bring. Botsende beskouings veroorsaak verwydering, selfs tweespalt. Dit etiketteer mense, kategoriseer hulle en dryf wigte tussen verskillende kategorieë in. Dit is een van die jammerlike, onvoorsiene, gevolge van die COVID-19-regulasies wat nie op grond van grafieke geprojekteer kon word nie.

Feit is: Uiteenlopende sienswyses oor COVID-19 is uit die staanspoor al ’n werklikheid. Mense redekawel oor die erns van die bedreiging. Is daar werklik so ’n vreesaanjaende virus of is dit maar die gewone seisoenale-griep-ding in ’n ietwat ander gedaante? Soveel mense, soveel menings.

Nou verskuif die debat na vlak een wat uiteindelik, ná soveel moeite, koste en inspanning bereik is. Mense stry dat die spoeg spat. Is dit nou weer “open Sesame” soos tevore? Is dit ’n tyd om dubbel op die hoede te wees?

“Kan ons asseblief nou die nare besigheid agter ons sit en aangaan met ons lewens?”

“Moenie ophou om masker te dra, hande te was en afstande te handhaaf nie.”

“Is daardie vervelige ou rympie regtig nog nodig?”

Ontkenning loop jy raak om elke draai – en soms waar jy dit die minste verwag. Sal ’n verantwoordelike kontrakteur willens en wetens sy werksmense toelaat om ongemasker hul pligte by vreemdes se huise gaan verrig, soos in een week drie keer by ons gebeur het? Of is dit ’n geval dat werkmense hulle eenvoudig nie aan die baas se opdragte steur nie?

Ontkenning is natuurlik nie nuut nie. Uit die staanspoor was vrae, kritiek en botsende menings tiekie die bos. Skeptisisme, komplotteorieë en fluisterstories oor politieke bymotiewe het soos ’n stadslegende deur die land geswiep – mense wat “vertroulik” by dié of daardie sus en so gehoor het. Gewoonlik op sosiale media.

Nou, op vlak 1, is dit of hierdie verskynsel nuwe lewe kry. ’n Vriend staan ’n dag of drie gelede by Dis-Chem in die tou by die kasregister. Agter hom staan ’n groterige vrou van seker iets in die vyftig. Sy kruip al nader aan hom elke keer as hy verder weg van haar probeer staan. Haar masker is net oor haar mond en bedek nie haar neus nie.

Sy neem ’n redelik “uitdagende” houding aan en verkondig kliphard sodat almal om haar kan hoor: “Ek steur my nie aan hierdie virus nie. Niemand gaan my vertel wat ek nie mag doen nie. By die woonstel moet ek ’n masker dra as ek by die deur uitgaan, al is daar niemand op die trap nie. Ek doen dit nie.”

Dis toe dat my vriend hom vervies en rustig opmerk: “As dit almal se houding is, gaan ons almal siek raak.” Die tante wip haar vir hom en kap terug: “Nee, ons sal nie. Dis net verkoue.”

“Nee, dis nie. Ek het mense geken wat dood is van die siekte,” antwoord hy.

“Stront,” snork sy weerbarstig. Asof sy alwetend is.

’n Tipiese toneeltjie wat elke dag seker hoeveel kere in elke winkel of openbare plek afspeel. Sedert die afskaling tot vlak 1 kom dit net gereelder, vrymoediger en spontaner voor.

Die generasiefaktor figureer natuurlik sterk. Jong, gesonde mense, maskermoeg en gefrustreerd weens die weke lange inhokkery, is bondels energie wat brand om die lewe onbelemmerd te pak. Dis te verstane, soos dit vir hulle ook te verstane behoort te wees dat bejaardes, dikwels onheilspellend oorgewig en met lywe propvol sogenaamde komorbiditeite in die algemeen huiweriger is.

Die sienswyse geniet, helaas, nie wyd simpatieke begrip nie.

Omgewingsfaktore speel natuurlik ’n rol. Nie almal het die voorreg om tuis ’n goeie, gesonde lewenswyse as tweede natuur aan te leer en om bedagsaamheid teenoor die kwesbaarder medemens as beskaafde gedrag aan te kweek nie.

Die kleurfaktor sal deur sommige ingesleep word, hoewel dit verstandig is om te waak teen stereotipes. ’n Vriend getuig: “Niemand word by ons huis toegelaat sonder ’n masker nie. Ek moet erken: Ons huishulp wat maar 50 is, gee die toon aan. Sy is absoluut gesteld daarop. Dit dwing die res van ons om ter wille van haar by die reëls te hou.”

Wat bejaardes dalk die meeste hoofbrekens gee, is die diverse hantering van die COVID-19-kwessie onder porture.

Groep A kruip steeds weg agter maskers; wanneer hulle die huis vir inkopies en dies meer moet verlaat, vermy hulle opeenhopings van mense sover moontlik, sonder hulle bra asosiaal by die huis af en is baie bewus van patrone in die buiteland waar nuwe aangetekende koronavirusinfeksies in hierdie week op die hoogste vlak ooit was, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie. Sterftes aan COVID-19 in Europa het op ’n weeklikse grondslag met 27% gestyg, is Dinsdag berig.

Sulke syfers wek vrese vir ’n “tweede vlaag” van infeksies waarteen so gereeld gewaarsku word, en die vooruitsig van tot 60, 70 swaarkrydae in ’n oorvol waakeenheid in ’n koma op ’n ventilator – aan die einde ’n waarskynlik eensame verhuising na beter oorde sonder ’n naaste van ’n dag oud in die nabyheid om in die laaste oomblikke jou hand ’n drukkie te gee.

Vir vriende in groep B is sulke somber gedagtes vreemd. Hulle voel ontslae van ’n sware juk en wil met alle geweld weer “normaal” lewe.

’n Goeie vriend in groep B brand om met sy vriend in groep A gesellig te verkeer. Hy wil vinnig inloer, hom/haar nooi vir ’n koffietjie of ’n glasie wyn of om, soos in die goeie ou dae, ’n broodjie saam te breek. Ou vriende van ver bel selfs om te kom oornag. Arme groep A-ers moet verleë walgooi. Hulle besef hul vriende uit groep B dink hulle is sommer verspot of hul varkies kwyt.

Deesdae het die groep A-mense ’n onvleiende etiket: Hulle “lewe in vrees”. Hulle kry gereeld SMS’e met die boodskap: “Laat jou geloof sterker wees as jou vrees.” Van besorgde leraars kom bemoediging en subtiele herinnerings aan versies soos 1 Johannes 4:18: “In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite, want vrees het te doen met straf …”

Dit laat jou intens skuldig voel; skuldig en radeloos. Want jy bly maar vrekbang vir daai ventilator. Jy weet as die virus jou beetkry, is dit nag. Die druk is enorm. Hoe hanteer ’n groep A-mens dit?

(Die bydrae is ook te lese op Litnet. Die titel is Covid 19:  Maskermoeg? )