WIE IS DIE SKULDIGE?

‘n Kleuterrympie wat ‘n studenteliedjie geword het, draai in my kop terwyl ek mymer oor outydse kerkbasaars wat al hoe meer deur allerlei “feesmarkte” op die agtergrond gedruk word. Die vetkoek, kerrie en rys, pannekoek en basaarpoeding speel tweede viool. Voor in die koor is die slimmighede om teen jou mure te hang en ander snuisterye.

Die boerebasaar is dood, helaas – vermoor soos Cock Robin (met wonderlike uitsonderings soos ons buurdorpie Philadelphia). Vraag in my gemoed is: Wie het die kerkbasaar vermoor?

Dalk is ek net bevooroordeeld. Hopelik laat Melkbos se feesmark die rande rol. Ons gemeente het dit broodnodig. Kom, kopers, kom!

Vir wat dit werd is, so het ons Kollegemanne op Tuks gesing in die jare 60:

“Who killed Cock Robin?” “I,” said the Sparrow,
“With my bow and arrow, I killed Cock Robin.”
“Who saw him die?” “I,” said the Fly,
“With my little eye, I saw him die.”
“Who caught his blood?” “I,” said the Fish,
“With my little dish, I caught his blood.”
“Who’ll make the shroud?” “I,” said the Beetle,
“With my thread and needle, I’ll make the shroud.”
“Who’ll dig his grave?” “I,” said the Owl,
“With my pick and shovel, I’ll dig his grave.”
“Who’ll be the parson?” “I,” said the Rook,
“With my little book, I’ll be the parson.”
“Who’ll be the clerk?” “I,” said the Lark,
“If it’s not in the dark, I’ll be the clerk.”
“Who’ll carry the link?” “I,” said the Linnet,
“I’ll fetch it in a minute, I’ll carry the link.”
“Who’ll be chief mourner?” “I,” said the Dove,
“I mourn for my love, I’ll be chief mourner.”
“Who’ll carry the coffin?” “I,” said the Kite,
“If it’s not through the night, I’ll carry the coffin.”
“Who’ll bear the pall? “We,” said the Wren,
“Both the cock and the hen, we’ll bear the pall.”
“Who’ll sing a psalm?” “I,” said the Thrush,
“As she sat on a bush, I’ll sing a psalm.”
“Who’ll toll the bell?” “I,” said the bull,
“Because I can pull, I’ll toll the bell.”
All the birds of the air fell a-sighing and a-sobbing,
When they heard the bell toll for poor Cock Robin

) Hennie Van Deventer

‘n Kleuterrympie wat ‘n studenteliedjie geword het, draai in my kop terwyl ek mymer oor outydse kerkbasaars wat al hoe meer deur allerlei “feesmarkte” op die agtergrond gedruk word. Die vetkoek, kerrie en rys, pannekoek en basaarpoeding speel tweede viool. Voor in die koor is die slimmighede om teen jou mure te hang en ander snuisterye. Die boerebasaar is dood, helaas – vermoor soos Cock Robin (met wonderlike uitsonderings soos ons buurdorpie Philadelphia). Vraag in my gemoed is: Wie het die kerkbasaar vermoor? Dalk is ek net bevooroordeeld. Hopelik laat Melkbos se feesmark die rande rol. Ons gemeente het dit broodnodig. Kom, kopers, kom!

Vir wat dit werd is, so het ons Kollegemanne op Tuks gesing in die jare 60:

“Who killed Cock Robin?” “I,” said the Sparrow,
“With my bow and arrow, I killed Cock Robin.”
“Who saw him die?” “I,” said the Fly,
“With my little eye, I saw him die.”
“Who caught his blood?” “I,” said the Fish,
“With my little dish, I caught his blood.”
“Who’ll make the shroud?” “I,” said the Beetle,
“With my thread and needle, I’ll make the shroud.”
“Who’ll dig his grave?” “I,” said the Owl,
“With my pick and shovel, I’ll dig his grave.”
“Who’ll be the parson?” “I,” said the Rook,
“With my little book, I’ll be the parson.”
“Who’ll be the clerk?” “I,” said the Lark,
“If it’s not in the dark, I’ll be the clerk.”
“Who’ll carry the link?” “I,” said the Linnet,
“I’ll fetch it in a minute, I’ll carry the link.”
“Who’ll be chief mourner?” “I,” said the Dove,
“I mourn for my love, I’ll be chief mourner.”
“Who’ll carry the coffin?” “I,” said the Kite,
“If it’s not through the night, I’ll carry the coffin.”
“Who’ll bear the pall? “We,” said the Wren,
“Both the cock and the hen, we’ll bear the pall.”
“Who’ll sing a psalm?” “I,” said the Thrush,
“As she sat on a bush, I’ll sing a psalm.”
“Who’ll toll the bell?” “I,” said the bull,
“Because I can pull, I’ll toll the bell.”
All the birds of the air fell a-sighing and a-sobbing,
When they heard the bell toll for poor Cock Robin

