OLYFIES, HIER KOM EK – VIA BLOEM!

More uit Melkbos

Met die wondere van die nuwe tegnologie kry ek deesdae in Sabiepark gereeld wenke oor waarnemings van die Groot Vyf in die Krugerwildtuin. Caroline Pols van Heerhugowaard in Nederland, ook ‘n Sabieparker, word op die hoogte gehou op haar Blackberry en “forward” vir ‘n vale. Dankbaar het ek vir haar ná die jongste vakansie laat weet: Dit werk, hoor!

Heerhugowaard, Sabiepark, Kruger-wildtuin – dis ‘n lang, lang ompad, maar nou-ja, ons leef in ‘n nuwe wêreld. Eweneens met so ‘n lang ompad ken ek nou die roete na die Goedgedacht-olyfplaas teen die hange van die Kasteelberg.

Amanda Groenewald van Naln in Bloemfontein het my blog raakgelees oor die spesiale olyfboom wat Ou Mutual op my verjaardag geplant het, en my ingenome versugting om my boom te gaan opsoek – as ek net die presiese ligging kan bepaal.

Bloemfonteinse meisies laat nie gras onder hul voete laat groei nie. Amanda laat weet: “Ek het dadelik op Google gaan kyk of ek die plaas kon opspoor. Kon dit nie via Google.maps kry nie, maar die gewone Google vir soektogte het wonderlike resultate opgelewer. Die plaas is aan die Riebeeckrivier, Malmesbury-distrik (sommer op ons drumpel dus!), geleë. Klik net op die onderstaande skakel vir volledige verwysing (ook in Afrikaans) na die plaas. Dit bevat ook die GPS-koördinate:

http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=13&Itemid=31

Die plaas se kontakbesonderhede kan hier gevind word: http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_contact&Itemid=3.

“Let net op dat die plaas se telefoonlyne gesteel is (die plaas is beslis in die Nuwe Suid-Afrika geleë – ha, ha!). Die plaas kan nou slegs per e-pos of selfoon bereik word.

“Allerlei ander interessanthede is op die plaas se webblad te siene: www.goedgedacht.org.za. Gaan kyk gerus.”

Amanda vestig die aandag daarop dat hulle ook ander projekte het, o.a. “Wonderbags”, wat deur knap naaldwerksters gemaak word. Die “Wonderbag” is ’n ronde, groterige sak, gesny uit twee materiaalsirkels. Die sirkels word gevul met polistireenkorrels en heel bo met ’n toutjie toegetrek. ’n Mens kook eers vir sowat 10 minute jou kos op ’n stoof of vuur en plaas daarna die pot in ’n Wonderbag. Sit die sak se hoed op, trek die toutjie toe en laat staan alles vir so ’n paar uur. Jou kos word in hierdie tyd op ’n baie omgewingsvriendelike wyse gaar sonder enige verdere elektrisiteit, hout, paraffien of wat ook al.

“Die sak is net die ding vir kampeerders, selfs vir reisigers,” meen Amanda. “As ’n mens na ’n lang rit by jou bestemming kom, is jou kos al gaar. Dink net aan ’n Sabiepark-besoek. Na ’n rit deur die wildtuin is almal seker lekker honger. Mev. Van Deventer hoef nie nog in die kombuis rond te spring en vir almal iets te ete te maak nie, want die kos al klaar gaar as julle weer terug is by Wildevylaan.

“Die ‘Wonderbags’ is veral van groot nut vir arm gemeenskappe, wat van vuur en paraffienstofies gebruik maak om kos te maak. Dink net hoeveel bome word in die proses gespaar. ’n Mens kan ook via Goedgedacht se webblad geld aan ’n arm gesin skenk sodat hulle ’n ‘Wonderbag” kan kry.

“Goedgedacht beweer dat as ’n mens hierdie sak drie keer per week gebruik, kan jy sowat 13 kWh per week spaar, òf 1.6 liter paraffien én dat dit slegs 500 g koolstofdioksied per jaar vrystel. Laasgenoemde wil gedoen wees!

“O ja, die pot moet verkieslik van aluminium wees. Geen gietysterpotte en potte met ’n koperboom nie omdat hulle die Wonderbags sal brand. Kyk gerus op hierdie skakel (onderaan is daar ook ’n Afrikaanse brosjure om af te laai):

http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=54&Itemid=172

“Die plaas het inderdaad wonderlike projekte, nie net olywe nie.”

