JAARBRIEF UIT MELKBOS

Houthuiswinter2018(1)23

Liewe vriende

Desember is hier. Tyd vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand vir die jaar 2018.

Dit kon ‘n jaar van sombere nuus geword het met HvD se onverwagte viervat-hartomleiding en die langerige verblyf in die waakeenheid. Ook met George se verskriklike brande wat as’t ware tot by die voorstoepe van Johan-hulle se huis in Glen Barrie en skooltjie in Denneoord gekom het.

Gelukkig is daardie minder gelukkige dae sonder ernstige letsel by ons verby. Laat ons dus in dankbaarheid op die positiewe konsentreer:

Hier op Melkbos, op George en by Marisa-hulle in Welgemoed gaan dit relatief rustig en voorspoedig.  Die foto’s is van gesamentlike kuiers, met die Claassense by Boulders in die Wildtuin en met die Van Deventers by Buffelsjachtrivier, ‘n gerieflike halfweghuis tussen Melkbos en George.

Op George word die uitstekende werk van Mariza se suksesvolle Legacy Centre vir kinders met uitdagings voortreflik deur die gemeenskap ondersteun. Saam met ‘n indrukwekkende lys borge is verskeie ambisieuse projekte geslaagd van stapel laat loop.  Johan se trokwas-bedrywighede is vlot op koers, met goeie ontwikkelinge soos ‘n nuwe terrein vir sy Unitrans-kontrak (namens die skooltjie).  Migael besorg sy ouers verrassings en vreugde met sy vooruitgang.

In die Kaap gooi Brent kragte in by die Hoerskool Stellenberg waar die tweeling in hul eerste jaar as Stellies al, akademies en andersins, spore getrap het.  Hy is ‘n aktiewe lid van die beheerraad. Marisa het ná vele jare tuis ‘n oggendpos losgeslaan wat sy stimulerend vind. Thomas het as leier en skerpskutter-stelskopper ontluik. Hy en Jacob, ‘n gesogte klankman, laat met die bal die paaltjies spat.  Kleinboet Christopher is ‘n uitblinker met voordrag en herwinning.

Ek en Tokkie sien uit na ‘n somerbesoek aan Sabiepark, aanvanklik ‘n paar dae alleen saam met die flukse Christopher. Daarna kom die tweeling op hul eerste alleen-vlug, daarna Brent en Marisa.  Die swembadjie daar is nuut geverf. Lyk spiekeries. Ons gaan hom behoorlik inwy. Ná Sabiepark gaan ons kennis maak met die MSC Musica op ‘n vaart in Mosambiekse waters.  Vaar op die oseane word blykbaar ‘n familieding. Johan en Mariza was pas op die Musica. Die Claassense is geskeduleer vir  April.

Die Julievakansie was buitengewoon gedenkwaardig.  Drie aande in die private kamp Boulders saam met die Claassense was salig verby. Die tradisionele saamtrek van studentemaats uit die Kollegetehuis-era (nou College met ‘n Engelse C) was, presies 60 jaar ná ons eerste jaar in 1958, ook baie besonders hoewel, helaas, dalk die laaste in huidige vorm. Ons word nie jonger nie.

Vir my en Tokkie was dit ‘n voorreg om verskeie goue bruilofte en groot verjaardae van kollegas en vriende te kon bywoon. In die proses kon ons  in Bloemfontein en op haar heimat, Bultfontein, gaan kuier en op my ou Wes-Transvaalse spore terugloop. Welaangename herinneringe.  Onvermydelik gebeur dit ook al hoe meer dat ons vriende moet groet. Die jongste was ons dierbare Bloemfonteinse buurvrou vir baie jare, Annette van Rensburg. Sy en Tokkie was baie na aan mekaar.

“Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”, dalk my laaste boek, dalk ook nie, het nie juis die boekewêreld aan die brand gesteek nie.  Die boek het tog wel vreugdes gebring, soos ‘n uitnodiging na die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT), vriendelike resensies soos deur boeke-ghoeroe Danie Botha op Fine Music Radio en Litnet, ‘n besoek aan NALN in Bloemfontein, en ‘n in-diepte-onderhoud met Herman Lategan.

Wat die uwe  nogal plesier gegee het, is dat ‘n foto wat ek jare gelede van die Van Bredagesin van bylmoord-faam in Sabiepark geneem het, dwarsoor die voorblad van Die Burger geplaas is – die eerste keer in my koerante-verbintenis sedert 1958 dat so iets die ou man te beurt val.

Tokkie het, ná die onderbreking om (met onderskeiding) heeltydse verpleegster te speel vir haar kranke man, teruggekeer tot haar voltydse aktiwiteite van “manager of works” by Penguin Place en Melkbos-biblioteek se kampioen-leser.

Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense vir een en almal. Laat ons strewe tot die maksimum-kontak in 2019.

Hennie & Tokkie