Aug 16, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In die wêreld van die koerant leer ’n mens allerlei fyn kunsies. Een is vernuftige voetwerk. Só vernuftig dat die uwe ná 35 jaar met genoeg spanning, konfrontasie en stryd kan sê: Hennie van Deventer het verdien om gedonner te word, maar is nooit gedonner nie – hoekom nie is ’n raaisel. Nie dat daar nie ’n paar near misses was nie!
’n Moerige setteryvoorman, Rod Preston, het ’n moersleutel teen ’n veeleisende jong subredakteur by Die Volksblad gelig. By Beeld moes wyle Johan Parreira, ’n bokser, weer een nag vir ’n verskrikte assistent-redakteur lyfwag speel: teen ’n bladplakker met ’n skerp mes in sy hand en moord in sy hart.
Wat presies die kollegas met die gevaarlike wapens in die hand se humeure so laat opvlam het, kan ek nie presies onthou nie, In eersgenoemde geval wil ek my herinner aan ‘n puntenerigheid oor iets wat vet (swart) geset moes gewees het en nie was nie. In die tweede geval herinner ek my aan ‘n irritasie oor wat die vakman as onnodige rondskuiwery van berigte tussen die eerste en tweede uitgawes beskou is.
Kollegas het my ’n kompulsiewe koerantman genoem. Gewag is ook meermale gemaak van my entoesiasme. Die twee kan ’n giftige kombinasie maak. Helaas.
By my afskeid van Naspers in 1999 het ek die volgende woorde kwytgeraak: “Ek kies die uitweg van die lafaard, met een enkele kollektiewe apologie, hetsy vir ongevoeligheid, onnadenkendheid, ongedurigheid of onreg wat gepleeg is. Daar was ongelukkig te veel van elk hiervan.” Die boetvaardigheid geld steeds.
Omgekraptheid oor my manier van doen was nie altyd net intern nie.
Later, in my redakteursdae, glo ek dat PW Botha my ná ’n verbale aanslag graag fisiek te lyf sou wou gaan oor ’n verwaanderige ope brief op die voorblad van Volksblad. My ongewaardeerde raad aan hom was dat ’n afgetredene sy mond oor die politiek moet hou. Gelukkig het 800 km se telefoondraad ons geskei.
In 1989 – kort nadat ek in die destydse tydskrif Insig geskryf het ‘n sterk suspisie leef voort, ook in die buiteland, dat die Weermag ná die Verdrag van Nkomati met Renamo bly konkel – daag Wynand Breytenbach, adjunk-minister van verdediging, duidelik ongemaklik by my kantoor op.
Magnus Malan, sy minister, het hom gestuur om “Hennie van Deventer op te donder”.
“En?”
“`Ek het vir hom gesê ek donder nie my vriende op nie.”
Gerusstellend gewees om dit van ‘n gereelde snoekermaat te hoor!
Aug 10, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Kosbare koerantkamerade. So noem ek die Die Burger en Beeld in briewe wat Saterdag in die twee susterskoerante se briewekolomme gepubliseer is. Ek is dankbaar vir die geleentheid wat my gegun is om ook op hierdie wyse afskeid te neem van my geliefde Volksblad waar ek twee skofte van 12 jaar elk werksaam was – die laaste skof as redakteur.
Aan Beeld was ek ses jaar verbonde: as eerste nuusredakteur en later adjunk-redakteur.
Die briewe is amper eenders, maar uit die aard van die saak nie heeltemal eenders nie. Hier volg my briewe, en verskoon maar die noodwendige oorvleuelings: Hier volg dit:
Die Burger:
Die laaste papieruitgawe van Die Burger se susterskoerant in Bloemfontein, Volksblad, het verlede nag van die rolpers gekom. Van Dinsdag skuif hy huidjie en muidjie na die digitale platform Netwerk24.
‘n Ikoniese gewel verdwyn uit die galery van hoofstroomkoerante. Nooit weer sal ‘n mens ‘n knipsel uit Volksblad kan maak of vis en skyfies in hom toedraai nie. Vir my wat bevoorreg was om 12 jaar redakteur te wees (van 1980 tot 1992) is dit ‘n somber gedagte.
Die Burger en Volksblad was oor ‘n eeu lank in vrugbare wisselwerking; twee hegte medestryders met gedeelde kernwaardes en gemeenskaplike ideale. Die verbintenis gaan nie verlore nie, die formaat verander wel. ‘n Era is verby; die onthou bly.
Soos Maandagoggend 4 Desember 1967. Eensklaps het berigte van Die Burger per teleks begin instroom. In voortreflike, eksklusiewe kopie het die drama van die eerste hartoorplanting by Groote Schuur hom ontvou. Só het Die Burger met talle groot stories vir sy kleiner suster uit sy pad gegaan. Sulke koerant-kameraadskap is kosbaar.
Volksblad het hom weer as voedingsbron onderskei. In ritse sleutelposte in die Pers was, of is steeds, Volksbladders. Vir Die Burger het die blad o.a. ‘n redakteur, ‘n top-politieke beriggewer, twee rubriekskrywers, ‘n hoofbestuurder, ‘n bemarkingsbestuurder en twee fabrieksbestuurders opgelewer. Op di spannetjie is ons kennelik trots.
Nog ‘n onderskeiding is sy bydrae tot die boekewêreld. Sowat 80 redaksielede het deur die jare sowat 1 000 boeke gepubliseer. Gesogte bekronings is ingeryg. Drie van die voorste skrywers van spanningsverhale was in die jare 80 kollegas in die Volksblad-redaksie. Die kanse is goed dat Burger-lesers een of al drie se boeke opraap soos hulle verskyn.
Ná hierdie ietwat opportunistiese reklameflits, nog net enetjie asseblief: klik tog maar soms ook op Volksblad as u Netwerk24 besoek. Derduisende klikke – dit gun ek my ou koerant van harte in sy digitale gedaante. oop hy kry
Beeld:
Die laaste papieruitgawe van Beeld se susterskoerant in Bloemfontein, Volksblad, het verlede nag van die rolpers gekom. Van Dinsdag skuif hy huidjie en muidjie na die digitale platform Netwerk24.
‘n Ikoniese gewel verdwyn uit die galery van hoofstroomkoerante. Nooit weer sal ‘n mens ‘n knipsel uit Volksblad kan maak of vis en skyfies in hom toedraai nie. Vir my wat bevoorreg was om 12 jaar redakteur te wees (van 1980 tot 1992) is dit ‘n somber gedagte.
Beeld en Volksblad was amper ‘n halfeeu lank in vrugbare wisselwerking; twee hegte medestryders met gedeelde kernwaardes en gemeenskaplike ideale. Die verbintenis gaan nie verlore nie, die formaat verander wel. ‘n Era is verby; die onthou bly.
Beeld se bydrae tot Volksblad se inhoud was oor die jare van onskatbare waarde. Met groot nuusstories soos die Pretoriabom, die Westdenebusramp, die rugby-wêreldbeker, die Smitmoorde, die Gert van Rooyen-sage en vele meer het Beeld uit sy pad gegaan om vir sy kleiner suster die beste diens te lewer. Sulke koerant-kameraadskap is kosbaar.
Volksblad het hom weer as voedingsbron onderskei. In Beeld se stigtersredaksie was ‘n dosyn Volksblad-gesigte. Deur die jare is drie redakteurs, twee assistent-redakteurs, twee nuusredakteurs, ‘n sportredakteur, motorredakteur en rubriekskrywer opgelewer. Om nie van die nimlike “Quintus van Blouen” te vergeet nie!
Aan bestuuskant het ‘n hoofbestuurder, advertensiebestuurder, bemarkingsbestuurder en administratiewe bestuurder die Vaalrivier oorgesteek. Op di spannetjies is ons kennelik trots.
Nog ‘n onderskeiding is sy bydrae tot die boekewêreld. Sowat 80 redaksielede het deur die jare sowat 1 000 boeke gepubliseer. Gesogte bekronings is ingeryg. Drie van die voorste skrywers van spanningsverhale was in die jare 80 kollegas in die Volksblad-redaksie. Die kanse is goed dat Beeld-lesers een of al drie se boeke opraap soos hulle verskyn.
Ná hierdie ietwat opportunistiese reklameflits, nog net enetjie asseblief: klik tog maar soms ook op Volksblad as u Netwerk24 besoek. Derduisende klikke – dit gun ek my ou koerant van harte in sy digitale gedaante. oop hy kry
Naskrif: Die drie gewilde skrywers na wie ek verwys, is Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg. Ek het hul name nie ingesit nie, o.m. weens ruimtebeperkings en ook weens die vraag: wie se name noem jy en wie s’n nie? Beeld het die name bygevoeg maar toe per abuis Chris Karsten weggelaat en Karin Brynard bygevoeg. Sy is nie ‘n Volksblad-produk nie. Die fout is op Netwerk24 regggestel. Dit sal ook in Beeld reggestel word.
Aug 7, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die ou Pers-leuse van “Het daghet overal” (die dag breek) sal moet verander tot “Digitaal is overal”. Só is onder ons ouer garde in die “Pers” geskerts toe die nuwe gonswoord “digitaal” so drie dekades gelede die joernalistieke jargon binnedring.
Skeptisisme kan ons vergewe word. Ons koerante was op die kruin van die golf: uitskieters met rekordsirkulasies, rekordwinste, ‘n miljoen lesers en ‘n beker in die kas vir die beste prestasie in die Nasionale Pers. Geen rede om bedreig te voel nie.
Ons het ons ietwat misgis. ‘n Era van innovasie was net anderkant die bult. ‘n Omvattender tegnologiese revolusie reeds op die horison. Vir ‘n nuwe geslag entrepreneurs was die tekens glashelder. Hulle het waagmoedig ingespring om nuwe velde te ontgin.
Verbruikerspatrone het begin verander. ‘n Digitale leefwyse het wortel geskiet. Politieke omwentelinge en ekonomiese insinkings het hul tol geëis. Strome tradisionele lesers het land-uit pad gevat.
“Ou media” het begin spartel. Die snoeiskêr is ingesteek; koste tot op die been gesny. Minder en jong junior mense moes die steeds swaarder vrag dra. Eksperimentele nuwe modelle is uitgedink en verfyn.
Toe, vroeg in 2020, verrys die verwoestende koronamonster met bose tentakels wat oral inwurm. ‘n Verdwaasde wêreld tas vervaard na reddingsboeie. Magtige damwalle kraak,
Gouer as verwag, beland Media24 saam met porture by ‘n kantelpunt. Swart Dinsdag – prof. Lizette Rabe van Stellenbosch se woordvonds – breek. aan. Die snoeiskêr word ‘n slagtersmes.
Ons eie geliefde koerant, die oudste in Afrikaans, wat so lank sy man in elke geselskap kon staan – nasionaal hoog geag onder vriend en vyand – word uit die hoofstroom verwyder. Hy skuif na ‘n digitale syspoor en staan voor ‘n vreemde, ongekarteerde ontdekkingstog.
Om ‘n afskeidswoord in die laaste papieruitgawe van hierdie ikoon te skryf, is uitdagend, Hoe word jy ‘n stem vir sovele duisende wat Volksblad as kleinood koester: toegewyde personeel wat steen vir steen help messel het om die bastion te bou, lojale adverteerders, ‘n verknogte leserskorps? Almal met verslaendheid, vrae en dalk verwyte in die hart.
Een opsie is bal die vuis en protesteer. Nee. So ‘n reaksie sou ontrou wees aan die koerant se karakter; ‘n miskenning van die staal wat hy al 11 dekades prysenswaardig demonstreer. Ook indruis teen die gees van sy lesers wat elke dag moet leer om die eise van ‘n al hoe taaier leefwệreld te trotseer.
Adam Small dig in sy vers “Die Here het gaskommel”:
“Die dice het vekeerd gaval vi’ ons
Daai’s ma al.”
Uiteindelik is die “val van die dobbelsteentjies” van ‘n rondomtalie-wệreld waarskynlik die juiste diagnose vir die huidige media-dilemma. Aanvaar jy die werklikheid, hou jy op om slim antwoorde op elke kwelvraag te soek. Jou hartseer is steeds intens. Maar die aanslag van jou groetwoord verander. Doelbewus skuif jou fokus na die positiewe sy.
Jy kyk terug met trots. Volksblad het niks om oor skaam of beskeie te voel nie oor sy sovele baanbreker-bakens sedert stigter Hendrik de Graaf met sy rolpers op ‘n ossewa uit Potchefstroom na Bloemfontein uitgewyk het. Tot die uitbou van Afrikaans, die Afrikaanse kultuur, die demokrasie, die politiek, die ekonomie, ‘n lewenskragtige gemeenskap, sport – deurgaans was sy bydrae uitnemend. Dikwels deurslaggewend.
Ons koerant is steeds invloedryk. Daarby is hy beginselvas, gesaghebbend, ewewigtig en geloofwaardig. Dienslewering weeg by hom swaar. Om ‘n ingeligte openbare mening.te skep, span hy hom elke dag in. Teen magsvergrype, uitbuiting en onreg is hy ‘n waaksame waghond.
Of enige ander dagblad bestaan met so ‘n hegte band met sy gemeenskap val te betwyfel. In sy eeufeesboek word hierdie verbintenis treffend verwoord: “ …. oor tien dekades (nou al oor elf) het Volksblad saam met sy lesers, vir sy lesers en namens sy lesers gejuig, gehuil, gelag, gestry, gekasty, gewonder, gebid, getwyfel, gefouteer, rigting, aangedui – geleef. En só het hy een van hulle geword en hulle deel van hom.”
As dié taksering deur twee onafhanklike geskiedskrywers die breë gemeenskapsgevoel weerspieel – en kyk maar na die solidariteit sedert Swart Dinsdag – wek dit by elkeen wat ‘n entjie met Volksblad kon saamloop, net dankbaarheid. Dit is ‘n voorreg om die eerbare verbintenis op jou CV te vermeld. Watter lewensverrykende ervaring was jou Volksblad-skof nie!
Van die handjievol pioniers gaan die oorgang uitsonderlike durf en daadkrag verg. Uitdagings wag soos aan vorige generasies onbekend was. Slegs een reuse-taak: om die koerant in getransformeerde gedaante steeds volledig in sy gemeenskap te laat funksioneer. Kreatiwiteit gaan vereis word om sy uitsonderlike binding met lesers – daardie trotse Volksblad-handelsmerk – lewendig te hou.
Aan die Gideonsbende se opgewassenheid twyfel ons nie. Die onbekende hoef nie aangepak te word met hoop wat op oppervlakkige optimisme of vae wensdenkery gegrond is nie. Dit staan op die soliede pilare van wat Volksblad nog altyd was, is en sal wees.
Laat Heer U seën steeds op hom daal.