RAAKVAT VIR RENOSTERS

IMG_9448-001

More uit Melkbos

Raakvat vir renosters. Twee 11-jariges van Melkbosstrand, Amure Palm en Jamie Bower, het vanoggend die skoolvakansie nuttig begin deur hul deeltjie vir die Red-die-Renoster-veldtog by te dra. Die twee, albei leerlinge van die Laerskool Van Riebeeckstrand, het langs die skool in Charles Hoffestraat ‘n kraampie opgeslaan. Daar het hulle goeie sake gedoen met hul kolwyntjires (uit ma se kombuis) en koue limonade. Sappige kolwyntjies gewees boonop!
(hvd)

“MY” DRIE RENOSTERS

More uit Melkbos

’n Mens ys as jy deesdae so ‘n mooi renostertoneel in die Kruger-Wildtuin sien – hoe nader aan die Mosambiekse grens des te meer. Hierdie drie grotes het ek in Januarie oop en bloot op die teerpad tussen Skukuza en Onder-Sabie raakgeloop. Sagte teikens …

Dadelik het ‘n beklemming my gepak. Iewers sluip stropers. Dit weet jy mos. Het ek dan nie al self gesien hoe twee mans by die Krugerhek ‘n jagwapen probeer insmokkel nie! (Hulle is deur ‘n hardnekkige vroulike sekuriteitsbeampte uitgeruk – tot haar ewige eer.)

“Die stropers het geen vrees vir die donkerte of wilde diere nie en vonnisse skrik hulle ook nie af nie,” verklaar Ken Maggs, wat aan die hoof staan van die afdeling vir die bestryding van omgewingsmisdaad, aldus die Junie-uitgawe van Bosnuus, aantreklike, informatiewe nuusbrief van Marlothpark onder die knap redakteurskap van Jacques de Villiers. Marlothpark is die spreekwoordelike klipgooi van Krokodilbrug en die Mosambiekse grens.

Die instroming van stropers word toenemend ‘n reuse-uitdaging. “Dis ‘n volskaalse oorlog gekenmerk deur handgemene guerrilla-skermutselinge en gevegte tot die dood gevoer teen vreeslose invallers,” som Johan Jooste, ‘n afgetrede general-majoor van die SA Weermag, wat Desember aangestel is as koördineerder van die anti-stropingsveldtog, die situasie in dieselfde artikel op.

Die anti-stropingeskader by Skukuza span taktiese middele in wat ooreenstem met optredes op slagvelde dwarsoor die wêreld. Veldwagters, spesiaal vir hulle militêre rol opgelei, fynkam die bos vir dae aaneen toegerus met gesofistikeerde tegnologie. Lugreaksiespanne en snuffelhonde staan hulle by, lees ek in dieselfde artikel. “Die Wildtuin verkeer in ‘n staat van beleg.”

Bemoedigend dat die stryd so intensief gevoer word aan die een kant. Maar tog so verskriklik hartseer dat helikopters wat sirkel en weermaglorries met swaar gewapende soldate op die paaie nou deel van jou hedendaagse Wildtuin-ervaring moet word. Ek en Tokkie het die helikopters in Januarie dikwels oor die Sabierivier van Sabiepark se kant af gesien. Op pad Phabenihek toe of Krokodilbrug toe – oral – rammel swaar khaki voertuie by jou verby.

Soms sien jy een half afgetrek van die pad af met verkenners wat die horsison met ‘n kragtige verkykers bespied. Soms is niemand in sig nie. Dan weet jy ‘n operasie is dalk net agter die eerste linie bosse aan die gang. Ons wintervakansie (van 14 Junie af) gaan bepaald nie in hierdie opsig anders wees nie.

Die rol van oorgrensparke word in die Bosnuus-artikel uitgelig. “In 2002 is ‘n uitgestrekte gebied van 35 000 vierkante kilometer tot ‘n oorgrenspark verklaar kragtens ‘n ooreenkoms tussen die regerings van Suid-Afrika, Mosambiek en Zimbabwe,” lees ek.

”Nou het natuurliefhebbers tot hul skok verneem dat al 300 renosters in die Mosambiekse gedeelte van hierdie Groter Limpopo- Nasionale Park uitgewis is ter wille van die buitensporige pryse wat horings in Asiese markte behaal.

”Weens die armoede in die Mosambiekse gebied aangrensend tot die Wildtuin heers, die bevolking met die grootste gemak deur professionele sindikate by die onwettige handel in renosterhoring betrek. Verslae is al ontvang wat daarop dui dat hele dorpies opgeskiet het met stropery as enigste dryfveer.

”Voeg daarby dat aanklagte bestaan teen 30 wildbewaarders vir aktiewe betrokkenheid by die renosterstropery, wat in Maart geëindig het toe die laaste 15 in die Mosambiekse Limpopo-Nasionale Park doodgeskiet is. Die situasie word vererger deur die gebrek aan behoorlike wetstoepassing en die algemene voorkoms van korrupsie in Mosambiek, waar die besit van renosterhoring nie as ‘n ernstige oortreding beskou word nie. Die smokkelhandel met markte in Asië gaan dus ongestoord voort.

”Dit is bekend dat die stropery wat in die Wildtuin hoogty vier, uit dieselfde oord bedryf word en dat ons regering dringende aandag sal moet skenk aan stappe wat in samewerking met die Mosambiekse regering gedoen kan word om hierdie enorme euwel die nek in te slaan. Teen die einde van April was reeds 179 strooptogte vanuit Mosambiek uitgevoer,” berig Bosnuus.

Wonder terwyl ek so met ‘n swaar gemoed lees of “my” drie renosters op die foto nog met hul horings ronddraf. Wens ek kon die stomme diere waarsku om diep-diep in die bos, ver van die verraderlike mens met sy skietgoed en kapmesse, te gaan wegkruip ….
(hvd)

CUSTOS OF VERWOESTOS?

Middag uit Melkbos

Hartverskeurend as “custos naturae” “verwoestos naturae” word.

Ongelukkig is die hofverskyning van die vier uniformdraers van Sanparke in verband met renosterstropery nie die eerste omkering van rolle in die laaste jare in die geliefde Kruger-wildtuin nie.

Ek onthou nie alle onderduimshede nie, maar ‘n besonder pynlike geval was toe arme rooibokkies wat in die kampong van die KNP staan en wei het, op ‘n Sondagmiddag na ‘n fuifparty met stokkie en ysters getakel is en pap gemoker is vir die pot.

Die skuldiges is aan die man gebring, maar die hantering was tog maar ietwat suutjies-suutjies. Ook die media moes, na my oordeel, gerus maar hul knaldempers oor hierdie insident meer afgehaal het.

Of daardie “sagte benadering” ‘n rol gespeel het dat Sanparkmanne toenemend voor die versoeking swig om hul missie onder die mat in te vee ter ere van die god Mammon, kan ‘n mens maar net raai. Die vrees om vasgetrap te word, skrik ‘n sekere seksie nie juis af nie.

Toegewyde natuurbewaarders soos die Stevenson-Hamiltons, Wolhuters, en later ook die Salomon Jouberts en Tol Pienaars sou seker lang trane stort oor die verwording van die nasionale bate van die Krugerwildtuin wat hulle met liefde, sorgsaamheid, sensitiwiteit en doelgerigtheid opgebou en uitgebou het.

Ek kry ook die huidige geslag leidsliede jammer. Hulle moet moedeloos en tam voel. Taakspanne neem deel aan die stryd, weermag-eenhede word ontplooi, helikopters woer-woer in die lug, swaar militere vragmotors woerts by wildkykers verby op anti-stroper-sendings, ekstra veldwagters word aangestel, maar stropery duur op groot skaal voort.

Selfs veeartse neem uit gierigheid lustig deel ter wille van vulgere selfverryking.

Die koste van die operasie om ons kosbare renosters teen die bose aanslag te beskerm, moet miljoene der miljoene bedra. Op die foto is van die plakkers wat Desember/Januarie by die hekke van die NKP in pakke uitgedeel is, en wat self ‘n mooi klompie moet gekos het. Van die huidige span wetsoortreders was skynbaar so sinies (uitdagend?) dat hulle safarivoertuie vir hul duiwelswerk verrig met sulke plakkers op prominente plekke opgeplak!

Die idee om daardie gewetenlose vente in die openbaar van sekere van hul eie bates te stroop, raak vir my al hoe aantrekliker.

G’n renosterhoring sal daarna as plaasvervanger kan dien nie! (HvD)