UITEINDELIK MYNE!

Middag uit Melkbos

Een van die foto’s wat bo die koppenent van Ouma se sterfbed gehang het, is van my vrou in haar fleurige jeug. Dis ‘n foto met ‘n geskiedenis.

Tokkie was ‘n eerstejaartjie aan die Bloemfonteinse Onderwyserskollege toe sy haar hare by Maison Costa (Francis) laat “doen”, ‘n swart moulose nommertjie aangetrek en na die ateljee van die latere burgemeesterspaar Oom Christo en Tannie Freda Groenewald van Christo’s in Maitlandstraat afgesit het vir ‘n fotosessie.

Dit was haar eerste jaar uit die huis uit en die foto was bedoel as ‘n verjaardaggeskenk aan haar verlangende moeder op haar 50ste verjaardag op 7 April. Amper 50 jaar het dit bokant Ouma se bed gehang: eers in Hertzogstraat en toe in Louisehof, Bultfontein; daarna in Genl. Van Schoorstraat, Bloemfontein, toe in daardie volgorde in O’Kulisstraat, Welgemoed, Penguin Place, Melkbosstrand, .SeaPark, Melkbos, en Groeneweidetehuis, Darling.

Al die jare het ek daardie foto van my vrou begeer. Al is die haarstyl ietwat ouderwets, is daardie skitter-glimlaggie tydloos. Oom Christo en Tannie Freda was boonop kunstenaars met die verfkwas. Hul inkleurwerk is so realisties dat jy in die versoeking kom om jou hand uit te steek en aan die beeltnis van die bloedjong meisie te vat.

Van daardie foto het ek in 1964 ‘n klein weergawetjie gekry nadat my en Tokkie se paaie een aand op ‘n partytjie romanties gekruis het. Wat van die foto’tjie geword het, kan ek tot haar wrewel nie verklaar nie. My wrewel is weer omdat ek nou moet hoor sulke foto’tjies is nogal wyd uitgedeel – as’t ware soos visitekaartjies (haar woord). Sy het die proefblad vir daardie doel sorgvuldig met n skêr opgeknip.

Enkele dae gelede, ná Ouma se dood op amper 99, het die foto my eiendom geword. Dit is hier in my studeerkamer voor my. Dit is ‘n plek waar ek baie tyd deurbring en lank onbelemmerd vir my mooi vrou kan sit en kyk, opnuut dankbaar verwonderd dat ek al die ander kandidate se hande in die as kon slaan. Miskien was dit omdat ek op ‘n rype 25 ouer was, en dalk meer wêreldwys, as die jong boertjies wat skoolkyse was, en die ambisieuse aspirant-onderwysers in hul tweede- en derde jaar wat as nuwe vryers Viljoen-tehuis se stoep vol spore getrap het.

Ek skat ek had ook Ouma gou aan my kant met my entoesiasme vir haar heerlike frikkadelle en boerpampoen (wat ek aanvanklik as salige soetpatats aangesien het). Dit is steun wat deurslaggewend moet gewees het het in ‘n gemeenskappie wat die vreemde koerantmanvryer se attensies aan “hul” dogter met heelwat agterdog bejeën het, het ek later agtergekom.

Maar die foto: dit is nog in die oorspronklike sier-raampie van destyds – ene met twee ogies en ‘n stuk draad agter sodat dit van die prentelys in Hertzogstraat se huis kon hang. Tokkie beweer sy het die opsie van ‘n staanraam verwerp omdat daar nie eintlik staanplek vir ‘n foto in hul huisie was nie. Stem nie saam nie. Wat van op haar klavier?

Nietemin, gehang het dit gehang, en omdat ek ‘n man is met respekte vir die geskiedenis en so moet dit in daardie hangraampie bly … al moet ek dan ‘n baksteen agter staanmaak om my spesiale foto van my spesiale vrou op ‘n spesiale strategiese plek ‘n nuwe tuiste te gee.
(hvd)

SY LAASTE GRAPPIE ….

Pieter, Wena en hul boesemvriend, Herman le Roux, in Sabiepark in die winter van 2011.

Môre uit Melkbos

Om as t ware met `n laaste skalkse grappie op jou lippe, die klink van `n glasie en `n vonkel in die oog rustig jou laaste asem uit te blaas, is nie elkeen beskore nie. Pieter de Kock – die opgeruimde mens met die slag om altyd vir elke geleentheid ‘n kleurryke storie met ‘n stewige skeut humor op te diep – was een van die uitverkorenes.

Sy dogter Sonja het uit Australië `n merkwaardige e-pos gestuur oor haar pa se laaste ure, op grond van inligting van haar broer, Hennie, wat saam met sy ma, Wena, in die hospitaal in Pretoria by hom was tot die einde.

Sterfbedstories is natuurlik uiters privaat. ‘n Mens respekteer die naasbestaandes se diepe leed en behoefte om sekere intimiteite in hul harte te bewaar. Daarom het ek eers lank besin voordat ek huiwerig by Wena aangeklop het met die vraag: “Mag ek maar Sonja se roerende weergawe deel?”

Wena het die groen lig gegee. Met haar goedkeurende medewete dan Sonja se brief, volledig:

“Diê van julle wat nie weet nie.

“Nadat die bloedklonte uit Pa se niere verwyder is, was sy bloeddruk baie laag. Hul kon nie dadelik die dialisemasjien weer koppel nie. Sy hartritme was uit en hulle moes hom skok. Pa was 100% by. Ma, Estelle en Hennie was by hom. Hulle het langs die bed gestaan terwyl hulle hom geskok het.

“Nadat hulle hom geskok het, het my Pa gese dit was erger as Guy Fawkes. Hy het om die bed gekyk, gesê hy dink almal daar is oud genoeg en toe ‘n grap begin vertel.

“Hennie sê sy bloeddruk was nie goed nie. Die personeel was baie besig om nog medikasie aan sy drup te koppel, ens. Pa sê toe vir Hennie: ‘Bokbout, ek dink nie hulle luister vir my nie.’ Hennie antwoord: ‘Pa, hulle is bietjie besig nou. Pa moet maar later die grap klaar vertel.’

“Die hartritme en bloeddruk het genoeg verbeter en Pa is weer aan die dialisemasjien gekoppel – maar met ‘n bloeddruk van 60/20 wat nie goed is nie.

“Hennie het die suster gevra en hy is ingelig dat Pa se prognose nie goed is nie. Sy het vir hom gesê as iemand hom wil sien, moet hulle nou kom. Ons het klaar gereel dat sy broer – Oom Henré – van die Kaap af sou vlieg Saterdagoggend. Coba (sy ander dogter) sou weer deurry van Nelspruit. Hennie het vir Ma ingelig sodat sy op hoogte van die situasie was. Dank die Vader, my Pa self het niks geweet nie.

“Nadat Pa geskok is, was hy baie dors. Hy het baie water gedrink en so twee keer vir Ma gese dat `n koue bier darem nou lekker sal afgaan. Ma het gevra dat Estelle (Hennie se vrou) vir die suster gaan vra of `n bier in orde sal wees. Die suster het gesê hul kan vir hom enigiets gee wat hy wil hê. Estelle reël toe dat Hennie (wat ‘n rukkie uit is) met `n bier en twee glase by die hospitaal opdaag. Hennie het die bier in die twee glase gedeel. Hulle het glase geklink. Pa het sy bier deur `n strootjie gedrink.

“‘Dit was darem nou lekker,” het hy sy genoegdoening te kenne gegee. Sy bloeddruk het so effe opgetel en nie lank daarna nie heeltemal geval. Toe maak hy sy oë vir die laaste keer toe. Hennie, Estelle en Ma was heeltyd by hom.

“Vir dié van julle wat wonder wat het dan van die grappie geword: My Pa het sy grappie vir die suster klaar vertel!

“Pa wou nie in `n bed eindig soos sy eie Ma nie. Pa wou nie aan masjiene gekoppel wees nie. Pa wou net sy groot ‘bang’ gehad het. Die ‘bang’ was toe nie só groot nie, maar hy het rustig en sonder pyn gegaan.

“”Enig in sy soort. `n Fantastiese Pa en wonderlike man vir my Ma. Ek het besluit om troos te vind in my 8-jarige Lechel se woorde. Ons het onlangs twee van ons troeteldiere verloor. Lechel het besluit dat Oupa nou mooi na Barney en Ginger kan kyk. Liefdegroete, Sonja.”

Aangrypend vir my dat Pieter tot op die laaste só aan homself getrou gebly het. In Bloemfontein het ons ‘n dokter geken wat altyd gesê het: soos jy gelewe het, sal jy sterwe. Pieter – immer die opgeruimde, opbeurende een – kon werklik op geen ander manier gesterf het nie.

Hy was hy tot die bittereinde. (hvd)