(Die illustrasie deur Fred Mouton kom uit my humorboekie Oos-Wes, Reismoles! (Human & Rousseau, 1998).)
Die woordjie TE verswak dikwels ‘n goeie saak. Dit weet ons mos almal. Verskoon my, dames, maar die kampanje teen mans se aanstootlikhede raak vir hierdie ou man op Melkbos nou TE dik vir ‘n daalder.
Alle simpatie met slagoffers van seksuele molestering in sy verskillende vorme. Sal dit nooit geringskat of goedpraat nie. Maar te veel “slagoffers” spring nou op die wa met stories wat bra karig is.
Skielik onthou ek van die meisiekind wat in die nanag aan my hoteldeur in die Kaap kom klop het met die mededeling: ” I am in the room right next door”. Dan was daar die voorwaartse ene – in Rusland darem – wat my kamernommer gebel het met die inleidende vraag: “You have for me the cigarette?”
Vir my: ‘n kuise, middeljarige, gelukkig getroude man en vader van twee kinders; ouderling in die kerk en also!
Volgens sommige beswaarde vroue se definisies van die molestering wat hulle te beurt geval het, klink dit mos vir my of ek dan ‘n omgekeerde slagoffer was van die nare maatskaplike verskynsel. .
Mensig, die letsels sit seker nou nog aan my brose manlike psige.
Volgende keer sal ek nie van skrik net bly stamel nie. Ek sal opstaan vir my regte. Watch my!
Die liewe Vader behoed dit, maar kom ons veronderstel die gevreesde dag zero breek aan in Maart 2018 of selfs vroeër dat die damme dolleeg raak en die krane opdroog. Skakel ons dan maar net oor na winkelwater om te drink, byt vas en druk deur?
Helaas nie. Drinkwater is immers net een faset van ‘n wydvertakte krisis. Spoeltoilette is, by wyse van spreke, nommer twee op die lys. Winkel-oplossings daarvoor koop jy nie van die rak af nie.
As die rioolstelsel staan, dan staan dit met al die onuitspreeklike gevolge van ophoping, verstopping, verstikking, siektes en epidemies. Al gedink aan hoe supermarkte, winkels en sakesenstrums gaan funksioneer as hul toilette agter slot en grendel is? Geen gerief vir werker of klant. Grootskaalse sluiting van deure lyk na die voorland.
Wat die handel raak, raak mos elke liewe aspek van ons hele bestaan. Dink toeriste byvoorbeeld hulle sal maar net ‘n voorraad water kan saamry Kaap toe? Om waar te kom tuisgaan as hotels, gastehuise, familietuistes of eie vakansiehuise se toilette nie kan spoel nie?
Trek die lyn verder. Hoe sal skole kan oopbly as kinders die hele dag moet knyp? Hoe word bejaardes in tehuise versorg of pasiënte in hospitale? Hoe word brande in informele nedersettings geblus?
Klink miskien soos gruweltonele uit ‘n bangmaak-rolprent, maar al die ellendes kan werklikhede word as ‘n wonderwerk nie gebeur nie of noodplanne nie omvattend genoeg is en dringend genoeg deurgejaag word nie.
Trouens, volgens die gerespekteerde dr. Anthony Turton, voorsitter van Gurumanzi en vorige senior uitvoerende beampte by Bidvest SA Water, in ‘n goed nagevorste dokument bestaan heel resente Suid-Afrikaanse presedente van juis sulke “ondenkbaarhede”: In Port Shepstone moes ‘n skool al sy kinders huis toe stuur en ‘n hospitaal ander heenkomes vir sy pasiënte soek weens waternood; in Braamfontein het ‘n toringgebou verlede jaar afgebrand.
‘n Mens sidder om te dink dat ‘n swart dag kan aanbreek dat die Kaap hierdie selfde klippekoupad begin loop … en loop …en loop.
Ek pluk as’t ware die stories uit die wingerde waardeur ek gewandel het. Die mooi uitdrukking kom uit die Soutpanbergse streekblad Zoutnet in ‘n netjiese resensie deur Anton van Zyl van “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” – die eerste oor “Laatoes” na my wete.
Van Zyl skryf “Laatoes” is ‘n boek wat “korrel vir korrel” geniet moet word. Hier volg sy resensie:
Veteraan-joernalis Hennie van Deventer se nuutste boek het pas verskyn en te midde van die dosyne staaltjies, is daar ook ‘n paar vertellinge vanuit die Soutpansberg.
Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood koerantman, is pas deur Naledi Uitgewers vrygestel. Dit is Van Deventer se 18de boek, wat volg op treffers soos Scoops en Skandes (1993), Kronieke van ‘n koerantman (1998), Mayafudi (2005) en Spore in die bos: Swerftog van ‘n olifant (2012).
In Laatoes pluk Van Deventer as’t ware die stories uit die wingerde waardeur hy die afgelope paar jaar gewandel het. Die staaltjies is nie noodwendig nuut nie, maar eerder ‘n vars vermengsel met Van Deventer se unieke vertelgeur.
Die boek begin met die hartseer van die dood van die “prins van syfermense”, Eric Wiese. Dié 81-jarige voormalige finansiële direkteur van Naspers is in Augustus vanjaar buite sy huis in Kaapstad vermoor. Dit is een van die persone wat ‘n lang pad saam met Van Deventer in sy joernalistieke loopbaan gestap het.
Van Deventer se oeuvre is egter nie smart nie, en die humor slaan telkens deur in sy beskrywing van mense en selfs die natuur. Sy liefde vir die wildtuin is reeds in verskeie van sy vorige boeke verklaar en in Laatoes kom kuier Sabiepark se luiperd weer. Die humor kom veral uit sy joernalis-dae en sluit ‘n erg amusante hoofstuk oor koerantopskrifte in. Selfs die politiek kom in oënskou, met terugblikke op Hendrik Verwoerd se dood in 1966 en die Soweto opstande tien jaar later.
Nader aan die Soutpansberg is dit egter die gebeure rondom die Anglo-Boereoorlog wat hervertel word. Uit die boeke van plaaslike historikus Charles Leach ontdek hy weer die storie van konstabel Billy Eagle, die Kanadees-gebore polisieman wat in die Soutpansberg gestasioneer was. In September 1908 word hy tussen Messina en Pontdrif deur leeus oorval. Eagle slaag daarin om na ‘n epiese geveg met een van die leeus die dier dood te maak. Sy beserings was egter van so ‘n aard dat hy kort na sy aankoms by Elim hospitaal oorlede is.
Die rolprent Modder en Bloed is in April 2016 uitgereik en vertel die verhaal van die Bushveldt Carbinneers, onder leiding van Henry “Breaker” Morant en sy handperd, Peter Handcock. Van Deventer som die gruweldade wat teen die einde van die oorlog plaasgevind het pragtig op in die vier-bladsy hoofstuk.
Een van die “soetdruiwe” van Laatoes is sekerlik die hoofstuk wat handel oor John Murray, die Hertog van Atholl, wat vir die grootste deel van sy lewe op Haenertsburg in Limpopo gewoon het. Die 12de Hertog van Atholl is natuurlik sy seun, Bruce Murray, wat steeds op Louis Trichardt woon.
Van Deventer se boek is deels nostalgie, deels geskiedenis, maar grotendeels gaan dit oor menswees. Waar die humor deurslaan, is dit telkens met deernis. Dit is ‘n boek wat “korrel vir korrel” geniet kan word, sonder dat daar ‘n volgorde voorgeskryf word oor hoe hierdie “laat oes” geniet moet word.
Laatoes is beskikbaar by die meeste boekwinkels. Dit kan ook direk bestel word by Naledi: http://naledi.online
Mej. Wereld van 1990, Gina-Marie Tolleson, toring bo die Van Deventers, Henne en Tokkie, uit.
Dis mos maar van ons mansmense: spog graag oor die mooi meisies wat ons pad gekruis het, en dik meermale nog so ‘n bietjie aan ook. Sing graag, soos Julio Iglesias met sy fluweelstem, van “all the girls I loved before”.
