`N GOEIE STORIE

More uit Mellkbos

Racheltjie Beer se heldedaad in die hartjie van die winter in die barre sneeulandskap aan die voet die Drakensberg is, volgens oorlewering, iewers in die 1840′s verrig. In 1920 – ‘n ronde 80 jaar later – raak dit die eerste keer opgeteken danksy Eugene N. Marais, ‘n digter-dromer, romansier, woordkunstenaar, kenner van bobbejane en miere, wonderwerker …. noem hierdie begaafde man wat jy wil. Maar ‘n historikus is hy nie.

Dis ‘n genade dat die Trek enkele jare tevore – ook die oortog van die Voortrekkers met hul kakebeenwaens, Afrikanerosse en (kaalvoet?) vroue van durf oor die nimlike Drakensberg – nie dekades lê en stof vergaar het nie. Hoe bloedarmoedig sou die Afrikanergeskiedenis dan nie gewees het en hoe jammerlik dun Gustav Preller-hulle se vroeë Suid-Afrikaanse geskiedenisboeke nie.

Ollie Olwagen het in vanoggend se BY in sy brief, ”Rachel de Beer is bloot ‘n afspieëling van Hazel Miner”, waarskynlik ‘n paar hardnekkige vasskoppers stof tot nadenke gegee. Verre sy dit van die uwe om verdere sout in hul wonde te vryf. Die gedagte kom egter maar net by my op:

By koerante word soms met verfrissende selfspot opgemerk: Moenie dat die feite ‘n goeie storie bederf nie. Dit is nogal onthullend hoeveel briefskrywers die laaste paar weke dieselfde volhardende geringskatting vir feite openbaar het as wat kritici soms aan joernaliste toedig. Hou ons nie maar almal van ‘n goeie storie nie?
(hvd)

“MADE IN THE USA”

Middag uit Melkbos

Na aanleiding van vanoggend se artikel in “By” oor die moontlike Amerikaanse wortels van die Afrikaanse heldeverhaal van die Voortrekkermeisie Racheltjie de Beer herhaal ek hier my blog van 2 Augustus 2010 oor ‘n vorige “Made in the USA”-ontnugtering. Laat ons dan nie vergeet dat “Sarie Marais” ook ‘n Amerikaanse rokkie dra nie!

PERD VAN ‘N ANDER KLEUR

“Jippie-jippie jip, ou pêhert!” Ek dag altyd Chris Blignaut se immergroen liedjie “Ou Ryperd” (deur Dozi nuwe lewe ingeblaas) is só Afrikaans soos koesisters. Een van die musikale ontnugterings van my amper 70 (nou amper 72) jaar op aarde was toe ek verneem dit dra eintlik die stempel “Made in the U.S.A.”

“Ou Ryperd” is inderdaad ? vrye vertaling/interpretasie van die VSA se “Old Faithful we roam the range together”. Ja, ‘n perd nie net van ‘n ander kleur nie, maar ook van ‘n ander taal, land en kultuur. Gaan luister maar – Amerika se “Old Faithful” en ons Boere se “”Ou Ryperd” is vinkel en koljander.

Wat opval uit die lirieke is dat die perd in die Amerikaanse weergawe ‘n naam het en die nooi nie. In Afrikaans is dit andersom. Is die Amerikaners liewer vir hul perde en ons vir ons meisies?

Só sing Chris Blignaut en Dozi:

Ou Ryperd, ons ry die pad tesame
Ou Ryperd, so deur die lewensbane
Wanneer jou rydag oor is,
Gaan jou ou lyf lekker rus
Jy, ou Ryperd van my.
Jaag maar aan ou maat
Die maan skyn helder (heller!) vanaand
Jaag maar aan ou maat
My nooientjie sy wag vir my vanaand
O hoor hoe tjank die jakkals op die rivier se brug
En dra my op jou lekker ou rug
Jaag maar aan ou maat,
want my nooientjie sy wag daar vanaand.

KOOR:

Jippie Jippie Jip (x2)
My ou perd
Daar is voer en rus
En jy doen jou bes my ou perd
Dra my oor die rivier se brug
Dra my op jou lekke ou rug
Na my nooi Sannie
Die dogter van Tant Annie op die plaas.

En hier is die lirieke van “Old Faithful”:

Old Faithful, we roam the range together
Old Faithful in any kind of weather,
When the round up days are over,
And the boulevard’s white with clover,
For you old faithful pal of mine.
Giddy up old fella cos the moon is yellow tonight,
Giddy up old fella cos the moon is mellow & bright,
There’s a coyote crying at the moon above,
Carry me back to the one I love,
And you, old Faithful pal of mine.

Nog iets wat ek nie geweet het nie (ek lees dit op die internet) is dat die Tukkies in ‘n stadium (wanneer?) daarvan ‘n patriotiese intervarsity-lied gemaak het:

“Stad van die noorde, O ek verlang na jouhou/ Stad van die noorde, die jakarandas is weer blou-ou/ Al my lief en leed het ek daar aanskou/ op jou wil ek my toekoms bou? Voortrekkerstad, ou Pretoria/ Elke ou Tukkie verlang na jou/ Ons Alma Mater sal ons nooit vergeet nie/ Ou Pretoria …”

Is ek dan die enigste vreemdeling in Jerusalem wat hierdie goeters nie geweet het nie?
(hvd)

RACHELTJIE NIEMAND

Naand uit Melkbos

Racheltjie de Beer was in werklikheid dus racheltjie niemand. Dit is die lakonieke kommentaar van my oud-kollega Ollie Olwagen op die helaas onontwykbare gevolgtrekking: dat hierdie jong volksheldinnetjie nie ‘n mens van vlees en bloed was nie, wel ‘n stukkie inspirerende Afrikanermitologie.

‘n Leërskare mense – onder wie die uwe self, ‘n Melkbosse vriendin, Gerrie Coetzee, en Ollie – moet dit eenvoudig maar teen wil en dank aanvaar nadat dieper in die Racheltjie de Beer-sage gedelf is. Nêrens kon ‘n geloofwaardige spoor na die 12-jarige heldinnetjie of haar beweerde gesin deur historici en/of genealoë gevind word nie, ondanks die tienduisende woorde wat oor geslagte heen oor haar dapper daad geskryf is.

Ollie, argitek en skepper van die gewilde “Mieliestronk”-leermateriaal vir kinders, gaan nou ‘n voetnoot in dier voege by die Racheltjie de Beer-storie op die mieliestronk-webwerf sit, deel hy ontnugterd mee.

Ollie se ontnugtering sal wyd gedeel word. Mense wil graag glo Racheltjie het werklik geleef. Hulle wil glo sy het werklik in ‘n sneeustorm haar kleertjies uitgetrek om as lewende skild vir haar boetie in ‘n uitgeholde miershoop te dien. Die tweetjies sou op soek na ‘n verlore kalfie verdwaal geraak het.

Vraagtekens word egter oor die verhaal geplaas deur geloofwaardiges soos die genealoë wat die De Beers se geskiedenis opgeteken het, Diwwie de Beer en Jaleen de Beer. In hul navorsing vir die boek “Die De Beer-familie: drie eeue in Suid-Afrika” het hulle doopregisters, sterftekennisgewings en ander dokumente vergeefs na Racheltjie en/of haar ouers gefynkam.

Geskiedskrywers van die 19de eeu, soos Gustav Preller, verwys ook nooit na Racheltjie se heldedaad nie, ondanks die talle verwysings na ‘n ander kinderheld, Dirkie Uys. Geen melding van die verhaal kom eweneens voor in die Afrikaanse Kinderensiklopedie wat in die 1950’s verskyn het nie.

Tien jaar gelede al was in “Die Burger” ‘n berig met die opskrif: “Racheltjie de Beer: ware heldin of versinsel?” Stephanie Nieuwoudt bring in daardie diepteberig verskeie probleme aan die orde: name en datums wat nie klop nie, ens. Haar berig is deur Leo Kritzinger opgespoor en onder my aandag gebring.

Tussen 1800 en 1900 is, volgens dié twee navorsers, net 12 De Beer-kinders met die naam Rachel gebore. Die meeste is in die laat 19de eeu gebore: te laat om te klop met die gebeure van 1843, toe Rachel 12 sou gewees het. Die navorsers kon nie ‘n Rachel vind wat in 1831 gebore of gedoop is nie. Ook nie ‘n datum wat sou klop met die ouderdom waarop sy glo dood is nie.

Die twee De Beers het wel in hul navorsing afgekom op inligting oor ‘n gesin van 1903 wat merkwaardige ooreenkomste met die ander De Beers toon. “Maar voldoende bewys bestaan nie om onvoorwaardelik te sê dit ís die regte gesin nie.”

Prof. Albert Grundlingh, destydse hoof van die departement geskiedenis op Stellenbosch, het aan “Die Burger” gesê geskiedenis-mites ontstaan dikwels om bepaalde politieke of kulturele gebeure en wanneer daar ‘n opwelling van nasionalisme is. “Die verhaal van Rachel was veral in die 1930’s gewild om en by die Eeufeesviering van die Groot Trek, toe dit nodig was om die volk rondom dié gebeure saam te snoer. Haar verhaal bevestig gesinsideale en dit beklemtoon die beskermingsdrang van die volk.”

Dr. Jan Visagie, ‘n historikus en genealoog van Stellenbosch, het gemeen die twee De Beers se beredenering rakende Rachel was “oortuigend en hul navorsing deeglik gedoen”. Dat die gesin van 1903 wel ooreenkomste toon met ander gegewens oor die verhaal van Racheltjie de Beer, maak dit onmoontlik om die verhaal as ‘n mite af te maak. “Maar dit is steeds grotendeels gegrond op mondelingse oorlewering.”

Jammer, mense, maar ek kon mos nie hieroor swyg nie, of moes ek liewer? Buitendien, as iemand aan Racheltjie wil bly glo, wat staan in die pad?
(hvd)

RACHELTJIE – FEIT OF FIKSIE?

More uit Melkbos

Racheltjie de Beer – feit of fiksie?

My geslag het grootgeword onder die indruk dat Racheltjie ‘n kinderheldin van vlees en bloed was, ‘n egte, regte boeremeisietjie van die Oos-Vrystaat wat haar kaal liggaampie as skild voor ’n miershoopopening geplaas het om te keer dat haar sesjarige boetie verkluim. Die twee het, soos ek die verhaal ken, in die distrik Van Reenen in die Oos-Vrystaat na ’n geliefde kalfie gaan soek toe ‘n sneeustorm hulle oorval.

Maar het ‘n Racheltjie wel bestaan of is dit net ‘n mooi fabel? ‘n Ontstelde dame van Melkbos – een van my generasie – wou dit gisteraand by my weet nadat ‘n argivaris teenoor haar beweer het geen dokumente bestaan wat die geboorte of dood van daardie heldinnetjie bevestig nie.

Moet erken dat my vriendin my ietwat onkant gevang het. Racheltjie ‘n fabel? Toe ek gaan “google”, sien ek dit is presies wat Wikipedia die storie noem: ‘n fabel. Racheltjie self beskou hulle as “probably fictitious”.

Nou-ja. Wikipedia is nie altyd die allerantwoord nie. Maar in Protea-boekwinkels is ‘n nuwe boek oor Racheltjie op die rak uit die pen van die Engelsman Brett Michael Innes wat in sy kinderdae deur die dapperheid van die Voortrekkermeisie aangegryp is. Die boek word bemark as fiksie. Protea se bekendstelling lui: “Geïnspireer deur die verhaal wat van geslag tot geslag oorvertel word, is hierdie die storie van swaarkry, opoffering en onbaatsugtige liefde wat in Suid-Afrika gedurende die laat 1800s, afspeel…”

Die “verhaal wat van geslag tot geslag oorvertel word” ? Nou-ja, Protea is nie sommer ‘n hierjy-uitgewer nie ‘n Mens kan maar van sy uitsprake kennis neem.

Intussen maak Innes ‘n rolprent oor sy boek. Hy het die draaiboek geskryf en doen self die regie. “Daar is ongelukkig nie baie inligting oor haar beskikbaar nie. Ek het ’n afspraak met navorsers by die Voortrekker-monument om verder oor haar op te lees. Dit is vir my belangrik om kykers met ’n duidelike beeld te laat van die lewe van die Voortrekkers gedurende die 1800’s.”

Mieliestronk.com wat in derduisende huise vir kinders ‘n soort kennis-bybel is met die oog op skooltake en dies meer, laat Racheltjie aan die ander kant geloofwaardig klink. ‘n Jong heldjie soos Dirkie Uys. (Die illustrasie hierbo is by mieliestronk geleen.)

En uit Harrismith kom ‘n e-boek deur Biebie de Vos en Tienie van Rooyen wat Racheltjie in die konteks van ‘n gesin plaas. Daar is datums, name, plekke.

Wat sou die waarheid wees? Vir hierdie ou gryse sal dit maar swaar wees om te sluk Racheltjie is ‘n verdigsel in die liga van Krismisvader en die tandemuis! (hvd)