KOEBAAI, KOS-COWBOY!

1-1-IMG_0001

1-1-kos2

1-1-kos3

You and I now both have a memory into our sunset years.” Aan die woord is Dale Schreuder ná Saterdag se fees in die tent hier op Melkbos. Dale is my buurman. Hy was ook die spysenier. Nogal gerieflik: So ‘n knap, entoesiastiese buur-spysenier net oorkant die tuinmuur.

Sy verwysing na “sunset years” is ter sake. Die uwe is 75. Dale is seker ‘n jaar of tien, 12 jonger, Maar Saterdag se onthaal was sy swanesang, sê hy; sy “coup de grâce”. “Coup de grâce”? Of dit heeltemal die regte uitdrukking is, twyfel ek. Hy los nie sy restaurant heeltemal nie. As ‘n laaste buiging as spysenier was dit nietemin, wat my betref, indrukwekkend. Die gaste is dit roerend eens.

“Voortreflik. Uit die boonste rakke. Uit die boeke. Fantasties.” So laat weet hulle uit alle oorde oor die skottels wat deur Dale en die span van 20 kokke en kelners wat hy saamgebring het, voorgesit is. Vir ons, en mense wat sy restaurante ken, was die lekker kos geen verrassing nie.

Dale ken van kos. Sy “Dale’s Place” in Bloubergstraat was lank een van die groot gunstelinge in Table View. Van sy gereelde ou klante, soos Danie Grundlingh (88), was dit Saterdag nie net ‘n blye herontmoeting met die man se kos nie, maar ook met die man self. Op doktersadvies het Dale later sy plek verkoop. Te veel geproe!

Later het die gogga weer gebyt. “Dale’s Black Angus” in die Paddocks-sentrum in Milnerton en die “Driftwood Café” in Parklands het gevolg. In die “Black Angus” het ons in 2011 my 70ste gevier. ‘n Vennootskap is daardie dag tussen ons twee bure vasgemessel – een wat ons nooit een oomblik laat twyfel het oor wie die kos moet maak vir die 100 gaste wat ons vir my 75ste, Tokkie se 70ste, ons 50ste herdenking van ons verlowing en ons goue bruilof in ‘n tent op ons gras neffens die Atlantiese Oseaan wou saamtrek nie.

Gelukkig was sy onmiddellike reaksie toe ons in Oktober verlede jaar verkennend begin gesels: “Ek is in.” Sonder die fris buurman sou ons dit nie kon doen nie.

My kollega Sarel Venter van Bloemfontein noem ons okkasie ‘n syferspeletjie: 75,70,50,50 en 100 gaste. Wel, Sarel, hier is vir jou nog ‘n 50. Dale het naamlik 50 jaar gelede – in 1966, iewers tussen my en Tokkie se verlowing en ons troudag – sy eerste van derduisende hamburgers uitgerol.

Hy het as 12-jarige by ‘n padkafee in Randburg ‘n geldjie begin verdien. Dalk was dit al die hamburgers en melkskommels wat hy tussen sy werkery deur weggeslaan het – hy praat van tot dertig per dag! – maar iets het hom gelok en tot ‘n lewenslange verbintenis met die kosbedryf gelei. Die Van Deventers is oor daardie band maar te dankbaar.

Terwyl ons die ou cowboy van die koswêreld vaarwel toewuif waar hy nou, Stetson op die kop, in die sonsondergang weggalop, besef ons natuurlik maar te terdeë: Ook vir ons is dit koebaai meraai. Want, soos hierbo gemeld, sonder Dale sou ons dit nie kon doen nie. Sonder Dale sal ons dit ook nie kan doen sou ons weer so ‘n bevlieging kry nie. Finis en klaar.

1-1-08-IMG_4376

Iris, Dale, HvD, Tokkie, Hildegard.

Vir Hildegard Martin van Melkbos het ek Saterdag saam met Dale en Iris vorentoe geroep toe die tyd vir bedankings aanbreek. Sy is al jare die skeppende hand agter vele HvD-projekte – van boeke tot CD’s. Vir Saterdag se fees het sy die kaartjie ontwerp; ook die spyskaart, tafelplan en Dankie-CD vir elke gas. Daaroor skryf ek later.

Kleinseun Christopher (6) is ook spesiaal bedank. Hy was deurgaans ‘n voorslag wat ten volle sy credo uitgeleef het dat niks vir hom lekkerder is as werk nie. In sy rol as “voorman” by die tentopslanery het hy dalk meer staalpype help dra as sommige van die betaalde arbeiders. Hy was ook bedrywig as “motorwag” en het in ‘n stadium sy opwagting in Dale se kombuis gemaak om dinge daar te kom monitor.

1-1-IMG_4342

Duime in die lug. Christopher en Abraham.

