Dec 27, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Tokkie by die ou naambord, 20 jaar gelede.
Ek het ‘n “plaas” in Afrika… Tussen Karen Blixen van “Out of Africa” se PLAAS-plaas in Kenia en die Van Deventers se plasie-plaas in Mpumalanga bestaan ‘n hele paar verskille. Een is omvang.
Ons s’n in Sabiepark – ‘n spikkeldeeltjie van die groter Lisbon-landgoed – is volgens transportakte T22558/98 net 8 982 vierkante meter – ‘n rugbyveld en ‘n stukkie. Maar vir ons is dit oorgenoeg. Hier voel ons so vry soos mej. Blixen in Kenia moet gevoel het.
Sabiepark is hier aan die oujaar voorop in ons gedagtes om twee redes: ons begin pak vir seker al ons plus-minus 50ste bosvakansie (ons vlieg op 8 Januarie), en ons roep in ons herinnering die kennismaking 20 jaar gelede met daardie geliefde 8 982 vierkante meter aan die einde van 1997.
Sabiepark self het ons al in 1988, 11 jaar tevore, ontdek. Op pad wildtuin toe het ons die eerste eerste keer oornag in die huis van Fickie Visagie; daarna ‘n keer of wat in die huis van Hannes Meiring en Ronnie Schoombee. ‘n Saadjie moes toe geplant gewees het wat ‘n dekade later, rondom my aftreeplanne einde 1997, ontkiem het.
Oud-kollega Danie Krynauw, gewese uitvoerende hoof: tydskrifte, en sy vrou, Kathleen, het in Oktober by die Pers kom inloer. Danie en Kathleen het destyds in die winter na die gholflandgoed Kruger Park Lodge, net buite Hazyview, uitgewyk. In die somer was hulle op Hermanus. Die laaste jare woon hulle nou in Helderberg Village.
Terwyl ons daardie dag in die Pers-kafeteria “Van Alle Kante”, met die onoortreflike uitsig op berg en see, saam koffie drink, kry ek uit die bloute die bevlieging om ook met so ‘n swaeltjie-leefstyl te eksperimenteer, nesd die Krynauws. Tokkie is gelukkig te vinde.
Ek skryf dadelik vir Fickie Visagie en Ronnie Schoombee en vra of ons hul plekke die volgende winter vir ‘n paar weke kan huur. Ek noem my plan ook terloops Colin Hickling van Bloemfontein. Dié onderneem om by Ken Saggers, ook ‘n Sabiepark-eienaar, namens my aan te klop.
Saggers laat weet uit Johannesburg: maar wil ek nie sommer my eie plek koop nie? Jean Smythe, ‘n weduwee van Vishoek, soek ‘n koper vir haar huis, waar sy na haar man se dood ongereeld kom.
Sommer dieselfde dag bel ek vir Jean. Het sy vir my ‘n plan en foto’s? Sy het selfs iets beter: ‘n video wat vir ‘n gestremde vriendin in Johannesburg vervaardig is – een wat jou van vertrek tot vertrek neem, dan stadig met die trappies op boontoe. Boonop word al die diere wat oor ‘n tydperk van maande kom besoek aflê het, in ‘n klompie kort minute ge-enkapsuleer.

Swembadjie en watergat – min het verander.
Die video en ‘n geskeurde, water-beskadigde argiteksplan, word sommer die volgende dag saam met ‘n vriendin stad toe gestuur, en dieselfde aand by my seun en skoondogter, Johan en Mariza, met positiewe kommentaar uit alle oorde betrag.
Die gogga het hard gebyt.
Ons begin onderhandel. Ek weerstaan die druk van my klaar verowerde hart, en kondig aan ek moet darem eers die plek sien. ‘n Mens koop nie ‘n eiendom 2 000 kilometer ver op grond van ‘n tuis-video nie, allawêreld! Die geleentheid om dinge self deurte kyk, kom in November.
Ek en Tokkie spring met ‘n geleende motortjie in Johannesburg weg Sabiepark toe. Ons ry vol afwagting met kloppende harte, in Apiesdoring af na Wildevy 154: Ukuthula – die huis van Jean en wyle Mike Smythe. Die naam beteken: vrede van binne.
Toe die skuifdeur oopgly op die woonkamer met die hoë grasdak en die rottangmeubels, wis ek al: ek hou hiervan. Ek behou egter my kommentaar voor, wagtende vir Tokkie om die eerste woord te spreek. Sy laat my in spanning wag.
Ons gaan stap die middag en kry ‘n olifant net oorkant die grensdraad, maar braai amper uit in die somergloed. Toe sy bra gehawend by die huis kom, dog ek dis neusie verby. Maar die swembadjie se water is ‘n lafenis – en ‘n gebrek aan swemklere is in die bos gelukkig nie ‘n struikelblok nie!
Die aand toe die vuurtjie begin flikker en die sterre begin flonker, kom ek dankbaar agter ons is in die groot saak ad idem. Die Sondagmiddag voor ons wegry Johannesburg-lughawe toe, skryf TvD dit swart op wit: “Geen twyfel dat ons gaan koop nie.”
Toe voeg ons die daad by die word. In Maart 1998 het Ukuthula amptelik Tarlehoet geword.
So het ons hartsplek 20 jaar gelede in ons lewe gekom. Hoeveel vrede van binne het dit nie vir ons beteken nie!
Dec 21, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Hierdie is die verhaal van twee Laatoese – die een op papier, die ander in ‘n bottel.
Die bedoeling is nie om die twee, hul boek-et en die plesier wat hulle liefhebbers of nie-liefhebbers verskaf of nie verskaf nie, teen mekaar af te speel nie. Dis ‘n kultuur-historiese blog wat vrae soos wie, wat, waarom en wanneer probeer beantwoord.
Eersgenoemde is die natuurlik jongste pennevruggie van die uwe, gepubliseer deur Naledi ‘n maand of twee gelede. Laasgenoemde is een van die spogprodukte van die bekroonde Paul Cluver-kelders van Elgin: ‘n riesling noble late harvest.
Gister het ek geskenk-eksemplare van eersgenoemde aan Andries Burger, afgetrede ginekoloog van die Paarl, en sy seun, Andries Junior, bekroonde wynmaker van Paul Cluver oorhandig. Ek het huis toe gekom met ‘n “eksemplaar” van laasgenoemde in ‘n netjiese kartondosie ná ‘n aangename kuiertjie by die sierlike Paul Cluver-landgoed en ‘n ete in die karaktervolle klein Salt-restaurant tussen die groot akkerbome.
Die gashere was Andries Senior en sy minsame vrou, Irma, en die aanknopingspunt vind ons 56 jaar gelede in Kollegetehuis, Pretoria. Dit is die jaar toe Andries, plaasseun uit Suidwes (nou Namibië), met die trein van Gobabis af in Pretoria aangekom het om op Tukkies te kom swot. Hy was in 1961 ‘n ienk (eerstejaar) in Kollegetehuis, waar ek die jaar huisvoorsitter was.
Die koms na Tukkies was ‘n ontredderende ervaring waarvan hy boeiend kan vertel: oor hoe hy op Johannesburg moes oorklim en verlore op die grote Parkstasie rondgedwaal het. Hy betaal toe `n tiekie om af te gaan na ‘n platform en vra aan iemand wat nie gevaarlik lyk nie: “Is dit die trein na Pretoria?” Intussen klou hy aan sy twee tasse, kosmandjie en beddegoedrol. want hy gehoor as jy weg kyk, is dit gesteel.
“Nee.” Kom die kortaf-antwoord. Toe takel Andries maar die volgende platform. Skielik loop iemand na hom en sê: “Jy was mos ook op die trein. Dit was mede-Suidwester Arend de Waal wat tot sy redding gekom het. Arend was sekretaris van die HK (huiskomitee).
Toe deel hulle ook die taxi. Die volgende oggend het Arend kom seker maak dat hy weet waar die universiteit is. Andries dit nogtans reggekry om tot by die Uniegebou te loop waar hy toe weer aan `n enkeling op straat vra: “Kan meneer my sê waar die universiteit is”. Die “meneer” sê toe hy is nie seker nie want hy is ook `n eerstejaar!
Andries het baie dae erg na Windhoek verlang, verklap hy. Hy is nou nog dankbaar jeens Arend dat hy gekeer het dat hy die eerste trein terugvat huis toe. Ook die huisvoorsitter is gelukkig nie in sy slegte boekies nie.
Ná Tukkies is ek koerante toe: Bloemfontein, Johannesburg, Bloemfontein, Kaapstad. Andries het ginekoloog geword in die Paarl. Die eerste wat ek weer van hom gehoor het, was in September toe hy lees my “Laatoes” is op pad, en ek vier dit met ‘n ‘laatoessie” van ‘n ander kelder. Hy wou dat ek die “ware Jakob” proe.

Ek en Tokkie in die proeklokaal by Paul Cluver; asemrowende meubels van natuurlike sederhout uit die berge.
Ewenwel, hy en Irma (sy was ‘n matrieknooi op Affies toe haar en mediese student Andries se weë in die 60’s gekruis het) kom kuier toe hier op 14 September (met ‘n gewaardeerde pakkie van sy seun se wyne in die hand!). Ons spreek ook af om saam Paul Cluver te besoek. Wat toe gister gebeur het.
‘n Geleentheid vir my om die vorige gasvryheid met my eie “Laatoes” te beloon, en, onverdiend, ‘n tweede botteltjie van daardie Paul Cluver se “engeltjiepiepie” in die hand geprop te word.
“Laatoes” deur Hennie van Deventer; ‘n wonderlike “laatoes” uit die Paul Cluverstal van die wynmeester Andries Burger Junior. Die bonus: ‘n heerlike kuier met twee voortreflike pêrels van die Paarl en die herontdekking van Kollegebande wat oor 56 jaar bly voortbestaan het.
Dec 14, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vin Diesel en vlakvarkvangs in Sabiepark.
Die bos het sy eie ikone. Die massiewe luiperdmannetjie Mbavala (in die omgang beter bekend as Vin Diesel) is dit ruim ‘n dekade lank. In die Krugerhek-kontrei in die Sabi-Sand-wildtuin en in Sabiepark is hy die ongekroonde heer en meester.
Mense word deur hom betower. Vele se grootste wildtuindroom is om die manjifieke dier met sy nek soos ‘n trekos – te sien of op kamera te kry. Op sy eie Facebook-blad en die Sabieparkblad is sy foto altyd ‘n treffer: des te meer met sy prooi ná ‘n vangs; selfs ook net wanneer ‘n strategiese nagkamera hom betrap waar hy in die donker tussen die grasdakhuise ronddwaal. Elke plasing lok ‘n string kommentare van bewondering uit.
Sabiepark- bewonderaars ken die kêrel se stamboek. Ons weet dat hy op 24 Januarie 2004 gebore is. Ons weet dat hy oor die 90 kg weeg. Ons word selfs oor sy romantiese avonture op die hoogte gehou. Met grenslose respek word onder mekaar gefluister: weet jy dat hy ‘n allemintige nege wyfies in sy domein gelukkig hou!
Van die tweede helfte van 2017 merk Sabieparkers hom al hoe gereelder in hul park op. In Julie vang hy ‘n ander Sabiepark-ikoon, die vlakvarkbeer Brood, bekend om sy swierige trofeetande, naby die piekniekplek. Sabieparkers vergewe hul “gunsteling-troeteldier” die “ligte mistykie”.
Die laaste drie maande gee hy skynbaar nooit meer pad nie. Dit is of Sabiepark vir hom – soos vir so baie van die menslike inwoners van oral – ‘n bekoring inhou as ‘n ideale stukkie boswêreld om in ou bene te kom maak.

Ons heer en meester
Die waarnemings en die foto’s van Vin Diesel neem elke dag toe. Sabieparkers wat nog net van die manjifieke Vin Diesel gehoor het, ry spesiaal Sabiepark toe in die hoop om hom raak te loop, en laat jubelend weet as hulle dit gelukkig tref. Hul foto’s wys toenemend dat die eens forse gestalte, veral oor die ingesonke blaaie, helaas nie meer is wat dit was nie. Littekens aan sy gesig verklap dat hy in ‘n bloedige geveg was – dalk met ‘n jonger mannetjie wat sy koninkryk wil opeis.
Die amperse heldeverering vir Vin Diesel duur voort. Vir sommige, veral ouers van klein kinders, word sy aftakeling ook ‘n bron van kommer. Niemand kan vergeet nie hoe Kotie de Beer in 2001 en Binkie Nobela in 2003 in die “veilige” Skukuza-personeeldorp desperate, siek ou luiperds se sagte teikens geword het.
Sabiepark hou die agteruitgang in Vin Diesel se toestand geruime tyd fyn dop. Hulle kom agter hy boer graag op huise se stoepe in die knusser omgewing van die kantoor en swembad, en sukkel om ietsie te ete plat te trek. Sy snelle fisieke agteruitgang is ontstellend.
In ooreenstemmning met Sabiepark se beleid oor diere wat vir mense ‘n gevaar inhou, word die Mpumlanga-Parkeraad se hulp ingeroep. ‘n Vanghok word op 24 November deur laasgenoemde aan die onderent van Maroelaan naby die rivier geplaas. Op 27 November word Vin Diesel gevang en na Nelspruit gebring.
Die prognose is nie goed nie. Sy onderste slagtande is afgebreek. Die senuwees steek oral uit, wat intense pyn moet veroorsaak het. Sy lyf is deurtrek van TB. As hy jonger was, kon aan sy tande gewerk word. Op sy ouderdom word dit egter gerade geag om die dier liewer uit te sit.
Eerder op ‘n waadige, pynlose wyse ‘n einde aan die ikoon se lewe maak as dat hy, te swak om homself te verdedig, deur ander roofdiere of selfs hiënas, aangeval en verskeur word, word geoordeel.
Die volgende dag word Vin Diesel se genadedood – so ‘n vorstelike dier vrek tog nie – op sy Facebookblad aangekondig. Op Sabiepark se blad deel eienaars dae lank hul eie herinneringe; ook foto’s van die legende in sy gloriedae. Sy heengaan word betreur soos dit ‘n dier van betekenis betaam.
Of enige dier gou weer Vin Diesel se plek in die harte van Sabieparkers sal neem, is te betwyfel.
Dec 8, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Drie bakens in 2017 beklemtoon dat die jare aanstap: Hennie gedenk 60 jaar uit matriek (met ‘n klein maar heuglike reünie op Potchefstroom) asook 20 jaar van aftrede; die oudste kleinkinders, Jacob en Thomas, skud die stof van die laerskool van hul voete.
Ons kyk terug op 2017, weer in dankbaarheid oor al die goedheid en guns.
Twee Sabiepark-kuiers het nog heerlike bosherinneringe bygedra. Dit het ingesluit die Kollegemanne se Orpen 1 na vyf Balules sedert 2012, en ‘n herbesoek aan die boskamp Boulders. Vir die knusse kampie tussen die klipkoppies raak ons net al hoe liewer.
Ons had uiteindelik die voorreg om op die “nuwe”, vergrote Sinfonia te vaar. Die vaart na Walvisbaai was, soos elkeen tot dusver, vir ons seer aangenaam.
In November was ons op ons spore terug Vrystaat toe. ‘n Saamtrek van Volksblad-veterane van die laaste vyf dekades van die vorige eeu het die geleentheid geskep om heelwat ou vriendskapsbande weer op te tel en o.m. ‘n verkwiklike erediens in ons ou gemeente Berg-en-Dal by te woon.
Op ‘n besoek aan Volksblad is ‘n historiese foto van die sewe redakteurs nog in lewe in Hennie se ou kantoor geneem. Nogal versoberend vir hom om daaraan herinner te word dat hy, wat van 1980 tot 1992 die leisels gehou het, chronologies gesproke, die oudste is.
Natuurlik is ons ook op ‘n sentimentele reis Bultfontein toe, Tokkie se heimat. Ons was o.m. by Hertzogstraat 5, haar skool en die begraafplaas waar intussen ‘n steentjie ter ere van Ouma Marietjie op Oupa Kotie se graf aangebring is. Natuurlik was ons by die NG kerk Bultfontein waar die egpaar Van Deventer op 31 Desember 1966 in die eg verbind is.
‘n Ontdekking teen die einde van die jaar was die grootse Bergteater in die Sederberge naby Clanwilliam. Die Kerskonsert teen die agtergrond van verligte rotswande was aangrypend.
Dit was behaaglik om weer ‘n nuwe boek in die hande te hou. “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” het by Naledi verskyn. Dit is HvD se 18de. Resensies tot dusver is heel vriendelik. Ook Kyknet gee aandag.
Nog ‘n vreugde was om uitvoering te gee aan Tokkie se blink ingewing om by die WAT woorde vir die kleinkinders te borg. Drie boomname met ‘n spesiale betekenis vir elkeen is vir die Claassens-kinders uitgesoek: blinkblaar-wag-‘n-bietjie (Jacob), jakkalsbessie (Thomas) en wildevy (Christopher). Op Mariza se wenk, borg ons die woord “spesiaal” vir Migael.
In die Kaapse annale sal 2017 aangeteken staan as ‘n jaar van slepende droogte, kwynende damvlakke, sware waterbeperkings. Te midde van die waternood kon ons tog op ons Kaapse doenlysie ‘n paar dinge aftik. Ons was op die Rooibus Houtbaai toe, het ‘n boeiende besoek gebring aan die Hartmuseum in Groote Schuur, toneel van die epogmakende eerste hartoorplanting 50 jaar gelede, en by die roofvoëlsentrum by Spier ‘n draai gemaak. Op die Desemberprogram is die Kunstekaap (Evita) en die Planetarium.
Met die gesin Claassens nou weer stewig gevestig in Welgemoed, kon ons verskeie van ons Kaapse draaie saam met die seuns geniet.
Met al die kinders gaan dit in die algemeen goed. Die Claassense is gelukkig, ook Brent in sy werk en die kinders in die skool. Al drie het akademies asook op sport- en kultuurgebied presteer. Hulle is met armsvol sertifikate vereer. (Christopher is ook sy klas se papierherwinningskampioen, danksy sy ouma se entoesiastiese bydraes).
Jacob verdien ‘n ekstra klop op die skouer vir sy verowering van die skoolhoof se spesiale toekenning vir voortreflike diens as klank- en beligtingsman. In die commedatio word hy ook vir ander eienskappe hoë lof toegeswaai. As ek hy was, het ek dit geraam en teen my muur gehang vir inspirasie.
Uit George kom ‘n konstante stroom positiewe nuus wat ons trots maak op wat die kinders in uitdagende omstandighede vermag.
Johan se trokwas het oor die afgelope jaar so dinamies uitgebrei dat hy op ‘n drafstap moes byhou. Hy het twee groot kontrakte, met Grain Carriers en Unitrans. Op die Grain Carriersperseel is substansiële konstruksiewerk afgehandel, en met die toevoeging van die Unitranskontrak moes Johan ‘n tweede perseel huur.
Johan en Mariza is diep dankbaar vir die goeie besigheid, al bring die voëlgriepepidemie mee dat van Maandag tot Vrydag amper 24 uur per dag gewerk moet word om silwerskoon vragmotors op die pad te hou.
By Mariza se hartsplek, die Legacy Centre, word ook gewoeker. Agt kinders word nou een-tot-een onderrig gegee. Verbeeldingryke projekte word aangepak. Die sentrum het sedert Augustus 2016 vinnig uitgebrei en geniet merkwaardige ondersteuning van die George-media en -gemeenskap.
Dis aangrypend om te sien met hoeveel liefde die personeel van vyf die kinders bystaan. Mariza-hulle hoop om daardie diens tot meer gesinne te kan uitbrei. Sy, Johan en die hele skooltjie is veral trots op Migael was uitblink in sy perdry en swem!
Ons sluit die jaar af, skaam dat ons dit ooit oor die hart kry om te kla (oor die water, aandeelpryse, allerlei pyne en so).
Wat die nuwe jaar alles inhou, weet ons vanselfsprekend nie. Wat ons wel weet, is dat ons sommer vroeg in die nuwe jaar, op Tokkie se verjaardag op 15 Maart, weer ‘n baken bereik. Ons vier dan ons 20 jaar as Sabieparkers – salige verbintenis. Sou dit graag met ‘n koue wyntjie in die swembadjie wou doen. Weet nog nie of dit moontlik sal wees nie.
Ons sien uit na ‘n paar dae in Sabiepark in Januarie saam met die Van Deventers van George en ‘n vakansietjie in die winter daar saam met die Claassense. In oupa se sak is ‘n bespreking vir Boulders, wat vir die kinders ‘n eerste sal wees.
Op die tweeling wag hul toetrede tot die hoërskool (Hoërskool Stellenberg in Durbanville). Hul nuwe kleurbaadjies hang al in die kas. Ons hou vir hulle styf duim vas vir ‘n vrugbare nuwe fase in hul lewens.
Seënwense vir julle almal vir Kersfees en die nuwe jaar.
Hennie en Tokkie van Deventer, Melkbosstrand
Dec 3, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die groot staatsdienshorlosie teen ‘n muur in die Groote Schuur-teater waar die eerste mensehart 50 jaar gelede oorgeplant is, staan op twee minute voor ses die Sondagoggend, 3 Desember. Dit was die uur van waarheid.
Op daardie grootse oomblik het die klein, gesonde skenkerhart van ‘n jong ongelukslagoffer, Denise Darvall (25), ná ‘n skok of twee spontaan in die borskas van die dodelik siek kruidenier Louis Washkansky (57) begin klop.
Op daardie oomblik uiter die hartchirurg Christiaan Neethling Barnard, sendelingseun van Beaufort-Wes, ‘n gelade paar woorde wat die verwondering van al die spanlede verwoord.
Wat was daardie woorde presies? In terugblikke in die naweek by die vyftigste herdenking van daardie reuse-deubraak vir die mediese wetenskap die nag van 3 Desember 1967 in Kaapstad is verskillende weergawes aangebied. Volgens een weergawe van ‘n teenwoordige in die teater daardie nag is geen woord geuiter nie; net “sugte van dankbaarheid.”
In April 2017 het ek en my vrou, Tokkie, ons kleinkinders na die Hartmuseum in die Groote Schuurhospitaal gebring om – met die oog op die 50ste herdenking oor ‘n paar maande – die unieke gebeurde te herleef. Ons gids was die uiters knap Trace Adamo.
Trace het die dosyn of wat besoekers, sowel Suid-Afrikaners as buitelanders, stap vir stap deur die aemrowende operasie geneem. Ons het met gespitste ore gesit en luister op die klein “paviljoentjies” wat in die oorspronklike teaters A en B van Groote Schuur vir mediese studente ingeruim is.
Volgens Trace se boeiende vertelling was almal momenteel stomgeslaan. Toe verbreek prof. Barnard se fyn, hoë stem die gespanne stilte: “God, dit gaan werk!”
Dit is die woorde wat ek in my boek “Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” aangeteken het. Daardie hoofstuk in my boek is Vrydagoggend deur Volksblad, Bloemfonteinse dagblad, opgeneem.
Saterdag verskyn in By, naweekbylae tot Die Burger, twee ander weergawes. Die rubriekskrywer John Scott, was in 1967 mediese beriggewer van die Cape Times. Sy weergawe van daardie dramatiese woorde haal ook die Opperwese aan maar in ‘n ander vorm: “Jesus, dit gaan werk.”
In haar omvattende huldigingsartikel in dieselfde publikasie deel Elsabé Brits, mediese verslaggewer van Die Burger, mee prof. Barnard het nie die Opperwese aangespreek nie, wel ‘n kollega: “Hel, Rodney, dit gaan werk …”
Op Google kry ‘n mens nog twee weergawes: “Christ, it is going to work” (onwaarskynlik as hy Afrikaans gepraat het) en net die kleurloos-neutrale “It is going to work” (onwaarskynlik weens die absolute gebrek aan emosie.)
In Sondag se Rapport vertel 82-jarige oud-teatersuster Susan Tawse, een van die handjievol oorlewende lede van die beroemde hartspan:
“Voor elke operasie het hy (prof. Barnard) stil eenkant gesit en bid,ook met die eerste hartoorplanting. Toe Washkansky se hart daardie Sondagoggend aan die klop geskok moes word, was daar doodse stilte onder ons. Eers ná die tweede skok (volgens Trace Adamo was daar drie!) het die hart begin klop. Toe hoor ‘n mens net sugte van dankbaarheid opklink.”
Die nagtelike drama het hom in twee teaters afgespeel: die een waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, kort ná middernag Denise se hart met haarfyn sinchronisasie verwyder en versigtig in ‘n ysbak geplaas het; die tweede waar die pionier-chirurgie op dr. Washkansky deur ouboet Chris self uitgevoer is.
Ook oor die ligging van die twee teaters is in die naweek se terugblikke verskil. In een is lesers ingelig dat die twee teaters 32 treë uit mekaar was; in ‘n ander dat hulle buurteaters was. Laasgenoemde is korrek: ek weet omdat ek op die besoek in April self in die twee “Charles Saint”-teaters langs mekaar was.
Wens ek kon oor prof. Barnard se kreet uit die hart met dieselfde vrymoedigheid ‘n finale woord spreek. Oor sulke woorde van die uiterste historiese waarde by só ‘n epogmakende historiese geleentheid behoort onsekerheid darem nie ná 50 jaar nog te heers nie.