Oct 4, 2016 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Nooit gedink as ek kaartjies vir ‘n familiebyeenkoms begin pos dat een gerig sal wees aan Rolene Strauss (Roelien, soos ek haar geken het) nie. Natuurlik sal ouma Elsie van Bloemfontein ook genooi word. Oupa Johann is ongelukkig al geruime tyd langboompies toe.
Die verrassende nuus van bloedverwantskap met die pragtige jong vrou kom uit die deskundigste bron moontlik: die staamboom-towenaar Theo Verwey wat lyne kan trek doer uit Koning Dawid se dae uit (ja waarlik, dis waarheen my eie paadjie terugloop). . Daar is nie ‘n Springbokrugbyspeler nie, of Theo kan vir jou sy stamboom woerts-warts op die tafel sit.
Gereeld kom daar sulke verrassings van Theo. Soos gister se nuus oor die familieband met die vorige Mej. Wêreld. Pa Hennie het as’t ware voor ons grootgeword in Bloemfontein, want sy ouers, Johann en Elsie, was jarelange bure oorkant die straat. Ons het oor en weer gekuier, onbewus van die raakpunte in ons onderskeie stambome. Dalk ook maar goed so.
Wat my beter laat voel dat Johann ‘n verre neef is, is ‘n toneeltjie wat hom op ‘n keer in ons kombuis in Genl. Van Schoorstraat afgespeel het. Johann het nie ‘n geleentheid laat verbygaan nie om my in kleur en geur daarvan te vertel.
Tokkie het flou voor die stoof neergesyg. Die verskrikte kinders het gan hulp soek. Naaste voordeur was die van die Strausse, en Johann – ‘n akademikus – was gelukkig tuis. Hy het, soos dit ‘n goeie buurman. betaam, geen oomblik geaarsel nie. Toe Tokkie se oë oopfladder, was dit in buurman Johann se arms.
Gister se geselse rondom die Rolene-konneskei het ook ander familie aan die lig gebring vir wie ek graag kaartjies sal pos: die voorste skrywer Etienne van Heerden, gerekende jonger koerantekollega Tim du Plessis, asook die Springbokslot Moaner van Heerden en sy seun, Wickus, ook ‘n rugbyspeler van formaat.
Wonder, nes Tim, waar die gemeenskaplike geen vandaan kom wat ons twee plus-minus op dieselfde paadjie by die koerante laat beland het.
In my geval moet ons die liefde vir skryf dalk by A.G. Visser gaan soek. ‘n Spesiale dankie, Theo, vir die onthulling van daardie verwantskap. Via oupa Hercules Visser en ma, Maria Petronella (Baby) Visser het hopelik iets van die “Sanger van die Suikerbosrand” se liefde vir woorde aan my afgesmeer.
Oor dié verbintenis loop die uwe buitengewoon breëbors. Op skool het hy hom verbeel hy is ‘n A.G. Visser Merk II. Hope gediggies oor die liefde, die natuur en so het uit my skoolpen gevloei. Die jaarblad was vol daarvan.
Een begin so: Vanaand is ‘n aand van verlange / dit spreek uit die andwind se lied / dit spreek uit ‘n wolklose hemel / waar ‘n eensame ster nog verskiet ….
Vir die res, is ek bevrees, sal julle tantieme moet betaal!
Oct 3, 2016 | Vars Blog
Wyle Fred Schnetler, meesterlik op die gebied van motors en musiek, het die pikante gewoonte gehad om vir vriende op bakenverjaardae CD’s te sny met musiek uit hul geboortejaar. Toe ek in 2001 60 word, was ‘n Fred-CD in die pos. Toe Tokkie vyf jaar later volg, ditto.
Wat 1941 – my geboortejaar – betref, is oorlog en musiek stalmaats. In die Tweede Wereldoorlog het te midde van al die troostelose ellende musiek gekom wat onvergeetlik geword het.
Op Fred se “CD vir HvD” is Duitse bydraes soos Lilli Marleen (waarskynlik die grootste treffer van die Tweede Wereldoorlog), Mowe, du fliegst in die Heimat en die marslied Erika. Hartsmusiek!
Aan die Geallieerde kant was die Amerikaanse Colonel Bogey van die gewildste marsmusiek (saam met die ewe bekende The Stars and Stripes forever). Op Fred se CD is die Boston Pops se weergawes, albei met die groot Arthur Fiedler as dirigent. Vera Lynn was die “Force’s Favourite”. Van haar is twee nommers op my CD: The White Cliffs of Dover en A Nightingale Sang in Berkeley Square.
Tokkie se CD lê in Sabiepark. Hoekom, weet ek nie. Vir ‘n paragrafie oor musiek van 1946 moes ek op Google staatmaak.
Volgens daardie bron is van die nostalgiese pop-herinneringhe van daardie jaar Nancy (With the Laughing Face) deur Louis Armstrong, Perry Como se They Say It’s Wonderful, Bing Crosby se Aren’t You Glad You’re You, die Ink Spots se To Each His Own en Dinah Shore se Laughing on the Outside. Kennende Fred, sou nie net popliedjies op Tokkie se CD ingesluit gewees het nie, maar nietemin.
Dit bring my by die eintlike rede vir my skrywe: ‘n musiekgebeurtenis in 1946 waarcvan seker nie eens die gedugte Fred sou weet nie. Op 15 Maart 1946 nogal – presies Tokkie se geboortedag – is naamlik ‘n kantate van Arnold van Wyk uitgesaai.
Johan van Wyk vertel daarvan in sy nuwe boek, So is dit nou – nog stories van gister en vandag: hoe in die komponis se geboortekontrei, die Roggeveld, die mense in groot afwagting gesit het om hul kortgolfradio’s, gekoppel aan 6 volt-batterye wat heeldag deur windlaaiers gelaai is.
In een huis was dit nie lank nie voor die oupa opdrag gee: “Draai af die draadloos. Arnold se lawaai is erger as Booi se geraas.” Booi, die stalkneg, het – so lig Johan van Wyk ons in – die gewoonte gehad om ‘n paraffienblik vol klippe te skud om die perde skrik te maak!
Sal nooit weer aan 15 Maart 1946 dink sonder om die mooi anekdote ook te onthou nie.
* Ek en Tokkie het ook ander herinneringe van ons geboortejare as net die musiek. In 1941 is die Perdeberg-wynkelder gestig. Ter ere daarvan was Perdeberg op die tafel met die viering van ons onderskeie bakenverjaardae – 75 en 70 – op 26 Maart vanjaar. Ek was daardie dag geklee in ‘n Jeep-hemp – nie net omdat ek nie ‘n Pringle of ‘n Polo kan bekostig nie. Kyk op die etiket. Einste anno 1941. Man, wyn, hemp – selle jaar se kalwers.
Tokkie is, soos eld, anno 1946. Dit was die geseënde jaar dat die bikini die lig gesien het. Ter wille van die historiese simboliek sou ‘n bikini vir my vrou – ‘n rooie dalk – nie uit sy plek gewees het nie. Om kuisheidsredes meer as klimaatsredes is daarteen besluit.