Maar die waarde van al jou naastes besef jy opnuut in so ‘n oefening. Almal sit skouer aan die wiel. Uiteindelik is dit ‘n kwessie van vele hande maak ligte werk. Ons is dankbaar teenoor Johan,. Marisa en Mariza asook die ander kleinkinders, Jacob en Thomas (11), wat buiten hul ander takies ook reusewerk verrig het met Oupa se twee Canons om hul nekke. Ons kan albums vul met hul mooi foto’s.

‘n Joppie wat Johan – en die 80-plus Marie Schnetler – seker nooit sal vergeet nie was die gespook om haar motor met brugkabels aan die gang te kry nadat sy dit die heeldag met die ligte aan laat staan het. Drie voertuie se batterye was in ‘n stadium gekoppel.

Dan was daar Abraham, ons vlytige Malawiese tuinman, met die hande wat vir niks verkeerd staan nie, die breë glimlag wat nooit wyk nie en onuitputlike energie. Wat ‘n span! Hoe gelukkig is ek en Tokkie nie!

IN TENT VAN SAMEKOMS

1-1-1-IMG_3677

1-1-45-IMG_4372

1-1-27-IMG_4351

Die “Tent van Samekoms”, Johan van Wyk in gesprek met Flip Nel en Johan se tafel, almal oud-Bloemfonteiners.

Middag uit Melkbos

Johan van Wyk is as vriend en oud-kollega na ons tentfees genooi; allermins as werkende joernalis. Toe gaan skryf die ou bokker ‘n rubriek oor die okkasie. (Die man maak geld uit my!) Lees hier sy storie soos dit in vandag se Volksblad verskyn:

’n Groot, vet paartie in Tent van Samekoms

Deur Johan van Wyk

Die lewe in hierdie verbygaande wêreld, aldus die apostel Paulus, is nie ’n vaste burg met blywende fondamente nie, maar ’n tydelike aardse tentwoning wat mettertyd stof sal word. Maar slaan ’n tent op in jou tuin terwyl jy nog kan en jy skep ’n onthaalplek soos min.

Dis wat my oudkollega Hennie van Deventer, voormalige redakteur van Die Volksblad in Bloemfontein, later, tot sy aftrede in 1998, koerantehoof van Media24 in Kaapstad, gedoen het om sy 75ste verjaardag, sy vrou, Tokkie, se 70ste en hul 50ste huweliksherdenking op Melkbosstrand hartlik en in styl te vier.

“Three-in-one”, soos die kannetjie met ’n lang, dun snuit geheet het waarmee huisvroue vroeër hul outydse naaimasjiene se ratjies geolie gehou het. ’n Druppeltjie hier, enetjie daar en ’n Singer het weer soos ’n kanarie gesing. Die Briels besing dit in Liewe Moeder. Ek verlang na my ma voor haar Vesta as ek daarna luister.

Toe hy in 1996 ’n huis op Melkbos koop en die enorme grasperk (waarop ek eerder ’n paar melkkoeie en ’n klompie slaggoed sou aanhou) aan die seekant van ’n erf van meer as 1 000 m² aftree, het hy besluit: Hier gaan ek eendag ’n Tent van Samekoms opslaan. Nie ’n trekkerige een met flappende flappe soos die waarin die bittere Vrede van Vereeniging ná die Boereoorlog in 1902 gesluit is nie, maar ’n bielie met vensters en deure. Twintig jaar en ’n hele paar grassnyers later is sy droom bewaarheid.

Net sowel. Toe ’n skraal noordwestewind ’n koue seebries instoot, kon ’n honderd gaste gekoester en beskut by smaakvol gedekte, gemeste tafels aansit. G’n wonder die Midde-Oosterse oliesjeiks verkies ’n tent bo ’n hotel nie.

Toe ek binnestap, het ek, omring deur mooi vroue (’n paar weliswaar op kieries!) en met die see in my ore en ’n glas wyn in die hand, soos ’n sultan gevoel en my selfs verbeel ek is op ’n seilskip in die Arabiese See.

My eie ervaring van tente is minder romanties. Soos die aand op Calvinia toe ou William Pagel van Pagel se beroemde eertydse sirkus sy kop in ’n maanhaar se bek gedruk het. Toe hy van die verskriklike stink asem flou neerslaan, het die gepeupel in die goedkoop sitplekke die leeu met lemoenskille deur die tralies gegooi. Toe my ouers in 1947 by Voëlklip in ’n ronde tent gekamp het, het my pa in die nag oor ’n ankertou gestruikel en ’n skottel met ingelegde kabeljou omgestamp. Die tent het dae lank na kerrievis geruik.

Jare gelede neem ek ons op aanbeveling van my predikant vir “spanbou” op ’n kampeervakansie. Die kinders was gou dikbek en my vrou het ná drie dae nie meer met my gepraat nie. Toe ’n stormwind die gasstofie omwaai en die tentjie aan flarde ruk, was dit die einde van spanbou.

Nie Melkbos se tent nie. Bande met geliefdes en ou vriende is opnuut in hom gesmee. (hvd)