Voorblad van 50 jaar gelede.

In die jaar van opstand en stryd 1976 word die seldsame geleentheid my gebied om ‘n simpatieke skrywe oor Suid-Afrika se gewraakte politieke bestel in ‘n voorste joernalistieke vaktydskrif in Amerika geplaas te kry.

“Some misconceptions about South Africa”. Dit was die opskrif van my storie in die Harvard-universiteit se Nieman Reports. Daarin lewer ek ‘n pleidooi om begrip vir die dilemma van blanke minderheid. “What is at stake for the Afrikaner is nothing less than … survival” – so is my kerntema  deur die tydskrif verwoord

Hoekom duik die vergeelde artikel ná 50 jaar en vele verwikkelinge weer in my gedagtes op? Dit is die ontvangs van volume 79.4 / 80.1 van die tydskrif in my posbus. Daarmee word, soos die blad dit self pikant stel, ‘n nuwe blaadjie omgeslaan.

Nieman Reports se gedrukte uitgawe kom ná 80 gloriekryke jare tot ‘n einde. Hierdie is sy laaste in gedrukte formaat. Hy verskyn van nou af net digitaal.

Laaste op papier.

Soos al die koerante waarmee ek in Suid-Afrika ‘n direkte verbintenis gehad het, Die Volksblad, Die Beeld, Rapport en Beeld, sal ek nooit weer ‘n vars uitgawe van Nieman Reports in my hande kan hou nie. Die tyd marsjeer meedoënloos voort, en die tegnologie laat hom nie stuit nie

Met Nieman Reports het ek kennis gemaak toe ek in Augustus 1976 as Suid-Afrikaanse Nieman Fellow by Harvard se unieke Nieman Foundation for Journalism opduik:  ‘n stigting met die edel doel om elke jaar ’n 20-tal  joernaliste so halfpad in hul loopbane die kans te gee om van spertye te vergeet en ‘n jaar in ‘n uitsonderlike akademiese omgewing rustig te raak.  Die tydskrif was sy trotse vlagskip.

Daardie jare het dle Suid-Afrikaanse pers elke jaar ‘n Nieman Fellow uit eie geledere kon aanwys – een jaar Afrikaans, een jaar Engels. In 76/77 was dit my beurt om ‘n salige sabbatsjaar aan Harvard in Cambridge, Massachusetts, te gaan verwyl. Ek was toe nuusredakteur van Beeld.

Voor my was die so bevoorregte kollegas uit die Nasionale Persstal Basjan Kleu, Alf Ries, Ton Vosloo, en Louis Louw en ná my Salie de Swardt, Tim du Plessis, Henry Jeffreys en Johanna van Eeden.  In 2015 is die kraantjie vir Suid-Afrikaners onverwags toegedraai. Helaas.

‘n Onvergeetlike en verruimende ervaring was die Niemanskap werklik in elke opsig. ‘n Nieman-soewenier waaraan ek waarde heg, hang aan ‘n gedenkmuur in my studeerkamer. Dit is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van ‘n uitgawe van Nieman Reports.

”Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman,” verklap een engel ewe ondeund aan die ander. Natuurlik is dit net by wyse van spreke. Maar dis nie moeilik om jou met daardie sentiment te identifiseer nie.

Ondeunde engel.

Die jaar in die vreemde was weliswaar nie sonder sy uitdagings nie, veral vir ’n Suid-Afrikaanse Nieman – ‘n “Afrikaner Nationalist” op die koop toe.  Die Soweto-onrus had kampusgemoedere in beroering. Voorts is die swart redakteur Percy Qoboza, my Nieman-voorganger, deur die veiligheidspolisie gegryp – ’n skok soos min. ierfie Suidf-Afrikaner HHierdie Suid-Afrikaner moes maar gedweë vir die onheuglike dinge in sy vaderland pa staan.

Jim Thomson, kurator in my era, het min simpatie met die politieke sienswyses van die jong Afrikaner-Nasionalis gehad, maar ons twee het goed klaargekom, en hy het – tot sy eer – nie daarvan teruggedeins om andersdenkendes ruimte te gee om hul saak te stel nie, mits hulle dit beskaafd doen.

Op sy uitnodiging het ek my insigte oor Suid-Afrika se rassebeleid (soos dit toe nog in sement gegiet was) in die betrokke artikel taamlik openhartig en uitvoerig gestel. Hoeveel Mercedes-Benze in Soweto rondry teenoor die res van die donker kontinent, was van die statistieke in my stuk.

‘n Mede-Nieman van Maleisie, Gangha Pillai, het die Vrystaatse Boerseun se Engels geskaaf en verfyn. Toe hy my stuk terugbesorg, is buiten vir die taal- en stylfoutjies wat hy in sy hiper-netjiese, amper kalligrafiese handskrif uitgewys het, ook ’n wenk of twee oor moontlike bykomende argumente.  As Maleisiër was Gangha ontvankliker vir die werklikheid van etnisiteit as ons Amerikaanse klasmaats.

Was nogal in my skik gewees met die produk – veral toe my bydrae boonop voorbladvermelding kry. ’n Bondgenootskap met Gangha was gesmee.

Sewe jaar later, in Januarie 1984, het die Republiek van China (Taiwan) my vir ’n besoek genooi. Met vergunning van die Nasionale Pers las ek Hongkong aan. Vir Gangha stuur ek my reisprogram en hy vlieg gedoriewaar oor vir ’n gedenkwaardige dag saam. Oor ruim porsies  Pecking duck het die anekdotes oor en weer gevlieg.

Toe Gangha op 28 April 2006 op ouderdom 67 aan sy hart sterf, het Maleisiese joernalistiek sy doyen verloor. My huldeblyk was dadelik op pad na Nieman Reports.

Ek was deurgaans ’n verknogte leser van die blad en ‘n periodieke  bydraer.  Uit Bloemfontein – die tydvak van 1980 tot 1992 – het ek onder meer die soeklig laat val op Afrikaanse koerante se bydrae tot politieke verandering.

Vyf Niemans van die Nasionale Pers by ‘n feestelike geleentheid in 1911: Henry Jeffreys, Hennie van Deventer, Ton Voloo, Tim du Plessis en Salie de Swardt.

‘n Jong fotograaf van Die Volksblad, Mario van de Wall (28) is op Saterdag 3 Februarie 1990 deur berserker lede van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) op Brandfort met pikstele, knuppels en stokke tot in die waakeenheid van ‘n hospitaal geslaan. Terwyl hy op die grond gelê het, is hy geskop en met sy kameraband gewurg.

Mario, toe al ‘n diabeet op insulien , was geruime tyd in die hospitaal.Weens die aanval het hy sy sig in sy een oog gedeeltelik en sy reuksintuig permanent verloor. ‘n Uitgerekte hofsaak het gevolg. Die AWB’s is skuldig bevind en na verdienste gevonnis.

So ontsteld was ek – toe redakteur van Die Volksblad – oor die gruwel dat ek tot vir Nieman Reports daaroor geskryf het met foto’s van die bebloede fotograaf. Ek het hom benoem – ongelukkig sonder welslae  – as ‘n kandidaat vir die Nieman Foundation se Louis M. Lyons-toekenning vir joernalistieke onverskrokkenheid.

Vorige wenners was Max du Preez, bekroonde skrywer, joernalis en die stigterredakteur van die Vrye Weekblad, en Zwelakhe Sisulu, joernalis en anti-apartheid aktivis wat baas van die SAUK geword het.

Ironies genoeg was my laaste artikel vir Nieman Reports oor my aftrede uit die aktiewe joernalistiek. In die uitgawe van September 2004 was naamlik ’n foto-artikel uit die Kruger-wildtuin onder die opskrifte: “Using a Camera to Shoot the Big Five. A retired journalist refocuses to connect with ‘the slower heartbeat of the African bush.”

So skuif ons maar almal eindelik ons fokusse – vrywillig of gedwonge,

 

Deel dit: