ALTYD IETS NUUTS UIT DIE BOS

'n Stukkie kameelperd vir 'n peuselhappie.

‘n Stukkie kameelperd vir ‘n peuselhappie.

Ons luiperds het nou name: Mandleve en Shlarulini. Mandleve is ‘n dominante mannetjie in die Sabi-Sand en Shlarulini is sy wyfie. Die twee het Sabiepark ge-annekseer as deel van hul gebied en kom nou enige tyd van die dag of nag op inspeksie in hul “kolonie”.

Groter versigtigheid is deesdae die wagwoord, veral as jy gaan stap. Selfs Tokkie het haar laat oortuig om sekere roetes liefs te vermy en my Jan Scholtz-kierie op haar alleenwandelinge saam te vat.

Drie vlakvark-wesies is altyd op ‘n bondeltjie naby die kantoor. Dat hulle so moederloos groot word, herinner jou telkens aan die konstante luiperd-gevaar vir mens en dier.

Enigste eie roofdier-ervaring van die somervakansietjie in Sabiepark was egter met ‘n “roofdier” van ‘n heel ander aard: gelukkig net met een van die sogenaamde “Vyf Kleintjies”: die mierleeu.

Mierleeu in 'n ander gedaante.

Mierleeu in ‘n ander gedaante.

Voorheen het ek die mierleeu net as die larwe geken wat met sy plat, vet lyf in sy tregtervormige putjie in die sand skuil, ander insekte met sy twee lang kake gryp en blitsvinnig die grond intrek. Nou het ek ook met die volwasse lepelvlerkie-mierleeu kennis gemaak.

Elke aand het ‘n paar by die stoeplig kom rondfladder. Die volwasse knaap lyk soos ‘n naaldekoker of waterjuffer met ‘n lang, skraal lyf en vier lang rafgfyne netvlerke. Hy is maar lomp en vlieg baie swak en rukkerig. Die deurskynende vlerke met jul kolpatrone verleen egter aan die insek ‘n sekere elegansie.

‘n Nuwe voëlgeroep (vir my altans, nie vir Tokkie nie) het die bekende eentonige doe-doe-doe-deuntjie van die groenvlerkduifie onderbreek. Dit is die harde, helder gefluit van die baardwipstert.

Die baardwipstert se roep bestaan uit ‘n reeks strelende frases wat elk drie of vier keer herhaal word, met heelwat variasie. Sommige frases styg in ‘n crescendo. Newman beskryf dit in Tokkie se veel gebruikte voëlboek meesterlik soos volg: “piee piee terr triee .. tsjieroee tsjieroee tsjieroee …. wietsjoee wietsjoee wietsjoee … tirroee tirroee tirroee … piee piee piee piee … tsjoe-iet tsjoe-iet tsjoe-iet.”

‘n Aand of twee voordat ons weg is, het ons die bekende duet van gevlekte ooruile duidelik in die nagstilte gehoor. Die mannetjie se diep “whoeee” word deur die wyfie se sagter “hoe” beantwoord (met of sonder vraagteken – ek weet nie. )

Naguiltjies se pragtige sang het amper elke nag opgeklink; uiters welkom nadat hulle ‘n ruk lank doodstil was.

Op die werf, tussen die aalwyne by die seuns se badjie, staan nou ‘n klein paddaboompie. Dis ‘n geskenk van broer Cules-hulle. Hoop die boompie oorleef en begin kort voor lank die groterige leeragtige vrugte lewer waar die ryp geel pulp deur mense, ape, bobbejane, renosters, neushoringvoëls en witoorhoutkappers geëet word. Laat ons ook hoop die vrugte lok eerder voeëls as ape en bobbejane!

Kyk daardie tande!

Kyk daardie tande!

Hoeveel rosyntjiebosse – reuserosyntjie, vaalrosyntjie, witrosyntjie en ritse ander gwerias van onbekende identiteit – op Tarlehoet voorkom, is onbekend. Dit sou ‘n reusetaak wees om te tel. Een ding weet ek: ná goeie reën in Januarie tot Maart is daar hope meer as voorheen. Oral beur ‘n nuwe rosyntjiebos of kruisbos boontoe.

Nog ‘n nuwigheid is natuurlik die stories wat na vore begin kom oor al die beroemde besoekers wat die Williams-Jonese na 250 saamgebring het: J.K. Rowling, Roger Moore en selfs dalk prinses Diana (vorige blog).

Wat elke keer ‘n somerbesoek kroon, is natuurlik die swembadjie. In daardie verfrissende water het ek en Tokkie die drie weke geboer, sonder wroeging oor die waterskaarste in die Kaap. Jy hoor dan die Sabie in jou ore druis!

Die geswem eerste ding elke oggend en laaste ding elke aand – so saam-saam met twee waterskilpadjies in die watergat – het ons selfs die pyn van die eerste dag se batterykrisis laat vergeet. Die ses nuwes en die nuwe reguleerdertjie werk in elk geval kookwater. Moet ook teen daardie koste (amper R15 000)!

Ompad na Tshokwane.

Ompad na Tshokwane.

Wat die Wildtuin betref, was dit ‘n openbaring om van die ompaadjie af die enorme skeur in die aarde gade te slaan weens die Mantimahledam wat weggespoel het halfpad tussen Skukuza en Tshokwane. Naby die Skukuza-gholfklub het leeus ‘n groot kameelperd platgetrek. Ons het hulle nie daar betrap nie. Vier hiënas het egter behoedsaam uit die bos gekom op soek na ‘n laaste peuselhappie. Een oggend het ‘n troppie wildehonde ons by die Paul Krugerhek ingewag.

Tussen die ruie gras en bosse was dit egter nie die maklikste ding om diere raak te sien nie. Maar wie gee oor diere om as die bos so sprankel en die manjifieke veld self die oog so mildelik  streel?

(Hierbo verwys ek na die Jan Scholtz-kierie. Dis ‘n pragstuk van kiaat met ‘n swierige vlakvarktand. By Tarlehoet was die vakansie ‘n beer met selfs nog indrukwekkender tande. Jan se hande sou gejeuk het!)

BEROEMDSTE GAS

Het Lady Diana ooit in Sabiepark gekuier?

Het die Britse “prinses van harte” in haar fleur hier wakker geword met die klokhelder roep van die visarend wat bo die gedruis van die Sabierivier opklink?  Het sy by een van die die rustige piekniekplek se uitkykpunte die olifante se waterkaskenades gadegeslaan?  Het sy gaan slaap onder die uitgestrekte melkweg na ‘n aand langs die kampvuur?

As sy het, is dit een van Sabiepark se groot geheime van wie bittermin weet. Selfs hierdie veteraan-Sabieparker het pas die eerste keer die fluistering gehoor.

Tog lyk dit die waarheid kan wees; dat prinses Diana inderdaad ‘n gas by die Sabiepark- “royalty” van ‘n vorige generasie, die Williams-Jonese van 250, was. Die nuwe eienaar vaan 250, ds. Theo Danzfuss, het die storie personlik uit  – verskoon maar die koeranttaal, asseblief! –  meer as een “betroubare  bron” verneem. .

Lady Diana se Sabiepark-kuier of –kuiers het ter sprake gekom na ‘n onlangse Facebook-inskrywing  uit my pen. Wie sou die beroemdste mens wees wat nog sy/haar voete in Sabiepark gesit het, het ek daarin gevra. Op my vraag het ek soos volg geantwoord:

My eie sienswyse was altyd: Mimi Coertse (gewese eggenote van stigterslid Werner Ackerman wat eerste die moontlikhede van Sabiepark as private natuurreservaat raakgsien het).  Haar stem het selfs hier opgeklink wanneer die eerste eienaars gesellig saamgekuier het in  die stkamer (wat nou een vleuel van die kantoorgebou vorm).

Wel, dit was my sienswyse tot Dinsdag 21 Maart, Mensregtedag.

Hoor toe by Jimmy Pressly van Sanparke niemand minder nie as J.K. Rowling van Harry Potterfaam was al in lewende lywe in Sabiepark as gas van mnr. Williams-Jones wat ‘n groot gees in die Engelse rolprentbedryf  was.  Sy was glo lief om langs die rivier te sit.

Ook Roger Moore, gewese 007, het as gas by 250 Sabieparkstof op sy skoene gekry.

Die  hoë besoeke was glo hoogs incognito. Jimmy dra kennis want hy is by geleentheid  deur hul gashere versoek om ‘n spesiale nagrit te reël. Was ongelukkig nie vir hom moontlik nie.

( ‘n Mens kan dink hoe teleurgesteld Jimmy junior was (eintlik steeds is, aldus sy pa.). Hy het ‘n stapel Harry Potterboeke besit. Daardie handtekening was vir hom goud werd.)

In die kommentare op my inskrywing skryf Ferdie Danzfusse, seun van ds. Theo, toe: “Ek weet nie of dit waar is nie, maar die gerug is dat Prinses Diana ook een van sy gaste was…”

Gerugte soos hierdie sal nou tiekie die bos wees, het ek en Tokkie taamlik sinies teenoor mekaar opgemerk.

Maar was ons dalk te sinies?

Saterdagoggend  stop ds. Theo langs my en Tokkie in Wildevylaan. Ons gesels oor sy huis, die vorige eienaars en die gaste wat hulle uit Engeland saamgebring het. Hoor toe uit sy mond inligting oor die Diana-konneksie wat my weer laat dink.

Eers was dit die oordragprokureur, self ‘n Sabieparkeienaar, wat by die nuwe eienaar  wou weet:  Ken jy die geskiedenis van daardie huis?

Toe keer ‘n vorige parkhoof van Sabiepark  hom by die piekniekplek voor met dieselfde vraag.  Daarna ‘n dame in die Sabiepark-kantoor.

Almal vertel hom toe van die beroemde gas, wat glo ‘n niggie van Williams-Jones was. Hy was die die besturende direkteur van ‘n rolprentmaatkappy in Engeland. Vandaar die gaste soos J.K. Rowling en Roger Moore.

Nou is ek en Tokkie genooi vir koffie. Dan was ons ook al daar, merk sy lakoniek op.