Die foto hierbo vertel ‘n storie van Herman le Roux.

(i) In sy hande het hy ‘n PLAKBOEK. (ii) By hom is ‘n bekende sportmens wat ‘n VRIEND geword het (Sandra Reynolds, die mooi joolmeisie wat ‘n raket so kon swaai). (iii) Hy het spesiaal UIT SY PAD GEGAAN om die boek in die Baai aan haar te gaan oorhandig.

Dis reg, ja: as ek aan Herman le Roux dink, dink ek dadelik aan sy plakboeke, sy wye vriendekring en die toewyding waarmee hy vriendskappe versorg.

Sy plaboeke staan rakke vol in sy studderkamer in Randburg. Baie is oor sport. Oor rugby, gholf, tennis (soos die ene oor Sandra Reynolds wat hy nou vir haar gaan present gee het) en ander sportsoorte. Maar nie net oor sport nie. Oor enigiets onder die son. Vra hom hoeveel burgemeesters van Bloemfontein is al dood. Hy pluk ‘n plakboek uit. Vra hom oor die bewegings van ‘n oud-kollega. Hy het iewers in ‘n plakboek ‘n beriggie en dalk ‘n vars foto. Ongelooflik.

Herman is een van die vier mense wat ek gevra het wat die groot sport van 1957, my matriekjaar, was. Hy het (soos Frikkie van Rensburg) ook dadelik aan Gert Potgieter (n vriend van hom!) se wereldrekord gedink. Maar hy onthou in dieselfde asem ook dat dit die jaar was waarin Bobby Locke die Britse Ope-gholftitel die vierde keer gewen het.

Herman is natuurlik in die eerste plek bekend as rugbyskrywer. Een wat die seldsame reggekry het om die agting van spelers, administrateurs, kollegas en lesers te wen – en te behou. Maar gholf: die is ‘n tweede liefde. Wat Herman nie van gholf weet nie, is nie die moeite werd om te weet nie. Sy bydrae tot die Afrikaanse gholf-terminologie is nie te versmaai nie. En die vriendskappe wat hy met gholfmense oor die spektrum gesluit het, is ‘n storie op sy eie. Vir Die Volksblad was hy in die opsig ‘n ambassadeur oor taal- en kultuurgrense heen.

Maar vriendskappe sluit, is vir Herman soos asem haal. Dis sy lewe. Ek dink hy is die enigste wat dertig dae in Nieu-Seeland kan gaan kuier, en van dorpie tot dorpie by ou rugbyvriende kan inval wat hom met ope arms sal verwelkom.

In Suid-Afrika is sy en Rina se program van “mid-weeks” saam met vriende iets enorms. Hulle is gedurig op pad hierheen of daarheen om saam met vriende te kuier. Mense staan tou om hulle te nooi. Maar hulleself nooi ook graag hul vriende en onthaal hulle rojaal. Hulle ry groot draaie om by vriende te gaan inloer vir ‘n koppie koffie of ‘n kuiertjie.Hulle verras graag vriende op spesiale geleenthede – klim sommer maklik-maklik op Kulula of Mango vir ‘n verjaardag in die Kaap.

Herman en Rina was my en Tokkie se eerste gaste in Sabiepark, amper 10 jaar gelede. In Maart 2008 vier ons juis daardie heuglike verbintenis met ‘n intieme reunie-tjie. Herman sal daar opdaag, soos altyd, met die presiese inligting in sy kop van sy hoeveelste besoek dit in Sabiepark is, hoeveel kilometer hy gery het, hoe die afstand vergelyk met ander roetes van die Rand af. Dis eenvoudig soos sy kop werk. Hy verpak nuttige (en soms minder nuttige!) inligting onder daardie grys kuif met ‘n georganiseerde verbetenheid wat jou telkens opnuut verstom.

Ek en Herman het iets gemeen. Ons is albei uiters onhandig. Ons abortiewe poging om in Maart 1998 Tarlehoet se nuwe swarthout-naambord met ‘n handboortjie staan te maak, is elders gedokumenteer. In hierdie opsig is ons bloedbroers. Maar ons verskil ook hemelsbreed. Hy is die mensliewende ene, ek by geleentheid ietwat brutaal. Iemand het opgemerk dat die sagste deel aan my lyf my tande is!

As ek Herman een ding in ons verbintenis van meer as 40 jaar kwalik geneem het, is dit sy genaakbaarheid en geduld met mense wat na my oordeel ‘n skop op die agterent verdien het. Op sy beurt sal hy my seker kwalik neem dat ek met tye te hard en aggressief was waar ‘n sagte woord die grimmigheid kon afkeer.

Een ding weet ek darem. Dit is dat hy dikwels verlig was nadat hy eers gehoor het hoe ek oor iemand of ‘n onderwerp stoom afblaas en daarna dan ‘n veel rustiger hoofartikel gaan skryf het. Met sy sagte plekkie vir ALLE mense (vratte en al) kon hy ook vir die ou stormvoel ‘n plekkie in sy ruim hart vind. Dankie daarvoor, Herman ou vriend.

Sien jou in Sabiepark – presies hoeveel kilometer van julle huis af nou weer?

Groete

HvD

Deel dit: