Oct 19, 2019 | Hennie van Deventer se Blog
Ek wil graag nog iets vertel van die land Japan wat nou in sy rol as gasheerland vir die grooot rugby as ‘t ware herontdek word, en oor die stad Kobe waar van die groot wedstryde gespeel is. Ook die Springbokke het daar uitgedraf. Ek en Tokkie was in 1998 in Kobe vir die wệreldkongres van koerantuitgewers – my laaste voor aftrede.
Een groot vraag waarmee ons in Kobe aangekom het, was: hoe heel kan ’n stad wees net drie jaar nadat 100 000 geboue in ‘n reuse-aardbewing verwoes of beskadig is, die padnetwerk (die vernaamste snelweg inkluis) in duie gestort het, en spoorlyne verfrommel is? Die antwoord, het ons gou agtergekom: heeltemal heel. Omtrent al sigbare tekens van die aardbewing wat oorgebly het, was ’n ry windskewe lamppale naby die hawe. Dié is doelbewus so gelaat – as ’n gedenkteken van die stad se 20 sekondes van pyn. Die mooi plek is ook nie net oppervlakkig deur ’n “Glam Guru”-stadsbeplanner kosmeties “oorgemaak” nie. Sy siel was heel.
Rampe skep desperate mense; desperate mense se grypsug ruk maklik hand-uit, hetsy in Afrika, Indonesië, Amerika, Nieu-Seeland of waar ook al. Dit weet elkeen. In New Orleans in die deelstaat Louisiana in die VSA is byvoorbeeld, ná die verwoesting van die graad-vyf-orkaan Katrina in 2005, selfs ’n hele Walmart-winkel (massiewer as ’n Makro) dolleeg besteel. In Kobe het egter, merkwaardig genoeg, geen plundering voorgekom nie. Selfs juwelierswinkels is onbewaak oop laat staan. Dit sê iets van die stoffasie van die Japanners.
- Op die foto is ek en Tokkie by ‘n ysbeeld van die ellelange Akashi-Kaikyo-brug by die Osakabaai wat pas ingewy was. (Die brug is 3 911 meter lank en op die hoogste punt van die boog 300 meter hoog. Dit het ’n rekord-span van 1,991 meter, ’n hoogte wat hom in die geselskap van reuse soos die Tokiotoring en die Eiffeltoring in Parys se 321 meter plaas.) Vir perspektief: die veelbesonge Golden Gate-brug by San Francisco was daardie tyd net nommer 14 op die lys van langste boogbrûe.
- Die verhaal van ons onvergeetlike besoek aan die verre hawe Kobe is opgeteken in my boek “Na verre hawens” wat pas by Naledi verskyn het. Dit is reeds aanlyn te koop by Naledi, en in boekwinkels seker enige dag van nou.
Oct 17, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Met vonkelwyn uit twee MSC-glase (‘n geskenk aan lede van die Seniorsklub op die MSC Musica ) het ek en Tokkie gister die verskyning van “Na verre hawens” by Naledi gevier. Heerlik, soos altyd, om ‘n varsgedrukte boek in die hande te hou. In die boek is o.m. hoofstukke oor minstens ses MSC-vaarte, wat twee na Venesie insluit. Ander vaarte sluit in een op die QM2 na Australie. Asook talle ander op veerbote, plesierbote en watter bote nog.
Die verhaal van die glase begin toe ons op 26 April 2019 in Durban aan boord die Musica kom. ’n Verrassing het op my en Tokkie in kajuit 8102 gewag: dieselfde geskenk van MSC as vir ons goue bruilof twee jaar gelede op ’n vaart na Walvisbaai – ’n ysemmer met ’n bottel Moët et Chandon-sjampanje uit Frankryk (prys op skip: nou al $75 teen $70 destyds) en daarby die twee elegante glase met die MSC-logo daarop gebrandskilder. Alle lede van die MSC se “Seniorsklub” is so bederf.
Vele van die proppe het dalk sommer die eerste aand al tussen Durban en Mauritius geklap. Ons goue voggies het ons vir ’n spesiale “goue oomblik” gebêre.
Ons “goue oomblik” het daardie aand in die Baai van Kotor aangebreek. Kan Moët et Chandon die kieskeurigste verhemelte (en die gees) ooit heerliker verkwik as te midde van die beeldskoonste berg-en-see-tonele denkbaar; om op die agterstewe van dek 13 suinig-suinig daaraan te sit en teug terwyl die afgesonderde huise van skilderagtige kusdorpies soos Perast in die verte verdwyn?
Tussen die teue sjampanje het ek bly foto’s neem; ook van twee eilandjies met monnikekloosters, binne vyf of tien minute per veerboot van Perast af. Vernaamlik die potensiaal van die kleinste – so groot soos ’n voorstedelike erf in ’n middeslag-buurt – kon ’n mens nogal idealiseer. Die geringe lappie aarde heet “Lady On the Rocks” en hou letterlik skaars kop bo water. Dit het, volgens oorlewering, ontstaan deurdat seemanne ná elke geslaagde tog een klip daar in die water gegooi het.
Wat ’n unieke, eksklusiewe Eden sou die afgesonderde eilandjie nie vir ’n wittebroodsvakansie wees nie of, sprekende uit die oogpunt van my eie generasie, wat ’n aftreeplekkie vir ’n alleenmens? Die rustigheid asook weergalose uitsigte oor Kotor se fjord moet hemels wees – soos die vonkelwyn uit die MSC-glas gisteraand met sononder op Melkbos op die verhemelte was!
- Die boek sal binnekort by boekwinkels te koop wees. Dit kan reeds aanlyn gekoop word by http://naledi.online . Die prys is R200. Die ISBN-nommer vir bestellings by boekwinkels is 978-1-928518-18-1.
Oct 15, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Van die Japanse stad Kobe het rugbyliefhebbers die laaste ruk baie gehoor. Hoe die stad soos ‘n feniks uit die as verrys het, vertel ek in my nuwe boek “Na verre hawens”. Kobe is een van daardie “verre hawens” waaroor ek skryf. Ek en Tokkie was in Kobe in 1998 by die wệreldkongres van koerante.
Die stad was pas herbou na ‘n verpletterende aardbewing. Ons was in die indrukwekkende Oriental Hotel Meriken Park in die hawe en is op daardie einste skippie, die Luminous Kobe 2, soos konings onthaal. Ons bewonderings vir Japanners is omvangryk.
Kobe is ’n aantreklike hawestad aan die voet van die Mt. Rokko-gebergte. Sy bevolking was met ons besoek in 1998 sowat 1,4 miljoen. Op die rampspoedige dag, 17 Januarie 1995, is die stad in 20 skrikwekkende sekondes feitlik platgevee. Altesaam 6 394 mense is dood, 25 000 beseer en 300 000 dakloos gelaat. Die skade was minstens $132 biljoen. Die meting op die Richterskaal was 7,2 – die hewigste in die land sedert die Groot Tokio-aardbewing in 1923 waarin 140 000 mense omgekom het.
in Mei 1998 is die spreekwoordelike “rooi tapyt” is vir die “eregaste” – dis nou ons kongresgangers! – uitgerol. Die asemrowende, ultra-moderne Oriental Hotel Meriken Park was die eerste verrassing. Die gebou word omring deur die oseaan aan drie kante en staan as ’t ware in die water van die baai. Elke kamer het ’n eie balkon. Daarvandaan het hotelgaste ’n onbegrensde uitsig oor die see, op skepe en mega-seiljagte wat kom en gaan, asook op die helder verligte stadsprofiel met flitsende kleure wat van uur tot uur wissel.
Onthale vir die kongresgangers was onder meer ‘n skemervaart. Daarvoor het die Luminous Kobe 2 ons as ’t ware by die Meriken Park se voordeur kom oppik. ’n Mens kon letterlik van die tweede verdieping van die hotel op die dek stap. Ons is verby die Awaji-eiland en die piece de resistance – die ellelange Akashi-Kaikyo-brug wat pas ingewy was; glansend in die laaste karmosynstrale van die sonsondergang. (Die brug het ’n rekord-span van 1,991 meter, ’n hoogte wat hom in die geselskap van reuse soos die Tokiotoring en die Eiffeltoring in Parys se 321 meter plaas.)
Die Luminous 2 is ’n ’n groot, kragtige, vinnige, weelderige en stylvolle skip in eietydse Art Deco-styl. Met ’n lengte van 106 meter en vier restaurants op drie dekke was dit onder Japan se voorste bote vir sulke plesiervaarte.’n Span galante offisiere en elegante Japanse meisies in kimono’s het by die oopswaaideure gewag. Op die silwerskinkborde was kelkies met ’n verskeidenheid van hul eie voorkeurdrankie, sake, maar – verrassend genoeg – ook met cabernet sauvignon, chardonnay en merlot uit eie wingerde in die Kobekontrei. Kobe-wyn is gesog oor die hele Japan, is ons ingelig.
Op die tafels was ’n fees van Japanse geregte: potjies shabu-shabu en soetsuur sukiyaki met verleidelike geure, en die tradisionele visgereg funamori met repies rou vis kunstig uitgestal op ’n bootvormige bord, sashimi, matsuba-kreef – seekos nommer een uit Japan se waters.Die vleisliefhebber uit Suid-Afrika het dadelik gesoek na die Kobe beef met die kenmerkende “marmer”-strepe in die dieprooi vleis. Die sappige filet kom van beeste wat met massering, bier en ryswyn spesiaal vetgemaak is om koningskos te word.
In “Na verre hawens” vertel ek meer
Oct 3, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die MSC Musica in die hawe van die Seychelle.
“Na verre hawens” – Hennie van Deventer (kort opsomming van die boek wat binnekort op die rakke sal wees):
Die boek bied ‘n nostalgiese terugblik op eie seevaarte oor 50 jaar, van die posboot-era (die Union Castle-redery se spogskip Pendennis Castle) tot die blink MSC-vakansieskepe Sinfonia, Opera en Musica). Vaartuie was o.m. die manjifieke lynboot Queen Mary 2; die gedoemde Oceanos; die Staten Island, wệreld se besigste veerboot met ‘n grootse uitsig op Manhattan; ‘n veerbootjie wat met net drie motors die 160 meter tussen Martha’s Vineyard en Chappaquiddick-eiland in Amerika oorsteek (ook Ted Kennedy se Oldsmobile voor die politieke skandaal wat Amerika in 1969 geruk het.)
Elke skip het haar storie: die Oceanos is in ‘n ramp leer ken (Tsjernobil) en in ‘n ramp gegroet (Wildekus). Die Pendennis en Constellation is vir skroot verkoop. Die Sinfonia en Opera is in Parlermo, Sicilië, middeldeur gesaag en elk met ‘n nuwe middelstuk, so groot soos ‘n woonstelblok, “gerek”. Die QM2 bied elke dag ‘n gesofistikeerde “afternoon tea” wat herinner aan die “changing of the guards” in Londen.
Elke bestemming bied sy bekoring: skone Sydney, klassieke Malta, die wit Griekse Eilande, verruklike Venesië… Goliat tussen die gondels (die Opera op die Canal Grande) was ‘n belewenis; Kobe, Japan, se verrysenis uit die as ná ‘n verpletterende aardbewing was asemrowend; Dubrovnik se ou stadsmuur met sy 1 080 steil trappies het ‘n enorme uitdaging gestel.
Elke vaart lewer anekdotes: onmin oor ‘n groot verdwaal op die QM2; stuitigheid by die oorsteek van die ewenaar saam met “koning Neptunus”; ‘n “Comrades”-marathon vir ‘n ou man met ‘n keps en ‘n kierie na Napoleon se graf op St. Helena; die verlies van ‘n baba se stootwa by Disneyworld se duikbote, die kratte vol vars rooi rose vir ‘n onvergeetlike Valentynsdag ter see; les bes, die frustrasie van ‘n vaart wat nie kon wees nie weens die natuur se nukke.
Oct 1, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dit gaan maar skud-skud die bult uit as moederaarde oral om jou skielik onbeheersd begin bibber en beef, rukkings kry en rondomtalie swaai.
’n Jonkman van Ceres het ’n Kaapse vriendin oorgenooi om met sy pa-hulle te kom kennis maak juis toe die Richterskaal in daardie kontrei presies 50 jaar gelede woes op loop geraak het.
Die eerste aand van haar kuier sit sy ontspanne in ’n warm skuimbad. Sy werskaf met haar groottoon aan die kraan om die watertemperatuur nog ’n bietjie hoër op te jaag.
Skielik kry sy die sensasie dat ’n onsigbare reusehand die bad probeer omkeer. Die aarde sidder. Diep skeure verskyn in die mure. Buite dreun dit soos donderweer. “Die oordeelsdag het aangebreek!” Dié skrikgedagte flits deur haar brein.
En waar bevind sy haar op hierdie uur van waarheid? Stoksielalleen en poedelkaal in ’n vreemde bad in ’n vreemde huis op ’n vreemde dorp!
’n Paar oomblikke is sy verlam van vrees. Sy klem angsbevange aan die bad se rande. Dan vlieg sy vervaard uit die water, tas in ’n stoom- en stofwolk vergeefs na die handdoek en ruk die deur amper uit sy kosyn.
In blinde paniek storm sy met haar kaal, nat lyf gang-af – net ’n skamele waslappie soos ’n wapperende vlaggie voor haar. Waarheen, weet sy nie.
Haar gasheer, ’n bekende politikus van daardie era, het skaars besef wat aangaan, toe tref ’n tweede skok hom: die mooi jong meisiegas wat te midde van ’n stofwolk onbedek inbars by die vertrek waar hy hom bevind – ’n toneel wat hy later telkens op populêre versoek oor en oor moes beskryf.
“Was sy darem mooi gebou, Oom Jasper?”
Op dié gereelde vraag was die antwoord altyd ridderlik en stoïsyns: “Gits, man, ek wou nog kyk toe gaan die ligte af!”
Die verlore kans het hom verleërig laat grynslag.
Ek vertel die storie in Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel, 2010). Wonder waar is daardie dame nou, en of sy onthou – met afgryse of met ‘n stoute glimlag om haar mond?