My storie vandag is,helaas, ietwat minder romanties. ‘n Mededeling van oud-Volksbladkollega André Louw uit Riversdal oor sy ontmoeting met ‘n Mej. Wêreld so 50 en ‘n iets jaar gelede jaag my egter geheuebank toe. Ek het immers darem ook ‘n storietjie of twee oor my en die “kwiens”.
Eers André se storie. Hy vertel:
“Peet Simonis (senior verslaggewer) – was my mentor, maar hy het Mej Wêreld van my afgevry.
“Dit was my opdrag direk van Oom Gert Terblanche (nuusredakteur) af om Lesley Langley met haar besoek aan Bloemfontein op te pas. Peet was vrek jaloers en het gesorg dat hy as my senior die ganse tyd ook by is. Uiteindelik het hy haar gevra of hy haar kan soen en n storie daaroor skryf. Sy was heel gewillig en die storie was op die voorblad, as ek reg onthou. ”
My geheue is nie meer altyd wat dit moet wees nie. Maar ek onthou darem twee Mej. Wêreld-ervarings uit my jonger dae heel goed.
Die eerste was met die ongekunstelde Tukkie-student Anneline Kriel van Witbank wat 40 jaar gelede skielik in die warrelwind-wêreld van ‘n internasionale skoonheid gedompel is. In die proses het sy haar blonde koppie ‘n keer of wat gestamp – soos toe die spierpaleis Roy Hilligenn (amper verspreek ek my) haar sonder ‘n draad klere afgeneem het. Die skokfoto was op die voorblad van die Sunday Times.
In 1978 het ek haar daarna uitgevra in ‘n onderhoud vir die rubriek Onder Vier Oë in Beeld (wat deur die uwe begin is). Sy was toe 22 – ‘n veel ryper en wyser skoonheid. In die onderhoud het sy verkeerde vriende die skuld vir onplesierighede soos daardie gewraakte foto gegee. Sy het die kabaretster Richard Loring by die naam genoem en prontuit verklaar hy het haar misbruik om sy eie loopbaan te bevorder. Die opskrif by die rubriek was: “Verkeerde vriende het Anneline verlei.” Die vet was in die vuur. Loring wou al stomende hof toe. Maar daarvan het niks gekom nie. My simpatie, tot vandag toe, is by Anneline – nie net omdat sy so waaragtig mooi was/is nie.
In 1991 het my pad weer met ‘n Mej. Wereld s’n gekruis. Gina Marie Tolleson van South Carolina wat die kroon in 1990 gedra het, het Bloemfontein besoek. Rolprentbaas Boet Troskie het ‘n dinee in sy herewoning Eden in Millie Krauselaan aangebied. Die uwe was seremoniemeester, aitsa. In my album van daardie jare het ek ‘n foto van haar wat oor my troon. Benewens haar fiere gestalte val die lae hals van haar swart rok op. Het ook ‘n reklamefoto van haar met haar kroon op. Daarop het sy geskryf: “To the master of ceremonies, Gina.”
Dis 25 jaar later. Niemand vra my meer om seremoniemeester te wees nie. En sy? Wonder of sy nog as Mej. Wêreld van 1990 onthou word. Hoe sou Gina nou lyk en sou sy nog sulke lae halse kan dra?
NASKRIF: Kollega Johan van Wyk het ook ‘n herinnering aan Anneline. Sy het as ‘n bloedjong Mej. Wêreld Bloemfontein besoek en hy, ‘n galante heer soos min, het by ‘n Boet troskie-ete met haar gedans. Klaar gewals, sê sy vir hom: “Dankie oom, dit was lekker.”
Daarvandaan kom dit dat hy altyd in sy rubriek Stop van Myne na homelf verwys het as “oom”.
Het die tyd nie aangebreek om toeriste te ontmoedig om Kaap toe te kom nie? Kan konferensies en sportbyeenkomste maar onbelemmerd voortgaan? Kan mense vir hul plesier in skitter-swembaddens bly plas?
Lees vanoggend se hoofberig in Die Burger. Dr. Roger Parsons spel die werklikhede van die waternood uit op ‘n wyse wat ‘n mens koue rillings gee. Die krisis is op ons en die ondenkbare van droë waterkrane geen hersenskim nie.
Hoe billik is dit om in sulke slegte omstandighede. net belastingbetalers voor die loop van ‘n geweer te plaas oor teikens wat klaarblyklik nie met die huidige stadsbevolking en -leefwyse haalbaar is nie, al word in die meeste huise die minimum water gebruik?
Reeds op 16 Januarie – nege maande gelede – het ek in ‘n brief in Die Burger versigtig sulke vrae begin stel. Ek is as alarmis afgemaak en oor die vingers getik vir my onkunde oor die reuse-omvang van besoekers se bydrae tot die Kaap se ekonomie. Vrywel niks is gedoen nie buiten om verlangend na die wolke te staar.
Maar as die Kaap GEEN water meer het nie, watter ekonomie bly dan oor om te beskerm? Ons sal oor die langer termyn moet dink. Dringend. Anders word Kaapstad gou-gou Spookstad.
HIer is die skakel na my brief van 16 Januarie: https://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/kaap-moet-gou-ekstra-water-kry-20170115.
Die brief het verskyn onder die opskrif: Kaap moet gou ekstra water kry. Hier is die volledige brief:
Tien miljoen passasiers stroom in 2016 deur Kaapstad Internasionaal se hekke, en die betrokke Wes-Kaapse minister jubel saam dat die lughawe Kaapstad “een van die mees verwelkomende bestemmings in die wereld maak” (DB, 12 Januarie). Toeriste sak ook Desember/Januarie op die stad toe per skip, trein en motor. Spesiale promosies word van stapel laat loop om die stad aan toeriste te “verkoop”. Konferensiegangers word kliphard wereldwyd gewerf.
Ook nie almal wat deur die poorte kom, kom net kyk, geniet en gee weer pad nie. Bevolkingstatistieke ken net een rigting. Dis boontoe. Huiskopers uit ander provinsies trap eiendomsagente se drumpels deur. Informele nedersettings spring op soos padddastoele. Skole bars uit hul nate. Nuwe skole, vervangende skole, ekstra klaskamers en mobiele klaskamers word aangekondig. Nog 15 nuwe skole word in die volgende drie jaar beloof.
Terselfdertyd daal damvlakke onheilspellend. Waterteikens word, helaas, nie gehaal nie. En die arme belastingbetalers? Hulle is die sondebokke. Op openbare TV word hulle gekastei weens hul “gebrek aan samewerking”, gedreig met hoër boetes en aangemoedig om op bure te spioeneer.
Dit is mos nie billik nie. Is hulle dan die enigste verbruikers? Hoeveel toeriste gebruik herwinde badwater om hul toilette te spoel? Hoeveel tel ooit ‘n emmer op, klim saam in die bad of gebruik ‘n handdoek maar ‘n week lank om water te spaar?
Ek soek nie ‘n lang lesing oor die ekonomiese voordele wat toerisme vir die stad inhou nie. Niemand is immers so dwaas nie om te pleit: Hou asseblief tog die toeriste en die nuwe intrekkers weg.
Maar almal weet mos Kaapstad is wat vars water betref, ‘n brandarmstad. Die Moederstad kan nie sy brood aan albei kante gebotter wil he nie. Hy kan nie joelende wereldstad wees, die tienduisende besoekers juigend om die hals val, en dan oor hul waterbehoefte soos ‘n volstruis kop in die sand druk nie. Hy kan nie kop bo water probeer hou deur maar net die inwoners se krane stywer toe te draai nie. Stadsvaders kan nie maar net bly hoop dat die liewe Vader tog sal voorsien nie.
Ontwikkeling van bykomende varswaterbronne was lankal meer as noodsaaklik. Hoe langer hierdie dringende prioriteit uitgestel word, des te groter die onreg wat teenoor belastingbetalers gepleeg word, en potensieel afgrysliker die dreigende waterkrisis wat Kaapstad onverbiddelik vierkant in in die oë staar.
Lees ook hierdie veelseggende kommentaar van Adriaan van der Wart op Facebook: