TJEK SE LAASTE HOP

Wuif totsiens vir die tjek. Die gerespekteerde betaalmiddel sedert die 9de eeu al loop nou die pad van ander gister-goed wat nie teen moderne plaasvervangers die pas kon volhou nie. Soos die betroubare telegram, die Kerskaart en die minnebrief met langhand op papier gesit – boonop met ‘n vulpen.

As jy ‘n koerantmens was, soos die uwe, kan jy die teleksberig bysit. Daarvan het rieme elke dag elke koerantkantoor binnegestroom op rye teleksmasjiene wat onverpoosd soos masjiengewere knetter. Moenie die landlyn vergeet nie. Elke foto van elders het jou koerant dotjie vir dotjie via ‘n verre poskantoor bereik.

Op my eerste tjekboek aan die begin van die 60’s was ek, jong koerantman, trots soos ‘n pou. Het altyd gehoop om iemand te imponeer wanneer ek daardie kenmerkende plat boekie spoggerig uitpluk en met ‘n swierige “JH van Deventer” – die ene krulletjies en draaitjies, aldus my vrou – ‘n aankoop met vers en kapittel op die reghoekige stukkie papier beklink.

Myne was ‘n Volkskas-model met “arbeidsaamheid” as leuse en die hand op die ploeg as logo. Absa, my latere modern bank, is nou onder die voorlopers om die tjekboek goedsmoeds in die snippermandjie te gooi.

Ai tog. Maar dis soos hulle sệ: Omnia mutantur nos et mutamur in illis (“alle dinge verander en ons verander saam met hulle.”)

Nog ‘n nuttige papierproduk van ‘n vergange era was die telegram. Telegramme is al geruime tyd uitgedien. Al waar jy nog daarvan kry, is in netjiese pakkies met lintjies vasgebind, gewoonlik in ‘n embuia-“trousseau”-kis met bal-en-klou pote en koperbeslag. Saam met allerlei ander sentimentele kleinighede word dit daar as soewenier van bruide van toeka se groot dag bewaar.

Hoeveel telegramme jy gekry het – en van wie almal – was nogal ‘n statussimbool. Party was kort en kragtig: “seën op huwelik”. Ander kon nog al woordryke sedepreke bevat. Moes afsender ‘n fortuin gekos het.

Op die onthaal – dikwels in die kerksaal – het die seremoniemeester of een die telegramme voorgelees. Dit was deel van die bruilof ritueel, soos die sny van die koek en die werp van die kousband in die gehoor.

Grapjaste – gewoonlik die raseriges wat voor in die koor was wanneer “Ta Koek se hoenderhaan” vir die bedremmelde bruidegom aangehef word, het dikwels kamma-telegramme ingesmokkel. Een voorbeeld: ‘n fiktiewe vorige kệrel wat met doelbewuste dubbelsinnighede op vorige soete oomblikke saam met die verleë bruid sinspeel.

‘n Gewilde stoutetjie wat ek onthou, was sogenaamd van die bestuurder van die wittebroodhotel: “Spyt my om julle in te lig die spesiale bruid-suite het weens omstandighede buite ons beheer op die laaste oomblik onbeskikbaar geraak. Ek gee julle sommer julle ou kamer van vorige besoeke, as dit sal reg is met julle.”

Ou kamer? Vorige besoeke? Onthou, ek praat van ander tye. Die huweliksnag was veronderstel om werklik ‘n eerste te wees; nie sommer soos al vele nagte voor hom nie. Menige bruid het beetrooi gebloos.

Voorspel tot die huwelik was o.m. hartstogtelike briewe waarin die ontluikende liefde met toenemende vrymoedigheid verklaar is. “Liewe Bettie”, het in sulke briefies eers “liefste Bettie” en dan later “My enigste liefling” geword.

Op skool het spesiale “koeriers” sulke briefies ongemerk voor jou op jou bank kom neersit of pouse vinnig in jou sak gedruk. Party was op pienk papier met ‘n diskrete parfuumreuk. Jy kon dit nie gou genoeg oopskeur om elke soete woord van liefde en verlange in jou hart te vertroetel nie.

Party romantiese Romeos kon monumentale liefdesbriewe skryf. Een skrywer van ‘n gedenkwaardige brief was n passievolle jong Tukkie, Pikkewyn (Pik) Botha, rasieleier en latere minister van buitelandse sake. Sy rekord was ‘n brief van 90 foliovelle.

Die ontvanger van daardie gewigtige brief, netjies in ‘n pakkie opgemaak, was Helena Bosman, ‘n Matiestudent.   Tere minnegediggies uit dieselfde oord was ook gereeld in haar posbus. Sy het in 1953 mev. Helena Botha geword.

Deesdae kommunikeer geliefdes dalk meer met haastige teksboodskappies en emoji’s, dalk nog in kodetaal. So raai ek maar.

Kerskaarte was toeka se tyd ook ‘n groot ding. Vroeg in November het jy al begin lysies maak wie almal moet kry, en by skryfbehoeftewinkels begin rondkyk. In nederiger prysklasse was die meeste in pakkies van ses met onvanpaste sneeutonele op die voorblad en swak vertaalde Kersboodskappies binne.

Later het die prentjies meer gesifostikeerd en gevariëerd geword. Op party van die nuwer soort was plek om ‘n persoonlike boodskappie te skryf. Deftige mense het hul kaartjies laat druk: in goue of silwer letters met hul name en adresse in die een hoek soos op ‘n visitekaartjie.

Ingenome ontvangers het hul Kerskaarte graag op kaggelrakke en ander plat oppervlakke uitgepak. Ander ornamente, ook op die buffet, is vir die “Kersgety” na laaie geskuif om vir die verskeienheid Kerskaarte plek te maak. Sommige ondernemendes het tou of ‘n draad van hoek tot hoek in die sitkamer gespan. Hul Kerskaarte is dan wydsbeen daaroor gedrapeer om met die res van die kleurryke Kersversiersels saam te smelt.

Boontoe het ek verwys na vanmelewe se teleksmasjiene wat stil geraak het. Koerante word in doodse stilte in die soort steriliteit geproduseer wat ‘n mens gewoonlik met hospitaalteaters vereenselwig. Foto’s se pad is as’t ware van die kamera na die blad.

Nog iets wat ongetwyfeld vir altyd verlore is, was iets waaroor ek nogal ‘n sterk nostaklgie in my voel opwel. Uit afvalpapier in die drukkery is klein blokkies papier geknip waarop haastige boodskappies per bode vir kollegas gestuur is: “Mev. O. Kom gesels asb. HvD”

‘n Keer was by Die Volksblad ‘n kompetisie tussen redaksielede oor wat ek in my haas op so ‘n blokkie papier in my partikuliere soort snelskrif neergepen het.   Die drie finaliste is vir my gebring om die wenner aan te wys. Ná ‘n ruk moes ek tou opgooi. Die drie moes die eerste prys deel. Ek het vergeet wat ek daar geskryf het en kon dit om die dood nie ontsyfer nie.

NOMMER ASSEBLIEF: VAN 40’S TOT 2020

In 1941 toe ek in die hartjie van die Tweede Wêreldoorlog in Babanango gebore is, was die plaaslyn ‘n wonderbaarlike manier van kommunikasie. ‘n Telefoonsentrale by die poskantoor het die oproepe bestuur. Jou oproepkode was konfigurasies van vier luie: drie langes en ‘n korte, een lange en drie kortes en dies meer.

Die telefoon het elke keer by almal op die betrokke lyn gelui.  Jy moes fyn luister om die regte “kode” te onderskei.. Om in te luister op mekaar se oproepe was vir sommige ‘n soort stokperdjie. Vele skinderstories het so ontstaan.

Hoeveel bakens is nie sedertdien geplant nie? Wat een dag nog as wonderwerk beskou was, was die volgende dag ou nuus. En my geslag het dit alles beleef. Hoe uitnemend bevoorreg is ons nie.

Woensdagaand 20 Mei was my eerste webinaar op Zoom.  Dit was ‘n voorreg om ingeskakel te wees by die historiese “eerste”. Het nogal taamlik senuweeagtig sit en wag. Sê nou ek druk  iewers ‘n verkeerde knoppie – en kapoef!  Toe die beeld begin lewe kry, was dit of ‘n Everest bestyg is. Op my kroegie staan nog ‘n ou landsvlaggie (sjuut!).  Kon gerus na buite storm en hom triomfantlik in ‘n blombak plant.

Die webinaar (‘n mens se woordeskat brei ook gedurig uit) was prikkelend, insiggewend en boeiend. Het wonderbaarlik vlot verloop. Ek lig my hoed vir die tegniese mense agter die skerms.

Sondag kom ‘n e-pos van kleinseun Jacob Claasens: uitnodiging tot ‘n Zoom-geleentheid. Die tema: “Ons mis julle!”  Lekker gekuier so virtueel.

Vir Woensdag is ‘n derde Zoom –okkasie geskeduleer. Ek raak ‘n veteraan!

Oor presies hoe die ontwikkeling van die Alexander Graham Bell se instrument in my lewe verloop het, is ek, helaas, ‘n volslae leek. Seker honderde verfynings en moderniserings het al plaasgevind.

Ek onthou darem Klerksdorp se sentrale waar ek ná matriek  in 1957 ‘n vakansiewerker was: voor jou ‘n muur vol klein gaatjies, en toue soos lang wurms met lang dun koppies wat jy in presies die regte gaatjie moes druk. (Kon een aand nie die versoeking weerstaan om te sit en inluister nie toe ‘n verslaggewer van Die Transvaler ‘n moordstorie inbel Johannesburg  toe.)

Op Tukkies was die “langtiekie” in die jare rondom 1960 hoogmode. Openbare telefone is vuurwarm gebel met ‘n tiekie aan ‘n stringetjie.  Jy laat sak hom, pluk hom uit, laat sak hom, pluk hom uit  – totdat die “betaling” registreer en die oproep (meesal na jou meisie of jou ouers) deurgaan.  Voorloper van deesdae se gratis gesels?

As jong vryer onthou ek die laasste stuiptrekkings van die driesyfer-era. My vrou, Tokkie (toe my meisie), was van Bultfontein.  Ma Marietjie se nommer was 204. Jy skakel die kode vir Bultfontein; die sentrale doen die res. En hoe ingelig was daardie sentrale nie?  “Nee hartjie, Ta’ Marietjie-hulle kuier vanoggend by Ta’ Ellie. Ek probeer daar.”

Ek was toe ‘n jong verslaggewer. Hope berigte is via openbare telefone Volksblad toe deurgebel: “perskollekteer”. Jy lui eers die poskantoor. Dié verneem by die ontvanger of hy sal betaal.  Dan bel hy jou terug. Het nogal vernaam gevoel om ‘n “perskollekteer”-oproep te plaas.

Sekere langafstandoproepe was ‘n kwessie van bespreek, wag en desperate frustrasie. Soms soos ure gevoel. Terwyl spertyd nader kom en jy duskant brand van haastigheid.

Toe die 80’s.  Aangename kennis, Mnr. Faks.  Verstommend.  Jy stuur ‘n volledige brief of berig sommer sito-sito na sy bestemming – nie meer letter vir letter soos op die telegraaf- of teleksmasjien wat toe die kommunikasiehart van die koerant was nie.  Maar daai faks kon ook ‘n vloeksteen wees. Jy is besig om ‘n hoofartikel die lig te laat sien. Dan kom die sekretaresse by die deur in en plaas ’n stuk papier in die inmandjie.

Koebaai, konsentrasie. Nuuskierig, los jy eers alles en lees die faks.  Soms onbenullig.  Dekselse inbreuk op jou privaatheid,  het ek dikwels geknor.

Laat in die 80’s het die rekenaar in my lewe gekom. Die era van warmlood was op sy laaste bene in koerantfabrieke. Tikmasjiene was op pad museums toe.  Krisis!  Hoe verkleef was ek nie aan my getroue Olivetti nie, en hoe wantrouig jeens die nuwe affêring  met sy tentakels wêreldwyd!

In die 90’s, hier’s die selfoon. Sulke halwe bakstene wat ‘n klompie kilo’s weeg. Voortvarend, gee ek te kenne ek gaan dadelik een aanskaf. ‘n Kollega (later ‘n bedryfsleier) was skepties. Hoekom sou ‘n mens so ‘n onnodige oorlas met jou wil saamdra? Ons baas was Ton Vosloo. Gelukkig het hy my kant gekies,

Einde 1997 tree ek af. Toe begin dinge aan daardie front roer. Kommunikasie raak net al hoe meer gesofistikeerd. En in dolle vaart. Sal my liewer nie probeer slimhou oor die laaste twee dekades se ontwikkeling nie.

Tokkie sal my hopelik die storie vergewe oor hoe sy jare gelede nog net in haar allernodigste  die buurman bel om hom geluk te wens. Nee, hy’s al werk toe. Sy bel soontoe. Beset. Sy bel weer. Hy antwoord dadelik: “Hi, Tokkie”.  Sy wou onder die bed induik – oortuig dat hy haar in haar ontblote toestand kan sien. Later eers by die buurvrou gehoor hy het tussen haar twee oproepe met sy huis gepraat. So het hy gehoor dat Tokkie op sy spoor is.

Wel, hier kom Skype toe al die ander nuwerwetsighede – die I-pad, die I-phone, Whatsapp video calls, Facetime en wat nog. Hulle maak moontlik wat Tokkie destyds instinktief gevrees het. Maar liewe Skype. ‘n  Buiging na jou is vanpas. Wat sou oupas en oumas sonder jou gedoen het in die era van kleinkinders oor die aardbol heen verstrooi?

En slimfone word net al hoe slimmer.  Die weer?  Kom ons kyk gou.  Die pad? Kom ons kyk gou?  Beurtkrag? Kom ons kyk gou. Die verstand duisel – veral as jy, soos die uwe, verbete bly klou aan jou uit die oude doos Blackberry uit die jare toet wat net kan bel en sms’e stuur.

Daaroor ‘n laaste storie voordat ek weer by Zoom kom. Dis van ’n vriendin wat Tokkie bel. Sy soek my Whatsapp-nommer. Hennie het nie een nie, antwoord Tokkie. Vriendin (verbaas-verergd): “Man, jy verstaan nie. Gee my net sy selnommer. Ek kan dit hanteer.” Tokkie: “Man, jý verstaan nie. Jy onthou toe Noag die duif uit die ark gestuur het? Wel waarmee hy teruggekom het, was met Hennie se selfoon!”

Maar hierdie Zoom-ding:  soos ek hierbo probeer verduidelik het: dis waaragtig oulik. Wens so ons het dit al lankal gehad.  Hoeveel duisende kilometers moes ek nie in my lewe reis – per vliegtuig, bus en motor – vir vergaderings en byeenkomste wat ons met die huidige tegnologie uit die gerief van ‘n kantoorstoel kon hanteer het nie

Met waters wat verby is , sal die meule nooit weer maal nie. Laat my nie afsluit op ‘n noot van nostalgie nie maar op ‘n noot van gedeelde opwinding oor ‘n nuwe era wat aanbreek. Oorvloedig is die dankbaarheid dat die ou gryse 1941-model in Mei 2020 saam daardie nuwe treetjie kon gee  – al het hy nie eens ‘n Whatsapp-nommer nie!

Omnia mutantur nos et mutamur in illis.