Moordomgewing.

Die moorde op die Marais-egpaar van Mosselbaai, Ernst en Dina, albei in hul 70’s, naby Crooks Corner in die Pafurikontrei in die verre noorde van die Krugerwildtuin ruk my om verskeie redes selfs meer as ander sinnelose moorde gewoonlik. Dit voel of ek ‘n betrokkenheid het, al het ek nie.

Vir eers word ek geruk deur die ondenkbaarheid van die gruweldaad. Dis soos ‘n nare verkragting wat die reinheid van die slagoffer geskend het. Moord in die wildtuin was tot nou te verregaande om aan te dink, al is die omstandighede vir skurke in vele opsigte gunstig. ‘n Mens ry soms diep in die bos op afgesonderde paaie.

Ten tweede is die Marais’s se Mosselbaaise woonplek, die netjiese Fynbos-leefstyloord, ook die woonplek van verskeie bekendes, onder wie ‘n studentemaat, ‘n kollega by Beeld en Melkbosse vriende wat onlangs daarheen verhuis het. Ek ken die plek, ek kom daar.

Ten derde het die Marais’s geleef soos die Van Deventers die afgelope 28 jaar: wydsbeen met die een been in die bos en die ander by die see. Soos swaeltjies. Waar ons in Sabiepark by die Krugerhek ‘n bosplek het, was hul s’n in die wildlandgoed Raptor’s View by Hoedspruit.

Ten vierde voel ek op die oomblik baie na aan die Wildtuin wat aan die vooraand is van sy eeufees op 31 Mei. Ek plaas ‘n reeks foto’s uit my stapel Wildtuinalbums op my Facebookblad – trek nou by foto 30 van 50. Die fees gaan a.s. naweek gevier word met ‘n dinee in Skukuza waarheen ek genooi was.

Die vermoorde egpaar Marais.

Hoop maar die moordenaars – Mosambiekers? -word met dieselfde ywer – liewer nog groter ywer – gejag as daardie blonde Blink Stefaansie wat met sy spogmotor onlangs daar onwettige jakkalsdraaie gaan gooi het om aandag te trek.

Elsa (Kruger) Godden, ‘n oud-kollega by Beeld, wat ook in die Fynbos-kompleks op Mosselbaai woon, deel mee dat  die vermoorde egpaar bure en vriende van haar en haar man,  wyle Randal,  was.  Sy het verlede week nog ‘n boodskap van hulle gehad oor haar verlies van Randal.  Die egpaar sou op 18 Junie weer uit Hoedspruit na Fynbos teruggekeer het.

Pierre le Roux, studentemaat, berig dat hy en sy vrou, Esther, dikwels saam met die Marais’s geëet het. Hulle was aangename geselskap. Mev. Marais was ‘n vrolike en vriendelike mens en hulle was gewilde inwoners. Die kompleks is verslae.

Mnr. Marais was ‘n bourekenaar.

Deel dit: