Jun 19, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

My eerste boek. Na 24 jaar kom ‘n Laatoes.
Douvoordag more as die Kaap nog net begin ontwaak, sal ek en Tokkie op pad wees van Melkbos af lughawe toe. As alles reg verloop, sit ons more-aand by ‘n vuurtjie in Sabiepark. ‘n Vakansie van amper drie maande wag, so plus-minus al ons 50ste vandat Tarlehoet einde 1997 in ons lewens gekom het.
Natuurlik sien ons geweldig uit na die vreugdes van die bos: elke dag se verrassings rondom die huis; sebras se besoeke aan ons watergat; die sy aan sy leef met die natuur in hierdie repie ongerepte Afrika naas die Krugerhek van die wildtuin en die Sabierivier. Ons sien uit na die spesiale ervarings wat maar elke keer opduik en elke bosvakansie as ‘t ware definieer.
Tog kom vanjaar ‘n element in die prentjie wat ons vakansie ietwat anders gaan maak. Die uwe gaan die almanak dophou en selfs die slapies tel. Hy gaan begin haastig raak.
Sê nou weer? Ja, julle het reg gehoor. Die haastigheid het darem ‘n goeie verklaring. Kom September, kom ‘n “laatoesie” van die uwe uit die land – of die wingerd, as jy wil: die uitgewer Naledi publiseer van die 76-jarige ‘n boek wat op hierdie rype ouderdom seker sy laaste sal wees: Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman. Brand ek nie om weer ná ‘n lang onderbreking ‘n boek vars van die pers in my hande te hou nie!
Oor die titel is lank gedink. Laatoes het gewen, en die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) se woordomskrywing het sowat die deurslag gegee. ‘n Laatoes is, volgens die WAT, vereers ‘n oes wat lank op die land staan en laat in die seisoen ingesamel word. Wat seker in hierdie geval met die HvD-oesie gebeur. ‘n Tweede betekenis is ‘n laatoeswyntjie uit die wynkamer. Hoop maar daar sal lesers wees vir wie Laatoes so ‘n behaaglike leesplesier bring soos ‘n glasie vrugtige laatoes.
Die “kanniedood-koerantman” in die subtitel sal seker nie ‘n verrassing wees vir mense wat Van Deventer ken nie. Kollegas het my in Bloemfontein ‘n “kompulsiewe” koerantman genoem weens my “passievolle drif”. Ek glo hulle sal maklik van “kompulsief” tot “kanniedood” kan vorder weens my uithou en aanhou vir soveel jare al.
Op 15 Desember 1997 het ek my kantoordeur in die Perssentrum in Kaapstad finaal agter my toegetrek ná ses jaar weg van skryf. Soos Sabiepark ekstra genot tot my 20 jaar as afgetredene bygedra het – en bootvaarte! – het die terugkeer tot my eerste liefde, skryf, ook elke dag vir my waarde toegevoeg.
Skryf, skryf, skryf nie net in my blogs en op my eie webblaaie nie. Nie net enkele boekies nie. Maar in die drie Afrikaanse dagblaaie en in Rapport, in tydskrifte soos Huisgenoot, Sawubona en By, ook op Litnet, Netwerk24 en sy eie webblaaie. Uit hierdie laatoes van my is die versameling in die bundel geput.
Van begrafnisse tot feeste; van herdenkings tot bekendstellings; van humor tot ernstige besinnings kom in die versameling aan die bod.
Louis Esterhuizen, tekspraktisyn van Stellenbosch, wys daarop dat dit my in my lewe en loopbaan geluk het om paaie te kruis met talle indrukwekkende persoonlikhede binne ons kultuur-historiese landskap. Oor baie wat ek oor jare heen as vriend, kollega of vertroueling leer ken het; skryf ek in Laatoes. Mense is die oorheersende tema, dan die koerantwese, die natuur, persoonlike dinge – ook my skool- en studentejare – kerk en sport.
Geleentheidstukke is uiteenlopend: van die 50ste herdenking van die moord op dr. HF Verwoerd tot die 30ste herdenking van Gerrie Coetzee se verowering van die wêreld-swaargewigbokstitel. Ek waag my hand selfs aan rugby. Wonder wat my sportskrywer-kollegas daaroor sal sê!
Ten slotte: maak seblief ‘n merkie op die almanak by September en volg Nataniel se raad een keer: koop tog maar daardie “blerrie boek”!
* Volgende blog kom uit Sabiepark.
Jun 17, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Twee torings van die World Trade Centre nog op hul plek.
Op 26 Mei 1977, 40 jaar gelede, het ek en Tokkie tot siens gese vir Harvard, tot siens vir vir Cambridge, tot siens vir Boston, tot siens vir Massachusetts. Ons jaarlange Nieman-avontuur was verby. Die Nieman-klas van 76/77 was vir oulaas byeen vir ‘n gawe kreefete aan Boston se waterkant.
Om 17:00 was die Van D’s op vlug 381 van die lugdiens Allegheny na Buffalo NY op die eerste skof van ‘n reis deur 11 state. Die vliegtuigkaartjies vir die vier van ons vir die uitgebreide reis was nogal ‘n dik pak. Toe ek die reisplan vir Jim Thomson, kurator van die Nieman Fountadion, wys, het hy verbaas gereageer: “Julle gaan in ‘n maand meer van Amerika sien as ek in amper 50 jaar!”
Ons het na Buffalo gevlieg vir ‘n besoek aan die grootse Niagara-waterval, ‘n natuurlike grens tussen die VSA en Kanada,. Die “dorpie” Niagra Falls is in reisbrosjures bekend as die “wittebroodshoofstad van Amerika”, met romantiese hotelletjies oweral.
Op 27 en 28 Mei was ons in Chicago. Chicago, Chicago …. Ons is gemesmeriseer deur hierdie megastad aan die skone Michigan-meer in die staat Illinois met sy State Street “that great street” (Frank Sinatra); Golden Mile, Sear’s Tower met sy 110 verdiepings (toe nog die hoogste ter wêreld); Conrad Hilton (een van die grootste hotels ter wêreld); O’Harelughawe (besigste ter wêreld); indrukwekkende Buckingham-fontein (spuit 30m hoog); Marina City (twee ronde woonsteltorings van 60 verdiepings hoog); reuse-Picassobeeldhouwerk voor die stadhuis, ens.
Dit was ons eerste kennismaking met ‘n Amerikaanse jeugsentrum (spotgoedkoop teen $18 per nag maar met rudimentêre geriewe). Besit nou nog my “Men’s pass” sodat ek darem by Tokkie en die kinders kon kom sonder dat die wagte my gryp.

“When it is is winter in the Rockies”.
Op 29 Mei vlieg die VanD’s van Chicago na Denver in die cowboy-staat Colorado. Drie propvol dae wag. Denver self – die sg. “mile high city”; die skilderagtige nasionale Rocky Mountainpark met sy wit passe en pieke en blouselblou mere; regte egte Wilde Weste-dorpie Central City; die klipformasies van Colorado Springs wat bemark word as die “Switserland van Amerika” en, les bes, North Pole, Colorado – Sinterklaas se amptelike adres. Die kinders was gaande oor die Wimpys met perdesaaltjies vir stoele. By ‘n rodeo langs die pad het ons met ons huurkarretjie van Budget ingery om te gaan kyk. Dit was ‘n insameling vir ‘n boer wie se huis afgebrand is. Toe kry die kinders kans om voor op regte perde om die baan te trippel. Gasvrye mense in Colorado.
“Everybody’s favorite city”. Dis San Francisco se beskrywing van homself. Wel, die Van’sd was dadelik verlief toe ons op 3 Junie kennis maak. ‘n Andr beskrywing is: “Seven great cities in one”. Inderdaad. Dis werklik onmoontlik om in ‘n paragrafie of twee reg te laat geskied aan hierdie fantastiese plek. Spesiale herinneringe is aan die Golden Gate-brug (pragtige sonsondergang – dis Amerikaanse weskus, onthou), historiese Telegraph Hill, die ultra-moderne Museum of Fine Arts, die kleurryke ou huisies van Alamo Square, die trems (toe al meer as ‘n eeu oud) in die krom, steil straatjies en die vismark.
Sal ook nie ons slaapplek, die Youth hostel van die kerkorde Mans, vergeet nie. Moes daar o.m. apart slaap en toilette skrop.
Van San Francisco af is ons na die skildergatige nasionale park Yosemite in die Sierrea-gebergtes. Alles aan die park is groots: die granietkruine, die reuse-sequias (rooihout) – die grootstes lewer genoeg hout om 40 vyfslaapkamerhuise te bou! – die vier watervalle in die helder Mercedrivier die breë canyon, die vergesigte …. Die “Mirrior Lake” sorg vir spieëlbeelde so skerp in fokus soos met ‘n goeie kamera.

San Francisco – almal se gunstelingstad.
Die kar waarmee ons gery het, was ewe gedenkwaardig as die park. Dis ‘n Chev Caprice Classic van 1977. Het die goedkoopste karretjie bespreek vir die reis na Los Angeles. Toe vra Budget my om liewer die pragtige goue Chev met die wit leerbekleedsels vir hulle soontoe te vat. Dis ‘n kar wat selfs die Yanks twee keer laat kyk het.
As jy in die weste van Amerika kom, doen jouself ‘n guns: knyp ‘n dag of twee af en ry tydsaam met Highway 1 kuslangs van San Francisco na Los Angeles of andersom. Ons ry van noord na suid ná ons kuiertjie in die manjifieke nasionale park Yosemite, oor Monterey, Carmel en Big Sur. Wonderlike natuur, mooiste dorpies. In Monterey besoek ons die Fisherman’s Wharf en Cannery Row, wat in John Steinbeck se boeke so geromantiseer word.
Die Steinbeckteater is in Cannery Row, ook hope kleurryke winkeltjis, galerye en eetplekke. Ons koop by “The Inquisitive Eye”, nommer 203, Cannery Row 625, ‘n sierlike muurhorlosie van natuurlike rooihout (sequia) vir $132,50 – tussen R2 000 en R3 000 in vandag se taal maar destyds gelukkig net R132,50. Die horlosie hang nou, veertig jaar later, in ons woonkamer op Melkbosstrand. ‘n Eersteklas-soewenier. Na Monterey pak ons die sg. “17 mile drive” deur die Del Montewoud by Pebble Beach.
Op ons laaste skof na Los Angeles van Carmel af in Junie 1977 ry ons verby asemrowende kustonele. Die Amerikaners noem dit onbeskeie “the most beautiful stretch of coastline in the world”. Daarop sou my antwoord darem wou wees: “Sak, Sarel. Die Tuinroete staan nie juis terug nie.” Ons val lank vas by Hearst Castle – ‘n werklike kasteel-kasteel soos jy in Europa sou verwag. Mediamagnaat William Randolph Hearst se plek met die naam La Cuesta Encantada – Heuwel van Betowering. Reusagtig, paleisagtig, fabelagtig. Kyk uit op die grote oseaan. Slaan ‘n mens se asem eweseer weg as die pragtige natuurskoon.
In triestige winterweer op Melkbos dink ek terug aan 40 jaar gelede in Los Angeles. Lekker somerweer in die “Sun country” van Amerika. L.A. is natuurlik Hollywood, Beverly Hills, Sunset Boulevard, Malibu en destyds ook Univeral Studios wat ‘n moet was vir elke besoeker. Ons was o.m. ook by die Farmers Market. in die eg-Meksikane Olvera Street, sg. “geboorteplek van L.A.” , by die oorspronklike Trader Vic’s, op Knottt’s Berry Farm so reg uit die Wilde Weste en by Long Beach waar die ou Queen Mary – nou ‘n hotel – vasgemeer le.
Nou is dit Arizona toe.
What are nice people like you doing in a place like this? Moes glimlag nadat ons na myle der myle in kaalhaaie, swartgebrande aarde rondom die Sunset Crater in Arizona by ‘n mankoliekige huisie in die veld kom met die kennisgewing.
Maar die snikhete Arizona se inwoners munt uit met selfspot. Toe ons op Phoenix se lughawe aankom, is ons verwelkom deur poskaarte met die woorde: Howdy from the middle of nowhere! Arizona spog natuurlik met die asemrowende Grand Canyon wat deur die Coloradorivier uitgekeep is. Wat vir ons ook besonders was, is die kleur op kleur van die Painted Desert op Highway 66 in Noord-Arizona.
Was ons nie verbaas nie oor die beskeie leefstyl van die die groot gros Indiane – hulle woon in hutte, ry met perdekarretjies en sit langs die paaie en mandjies vleg. Jy voel amper tuis. ‘n Interessante halfweghuis gewees tussen Kalifornië en Nieu-Mexiko waarheen ons op pad was.
Steek jy die grens oor na Nieu-Meksiko, smaak dit jou jy betree ‘n totaal ander land as Amerika. Santa Fe, die hoofstad, is ‘n vreemde mengsel van kulture: Indiaans, Spaans, Wilde Westers. Van Indiane met langs vlegsels tot cowboys met Stetsons loop jy om elke hoek raak. Indiaanse vroue sit langbeen op stoepe hul ware en verkwansel. Die argitektuur is vreemd on-Westers. Die oudste skool, die oudste huis, baie ou-ou dinge kry jy hier.
Die Indiaanse Pueblos is openbarend. Jy moet ‘n permit kry. Anderster soort “nedersettings” daardie met huisies wat in informele SA gemeenskappe sou tuis wees. Albuquerque het ‘n historiese oudorp, baie soos Sante Fe, maar dan ook ‘n ook ‘n nuwer deel wat meer soos die res van die land lyk. Eers as jy op die hiper-moderne Dallas/Fort Worth-lughawe in Texas afklim, herken jy weer die Amerika wat jy leer ken het.
Dan New Orleans – die Parys van die Verenigde State. Hier vaar ons op die magtige, magtige Missisippi met ‘n outydse rivierboot, dwaal ons rond in die romantiese Franse kwartier (Le Vieux Carre) met sy sierlike “broekie-lace”-balkonne, luister ons jazz in Bourbon Street, eet ons Kreoolse geregte met hul sterk geure en besoek ons die inrukwekkende Superdome.
Die suide kom daarna aan die beurt. Ons vlieg na Memphis (Elvis se “home town”) en besoek Rock City op Lookout Moutain by Chattanooga waarvandaan die hele landstreek voor jou oopvou. Jy sien sewe state, van noord tot suid: Tennessee, Kentucky, Virginia, North Carolina (tuiste van die Charleston), South Carolina, Georgia en Alabama – ‘n oorweldigende toneel. Die uwe (nog heelwat skraler as vandag) sukkel al ‘n bietjie om deur Fat Man’s Squeeze te skuif.
Ons besoek in Chattanooga ook die beroemde Chattanooga Choo-choo-trein, ‘n reuse-restaurant met Victoriaanse dekor. Die trein is geparkeer op ‘n pragtige ou stasie. Die Amerikaners maak onbeskeie daaop aanspraak dat dit “the world’s most beautiful railroad station” is.

Die Capitol waak oor Washington.
Volgende stop is Washington DC – hoofstad met waardigheid en flair, stad van monumente en museums. ‘n Toer van die Wit Huis het die toustanery die moeite werd gemaak. Herhalende besoeke aan die Smithsonian Institution was fassinernd: van die Wright-broers se “Kitty Hawk” tot ‘n Pepsiblikkie met die Afrikaanse inskripsie: “Pepsi, jou blik” kry jy in hierdie museum wat as die “nation’s attic” bekend is.
Die uitleg van Washington met die Capitol wat oor die stad waak en al die statige wit monumente vir die eerste presidente op strategiese punte verleen karakter. Dui op nasietrots. Was by Kennedy se graf in die treffende Arlingtion-begraafplaas. Die pragwoonbuurte rondom die stad in die klein staatjie Maryland getuig van mag en geld. Al wat nog oorgebly het van ons 1977-toer was nou ‘n tweede besoek aan die “Groot Appel”, New York
Oorweldigend – die enigste woord vir die wereldstad New York: sy krioelende massa mense en motors, sy allemintige wolkerabbers wat op Manhattan ingepak sit, die magtige brue oor die Hudson, die groen long van Central Park in die hartjie van die stad, Times Square wat nooit tot rus kom nie. Natuurlik wou ek die Verenigde Nasies besoek, en Tiffany’s wat ek onthou het van daardie bekoorlike Audrey Hepburn-fliek Breakfast at Tiffany’s, die New York Times se redaksiekantoor en die Statue of Liberty .. en .. en …
Ons was twee keer in die stad in 1977, die eerste keer met die Corona Merk II – ja, ek het in daai verbysterende Avenues met hul miljuisende geel taxi’s my weg gevind en ook die Hudson meer as een keer op ‘n 12-baan-brug oorgesteek. – en die tweede keer net voor ons vertrek op 27 Junie met Panam vlug 263 terug SA toe via Rio de Janeiro.
Na die drama van 11/9 koester ek veral my foto’s waarop die imposante twee torings van die World Trade Centre ongskonde pryk. Mooi foto’s geneem met die geboue in die agtergrond, van die hele Manhattan-profiel en van Lady Liberty van die veerboot na Staten Island af. Was die grootste winskoop in NY. ‘n Uitgebreide watertoer vir iets soos ‘n “quarter”.
So het ‘n onvergeetlike maand verbygesnel; ‘n onvergeetlike maand aan die einde van ‘n onvergeetlike jaar.
Tot siens, New York, tot siens VSA. Tot wedersiens.
(Kan aanbied om ‘n skyfievertoning te hou. Die foto’tjies is helaas ver van waffers.)
Jun 15, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kollegemanne aan’t kuier.
Met soveel oorgawe het ek leeus nog nie hoor brul nie. Dit was behoorlik asof al die maanhare van die kontrei op die Balulekampie aan die Olifantsrivier toesak vir ‘n magtige klimaks om ‘n era af te sluit.
Elke winter sedert 2012, vyf jaar lank, het ‘n sesstuks studentemaats van Tukkies se Kollegetehuis na die ruskampie van die wildtuin opgeruk om ou bande te verstewig. Elkeen van die vyf Balulekuiers was die okkasie vir drie dae se groot ure en dik plesiere om yslike vure; van herinneringe opdiep uit die laat jare 50 en die beginjare 60; stories vertel onder die lowerryke Laeveldbome en by die kampvuur; koningskos maak en hiënas uit die bos kuier.
Vanjaar skuif die Kollege-saamtrek na Orpen.
Balule V se laaste aand was verstaanbaar ietwat nostalgies. Daardie grootse finalé van die konings van die bos het die gordyn op dié gewigtige geleentheid dramaties laat sak. Ironies genoeg, het vegtende hiënas ons eerste nag in Julie 2012 ‘n dawerende voorspel opgelewer. Tussen die hiënas se welluidende verwelkoming en die leeus se nog welluidender groet is herinneringe versamel wat hierdie sentimentele ou gryskop met hope heimwee vervul.
Dalk die spesiaalste enkele okkasie van die vyf jaar was in 2015 – die jaar van ons geliefde koshuis se eeufees. Selfs die seekoeie het hul trombone ‘n wyle gebêre. Ook die kikvorse het ophou kik vir die Kollegelied wat tussen die braai van die wors en die tjops rondom die gloeiende kole in die braaidrom uit volle bors onder die Laeveldse naghemel aangehef is: Aan het oewers van de Schelftzee, tussen Delft en Rotterdam …
Die ses Kollegemanne van weleer – almal tussen 75 en 80 maar met harte wat nog bons vir Kollege – het met ‘n glasie goed verouderde rooi hul liefde vir hul koshuis op die Tukkie-proefplaas betuig.
Sondag 25 Junie begin ‘n nuwe hoofstuk op Orpen. Agt Kollegemanne van daardie era daar trek saam: Vos Grey, Cas Jacobs, Pierre le Roux, Manie Steyn, Proppie Goosen Johan Bekker, Willie Paulsen en die uwe – en ons gades natuurlik. Die Bekkers en die Paulsens maak vanjaar hul buiging. Hoop hulle het die stamina …
Natuurlik sal Aan het oewer van de Schelftzee by ons nuwe tuiste ook opklink. Ek glo ons sal nog rituele inbou om daar Balule I tot V te gedenk.
Trouens, ‘n blink idee het reeds vorm aangeneem. Hou maar die ruimte dop.
Jun 5, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die bos het sy eie broederskap. Dit reik oor alle grense heen as bosmense in die atmosfeer van hul lieflingsplek saamsit om ‘n vuurtjie, en gesels oor die dinge wat hulle na aan die hart lê. Sabiepark het sy eie broederskap, nog hegter weens die gemeenskaplike liefde vir Sabiepark wat ons bind.
Hierdie Sabiepark-broederskap kom veral in krisistye sterk na vore. Van ware Sabieparkers ervaar jy in moeilike omstandighede ‘n grenslose hulpvaardigheid. Sou die Van Deventers byvoorbeeld aanvanklik dom-dom sukkel om ‘n nuwe swembadseil op te sit, kon hulle met vrymoedigheid op Dawie Strydom van Rustig se knoppie druk. Hy sou kom, selfs kort ná ‘n knievervanging, met sy krukke en sy boor, en die probleem al hinkende-pinkende gou-gou oplos.
Gee jou gas-yskas die gees, is daar net een genade: dit moet Nelspruit toe, wat oor die 100 kilometer ver is. Maar dieselfde ruimhartige Dawie het dadelik sy bakkie aangebied. Die laatmiddag met die gesukkel by die aflaaislag kom Anne en Ria Weiland in hul Volvo-stasiewa juis die paadjie tussen die bome deur opgery.
Anne spring dadelik in en help dra. Uiteindelik is die swaar, lomp affêre oor die kombuisblad gelig en op sy plek in die kombuis staangemaak, die vlammetjie aangesteek en die spulletjie aan die gang gesit.
Tyd vir ‘n Chivas, kondig Anne aan in sy sterk Hollandse aksent wat hy, anders as Ria, nooit afgeskud het nie. Gelukkig het ek nog ‘n geskenkbotteltjie van hierdie duur Skotse watertjies in my kabinet. Dis al wat Anne oor sy lippe sou sit.
Anne kon dit bekostig. Hy het graag vertel hoe hy as Hollander met net sy koffertjie klere en sy koffertjie gereedskap in Suid-Afrika aangekom het. Hy het ‘n baie-baie ryk man geword – o.m. die glas en staal verskaf vir die Johannesburgse Effektebeurs se nuwe gebou in Diagonalstraat en vir Bloemfontein se munisipale “Glaspaleis”. Aan die Wes-Rand het hy ‘n grasdakhuis besit wat vir meer as een Suid-Afrikaanse rolprent gebruik is.
Ek het maar oë toegeknyp en bly skink, want Anne se ruimhartigheid het nie opgehou by fisieke hulp as dit op die help dra aan ‘n yskas aankom nie. In Tarlehoet, ons boshuis, staan verskeie geskenke uit sy hand, diverse goed soos ‘n breë hardebesem en ‘n reeks Chivasblikke waarin ek my sokkies bêre. Hy het dit geniet om te gee.
‘n Keer toe ons slaapplek min raak vir al ons gaste uit Melkbos, bied die Weilands dadelik hul aangename boshuis aan. Vergoeding? “Moet ons nou nie beledig nie.”
Het jy by hom en Ria in Jakkalsbessielaan gaan kuier, was die gasvryheid so ruim soos die hulpvaardigheid. Op hul stoep tussen die boomtoppe het ons heerlik aan Anne se krokette, bitterballen en ander Nederlandse smulhappies weggelê.
Die laaste jare het die gesondheid begin kwel. Daar was ‘n hele paar operasies en siekbeddens. In die tyd het Anne lief geraak vir bootvaarte – nog ‘n gemeenskaplikheid. Hy het sy afkoms verraai deur ‘n taamlik adamante voorkeur uit te oefen vir skepe van die Holland America-lyn, o.m. die MS Rotterdam.
Ongelukkig was die sameloop van omstandighede so dat ons mekaar die laaste ruk al hoe minder in Sabiepark raakgelooop het. Wel mekaar oor en weer bly bel met verjaardae en so. Gister het die onvermydelike SMS gekom: Anne is oorlede. Soos Dawie, die ander lid van die yskas-span, en sovele ander Sabieparkveterane voor hom het die Byl sy pad gekruis.
Nog ‘n Sabieparkse hardekool het getuimel. Die opgeruimde Hollander met al sy stories, sy groot hart en sy liefde vir Sabiepark en die natuur – asook vir Chivas – se plek sal leeg wees. Die wisseling van generasies gaan egter onverpoosd voort. Soos die wisseling van seisoene. Aan daardie werklikheid kan g’n mens ontsnap nie.