
Die beroemde stormloop.
Uit Rapport, Sondag 9 Augustus
‘n Sagmoedige reus verskyn geruisloos uit die bosse by ‘n piekniekterrein in die Krugerwildtuin. ’n Agtjarige seun se oë rek in verwondering. Terstond word ‘n lewenslange olifantbewonderaar gebore.
Dertig jaar later kom ’n gedugte ivoordraer by ‘n ander piekniekplek vlak langs die olifantliefhebber staan. Die idee om sy liefde vir die spesie Loxodonta Africana in ‘n boek uit te stort, ontstaan spontaan op daardie amper gewyde oomblik langs die Sabierivier.
Nog 20 jaar later verskyn Jaco van Wyk se Merkwaardige bosreuse van Suider-Afrika waarin hy uitgebreid op die spore van 40 olifante van statuur loop. In die woorde van die natuurkundige dr. Johan Marais “trakteer hy ons deur sy passie met staaltjies en geskiedenis, soms met gruwelik en verbysterende informasie”. Wildtuin-ghoeroe Joep Stevens noem dit ‘n “merkwaardige boek”.
Die plek van die eerste ontmoeting op ‘n gesinspiekniek in die 80’s onder ‘n enorme worsboom (Kigelia africana) is die geliefde uitspanplek Tshokwane, 40 kilometer noordoos van die hoofkamp Skukuza langs die teerpad wat na die Satararuskamp lei.
Bedoeld of onbedoeld – ek raai laasgenoemde – word die Tshokwane-kringloop voltooi met die keuse van die voorbladfoto van die boek. Die bul wat op die foto verwoed op ‘n fotograaf afstorm om hom te verbrysel, heet …. Tshokwane. Sowaar.
Kom jy by hoofstuk 29 en lees van die dramatiese konfrontasie tussen dapper fotograaf en moordlustige olifant – titel: Tshokwane, die een wat wou doodmaak – kan min twyfel bestaan dat die bloedstollende verhaal agter die foto die keuse geïnspireer het en nie ‘n halfeeu gelede se piekniek nie. Nietemin, die konneksie is daar.
‘n Tweede kringloop sny aan by die skrywer se droom van ‘n nabye persoonlike ervaring met een van die wildtuin se gedugte “honderponders” (ivoortande van 45 kg). Ondanks sy intense studie en uitgebreide boekery tuis, asook talryke wildtuinbesoeke deur die jare, was sulke ontmoetings altyd net van ver af, of om ander redes nie onbelemmerd nie.
Toe op ‘n kuier in 2007 in die private natuurreservaat Sabiepark, digby die Krugerhek, kom staan ‘n enorme bul laatmiddag vlak langs Jaco – net twee, drie meter van die naaste piekniekmakers; so naby dat jy die slaap in die klein ogies kan sien; amper ook sy mangels wanneer hy die vars afgestroopte blare in sy oop mond prop.
Die Van Wyks was as’t ware in die voorste ry in hul opvoustoele. Gelukkig was die ou grote die rustigheid vanself. Selfs die skaretjie kinders wat deur opgewonde ouers sommer plat op die grond teenaan die brose paaltjieheining neergeplak is vir fotodoeleindes het hy gemoedelik en onverstoorbaar betrag.
Jaco was een van die ywerigste fotograwe. In ‘n stadium het hy sy kamera in die hande van sy vrou, Lientjie, geprop. Terwyl sy gedurig ’n waaksame oog op die olifant hou, het sy ‘n “spanfoto” van haar man en die olifant met die tamaaie tande geneem. Dit verskyn op die agterblad van die boek – kringloop nommer twee is voltooi.
Daardie tande het vir die bul by Sabieparkers die kreatiewe bynaam van “Langtand” verwerf. Aan die hand van sy foto’s het Jaco vasgestel sy naam is eintlik Muliluane (“Klein vuur” ), dat hy tussen die wildtuin en die Sabi-Sandsreservaat beweeg en dat hy as ‘n “great tusker of tomorrow” geoormerk is. Weens ‘n mislukte poging om vir hom ‘n halsband aan te sit, is hy later daardie selfde jaar in die Sabi-Sands voeg dood. Alle spore was helaas uitgewis.
