GATSKEER

More uit Melkbos

Vyftig jaar en ‘n raps gelede was die woord ”gat” nog bra gewaagd in goeie geselskap.

In 1955 het Die Burger daarvan teruggedeins om die stout woord te publiseer in ‘n lekker versie van G.A. Watermeyr nadat die borselkop-Springbok Tom van Vollenhoven op Nuweland paaie om die rooikop-Ier Tony O’Reilly van die Britse Leeus gehardloop het. (Vollies het drie driee gedruk.)

Watermeyr se versie het gelui: “Van Vollenhoven die wilde vul/die rooikop-Ier se bitter pil/want nes O’Reilly aan die bal wil vat/ dan skuif hy gunter op sy gat. “

Die Burger het, uit goeie maniere, “gat” liewer met “blad” vervang.

Dubbelsinnige verwysings na die drieletterwoordjie het egter mettertyd al hoe meer ingeburger begin raak (sou ‘n mens kon sê). Iemand is in die openbaar ‘n slapgat of ‘n windgat genoem. ‘n Ou definisie van ‘n tuinslang is ‘n slapgat met rubber om. As slagspreuk vir Avbob is tot algemene vermaak aanbeveel: Koop jou gat nou en sien hom later. (Flaters en Kraters, HvD, Tafelberg 1996)

Selfs op Kabinetsvlak is op gat-vlak gekorswil. Piet Koornhof het Hendrik Schoeman gespot: Hy het met sy botter in die gat geval (na ‘n rusie oor botterpryse).

Die Burger het lesers ‘n skrale tien jaar na die beskroomheid oor daardie deel van mnr. O’Reilly se lyf verstom met ‘n opskrif: Ouderling in gat beseer deur latrine. Die besering het werklik gebeur – in ‘n gat. ‘n Ouderling van Lutzville was binne die gat wat hy aan’t grawe was vir ‘n nuwe latrine toe ‘n rukwind die sink-kontrepsie op hom omwaai. Sy ribbes was o.m. gebreek.

Gat (met sy vele verbuiginge) maak vandag sy buiging hier by “Op Melkbos” na aanleiding van nog n ‘n gewaardeerde stukkie saamgesels oor ons Skote Petoors-taal uit Swakopmund. Tom skryf: Wat ons Boere darem nie alles met die drieletter-woordjie gat kan aanvang nie! Ons almal weet dat gatvol sy Engelse eweknie met minstens drie lengtes klop, maar gatvol het ‘n kleinhuisie vol neefs en niggies.

Hier’s my lysie (ek is seker daar is talle meer wat my tans ontglip):

Bakgat Suurgat Windgat Vetgat Maergat Langgat Kortgat Skreeugat (soos my kinders was die eerste paar maande ná hul geboorte) Ougat Rykgat Armgat Drinkgat (soos in “hy is ‘n opperste ou drinkgat”) Klagat Slapgat Vuilgat Gatslag Gatsak Gatvlieg Banggat Gatgabba Gatsaag (‘n alternatiewe woord vir ‘n fiets).

Dat kan ‘n mens ook iets deur jou gat trek, jou gat sien, gat oor kop slaan, ‘n gat van jouself maak, iemand ‘n gat in die kop praat of met iemand gatskeer. En as jy poegaai is, hang jou gat of jou gat is lam.

Kan die Souties hiermee kers vashou? Watwou!

Tom laat weet in dieselfde asem twee van sy ander gunsteling-woorde is boeglam en poegaai.

Tokkie – die gedugte mev. Van D – het al heelparty woorde tot hierdie oefening bygedra, Tot dusver het ek hulle, op die beginsel van “gemeenskap van goedere” sommer as my eie aangebied. Hierdie dra egter so sterk haar eie stempel dat ek haar eienaarskap sal erken: Kat uit die boom kyk Koeitjies en kalfies Lepel-lê, Rienspring Rooihakskene.

O gaats …. Die blog word (al weer) te lank. Hierdie onderwerp is egter nog ver van uitgeput, vrees ek. (HvD)

DIT REeN 11’s!

Middag uit Melkbos

Koes, mense, nou reën dit behoorlik 11’s!

Wat ek gemis het toe ek so hard gekonsentreer om die Canon se knoppie op die regte oomblik te druk, (foto in die blog hieronder) rwas nie net ‘n skerp fokus nie. Tom Ferreira, skerp oud-Volksblatter, laat weet as hy dit nie mis het nie, het die Proteas op daardie oomblik, 11/11/11/11:11, presies 11 nodig gehad om te wen.

Skote, Ferreira!

“Looks at the scoreboard”, soos Oom Boy Louw in ander verband opgemerk het. Ons was inderdaad op 11/11/11/11:11 125 vir een – en ons het 236 nodig gehad om te wen. Dus presies 111 lopies, soos Tom uitwys.

Daardie statistikus par excellence in die Rosestad, Frikkie van Rensburg (natuurlik nog ‘n oud-Volksblatter), kom met nog ongelooflike elf-stories vorendag.

Hy laat weet: om 11 minute voor 11:00 was die Proteas se telling 111 vir 1 (die sogenaamde Nelson waaroor oubaas David Shepherd MBE, een van die wêreld se voorste skeidsregters, altyd een-beentjie gestaan het as hy skleidsregter was.)

Om 11:01 het die telling tot 112/1 verander.

Op die tweede Nelson (222) het Hashim Amla sy paaltjie verloor. Toe was die telling 222 ( 2 x 111) vir 2 (2 x1).

Frikkie herinner my ook aan daai wonderlike eerste toets van die 1966-67-reeks, ook teen Australië, op die ou Wanderers in Johannesburg. Ek en hy (albei baie jonger en aansienlik maerder van lyf) was saam op die paviljoen en heelwat bier is oor die vyf dae se krieket in die warm Hoëveldse somer verorber.

Die Springbokke (hulle het eers later Proteas geword) is in hul eerste beurt in antwoord op die Aussies se meer as 300 vir knap oor 200 uitgehaal. In die tweede beurt het hulle ‘n skitterende 620 opgestapel.

Denis Lindsay (182) het amok gemaak. Ons het elke Lindsay-vier gesien en toegejuig. Barry Richards was ook ‘n held, en Eddie Barlow en nog ‘n paar. (Lindsay en Barlow is albei al dood – soos Dave Sheperd.)

Waar’s die dae, ou Frikman, waaar’s die dae! (HvD)