BIRD ISLAND EN KOERANTE

IMG-002

Koerante het heelwat slae gekry oor hul hantering van die Bird Island-sage. Ek wil nie die kritiek hier herhaal nie; het wel self van tyd tot tyd my mond oor die een en ander uitgespoel – soos oor die roemlose kort verskyning op die toneel van ‘n uiters onwaarskynklike “Mnr. X”.

Die munt het egter ook ‘n ander kant. Dit sou uiters onbillik wees as ek nie raaksien nie of dit sommer onvermeld laat verbygaan watter ruimte die koerante my deurgaans gegun het om uit die staanspoor na die verskyning van Steyn en Minnie se gewraakte pennevrug my bedenkinge te opper.

Uiteindelik tel ek sowat 10 briewe oor die onderwerp uit my pen. Van hulle was in al drie dagblaaie, Die Burger, Beeld en Volksblad. Van hulle was in Rapport. Al die koerante het my ruim geleentheid gegee om my saak te stel, vrae te vra en kritiek uit te spreek. Prominensie is aan die briewe verleen wat bo verwagting was. Ook op Netwerk24.

Beeld het een van my briewe geplaas met ‘n sterk verwysing daarna regs bo op die voorblad (foto). Reeds op 9 April 2019, 11 maande gelede, is ek toegelaat om te verklaar: “Vier, nee vyf, spykers is nou in die doodkis van die Bird Island-boek gekap”.

Barnard Beukman, redakteur van Beeld, het onder sy naam die uitgewer, ‘n sustermaatskappy in die Media24-groep, sterk aangevat en o.m. die boek “waarskynlik ‘n laagtepunt in die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf” genoem.

Rapport het op 14 April ‘n brief van my geplaas onder die opskrif “Vrae en reaksie na berigte oor Bird-Island” waarin ek uitdruklik verklaar die dat die geloofwaardigheid van die boek toe reeds “in vlamme afgeskiet” was.

Aan die brief het hy sy apologie in sy kommentaarkolom op bladsy 2 vasgeknoop. Die opskrif was, sonder om doekies om te draai: “Bird Island: Ons het ‘n fout gemaak.” In die apologie is die kernswakheid van die boek in een sin kragtig saamgevat: “Vir geen van die skadelikste bewerings kon enige joernaliste bewyse vind wat onafhanklik geverieer kon word nie”.

Daarop het die koerant sy lesers, Barend du Plessis en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley om verskoning gevra.

Die merkwaardigheid van so ‘n aanvaarding van skuld en uitspreek van berou is waarskynlik nie oral na waarde geskat nie. In koerantgeskiedenis is dit ‘n uiterste seldsaamheid.

By die uwe leef nog ‘n krapperigheid of wat oor ‘n uitlating van ‘n hekelskrywer hier of ‘n dingetjie daar, maar op die keper beskou, skuld ek die koerant ‘n persoonlike woord van dank dat hulle op die wyse hierbo genoem hul rol bly speel het om die waarheid oop te kloof en die onsin wat Minnie en Steyn opgedis het, aan die kaak te stel.

Hoe onmisbaar die koerant vir ‘n ingeligte gemeenskap is, is opnuut onderstreep.

EN NOU, POLLUX?

Meermale moet ‘n mens maar sterk staan die versoekinge van die ou ondermaanse.
 
Moet maar die persoonlike swakheidjie bely om my in ‘n sekere mate te verlustig in die verleentheid van dese en gene wat my so aangevat het oor my onmiddellike verwerping van die Bird Island-boek as die verbeeldingsvlugte van verwarde siele.
Sal maar my rug styfmaak teen die versoeking om te begin appeltjies skil.
Vergewe my egter as ek darem net vir Pollux, stekelrige politieke rubriekskrywer van Rapport, herinner aan sy snedige opmerking van eertyds dat die uwe iemand is wat die Magnus Malan-storie so heftig ontken, dat hy (dis nou ek) ) deur geen bewyse oortuig sal kan word nie. Bewyse? Al bewyse wat daarna gekom het, is onomstootlike bewyse van die spul opgestapelde leuens van die “outeurs”, Steyn en wyle Minnie.
Gisteraand in Carte Blanche was daar minstens vyf nuwes: almal behoorlik be-edig. Hoop dit het vir Pollux ak iets bewys! 
 
Terwyl Pollux nou so ‘n man vir bewyse is, kan hy gerus ook maar met sy bewyse kom vir sy dwarsklap van dieselfde dag dat die uwe ‘n redakteur was wat geglo het hy kan die wereld verander.
 
Ook die stelling was natuurlik uit die duim gesuig soos Steyn en Minnie se boek. Elke kollega wat my geken het, staaf die onwaarheid daarvan. Pollux het nog nooit verskoning gevra nie. Dalk is hier nou ‘n gulde geleentheid vir hom om sommer die onverdiende veroordeling ook in die reine te stel.
 
Of moet ek ook 36 jaar wag, soos Barend du Plessis nou al 36 jaar wag dat die polisie wie se”ondersoek voortduuur” aan sy deur kom klop?

LAMLENDIGE APOLOGIE

Brief in Die Burger.

Brief in Die Burger.

 

Ek verwys die uitgewer Tafelberg graag na die verskoning wat die Sondagkoerant Rapport oor sy dwalinge met die Bird Island-sage op 16 April 2019 prominent gepubliseer het.

“Ons het ‘n fout gemaak,” het die koerant ruiterlik erken. Sy verskoning was inklusief en berouvol. Dit het eksplisiet ook lesers en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley ingesluit.

Daarteenoor is die apologie van die primêre sondaars (saam met die opportunistiese outeurs) flou, onvolledig en ontoereikend.

Die uitgewers erken dat sy “ gewraakte stellings nie onafhanklik geveriëer (kon) word nie.” Maar in sy apologie – duidelik versigtig regstegnies geformuleer – word in dieselfde asem sy verskoning “net beperk tot mnr. Du Plessis”.

Onmiddelllik ontstaan die vraag: kon die “gewraakte stellings” rakende Malan en Wiley wel dan op enige wyse “onafhanklik geveriëer” word? Indien wel, word dit deksels goed verbloem.

Of sou die “verifikasie” steun op slegs die vae bewerings van die naamlose Mnr. X wat een dag voorbladnuus was en die volgende soos ‘n groot speld verdwyn het? Hoeveel beëdigde verklarings van sleutelmense verlang NB-uitgewers en Tafelberg dan nog om hulle van hul mistasting te oortuig?

Maar natuurlik: anders as Du Pessis is Malan en Wiley nie meer in lewe nie.

Voorts: ag die uitgewer die misleiding van derduisende lesers van so min betekenis dat hy hulle, anders as sy susterpublikasie Rapport, in sy oomblik van berou skoon vergeet?

Die onttrekking van onverkoopte eksemplare is ‘n gebaar – ‘n nogal sterk simboliese gebaar van skuldbekentenis – maar op die keper is dit in geldwaarde uiters gering teenoor die miljoene wat internasionaal ingehark is. Op biblioteekrakke wêrelwyd pryk die boek nog. Op die internet leef miljoene verguisende woorde. Wat gaan NB-uitgewers en Tafelberg doen om hierdie tsoenami van skade te beperk ?

(Die brief het vanoggend in Die Burger en Volksblad verskyn.)