Die kapelaan van die Volksblad – so het ek in die jare 80 die wellewende leraar met die permanente glimlag, die flink humorsin en die mooi gemoduleerde stem gedoop.
Die foto van ds. Johan Lombaard is by my 50ste verjaardag by ons huis in Van Schoorstraat, Bloemfontein, geneem. In die glasies is …. water!
Ds. Johan Lombaard wat Donderdagnag in die geseënde ouderdom van 89 oorlede is, was ‘n man van wie jy dadelik gehou het. Hy het onmiddellik jou respek afgedwing. Hy was ‘n jare lange medewerker van Die Volksblad, eers as skrywer van Saterdag-hoofartikels en later na prof. Pieter Potgieter, moderator van die algemene sinode van die NG kerk, as skrywer van die oordenking, die Stille Uur.
Sy “kapelaan”-status het hy ook om ‘n ander rede verwerf,. Hy was vir hierdie redakteur ‘n altyd beskikbare bron van wysheid oor ingewikkelde eties-morele of kerkkwessies, en altyd gewillig om in huweliksintriges van jonger kollegas konstruktief in te gryp.
Dit was ‘n voorreg om hom en Estelle as vriende te kon reken en tradisioneel op 26 Desember, op haar verjaardag, onder die groot boom in hul tuin saam te kuier. Hy het die Van Deventers die spesiale guns gedoen om ons dogter, Marisa, en Brent Claassens by Oude Libertas in die Kaap in die huwelik kom bevestig, en ons Kaapse vriende kon nie uitgepraat raak oor die innemende dominee uit Bloemfontein nie.
Ds. Johan was moderator van die Vrystaatse sinode van die NG kerk. Na sy aftrede was hy, soos verskeie ander dominees, ‘n suksesvolle eiendomsagent.
* Die beroep van eiendomsagent moet die een of ander bekoring vir afgetredenes inhou. Drie vriende uit die jare 80 in Bloemfontein het na lang loopbane in ander beroepe as eiendomagente presteer. Twee was predikante, nogal moderators: prof. Pieter en ds. Johan. Die derde was Andre Ebersohn, onderwysleier en Sukovs-baas. Bekendes se vroue wat as eiendomsagente gaan werk het, sluit in Ema Strydom (Steve Strydom se vrou) en Sanmarie Cronje (Hansie se ma).
“Van die stoep, oor my grasperk, oor die sand, in die see. En dit ‘n skrale 30 km van die hartjie van Kaapstad. Ek het nooit geweet ‘n doodgewone mens kan soveel plesier hê nie.”
So het ek die tydskrif “Sarie” geantwoord toe dié vir my vir ‘n artikel oor Melkbos in sy uitgawe van 31 Desember 1997 oor die mooi kusdorpie se bekoring vra. Ons het ‘n rukkie tevore uit Welgemoed na Melkbos getrek as ‘n “proeflopie” vir my aftrede.
Dit vat-vat nou aan twee dekades later. Baie water het al in die Atlantiese oseaan voor ons huis geloop. Van die stoep tot in die see is nie meer so ‘n maklike storie nie. In die twee dekades het ek en Tokkie egter al liewer geraak vir ons aftreeplek. Penguin Place 11 het ons tuiste en ons toevlug geword. Ons woon nou al langer hier as in enige ander huis. Ons is verknog aan die plek.
Maar onvermydelik duik die kruispad die een of ander tyd op: Wanneer moet jy na ‘n kleiner plekkie in ‘n aftreeoord met voldoende mediese versorging? Watter oord, waar?
Party van ons vriende het daardie paadjie met grasie, gemaklik, suksesvol en selfs dankbaar geloop. My vriend Danie Krynauw, oud-burgemeester van Milnerton, is een wat gesukkel het. Ek het die swaar in sy oë gesien en in sy stem gehoor. Danie moes dit boonop alleen doen. Esbe, met wie hy 54 jaar getroud was, het hom ses maande tevore ontval.
Op 25 Augustus 2011 het ek geskryf oor hoe die moeisame oppakkery aan sy emosies vat: “Hy beleef dit ekstra swaar, want in sy huis is ‘n duisternis versamelaarstukke, skilderye, foto’s, sertifikate, boeke, tydskrifte en wat nog van enorme sentimentele en historiese waarde. Hy en sy vrou van langer as ‘n halfeeu het dit byeengebring. Die huis is ‘n ‘museum van hul lewe’ wat hy nou tot niet moet maak.. ”
‘n Museum van ‘n mens se lewe raak jou huis inderdaad. Ook ons s’n.
Genadiglik is Tokkie aan my sy. Die element van alleen-wees is dus afwesig. Maar met Danie se stryd kan ek in verskeie opsigte wel tog identifiseer.
Ons twee praat al geruime tyd. Gister is ons op ‘n eerste intensiewe ekspedisie na ‘n moontlike nuwe blyplek. Ons het gaan kyk na ‘n groot nuwe ontwikkeling teen die hang van die Tygerberg met ‘n mooi uitsig op Tafelberg en die Kaap. Ek kan my verbeel hoe die liggies in die aande soos klein diamantjies vonkel van die terrasse van die indrukwekkende klubhuis af, waarvan ‘n kunstenaarsvoorstelling teen die muur hang.
Ons kyk na planne en afwerkings en pryse; weeg groottes en opsies teen mekaar op; verneem van die bemarkers hoe begeerlik en ideaal alles gaan wees; hoe veilig; hoe gerieflik; veral hoe gereed om in ‘n oomblik van nood daar te wees wanneer die stygende jare die of daardie ernstige tol eis.
Mooi sonsondergange.
Terwyl die voorlegging duur, probeer ek my gedagtes fokus op vriende wat daardie oorgang met al welslae volvoer het, en hoe positief hulle oor hul nuwe lewenswyse is. My dekselse gedagtes is egter moedswillig; hulle verkies om ongemaklik na ons geliefde Melkbos te bly dwaal. Na die mooi van sy sonsondergange wat ons van ons voorstoep beleef, sy knusse kleindorpse atmosfeer. Ons vriende hier …
Ritse spesiale herinneringe spoel deur my: die tweeling (wat nou 13 is) se eerste verjaardagparty op die gras voor ons huis; ons eie kinders, Johan en Marisa, se huwelike uit Penguin Place 11 uit; my 60ste verjaardag; ons drie-baken-fees op 26 Maart verlede jaar toe ons ‘n lewenslange droom verwesenlik het. Ons het groot markeetent op die gras opgeslaan en met die branders in ons ore sommer so saam-saam my 75ste, Tokkie se 70ste en ons goue bruilof gevier.
Hoe raak ‘n mens sommer so weer gewoond aan ‘n vreemde plek in ‘n vreemde omgewing, sonder die warmte van jare lank se deel wees van jou lewe soos lekker paar skoene? Die vraag laat my skielik ys.
‘n Lastige stemmetjie opper al hoe meer sulke vrae.
In my gedagtes begin ek bestemmings soek vir hartsdinge oral in die huis: trofees, boeke, foto’s, foto-albums, allerlei soeweniers van allerlei aard uit ‘n vol lewe en loopbaan. Ek meet in my geestesoog ons meubels wat dalk in die nuwe, veel kleiner ruimte sal pas, en daardie wat onmoontlik nie sal pas nie. Laasgenoemde is ‘n onheilspellende klomp.
Ek en Tokkie is nie blind vir die mooi voor ons oë van die moderne oord wat verrys nie. Ons vestig mekaar se aandag op alles wat skitterblink van byderwetsheid: “Mooi badkamer, nè; oulike kombuisie, netjiese kaste, aantreklike vloere.” Ons is ontvanklik vir die skildering van ‘n ontspanne lewenstyl met minder kwellinge oor dinge wat by die bestaande tuiste kan skeefloop, breek of verstop raak.
Nuwe kwellings duik egter ook op: die Spartaansheid dat baddens in die oord totentaal ontbreek – “te gevaarlik vir oumense”; die onvermydelikheid dat een motor sal moet waai (Tokkie se rooi Mercedes?); die komplikasie dat die oop staanplekke vir die jou wiele nie eens ‘n muur bied om ‘n tang teen te hang of ‘n hoekie vir jou braaigereedskap nie.
Penguin 11 – hier byt ons vas!
Ons ry in aanvanklike stilte terug Melkbos toe. Toets-toets mekaar later versigtig. Konsensus daal heel gou. Die kollektiewe insig in die Van Deventervoertuig is kort en kragtig: Aikona, nie vir ons nie. Ons byt liewer vas net waar ons is, wat buitendien ook heelwat bekostigbaarder uitwerk.
Die risiko’s van die ouderdom sal nie weg gaan nie. Hulle word helaas meer saam met die meer word van die jare. Dit besef ons terdeë. Laat ons egter maar die uitdagings pak soos hulle kom. Solank ons kan uithou.