Hennie Swanepoel toe hy nog ‘n kuifie gehad het
Middag uit Melkbos
Gee die man ‘n Emmy!
So het ek vir een van ons Melkbosse leraars, Hennie Swanepoel, laat weet na sy optrede Sondagaand op Kyknet. Die geleentheid was ‘n bekendstelling van sy nuwe gospel-CD, “Na die Land”. (Hy was ‘n ATKV-wenner en het, in die dae toe hy nog ‘n jong man met ‘n kuif was, ‘n eerste CD “Anderkant” gemaak. Daarna het hy lank in sy dop gekruip.)
Die terug-op-die-toneel-troebadoer het Sondagaand só tuis gelyk voor die kameras asof hy op ‘n Sondagoggend op die kansel staan – met of sonder sy kitaar. Ek het gedink sy vertoning verdien eintlik ‘n Bell’s, maar ‘n man kan mos darem nie vir ‘n dominee ‘n stywe dop whiskey aanbied nie!
Dr. Hennie se “Na die land” kry soveel publisiteit dat ‘n hupstoot op hierdie blog nie boonop nodig is nie. Dit is in elk geval nie die doel van my skrywe nie. Eintlik wil ek spog met ons gemeente en sy TWEE troebadore. Die ander singende dominee (van die drie) is dr. Marius Falck.
Marius Falck – ses CD’s
Marius het ses CD’s op sy kerfstok, maar nie almal is meer beskikbaar nie: “Kersfees vir altyd” (nie meer beskikbaar), “Ek sing van die Lig”, “Die seewind” (nie meer beskikbaar), “Ek glo”, “ Leef in Sy droom” (beskikbaar as DVD) en “Alles is nuut”.
Waar Hennie ‘n “crooner” is, strelend soos Bing Crosby/Perry Como/Dean Martin, sing Marius weer met ‘n forse stem soos Mario Lanza. Sy “Onse Vader” laat my armhare orent staan. En sy “Battle Hymn of the Republic” – dit sleur jou mee.
Marius is landwyd gewild vir “Woord-en-lied”-optredes waar hy met kenmerkende entoesiasme sy Woordverkondiging met sy sang ondersteun. Met hierdie ander soort “noot vir noot” help hy gemeentes hul koffers vul.
Die Falcks is ‘n musiekgesin soos min. Wilna tokkel die klawers dat dit ‘n eer vir die klavier is. Hul dogters, Terina en Madeleen, sing soos engele. As die Falck-susters kragte saamgooi vir “Skipskop”, sal David Kramer nie anders kan nie as om breed te glimlag.
Melkbos se leraars is ‘n driemanskap van gevleueldes: Falck, Swanepoel en … Hanekom. Die Hanekom, dr. Francois, is nie juis ‘n musiek-ou nie, hoewel sy mooi vrou, Riana, die orrel kan laat dreun. Op my gedenkdiens moet sy asseblief “Going Home” uit die Nuwe Wêreldsimfonie uitvoer. Akkoord, Riana?
Francois en Riana Hanekom
Francois laat my dink aan my matriekafskeid in 1957 by Volkies op Potchefstroom. Ek is vriendelik gevra om liewer nie saam met die ander matrieks ‘n afskeidslied te sing nie, omdat ek die harmonie sou versteur! Francois versteur darem nie die harmonie van die gemeentesang van die kansel af nie, maar ek twyfel of sy kollegas hom sal nooi om ‘n trio te voltooi.
Sy waardevolste bydraes in die gemeente lê duidelik op ander terreine as die sang, soos my eie talente (?) hopelik ook op ander terreine as sang en musiek lê.
Een van die Hanekom-talente is ‘n gulle, eiesoortige humor, wat gereeld van die kansel na vore kom, onder meer in ‘n goedige (soms avontuurlike) gehekel met sy geliefde “Pop” as sy die dag die orrel beman. Die lewenslustige “Pop” is nie een wat haar onbetuig laat nie! Praat lustig terug!
Oor sy sanger-kollegas se musiektalente is Francois positief en ondersteunend. Maar – het hy sy gemeente een aand by ‘n Pinksterdiens ingelig – hy sing darem self ook, en dan nie met “backtracks” nie; hy sing sommer met sy “eie bek”.
Toe sing hy ‘n opgeruimde solo: “Jesus roep my vir ‘n sonstraal, ‘n sonstraal …..” ‘n Sonstraal? Ja-wel, die keuse van liedjie was werklik in die kol. Waar Francois is, breek die son gou deur die wolke. (HvD)