Dankie, Amanda, die ou gryse staan as ‘t ware voet in die stiebeul Grootgedacht toe. Gaan beslis nie net olywe en olyfolie koop met die Goedgedacht-eitiket op nie, maar bring ook ‘n “Wonderbag” saam tuis toe. Om met minder moeite steeds lekker te eet in die liewe Sabiepark! (HvD)

HUNKERING NA ‘N HEIMAT

More uit Melkbos

Elkeen het maar ‘n hunkering na ‘n heimat. Nie almal kan dit só beeldryk verwoord nie:

Hy wat sy dors by die pomp geles het,
sal terugkom vir ‘n tweede keer:
die brak gaan in die bloed sit
en die sout dors weer en weer.
Hy wat snags sy geklop gehoor het,
sal die stilte nooit só weer hoor,
sal altyd soek of hy iets verloor het
en terugloop op sy spoor.

Die digter is M.M. Walters, die Swartland se beroemdste woordkunstenaar, na my wete.

Ek loop die vers raak in Walters se uitsonderlike reisboek Die Swartland is my Tuisland, wat in 1990 deur Perskor uitgegee is. Thys Slabber van Melkbos, boer van die Swartland en seun van die Slabber na wie Slabber se Klippe op Melkbos se strand genoem is, het dit vir my geleen. Hy ken my voorliefde vir dié lang Swartlander se werk.

Die subtitel van die boek is: ‘n Nostalgiese reis deur M.M. Walters. Die boek is, soos op die agterflap gemeld, ‘n historiese reis deur die Swartland se vroegste geskiedenis, asook ‘n geografiese reis, en, derdens, ‘n reis in die verbeelding, ‘n nostalgiese terugkeer, vol heimwee, na die Swartland van sy jeug in woord en beeld.

Van die Swartland wis ek so plus-minus niks totdat ons in 1997 hier op Melkbos kom nesskrop het. Toe word Malmesbury, minder as 40 kilometer ver, skielik vir ons ‘n soort “hoofdorp” waar veral amptelike besigheid – ID-boeke, paspoorte, rybewyse en dies meer – flink afgehandel kan word. Vele Melkbossers ry met CK-registrasienommers.

Skielik ontdek ons toe, op ons voorstoep as’ t ware, die skoonheid van golwende groen koringlande, glimmend in die son; van heuwels oortrek met wingerd, ruie bossieveld, troppe beeste en vetstertskape, ‘n taal van sy eie – niemand “bgei” mos soos ‘n Swartlander nie – en die hemelse seereuk wat sommer diep in die binneland inreik as die winde reg waai en die getye saamspeel.*

Die Swartland se koring noem Walters die streek se “goue kroon” – en gespikkel met lappe ganola-geel maak daardie kroon ‘n uitstappie deur die Swartland se agterpaaie hier kort duskant oestyd in die vroegsomer inderdaad koninklik. Ná dorstyd, as die koringlande gestroop lê van hul winterglorie, breek die wingerd se malse groen deur. Waarlik ‘n plek vir elke seisoen!

Die Swartland is my Hartland, sou my persoonlike keuse vir die titel gewees het (ek hou van rym), maar dit is seker te voorspelbaar. Buitendien: Tuisland en Thys se land (Walters se voorname is Matthys Michielse) speel mooi op mekaar in.

Lees egter weer die vers hierbo. Die emosie is mos nie geografies ingeperk nie. Nee, dit gaan oor grense heen om elke tuisland (of hartland) in herinnering te roep: daardie spesiale hartsplek wat elkeen “altyd bly soek of hy iets verloor het” en waarheen hy altyd “terugloop op sy spoor” – of die water nou brak of soet is.

My geboortekontrei, Babanango in noordelike Kwazulu-Natal, is vir my so ‘n plek. Pretoria waar ek vyf goue jare lank op Tukkies was, is ook een. Bloemfontein is, ná twee gelukkige skofte van 12 jaar elk in die Rosestad, ‘n derde een. Hul waters roep my.

Maar Melkbos en die Swartland op sy drumpel – dié het in die afgelope 13 jaar ook vir my goed laat verstaan waarom M.M. Walters sy hart oor dié streek en die bekoring van koring só digterlik kan uitstort.

* Oor die kenmerkende verfrissende Melkbos-seereuk, hoor ek by ons een dominee, Francois Hanekom, ‘n wonderlike teorie. ‘n Oseanograaf het aan hom verduidelik die koue see ruik hier só sterk omdat dit soveel suurstof genereer. Melkbossers is só gesond omdat hulle só gesond asemhaal!

Kom nou, bemarkers, hier is jul kans om ons sjarmante Weskusdorpie (Koeberg en al) opnuut op die kaart te sit! (HvD)