May 4, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vriend Ronnie de Bruyn wat die naweek op amper 90 in die aftree-oord Klaradyn ter ruste is, was ‘n gerespekteerde oud-skoolhoof en ‘n pilaar van die gemeenskap. Kon lekker ondeund ook wees as hy die dag lus was.
Sal ek sy storie vergeet van Anita se heupvervanging? Bedagsame eggenoot wat hy is, koop hy toe vir haar ‘n fluitjie om hom slaapkamer toe te ontbied as hy ‘n pliggie moet kom verrig.
Die Saterdagmiddag sit hy in hul huis – toe nog hier in Tweede Laan, Melkbos – voor die TV en rugby kyk. Iets haper egter. Lyk of die spelers die skeidsregter eenvoudig net ignoreer. Fluitjie blaas skril. Spel gaan voort. Fluitjie blaas nog dringender. Geen teken dat iemand wil ophou speel nie.
Hy wou hom eers vervies vir die swak dissipline. Toe tref dit hom soos ‘n emmer yskoue water. Daardie fluitjie blaas nie op Nuweland nie. Dit blaas hier in sy slaapkamer. Dis Anita wat blaas en blaas dat haar longe wil ingee.
Toe hy skuldig by die deur inloer, kan hy sien Anita is ongeduldig. “Ek blaas en blaas, maar lyk my jy raak nou hardhorend!”
Met dieselfde operasie (en die lang rehabilitasie) was Ronnie later nie meer so fluks met al die huiswerkies soos aan die begin nie. Dis toe dat hy sy vriende sugtend meedeel hy wil kerkkantoor toe om ‘n reëling te tref. Hulle moet Anita se naam nou summier van die gebedslys verwyder en met syne vervang!
May 2, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Wat ‘n jaar was 1961 nie – vir Suid-Afrika; ook vir Die Perdeby, studentekoerant van Tuks!
Suid-Afrika word ‘n Republiek – ‘n lang Afrikanerdroom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek bande met die Statebond. NGK-mense bots sterk oor apartheid by die Cottesloe-beraad. Oor al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam.
Hoë besoekers stroom na die kampus: Dr. Verwoerd, pres. C.R. Swart, dr. Anton Rupert, N.P. van Wyk Louw. Elke keer is Die Perdeby op die toneel.
Komplimente vir ons koerant was volop. Die beste ‘By in sy jare op die kampus, was die mening van o.a. Piet Grobler, latere senior LV wat beroemd/berug geraak het oor sy openbare botsing met die konserwatiewe dr. A.P. Treurnicht.
Die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het op sy beurt laat hoor: “Die Perdeby het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar, ook vir die redaksie van Die Perdeby.”
Natuurlik is ek trots dat ek daardie redaksie kon lei. Sy foto is een van dié uit my studentedae wat teen my studeerkamermuur hang. Links voor sit Joh Groenewald. Sien in vanoggend se Burger hy is sag heen op George. Was ook al ‘n 1939-kalwer.
Miskien is dit tyd dat ek ‘n geheimpie verklap: dat Joh – bekende filatelis van later jare – eintlik ons “geheime wapen” van daardie Perdeby was. Hy was toe al verslaggewer by Die Transvaler en ‘n knap leermeester – ook vir die redakteur.
Te laat – soos helaas dikwels maar die geval is – wil ek graag vandag aan hom ‘n erkentlike buiging maak. Joh Groenewald jy was in ‘n onvergeetlike jaar goud werd – vir my en vir ‘By.