Nov 14, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
MY ou maaifoedie van ‘n olifant, Mayafudi, begin van vandag, Woensdag 14 November, nuwe bosse ooptrap. My eerste e-boek, “Spore in die bos”, en ander publikasies van e-Boeke vir Afrika raak nou teen baie bekostigbare pryse op Kobo in ePub-formaat te koop.
Dié heuglike ontwikkeling hou verband met die ooreenkoms tussen Kobo en PicknPay ingevolge waarvan ‘n Kobo-leser nou vir R995 by PnP gekoop kan word. Boonop span Kalahari en Bargain Books ook saam, en sal Kalahari se Gobi-leser nou by alle Bargain Books-winkels te koop wees. Marinda Ehllers, uitgewer, voorsien dat hierdie nuwe ontwikkelinge die e-boekmark in SA ‘n reuse-hupstoot gaan gee.
My tydgenootlike en ewe oue kollega Chris Moolman se “Spertyd vir Moord” word saam met “Spore”” aangebied. Tot vandag was ons twee oues se e-boekies op Amazon se KDP Select. Daarom kon hulle nêrens anders verkoop word nie. Nou kry hulle as ‘t ware vrye teuels.
Al die boeke bly ook steeds op Amazon beskikbaar vir Kindle-lesers. E-boeke dek dus nou al die e-boekformate. Om Marinda aan te haal: “Niemand het meer ‘n verskoning om nie julle boeke te koop nie. Praat julle vriende aan!” Dis wat ek hier probeer doen, Marinda! Toe mense, laat die bosse kraak!
Anton J Jansen het “Mayafudi” — oftewel dan in sy verwerkte e-vorm “Spore in die Bos” – vier sterre gegee het. Hy noem dit in sy tog saam met Mayafudi in sy resensie op Amazon op 30 Augustus ‘n Fabelagtige ervaring. Dankie, Anton.
Jansen skryf uit Taiwan waar hy as onderwyser ook sy klassie opgewonde Chinesies in die olifant-avonture van die Wildtuin laat deel het. Oor “Spore”” skryf hy: “Die boek is beslis ‘n moet lees vir alle diereliefhebbers, want dis werklik fabelagtige werk. As mense is daar soveel wat ons by hierdie dierbare olifantkan leer; en met oorvertelling,kan selfs kinders hom leer ken. Dus is dit nie net ‘n lekkerlees verhaal nie, maar dis uiters opvoedkundig…. wees gereed om in kontak te kom met jou emosies wanneer jy Mayafudi leer ken en ervaar. Ek sak my kop in skaamte vir die feit dat ons ons diereryk so onderskat.”
Marinda Ehlers het op haar webblad geskryf: “Glo my, jy kan ‘n hele paar lewenslesse by hierdie olifant leer. Hou maar die snesies byderhand: vir lag én vir huil.”
Moenie hierdie ou oor Kobo’s en dinge vra nie. Ene Annemarie-Taylor rapporteer egter op Facebook: ”Ek lees nog ‘n hond uit ‘n bos uit op my Kobo…. .Die letters is vir my duideliker as op my Kindle (wat nou ‘n ander baas gekry het). So, ek beveel beslis die Kobo aan. ”
Die goeie nuus is dat jy nie ekstra toerusting hoef aan te skaf om “Spore”en sy maats te lees nie. As jy reeds Adobe Digital Editions (ADE) op jou rekenaar het, hoef jy nie eens die Kobo app af te laai om boeke te lees wat jy by Kobo koop nie. Jy kan hulle net daar in ADE lees of daarvandaan na enige e-leser toe oordra wat Adobe DRM ePubkanlees. Of so iets
(hvd)
Aug 31, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

HvD en Mayafudi – diep spore in die bos
Middag uit Melkbos
Vat so, Mayafudi, ou maat! Vir die storie van jou swerftog kry ons uit die verre Taiwan vier sterre en allerlei tarentaalvere in die hoed.
Had ek maar ‘n slurp, het ek dit vir jou vandag hoog gelig oor die diep spore wat jou grootvoete getrap het.
Geniet daar in die Wildtuin gerus ‘n ekstra sluk salige Sabiewater en ‘n lang stofbad om Anton J. Jansen se gulle resensie van ons twee se “Spore in die bos” te vier. Op Melkbos is die vonkelwyn op die ys. Al is dit winter daarbuite, is ‘n yskoue Nuy-tjie beslis geregverdig.
In die gemoed is die sonskyn immers helder en koesterend.
Ek kom soek jou in die digte oewerbos as ek weer Sabiepark se kant toe kom – hopelik teen Kersfees. Dan deel ons ‘n knipoog om vir mekaar te se: ons twee is ‘n span! Eintlik ons drie, want e-boeke vir Afrika kom by.
Die resensie op Amazon:
4.0 out of 5 stars
Fabelagtige ervaring August 30, 2012
By Anton J Jansen
Wanneer dit kom by stories oor diere, is ek maar – lig gestel – ‘n fabelagtige snob, en min skrywers kan my vasvang met hulle verhale soos de la Fontaine en sy Franse fabels waarvan ek elke liewe een gelees en bestudeer het. Die gevolg is dat ek mettertyd begin glo het niemand kan naby hom kom nie; en daar kry ek toe ‘n heerlike verrassing met hierdie storie.
Wat my eerstens gevang het van hierdie boekie is die vroeë belofte (aangesien ek dit op Kindle gelees het kan ek ongelukkig nie pagineer nie), “Hy besef egter met ‘n pyn soos ‘n dolksteek dat hy verkeerd gedoen het. ‘n Eerbare olifant kan hom beteuel…Die veldwagters sal weldra begin soek, swaar gewapen…met die opdrag om die gevaarlike bul van kant te maak.” En, hiervandaan bou die storie in algehele glorie van vrees by die leser oor wanneer daardie dag gaan kom…
Mayafudi is nie net ‘n olifant nie; vir my is hy ‘n LEWENDE karakter met insig, geskiedenis en ‘n gewete, en natuurlik leer die leser ‘n hele paar lesse (23 om presies te wees) oor respek vir die diereryk – waarvan die belangrikste les die feit is dat diere ook maar net gevoelens het soos mense.
Die storie is geskryf met duidelike insig vanaf die skrywer, en die vloei van die verhaal het my tot so ‘n mate geboei dat dit werklik moeilik was om neer te sit. Ek het byvoorbeeld in my volwasse klasse spesiale “lees sessies” aan my studente opgedra, net sodat ek onversteurd self verder kon lees – hulle met vervelig-verpligte artikels, en ek kuier ongesteurd saam met Mayafudi. Was die boek beskikbaar in Engels, het ek dit vir hulle verpligte leesstof gemaak.
Gevolglik kon ek egter die verhaal slegs oorvertel, en hulle het aan my lippe gehang. Hulle wou daagliks weet wat het ek nuut gelees omtrent Mayafudi. My studente is Taiwanees, en gevolglik ken hulle nie (behalwe vir troeteldiere) die diereryk soos ons Suid-Afrikaners nie. En, dis waar die lekkerste van lekker ingekom het: om die verhaal met my studente te kon deel.
Die een ding wat bo alles uitstyg in die verhaal, is “‘n Trop olifante bestaan nie net uit ‘n klomp vreemdelinge wat toevallig saambondel nie. Die lede vorm ‘n sosiale groep wat vriendelik is met mekaar en mekaar se laste dra.” Hoe wens ek dat dit weer die geval kan word onder die mensdom. Daar is uiteraard BAIE wat ons by olifante kan leer.
Wat die boek verder aanbevelenswaardig maak, is die feit dat daar, soos vroeër gesê, soveel lesse is om te leer, en nie een van hierdie lessies is iets wat in jou gesig gegooi word nie, en dis nie prekerig nie. Jy besef eenvoudig dat jy nog iets geleer het.
Die boek is beslis ‘n moet lees vir alle diereliefhebbers, want dis werklik fabelagtige werk. As mense is daar soveel wat ons by hierdie dierbare olifant kan leer; en met oorvertelling, kan selfs kinders hom leer ken. Dus is dit nie net ‘n lekkerlees verhaal nie, maar dis uiters opvoedkundig.
‘n Laaste woord van my kant af: wees gereed om in kontak te kom met jou emosies wanneer jy Mayafudi leer ken en ervaar. Ek sak my kop in skaamte vir die feit dat ons ons diereryk so onderskat.
Ek sou graag die boek ‘n vyfster-gradering wou gee, maar ons het as lesers verskillende verwagtinge, en ek sou nie graag iemand wou teleurstel in hulle persoonlike verwagtinge nie. Lees dit gerus en besluit self of jy die ekstra sterretjie sou gee. Van my kant af, dus ‘n fabelagtige verhaal wat deur-en-deur die moeite (baie min daarvan, aangesien dit baie vinnig lees) werd is.
(HvD)
May 18, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

‘n Grimmige olifant verjaag leeus – ‘n T.O. Honiball-skets in Piet Meiring se boek Die Wildtuin is hul Woning, PMP, Pretoria, 1976. In Spore in die bos gebeur dit ook – Mayafudi vlieg onder die leeus in by Leeupan.
Môre uit Melkbos
If I learned anything from my time among the elephants, it is the extent to which we are kin. The warmth of their families makes me feel warm. Their capacity for delight gives me joy. Their ability to learn and understand things is a continuing revelation to me. If a person can’t see these qualities when looking at elephants, it can only be because he or she doesn’t want to. – Douglas H. Chadwick, The Fate of the Elephant, Viking, Londen, 1993
‘n Mens hoef nie eens ‘n bewonderaar van olifante wees nie, om meegevoer te word deur die wonderlike Elephant Song waarmee Kandiah Kamalesvaran, beter bekend as Kamahl, in ‘n TV-dokumentêr oor die World Wildlife Fund ‘n ster geword het.
Synde ‘n olifant-bewonderaar gryp daardie lied my behoorlik aan. Die immergroen melodie is gekomponeer deur die Hollandse komponis Hans van Hemert en die ewe immergroen lirieke is dié van Gregor Frenkel Frank. Dit was in die 70’s vyf weke die nommer 1 in die Hollandse top 40. Kon maar vir my geld tien maal vyf weke nommer 1 gewees het.
Met die oog op die verskyning van die uwe se eerste e-boekie, Spore in die bos – swerftog van ‘n olifant, binnekort by e-Boeke vir Afrika, het ek opnuut na die Elephant Song gaan luister; ook opnuut so bekoor geraak dat ek dit opsluit op my webwerf as ‘n soort temalied vir Spore in die bos wou opsit.
Wel, hoe dit daar gekom het, is ‘n lang storie, maar nou’s dit daar, pragtig geïllustreer met olifantfoto’s. As iemand wil gaan luister, hetsy die eerste keer of vir die hoeveelste keer, navigeer net na www.hennievandeventer.com . Op die tuisblad is ‘n knopie na Mayafudi, die naam van my olifant-karakter in Spore in die bos. Klik daarop en volg daarna net die padpredikantjies. En geniet dit!
My e-boek is nou in die pylvak – sal laat weet. Die aanhaling hierbo uit Douglas H. Chadwick se The Fate of the Elephant verskyn ook voor in daardie boek as ‘n soort persoonlike credo.
Hier enkele grepe uit Kamahl se lied:
Tell me said the elephant/Tell me brothers if you can/Why all the world is full of creatures/Yet we grow in fear of man/Tell me said the elephant/Tell me why this has to be/We have to run from man and hunter/Never safe and never free ….
Die refrein spreek ‘n mens besonderlik aan: People kill without regret/Although they fly by jumbo-jet/Let the world all may remember/ Let the children not forget ….
Ook die lirieke is te vinde by www.hennievandeventer.com
Wonder meermale hoekom iemand nie in die stryd teen renosterstropery met so ‘n lied vorendag kom wat wêreldwyd aanklank sal vind nie.