Mar 30, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Die sanger Will Martin – boordjie kenmerkend losgeknoop.
More uit Melkbos
Oor Nieu-Seeland kan ‘n mens maklik die fout begaan om te dink die landjie produseer net rugbyspelers Dink egter aan Kiri te Kanawa, Edmund Hillary, Richard Hadlee – nee, geeneen het vir ‘n Super15-span uitgedraf nie.
Op die QM2 was ook ‘n bekende Kiwi – onbekend aan my persoonlik, maar ‘n sangsensasie in sy eie land en sy aangenome land, Brittanje, verneem ek. Sy naam is Will Martin en hy ryg die platinumplate in. Het darem ook ‘n rugbyverbintenis: Voor die eindstryd van die rugbywêreldbekertoernooi van 2011 het hy die Franse volkslied, “La Marseillaise” op Eden-Park in Auckland gesing.
Miskien is dit omdat hy, ondanks sy 29 jaar, so weerloos jonk lyk, dalk omdat hy inderdaad ‘n goeie “entertainer” is (hy speel ook klavier dat die klawers bons), maar op die QM2 het mense ná sy konsert in die Royal Court Theatre vir hom opgestaan. Veral vroue.
Oor sy musiek wil/kan ek my nie uitlaat nie. Sy tweede konsert op die skip het ek in elk geval liefs prysgegee vir ‘n aand op die dek met ‘n glasie wyn in die hand. Maar die jongman het so tussen sy liedjies met ‘n storie vorendag gekom wat ek graag hier oorvertel. Kan nie onthou dat ek dit iewers gelees het ná die groot aardbewing (7,1 op die Richterskaal) in Christchurch in 2011 nie.
Die sanger wat in 2007 na Londen verhuis het, was nog kort voor die aardbewing in die CTV-gebou (Canterbury TV) vir ‘n onderhoud. Hy is vroeg weg vir ‘n middagete-afspraak met ‘n oud-onderwyser en dié se 10-jarige dogter. Toe die aarde skeur, het daardie gebou in ‘n wolk van stof in duie gestort.
Altesaam 115 mense is in die enkele gebou dood – sowat die helfte van al die sterftes in die stad daardie dag. Al die mense wat by die Martin-onderhoud betrokke was, het omgekom: onderhoudvoerder, kameramanne, regisseur, die lot. “As ek in die gebou gebly het, was ek ook dood, het Martin die gehoor op die QM2 meegedeel. “My besluit om vroeg weg te glip vir my afspraak, het my lewe gered.”
Op daardie oomblik het die skraal kêreltjie met die amper skaam glimlag en die losgeknoopte boordjie nog broser gelyk. Die Australiese vrou in die stoel langs my, het met haar sakdoekie by haar oë gevroetel.


Churchill en Max Hastings.
Iemand wat ‘n mens nie eintlik met die woord broos vereenselwig nie, is die man met die growwe stem en sigaar, Winston Churchill. ‘n Storie oor die gevierde Britse staatsman wat vir my nuut en … wel … deerniswekkend was, het ek ook op die QM2 gehoor. Dit het uit die mond van sir Max Hastings, beroemde oud-redakteur en voorste Britse kenner van die Tweede Wêreldoorlog, gekom. Sir Max – ‘n regte langeraat wat graag wandelinge op dek 7 onderneem het – was een van die gassprekers op die sogenaamde “Cunard insights”-program op die skip. Churchill was een van sy onderwerpe. Sy boeke het soos soetkoek verkoop in die boekwinkeltjie langs die indrukwekkende biblioteek op dek 8.
Die lang Brit in die roomkleurige pak het boeiend vertel van die verpletterende Duitse bomaanvalle op Londen in die sogenaamde “Battle of Britain”, en Churchill se byna bomenslike pogings om sy land en die Britse weermag met sy moed en silwer tong gemotiveerd en gefokus te hou.
Maar Churchill was ook kwesbaar vir sentiment, aldus Hastings. Een middag op pad na die plattelandse premierswoning Chequers het ‘n lang tou mense sy oog gevang. Hy het die bestuurder van sy ampsmotor opdrag gegee om stil te hou. Hy stuur toe een van sy veiligheidsmanne om te gaan vra waarvoor hulle tou staan.
Die antwoord was: Hulle hoop om voëlsaad vir hul troetelvoëltjies te koop. Toe die groot man dit hoor, het hy gehuil.

Mof Myburgh
Wat my byna bewoë gehad het, was oud-Springbok H.O. de Villiers se herinneringe aan legendes soos Frik du Preez en Mof Myburgh – ook as deel van die “Cunard insights”-program. Swaar om te sluk, was dat die beroemde Springbokstut in armoede oorlede is in ‘n houthuis in die agterplaas van een van sy kinders.
Dit, terwyl vandag se rugbyspelers, al is hulle nie juis vreeslik waffers nie, nie die einde van hul skatte ken nie. Die ou lewe kan soms wreed wees.
Mar 28, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Jackie Stewart op die QM2. Hy teken die video oor die Monaco Grand Prix van 1971 en die mense staan tou.
Naand uit Melkbos
Bedink die verbasing (skrik) van ‘n groep Belgiese nonne oor hul onverwagse konfrontasie met ‘n poelkaal jong man op die naat van sy rug op ‘n bed van strooi in ‘n plaasvragmotor.
Wat staan ‘n ordentlike non in so ‘n onbehoorlike krisis te doen? So vinnig as moontlik die man se skaamte bedek, natuurlik. Wat hulle terstond en deeglik gedoen het. Toe stap ‘n ander man in – een met so ‘n weglêsnor – en trek die prostate figuur se klere dadelik weer alles uit.
Die kaal man was sir Jackie Stewart, vermaarde Skotse Formule 1-kampioen, bekend as “The Flying Scot”. Die ander man in die verhaal is sy medejaer Graham Hill – vir wie dit, volgens die spitsvondige Stewart, nie ongewoon was om iemand anders se klere uit te trek nie, egter nie ‘n ander man s’n nie.
Rede vir die klere-episode was ‘n ongeluk in die rampspoedige Belgiese Grand Prix van 1966 – ‘n storie wat ek uit my hoofsubdae by Die Volksblad goed onthou. Dit was groot nuus. Stewart en ‘n rits ander jaers het in ‘n geweldige reënstorm van die baan gejaag. Die Skot se BRM P261 het eers ‘n telefoonpaal getref, toe ‘n boskapper se hut. Dit was, in sy woorde, “opgevou soos ‘n piesang”.
Stewart is 25 minute lank in ‘n dam hoogs ontvlambare vliegtuigbrandstof in die wrak vasgekeer. Hill en nog ‘n renjaer wat kort na Stewart ook van die baan getol het, Bob Bondurant, het hul makker te hulp gesnel. Hill het hom nog die kwinkslag veroorloof: “You look very second hand”.
Daarna het hy en Bondurant met die gereedskapstel van ‘n toeskouer aan die werk gespring. Hulle het koorsagtig gewerk om die klein Skot te bevry terwyl die groeiende plas brandstof rondom hulle enige oomblik in ‘n vuurbal kon ontplof. In die 25 minute wat die operasie geduur het, het geen wedstrydbeampte gesig gewys nie!
Sy redders het Stewart na ‘n plaas gedra en op ‘n bed van strooi gemaklik gemaak. Op versoek van Stewart het Hill sy deurweekte renpak verwyder. Die kragpetrol het sy vel gebrand en was buitendien ‘n yslike risiko. Maar hoe moes die stomme nonne dié detail nou weet?
Selfs toe was die arme Stewart se beproewing nie oor nie. Hy is versigtig in ‘n ou ambulans gelaai wat hom na ‘n plek geneem het wat as mediese sentrum moes deurgaan. Hy is daar op ‘n seil-drabedjie gelaat. “Daar was geen dokter nie. Ek is op die kateltjie gelaat, op die vloer, omring van sigaretstompies. Dit was ver van skoon.”
Uiteindelik is hy in ‘n ander ambulans gelaai wat met loeiende sirenes en ‘n polisie-eskort die pad gevat het na die hospitaal in Liege. Op pad het die eskort en die ambulans geskei geraak. Toe verdwaal die ambulans. Die bestuurder het nie die pad geken nie.
Eind goed alles goed. Jackie Stewart (nou amper 75) het heelhuids uit die ongeluk gekom. Hy was een van die eminente sprekers in Cunard se verrykingsprogram Cunard Insights op die Queen Mary 2 op ons vaart na Sydney. Selfs die uwe wat geen Formule 1-entoesias is nie, het in ‘n volgepakte Royal Court Theatre aan sy lippe gehang. Later het ek gretig ‘n vertoning van Roman Polanski se dokudrama Weekend of a Champion in die Illuminationsteater gaan bywoon. Ook daar was geen sitplek leeg nie.

Stewart en Polanski in 1971.
Die film dek vier dae in Mei 1971 toe Polanski sy vriend, wat in daardie stadium die eerste keer wêreldkampioen was, na Monaco vergesel het vir die 29ste Monaco Grand Prix. Die rolprent wys hoe ‘n jong Stewart vol selfvertroue en met lang swart luislere sy renmotor as’t ware ratverwisseling vir ratwisseling deur die uitdagende roete in Monaco vat.
Aan die einde sit die twee vriende en gesels in dieselfde weelderige hotelsuite waar Stewart vier dekades gelede tuisgegaan het. Hulle gesels oor die opwindende dae wat verby is, Stewart se stryd teen sy erge disleksie toe hy ‘n kind was – asook sy onvermoeide kampanje om veiligheid op renbane te bevorder. Van die skouspelagtigste ongelukke op die renbaan word vertoon: motors wat deur die lug tol, wat aan flarde spat, wat in vlamme uitbars.
“In die 1970s was motorrenne gevaarlik en seks veilig,” sê sir Jackie met ‘n stout glimlag. Mnr. Polanski kan nie anders as om nadenkend saam te stem nie.
Stewart se kampanje vir groter veiligheid in motorsport spruit grotendeels uit daardie 1966-ongeluk toe Graham Hill en Bob Bobdurant hom gered het. Danksy sy energieke pogings is motorrenne dalk nie meer heeltemal so gevaarlik soos destyds nie. Altans, so glo hierdie leek nadat hy die voorreg gehad het om sir Jackie Stewart se stimulerende voordrag op die QM2 aan te hoor.
(hvd)