Jaco karakteriseer graag sy olifante aan die hand van trekke soos mensliewend, rustig, stil of befoeterd. Sy voorblad-Meneer, Tshokwane – een van die grootste ivoordraers in Afrika – was een van die befoeterdste. Hy word veral vir een amper noodlottige stormloop in Desember 1992 op die natuurfotograaf Daryl Balfour onthou.
Balfour en sy vrou, Sharna, was besig met ‘n boek oor Afrika-olifante. Hy het dus toestemming gehad om te voet te beweeg. Tshokwane was tussen ‘n kilometer of twee van hom af. Hy het die bul teen die wind genader en sy aandag probeer trek deur met sy trouring teen die driepoot te tik.
Die geluid het ‘n verwoede skynaanval uitgelok. Balfour het skreeuende en met swaaiende arms geretireer. Toe Tshokwane weer begin wei, is Balfour weer nader. Weer volg ‘n skynstormloop tot so 15 meter van die voorwerp van sy wrewel af.
Balfour wou vinnig lense ruil toe Tshokwane regtig storm dat die stofwolke staan, kop omlaag. “This is for real! Great shots!” dog hy nog by homself! Toe tref die slurp hom twee keer. Hy trek soos ‘n vrot vel tot in ‘n doringbos, die olifant op hom met sy massiewe pote wat skop en trap.
Balfour gryp sy aanvaller wanhopig aan die been en klou vir al wat hy werd is. Hy onthou die fyn swart haartjies aan die been en die “lelike toonaels”; die olifantvel “soos skuurpapier” teen sy gesig. Tshokwane ruk hom los uit die greep en werp Balfour doer dat sy heup uithaak. Die arme man kon sien hoe die een reuse-ivoortand reg op sy gesig afkom – die doodskoot, het hy gedink.
Netso skielik stap die olifant egter weg van die vernielde, bebloede en bewustelose menseliggaam, waarskynlik onder die indruk dat hy dood is. Maar ná 90 minute kom die fotograaf by, kruip na sy toerusting en vuur drie noodseine af om sy vrou se aandag te trek. Hy word skynbaar sterwend deur ‘n reddingspan opgetel en met ‘n helikopter na die hospitaal gevlieg.
Sy lewe hang aan ‘n draadjie, maar word uiteindelik wonderbaarlik gered. Ook sy kamera met die dramatiese foto’s waarvoor hy amper met sy lewe betaal het, kom ongeskonde uit die bloedbad
Veldwagters het die toneel later ondersoek. Uit gate in die grond was hul afleiding dat Tshokwane afgebuig het om Balfour met die basis van sy slurp te verbrysel – die finale coup de grâce. Sy reusetande was egter te lank.
Die aanvaller se gevaarlikste wapens het, ironies genoeg, sy slagoffer se redding geword.
Naskrif: Op die plek waar Jaco van Wyk se groot olifantdroom as’t ware tande gekry het, is in Julie – met die pronkstuk van sy en Dream Africa se boek in die hand – ‘n heildronk op daardie heuglike ervaring gedrink. Teenaan die grens tussen Sabiepark se piekniekplek en die wildtuin het ek en die skrywer langs die Sabierivier glasies geklink.
Jaco is ‘n senior leerkrag aan die Hoerskool Waterkloof in Pretoria, uit sy pen het reeds meer as 50 wetenskaplike en ander artikels verskyn, hy was al ‘n jaar op Marion-eiland, drie keer op die kruin van Kilimandjaro en het ‘n Comradesmarathon onder sy belt.
Vraag: Hoe op aarde kom ek in hierdie prentjie in? Wel, Jaco is my peetseun en dit was by my wat hy in Sabiepark gekuier het toe Muliluane in 2007 in sy lewe gekom het. Ek verklaar graag die belang.
Hoe goed onthou ek self nie daardie middag nie? Dit was Nasionale Vrouedag. In die TV-kamer was drie Curriebeker-rugbywedstryde op die skerm. Ek het die besoeker, ‘n rugbyliefhebber, die keuse gegee hoe hy die middag wou deurbring. Hy het geen oomblik geaarsel nie.
Die Van Deventers het ook die fotogeleentheid aangegryp om hulle met sulke indrukwekkende tande op die agtergrond te laat kiek. Maar ons het deurentyd asem opgehou dat ons “Langtand” ’n reuse-voorpoot oor daardie heining sou sit en iets of iemand met die grond gelyk sou trap.