DIE PêREL IN JOU OOG

‘n Oog kan sag, teer en liefdevol wees. ‘n Oog kan blits , vuur spoeg en jou deurboor. Sterre skitter in jou oë of onweerswolke pak daarin saam.  ‘n Oog kan vele ander dinge wees: hartseer, blink, troebel, betraand. Dit kan ‘n bars kyk of geneig wees om te dwaal.

Jy kan vir iemand van die teenoorgestelde geslag ogies maak en vir ‘n kind grootoog. Jy kan jy jou gespreksgenoot onder vier oë spreek, of, as jy baie kwaad is, ‘n oog vir ‘n oog eis.

Die oog is die venster van die siel, sê ‘n wyse. Dit is soos ‘n diep poel wat deur die maanskyn aangeraak word, dra ‘n digter by.  Wat is die oog? Maak jou keuse.

Een ding weet ek: die oog is ‘n sintuig in sy eie liga; veelsydiger as al die ander.

Nou kom die Bybel met taamlik radikale advies. As die oog jou pla, ruk hom uit, verneem ons.  Gelukkig is dit figuurlik bedoel. Letterlik, is vir ‘n oog wat pla, gelukkig aangenamer alternatiewe beskikbaar.

Begin maar by die doodgewone bril. Brille is vandag so gevorderd dat mini-kameras al ingebou word. ‘n Mens is half verbaas ‘n bril is nog nie ontwerp wat jou antwoord wanneer jy roep nie.

Danksy lasers en ultra-klank is moderne oogchirurgie kinderspeletjies teenoor wat dit doerie tye was. ‘n Wandeling in die park, het ‘n vriend uit sy eie ervaring gerusgestel toe ek aankondig dat ‘n operasie my voorland is om ‘n karatak te verwyder.

Een Facebookvriend weet selfs te vertelle van ‘n vroulike atleet wat die oggend aan haar oë laat werk het en dieselfde aand by ‘n byeenkoms, rooi oë en al, aan die spiesgooi deelgeneem het.

Die uwe het Woensdag in die Kaapse Ooghospitaal die eerste van sy twee katarakverwyderings ondergaan. Hy kan eerstehands getuig. En ja, werklik, die prosedure hou niks te vrese in nie.  Alles loop seepglad.  Geen pyn, geen bloed.

Die spiesgooier kon egter darem nie ‘n kararak laat verwyder het nie.  Jou oog word 24 uur toegeplak. Jy stap uit die hospitaal met ‘n lys moets en moenies: dan die oogdruppel, dan daardie ene; nie buk, nie motor bestuur, nie oefen, nie die nuwe lens ooreis nie.

As iemand anders jou veters moet knoop, glo ek nie dat spiesgooi op jou spyskaart sou kon wees nie.  Seker maar ‘n ander laser-joppie gewees.

Maar oor katarak, die woord.  In die oorspronklike Grieks of Latyn beteken dit ‘n waterval, niks anders nie. Die oogprobleem met ‘n troebel lens – in die volksmond bekend as ‘n oogpêrel – word eintlik sonder goeie grond ‘n katarak genoem.

Maar katarak en waterval – in die nuwe tegnologie vir die chirurgiese verwydering van die ou lens en die vervanging met ‘n helder nuwe een kom die twee woorde mooi bymekaar.

In die ou dae, vertel my arts, was die katarak soos ‘n “smartie”-lekker wat uit jou oog gehaal is. Deesdae word dit met ultra-klank in die oog tot ‘n vloeistof gereduseer.  Die vloeistof word dan in ‘n stroompie uit die oog gesuig. Siedaar: ‘n Klein waterval inderdaad.

Dalk was die ou mense slimmer as wat ons gedink toe hulle die ding ‘n katarak genoem het.

REGTE KAR VIR ‘N PIEKNIEK

1-kar1 My briefie oor my Sabiepark-Honda in vanoggend se Motors-bylae in Die Burger word hier herhaal.  Sou darem uiters dislojaal gewees het aan die Honda as sy trotse baas nie sy stem laat hoor het nie.
Geagte Redakteur
‘n “Netjiese truuk” in die nuwe Mini Countryman is ‘n piekniek-geriefie (tafel of stoel)  in die laairuim, lees ek in Motors (Donderdag, 27 Oktober.  Terstond trek my hart met ‘n punt na my Honda in die bos: ‘n silwer 1999-model CR-V wat op pad is na 250 000 km – nietemin steeds mooi en rats soos ‘n splinternuwe.    ‘n Baanbrekerkar gewees daardie; sy tyd vooruit in vele opsigte.  
Amper 20 jaar gelede kon die Honda al met dieselfde  “netjiese truuk” spog.  Jammer om Mini se seepbel te prik maar die Countrryman is dus ietwat mosterd na die maal.
Soos die  Countryman s’n,  is die Honda se laairuim die produk van dinkwerk.  Grootste bate is piekniektafel – in die vorm van die metaalplaat wat die opening vir die noodwiel  bedek,. Die noodwiel sit parmantig buite.  Wat ‘n heerlike geheime wegsteekplekkie skep dit nie!
Die Honda spog ook met iets anders:  ‘n netjiese houer vir twee bottels wyn in die agterste luikflap met bandjies om die bottels vas te woel.  Baie bedagsaam. Jy sou dit kon aanwend as ‘n klein kluis. Niemand gaan raai om agter daardie flappie iets waardevol te gaan soek nie.
Die CR-V spog met nog meer bruikbare hokkies  van verskillende formate, maar dis nie my storie nie.  Dis oor daai tafel dat ek iets op die hart het.  Myne is beslis nie nie net daar as ‘n funksionele noodaaklikheid of vir die mooigeid nie. By pieknieks is hy sy gewig in goud werd.  Die ware Jakob om kos,  drank, borde en nog wat op uit te pak.  Ontdek gashere skielik ontdek hul pakplek is te min vir al die spys en drank, dan  lig hierdie ou eenvoudig nonsjalant die luikdeur . Siedaar nog ‘n tafel. Lekker liggewig, stewig en netjies.  Jy moet hul dankbaarheid beleef.
My Hondatafel moes o.m. al dien as rekenaartafel in die veld.  Jy vou hom in ‘n japtrap oop., Baie geriefliker om jou drarekenaar op jou skoot  te balanseer.  Tokkie, my vrou,  het my een dag so by my tafel afgeneem, die ene konsentrasie voor die dtarekenaar. Verduiwels of ek daardie foto kan kry.  ‘n Veelsydige kerel dus; weet net nie hoe gemaklik jy gaan sit as jy ‘n stoel van hom wil maak nie. 
Maar die stomme Honda! Skaars ‘n jaar of wat later los die besluitnemers in Japan onverklaarbaar hierdie wenresep soos ‘n warm patat.  Toe ek weer ‘n CR-V koop, is hy minus die piekniektafel, minus die wyn-wegsteekplek en met die noodwiel verbeeldingloos terug op sy ortodokse plek. Nuttige laaispasie is daarmee heen.   Nou kom die Mini Countryman na ‘n lang vakuum weer met die “netjiese truuk”.  Eienaars van nuwer CR-V’s kners op hul tande en ons generasie is opnuut in ons skik met wat ons het.
Hennie van Deventer
Melkbosstrand  
Naskrif:  Die foto van die laairuim by my brief kom nie van my af nie. Dis nie die Honda daai nie!,

‘N VROU VIR ELKE SEISOEN

Hannetjie en Tokkie in opgerujimde stemming by 'n kreefbraai aan die Weskus.

Hannetjie en Tokkie in opgeruimde stemming by ‘n kreefbraai aan die Weskus.

“Apples” het haar naam op ‘n speelse manier gekry.  Sy het eintlik Hannetjie Smith geheet. Was ‘n nooi Strydom van Rietfontein, Pretoria.

Letterlik almal het haar man, Ben – ook my neef Ben –  Ben genoem. Vir sy seuns, Brent en Bryan, skoondogter, Michelle, kleinkinders, Teegan en Kyle, die huishulp, Maggie, vir sy personeel by die bankvakbond Sasbo, selfs op sy tjekboek was hy Ben. Net Ben. Dikwels gewonder of hy sal reageer op “Mnr. Smith”.

Skoondogter, Michelle kon dit nooit oor die hart kry om Hannetjie Hannetjie te noem nie. Sy het vasgesteek by “Mrs Smith”.  Toe kom die  kleinkinders. Dit sou darem nie deug as hulle hul ouma “Granny Smith” noem nie. So het  sy “Apples” geword.

Dié storie het ek al vertel. Ek vertel dit graag weer, want “Apples” was ‘n erenaam, ook in ons boekie, vir ‘n fyn mens vir wie baie mense om uitstekende redes baie respek en liefde gehad het. Gister het “Apples” in ‘n versorgingsoord in Bryanston gesterf.  Ben is voor haar dood. Sy het dit nooit heeltemal verwerk nie.

As ek n beeld van Hannetjie (“Apples”) voor my oë wil oproep, verskyn meteens ‘n hele album: Hannetjie, die baas-tuinier in haar pragtuin;  Hannetjie met skilderkwas en palet; Hannetjie, die baaskok, in haar kombuis; Hannetjie wat tee drink uit die fynste porselein; Hannetjie voor die TV-stel, verdiep in ‘n tenniswedstryd op Wimbledon of Roland Garros ….

In die huis van Ben en Hannetjie in Jukskeiweg, Kelland, Randburg, het jy meer as een ding in oorvloed gekry. Teen hul mure het minstens 100 oorspronklike skilderye  gehang – plek-plek tot drie diep.  Op sommige   was die naam Hannetjie Smith fyn in die hoekie.

In die manjifieke tuin (dikwels gewys op TV en in tydskrifte) was ‘n oorvloed aan skaars bome, struike en plante (soos broodbome). In die visdam het hope reuse-koivisse geswem.  Maar die belangrikste: in Ben en Hannetjie se harte was ‘n oorvloed aan omgee en gasvryheid.

Aan die einde van ‘n Sabiepark-vakansie enkele jare gelede het ek en Tokkie drie dae by die Smiths gekuier. Voor ons vertrek het ek in hul gasteboek geskryf: “Jukskeiweg 8 is die regte adres vir gasvryheid sonder grense. Dit is die verkeerde adres as jy wil gewig verloor.”

Ja, Hannetjie was nie net ‘n voorslag-tuinier wat pryse inpalm en as ‘n soort Moeder Owerste vir die Soweto-tuinbouklub praktiese uitreik beoefen het nie – sy was ook kosmaker by uitnemendheid (en voorslag- spysenier by groot okkasies). Sy kon toor met hoender! Haar wenresepte swerf die wêreld vol.

Hannetjie het gehou van mooi goed: mooi juwele, mooi blomme, mooi boeke, mooi klere, mooi kos, mooi koeke, mooi beddegoed, mooi eetgerei, mooi porselein. Sy het geril oor die gedagte om tee uit ‘n beker of ‘n goedkoop winkelkoppie te drink. ‘n Keer waaroor ek verleë glimlag, was toe ek voorstel ons stop by ‘n kitskosplek naby Houtbaai vir ‘n teetjie.  Moes beter geweet het. Hannetjie was diep verontwaardig, om dit sag te stel.

Sy was versot op tennis van die dae af dat sy self ‘n paar knap stelle in Randburg kon speel. Van elk toernooi het sy geweet en het sy intens gevolg. Kon vir jou haarfyn vertel wie speel teen wie in elke ronde.  Elke onuitspreeklike naam van elke speler uit elke eksotiese oord het oor haar lippe gerol. Dat sy haar tuin sou afskeep, is ondenkbaar. Maar groot tennis op die TV was ewe seer ‘n belangrike mededinger om haar tyd.

Haar liefde vir die natuur het oorgespoel na die wildernis waar sy en Ben graag avontuurlike reise onderneem het; diep in Afrika in, in die Namib, in Richtersveld. In die bos en buitelug was sy so tuis soos in haar kombuis. Kon my nie die prentjie indink van Hannetjie in safaridrag wat haar grafie vat en agter ‘n struik in die veld verdwyn vir jy weet wat nie.   Sy doen dit soos ‘n ou hand, het Ben verklap.

Maar so was Hannetjie  –  werklik ‘n vrou vir elke seisoen, soos hulle sê.

Oor Hannetjie sal ek maklik te lank skryf, want ek en Tokkie is aan haar (en neef Ben) baie verskuldig – het o.m. veertig jaar gelede een keer ‘n maand lank met kinders en al by hulle ingetrek toe ons aan die Rand moes nesskrop.  Nooit die indruk gekry sy raak moeg vir die Van Deventers op haar nek nie.  Het ons eerder soos eregaste behandel.  Vyfster al die pad.

Daardie twee het nooit gehuiwer nie om op die vliegtuig Kaap toe te klim vir troues, verjaardae en sulke spesiale dae hier by ons nie. Ons kon lekker kuier, lekker dinge saamdoen, het nooit vasgesit nie en was altyd bly om mekaar te sien.

Ek sluk swaar aan die wete dat die era van Ben en “Apples” vir altyd verby is.