Oct 11, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

O Buffelsbaai, jou lekker plek!
Buffelsbaai is ongetwyfeld die skilderagtigste, heerlikste strandoord wat ek ken. Die Van Deventers het op die stukkie hemel op aarde naby Knysna van 1971 af tot in die 90’s seker 25 keer salige vakansies gehou.
Met welbehae dink ek terug aan die wonderlike plek: die yslike preekstoelrots vlak voor Kop-bo-Water wat jou nooi om te klouter, die poeletjies met seekatte, seesterre en klein vissies, die eksklusiewe “private” strandjie ‘n klipgooi van die voordeur, die skilderagtige Lilliput-straatjies, die talmende reuk van see en renosterbossie, en die strandkafee waarheen kindertjies alleen kon stap om vir hulle roomys of vir pa ‘n koerant te gaan koop.
Die foto hierby is van die seekant af – d.w.s. seker van ‘n bootjie af geneem. Heel links onder steek ‘n piepklein stukkie uit van Kop-bo-Water, prof. Bethel Müller van Stellenbosch se wit huis met die blou dak, wat die wondere van Buffelsbaai vir ons ontsluit het.
Vanoggend lees ek in ‘n begrafniskennisgewing in Die Burger die baas van Kop-bo-Water is dood. Dit voer die gedagtes ver terug: tot ons eerste kennismaking. Dit was voor elektrisiteit daardie idilliese kusdorpie bereik het. Die enigste liggies op Buffelsbaai was lampe (gas of lampolie) en flikkerende kerse.
Marisa, ons jongste, was nog nie gebore nie. Johan was in doeke. Marisa is nou die ma van drie groot seuns, die oudste twee, Jacob en Thomas, 13 jaar oud en die jongste, Christopher 8. Ouboet Johan is veertig taamlik ver al verby. Hy is die pa van ‘n vierde seuntjie in die familie, Migael, 11.
Op letterlike honderde Buffelsbaaifoto’s van luilekker uurtjies op die strand, speel saam met die kinders in die poeletjies, vuurtjies, sonsondergange, wandelinge, aanrollende branders en stormsee kan jy die kinders sien uitrank tot jong mense… en die jong egpaar, Hennie en Tokkie, eers bloedjonk, stelselmatig sien ouer en ouer word.
Net regs van Kop-bo-Water is die donkergeel huis Kammarus, waarheen ons later weens logistieke redes uitgewyk het. Dit het behoort aan prof. Vaatjie du Toit, in lewe ginekoloog van Bloemfontein en later dekaan van Maties se mediese fakulteit. Die huidige eienaars is McSeveny’s van die Rand. Ons het ook vir Kammarus lief geraak.
Daardie twee strandhuise het ons soos ons eie gekoester. Hulle lê steeds diep in ons harte.
In “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” in ‘n hooftuk, “Hemel aarde” is ‘n ode aan Buffelsbaai – spesifiek aan ons twee hartsplekke teenaan die branders met die wydse uitsigte na die weste waar die son gereeld saans in in ‘n flambojante skouspel van kleur verdwyn. Hoe wens ek nie dat Bethel Müller daarin kon lees hoe lief ons vir sy huis was nie. Maar hy het darem geweet.
Ek groet Kop-bo-Water se baas, met die herinneringe van hoe hy sy das en boordjie as professor in die teologie op Stellenbosch vakansies verruil het vir ‘n pap hoedjie op die kop, kaalvoete en die aardse bestaan van ‘n man van die see.
Ek onthou hom as ‘n klouteraar in die rotse, ‘n gedurige timmerman by sy huis en ‘n visterman wat namiddag met sy stokke afsuiker strand toe om iets vir die braairooster te probeer uithaal.
Ek onthou hom ook Sondae op die kansel van Buffelsbaai se kerkie waar hy seker meer as enigiemand anders die Woord gebring het.
Op Stellenbosch word Vrydag vir hom ‘n dankdiens gehou voordat ‘n private verassing plaasvind. Ek wonder of sy as na sy geliefde Buffelsbaai toe sal gaan en dalk by die rotse voor Kop-bo-water ‘n tuiste gaan vind terwyl die seemeeu om die roubeklaers krys en duik.
As Buffelsbaai ‘n vlag het, behoort dit nou halfstok te hang oor die verlies van een van sy groot seuns.
Oct 9, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

20 Jaar gelede: Ton Vosloo oorhandig aan my Naspers se Phil Webermedalje.
Met 2017 volstoom afdraande na die einde toe, tref dit my nogal hoeveel mooi dinge in my lewe vanjaar herdenkings belewe. Kan gerus ‘n bottel goeie Cap Classic vir ‘n vierinkie op die ys sit.
Einde 1997, 20 jaar gelede, het ek nie net die laaste keer in my lewe my kantoordeur in die Naspers-sentrum agter my toegetrek nie, maar het ek en Tokkie ook na Melkbos verhuis – geïnspireerde skuif. Nog ‘n hoogtepunt: by Naspers is ek met sy hoogste eerbewys, die Phil Webermedalje, bekroon vir my “nalatenskap in elke fase van my loopbaan”.
My skool, die Hoër Volkskool, Potchefstroom, het my ook in 1997 by die herdenking van sy 75ste verjaardag met sy eerste spesiale erepenning vir oud-leerlinge vereer. Ek was voorsitter van die Drukmediavereniging van Suid-Afrika. Ons oudste seun, Johan, is getroud met Mariza.
In 1987, 30 jaar gelede, was nie een enkele spitspunt nie. Tog ‘n goeie jaar vir my gewees. Was op my gelukkigste – gesond, geseënd, gevestig as redakteur van Die Volksblad. Ook ‘n lojale Bloemfonteiner met goeie vriende en kollegas. Vreugde geput uit my diens in die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond.

Mnr. Blackie Swart, hoof van Volkies, oorhandig aan my ‘n erepenning.
In 1977, 40 jaar gelede, het ek met genoegdoening my sertifikaat ontvang aan die einde van my jaar as Nieman Fellow aan die Harvard-universiteuit in Cambridge, Massachusetts – dalk die lekkerste, sorgvryste jaar van my lewe.
1 Januarie 1967, 50 jaar gelede, was die eerste dag van my en Tokkie se huwelik van amper 51 jaar. Ons is op 31 Desember 1966 getroud.
Einde 1957, 60 jaar gelede, het ek op ‘n “brose” 16 matriek op Volkies agter die blad gesit. Het darem al geskeer!
In 1947, 70 jaar gelede, is ek as haasbek-sesjarige die eerste keer skool toe: die Diamantveld-laerskool in Kimberley.
Met die groot rol van 7’s in my lewe seker nie snaaks nie dat ek op my volgende verjaardag, op 3 Januarie 2018, 77 sal wees.
Naskrif: Natuurlik is 2017 die jaar van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”. Uitgewer: Naledi. Prys: R190. My boek is al taamlik wyd in boekwinkels op die rak.
Oct 3, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Neville, Daan en HvD met hul parlementere pette.
“Hier het Oupa krieket gespeel.” Die brokkie was veral bedoel vir die ore van die 13-jarige tweeling Thomas en Jacob Claassens, aan die vooraand van ‘n driedaagse kriekettoer na Knsyna. Dit is geuiter terwyl die Kaapse Rooi Bus op sy mini-Skiereiland-toer verby Fernwood in Nuweland skommel. Met die detail het Oupa die seuns nie opgesaal nie. Dit hou hy vir sy bloglesers.
Fernwood was die bedrywige parlementêre sportterrein toe die uwe in 1964 en 1965 in die persgalery van die volksraad parlementêre verslaggewer van Die Volksblad was. Onder die eike in die skadu van Tafelberg was heelparty tennisbane (Connie Mulder was op Saterdagmiddae een van die knap raketswaaiers) en, natuurlik, die skilderagtigste krieketveld wat ek ken.
Hoe dit gekom het, kan ek om die dood nie onthou nie, maar skaars het ek in die persgalery aangeland of ek bevind my saam met twee persgalery-kollegas in die parlementêre span vir ‘n wedstryd op Fernwood. Ons span het ook op plekke soos Groot Drakenstein by die Paarl wedstryde gespeel, maar meesal op Fernwood.
My kollegas was Daan Eksteen en Neville Krige van die SAUK. Parlementariërs in die span was o.a. sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party, Ossie-Newton Thompson, LV vir Pinelands, wat later treurig in ‘n vliegongeluk omgekom het en Vause Raw van Durban. John Wiley, latere NP-minister maar toe nog LPR van die VP vir Simonstad, was een van die sterre.
Mense soos sir Div, Ossie Thompson en (meen ek) ook John Wiley het op Oxford of Cambridge in Engeland krieket gespeel. Van hulle was nie meer vandag se kinders nie. Ondanks hul jare was hulle dorings voor die paaltjies.
Die drie persgalerymanne was dalk veral vir ons flinke veldwerk in die span ingesluit.’n Keer het ek my so ingespan om ‘n vangskoot op die diepbygrens raak te vat (ek het!) dat my hemp se agterpant van bo tot onder oopgeskeur het. Ek was ook lief om te duik om vier te probeer afsny.
As aanvangskolwer teen Simonstad het ek wel hier ‘n hoogste loopbaantelling van iets in die veertig agter my naam geplaas, boonop nie uit nie! My naam was daardie aand in die Cape Argus Late Sport – die eerste en enigste keer dat ek die sportblaaie van die dagbladpers gehaal het. Vir die grootste deel van my “marathon”-beurt was sir Div my kolfmaat; Groot Div en Klein Div het ons spanmaats ons genoem. Vermoed ons ooreenkomstige snorre het in die naamgeëry nogal ‘n rol gespeel.
Neville was, benewens goeie veldwerker, darem ook ‘n bruikbare snelbouler en Daan ‘n veelsydige speler wat stadige bybreke geboul het.
Middagetes onder die eike met topwyne om die keurigste kouevleis en slaaie mee af te sluk, was gedenkwaardig.
Selfs onvergeetliker as die tyd op die veld of voor die paaltjies was om in ‘n ontspanne atmosfeer onder Fernwood se eike en in die karaktervolle klubhuis politici soos sir Div beter te leer ken; nie net as gedugte kolfvennoot nie, maar as fyn mens en galante gasheer.
‘n Man uit een stuk gewees, hierdie melkboer van De Grendel aan die Tygerberg. Ek dink steeds hy was uitgeknip vir die rol van staatspresident; een wat berge sou versit om verhoudinge tussen Afrikaanse en Engelse mense te verbeter. Toe kies die Nasionaliste Marais Viljoen. O wel.
Uit my te kort termyn van twee jaar as parlementêre verslaggewer lê veral een foto my na aan die hart: ek en die wellewende twee SAUK-kollegas, Neville en Daan (albei al saliger), elk met ‘n krieketpet op. Dit is nie sommerso-pette nie; wel pette van die parlementêre krieketspan, net sonder die wapen van die parlement. Om dit te dra, was ons mediamanne nie beskore nie.
Die pette is oorhandig deur die kaptein van die span, Ossie Newton-Thompson, op ‘n “amptelike” plegtigheid in die parlementêre kroeg. Dit was nogal ‘n grootse gevoel om dit op te sit. Skat ek, Neville en Daan was dalk die enigste drie mediamense wat die eer ooit te beurt geval het. Die pet hang na meer as 50 jaar nog in die woonkamer op Melkbos op ‘n spesiale plekkie.