VERSKRIKLIKE VERJAARDAG

HEELBO: Jacko en Tokkie. ONDER: Barbi. Die foto’s is by ander okkasies geneem.

More uit Melkbos

Was gister by ‘n “verskriklike” verjaardag.

Verskriklik lekker, ja. Verskriklik stylvol. Verskriklik onthoubaar o.m. weens die kwaliteit van die toesprakies.

Hier gebruik ek egter die woord “verskriklik” in ‘n ander sin. Dit is die woord wat die verjaardagman op sy uitnodiging gebruik het – omdat hy 75 geword het en die gedagte (skertsend) onuitspreeklik gevind het. Darem net laat glip dat hy in 1936 gebore is. ‘n Mens hoef nie ‘n sompompie nader te trek om te bereken hoeveel jaar tussen 1 Oktober 1936 en 1 Oktober 2011 lê nie.

Die man ter sprake is Jacko Maree, oud-LV, gesoute prokureur en sakeman, kenner van die WVK (almal hoop hy gaan nog sy kennis in ‘n boek verewig) en bekwame, toegewyde stryder vir Afrikaans by sy alma mater, Stellenbosch, waar hy jare in die universiteitsraad was. (Blykbaar ook ‘n sieraad van ‘n eggenoot, aldus mev. Maree.)

Heildronke is ingestel deur die akademikus-skrywer Herman Giliomee, oud-administrateur van Natal Con Botha en politikus André Fourie – almal silwer tonge wat humor en erns sinvol kan sinchroniseer. Die seremoniemeester was Jacko se vrou Barbi. Met haar bekoorlike Duitse aksent en welsprekendheid was haar bydrae dalk nog die onthoubaarste!

Gaan nie lang stories maak nie. Herman Giliomee vertel in een asem van Jacko se selfvertroue en in die volgende asem hoe hy as heelagter vir Maties se eerste span ‘n hoë lugskop moes trotseer terwyl Worcester se gedugte pak voorspelers dreigend op hom afstorm. Net voordat hy sy arms om die bal moet vou, skree iemand: ”Mis!”. Toe gehoorsaam Jacko!

Maar luister nou hoe die man terugkap. Herman onthou daardie insident so goed omdat dit die enigste keer is in twee jaar dat hy die bal misgevat het, antwoord Jacko toe. Dis nou selfvertroue!

Aan tafel vertel ‘n ander kollega van Jacko in die ou Volksraad, Piet Welgemoed, van Jacko se aspirasies as rugbyskeidsregter. Na sy eerste wedstryd, hier in die vyfde, sesde liga, sê die verloorkaptein vir hom: “Moet jou gelukwens. Jy is die eerste blinde sonder ‘n hond wat ek sien.”

Ek maak mos maar graag rympies oor dit en dat. Het ook my hand aan enetjie gewaag oor Jacko se “verskriklike” 75. Hier volg dit:

Jacko 75 – ‘n geleentheidsversie by die “verskriklike” verjaardag van Jacko (ook uitgespreek Djak-ou) Maree:

Ons drink ‘n heildronk,
‘n heildronk:
‘n heildronk op “Djak-ou”,
op “Djak-ou”, daai bak ou –
n wys ou, ‘n grys ou,
‘n ou propvol vonk;
al sy vriende wat heuglik
aan die heildronkie teug,
bewonder die donder
vir sy ewigdurende jeug!

Hennie van Deventer
Vir Saterdag 1 Oktober 2011

Geluk Jacko. Vir jou en Barbi: Lank mag jul lewe. Dit kom nie net oor die lippe nie – ook uit die hart.

(“Ewigdurende jeug”? Wel, meer as een vrou het verklap sy wou vir hom ‘n 70-kaartjie gekoop het!)

(HvD)

SY EDELE MNR. DIE JOERNALIS

More uit Melkbos

“I am satisfied that all politicians were meant to be journalists and all journalists meant to be politicians.” Hierdie uitspraak word aan ene Owen Arthur toegedig – vermoedelik ‘n vorige premier van Barbados, tensy ek sleg ge-Google het.

Sy stelling klink ietwat rof. Ek kan aan verskeie joernaliste dink wat nie as politici sou deug nie, en sommer baie meer politici wat nie as joernaliste sou regkom nie. Oor die redes wei ek liewer nie uit nie. Hoekom sal ek nou daaroor rusies uitlok?

Oor iemand wat in albei kampe was, het ek enkele dae gelede geblog. Hy was pres. C.R. Swart, wat van die laat 20’s tot in die 30’s ‘n ridder van die tikmasjien was – in ‘n stadium twee maande lank waarnemende redakteur van Die Volksblad.

Rêrige Afrikaanse redakteurs wat tot die kabinetsbanke gevorder het, was die eerste ministers D.F. Malan en H.F. Verwoerd, asook dr. A.J.R. (Albertus) van Rijn en dr. Andries Treurnicht, wat leier van die Konserwatiewe Party geword het. Malan was Die Burger se redakteur, Verwoerd Die Transvaler s’n, Van Rijn Die Volksblad s’n en Treurnicht Hoofstad s’n. (Die Burger se A.L.. Geyer het ambassadeur in Londen geword.)

Verwoerd het die ongelukkige “roem” as redakteur verwerf dat hy sy koerant die koningsbesoek in 1947 laat ignoreer het. Slegs die strate wat gesluit sou word vir die koninklike optog deur Johannesburg is vermeld. Goeie aarde, doktor!

Van Rijn se lessenaar het later ook my lessenaar geword. Ek het sy begrafnis in Bloemfontrein bygewoon. Die arme dominee het daardie middag kleigetrap. Hy het aanhoudend na die oorledene verwys as Gerhard van Rijn, die naam van sy oudste seun. Gerhard van Rijn, wat regter-president van Noord-Kaapland was, het in die familiebanke al hoe rooier in die gesig geword.

P.W. Botha wat premier en staatspresident geword het, het ‘n kort loopbaan by Die Volksblad gehad. Ook in pres. Marais Viljoen se are het joernalistieke bloed gevloei. Hy was onder Verwoerd by Die Transvaler.

Ander ministers wat via koerante in die politiek gekom het, sluit in Blaar Coetzee, Hennie Smit en Marais Steyn, wat sir Div se regterhand in die Verenigde Party was voordat hy oorgestap het.

A.M. van Schoor van Die Vaderland (vertaler van o.m. Tarzanboeke) het senator geword (as ek reg onthou). Gert Terblanche van Die Volksblad was senator, LV en ambassadeur. Abraham Jonker, pa van Ingrid, en Frik van Deventer was LV’s.

Meer resent, was Piet Coetzer (pêl van wyle Fanus Rautenbach en politieke beriggewer van Die Transvaler, LV. Dene Smuts, LV, was redaktrise by Fair Lady (‘n publikasie van Naspers).

My lysie is net van Afrikaanstaliges. Ek aanvaar dit is onvolledig. Aan ‘n poging om die politici te lys wat uit die Engelse pers kom, waag ek my liewer nie. Ek sal ongetwyfeld misvat. Drie name duik egter dadelik op.

Die bekendste van die dag is natuurlik Helen Zille, kranige DA-leier wat so mooi Afrikaans praat (Rand Daily Mail). René de Villiers, redakteur van The Star, was ook in die parlement. Tertius Myburgh van die Sunday Times – ‘n portuur vir wie ek baie tyd gehad het – is uit die bloute as ambassadeur in Washington aangestel. Hy is aan kanker oorlede voordat hy sy edele kon word.

Die loopbaan van P.W. by Die Volksblad beskryf hyself as as “baie kort en baie opwindend”.

Opwindend? Wel, in die politieke hoogsomer van 1935/36 toe die stryd tussen Malaniete en Smelters oral laat oorgekook het, het hy verslag gedoen oor ‘n onstuimige tussenverkiesing in Frankfort en onder meer op 17 Februarie 1936 vir ‘n hoofberig gesorg met die volgende stapel opskrifte: Vroue moet met stoelpote orde herstel op Villiers/Smelters se aanslag op verhoog dadelik gestuit/Skokkende wanordelikhede/Oorweldigende Nasionale gevoel, moedige vroue-optrede ontketen.

Baie kort? ‘n Persoonlike grappie tussen hom en wyle Oom Skakel Kriek, wat in daardie tyd nuusredakteur by Die Volksblad was (later o.m. redakteur van Landbouweekblad) was dat laasgenoemde die latere premier en president gou-gou sou aangeraai het om liewer ‘n ander loopbaan te volg.

In my boekie Flaters en Kraters het ek die grappie genoem, met die doel dat dit as humoristies opgeneem moet word. Botha het dit as “vernederend” ervaar en my kop in ‘n telefoonoproep uit George behoorlik gewas.

Later het hyself tog in ‘n koerantonderhoud gespot hy was nie juis ‘n joernalistieke ster nie – “toe word ek maar ‘n politikussie”. Van Deventer is egter nooit vergewe nie. Ces’t la vie! (HvD)