Apr 18, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
“Nieman Reports”, tydskrif van Harvard se Nieman Foundation for Journalism, het vir sy “spring edition” ‘n sarsie Amerikaanse oud-redakteurs gevra wat sal hulle verander as hulle weer in die stoel sou sit.
Vandat ek in 1977 by Harvard weg is, lees ek “Nieman Reports” met aandag. Daardie ouens doen ‘n lot dinkwerk vir elke uitgawe. Die betrokke uitgawe het my uitermate geboei. Die eerlike gevolgtrekking waartoe ek gekom het, is dat ek nie met ambisieuse skemas of grandiose visioene weer in my ou stoel sou gaan sit nie. My resep sou eintlik doodeenvoudig wees.
Ek sou elke dag alles inwerp wat ek kan; vroeg kantoor toe gaan, laat loop; elke uitdaging wat op my lessenaar kom, my beste aandag gee; baie dink oor my koerant; self die voortou probeer neem met kreatiewe insette oor inhoud en aanbieding.
Ek sou ‘n bloudruk van die ou HvD probeer wees, soos ek myself gesien het. Onopwindend? Helaas, ja – vir die nuwe generasie slimkoppe met die wonderlikste verbeeldingsvlugte, moet dit seker maar vervelig klink. Ongelukkig is dit maar soos my ou gryskop werk: doen die basiese reg, die res sal vir jou bygevoeg word.
Wil darem byvoeg dat ek nie so ‘n uitnodiging sou aanvaar as ek nie die volle vertroue van die direksie en topbestuur (en natuurlik die redaksie) sou geniet nie. Vergeet dit dat ek vir voorskrifte – selfs “taktvolle” suggesties – te vinde sou wees. Die redakteur sou die redakteur wees. Die man met die laaste seggenskap oor sy produk. Die baas. “The buck stops here”.
Ek sou ook aandring op die voortsetting van die joernalistieke waardes wat ek steeds aanhang, twintig jaar nadat ek die deur van die mooi Volksblad-redakteurskantoor met sy kiaat-houtpanele in April 1992 vir laas agter my toegetrek het. Die nuwe benadering van onderdanigheid teenoor die “korporatiewe beeld” – soos ek sekere nuushanterings takseer – sou by die venster uitvlieg. Ek sou oor die binnewerkinge van die Pers (wel, deesdae is dit mos Media24) openhartig en vrymoedig wou rapporteer.
Die Liza Albrecht-storie (haar weggaan onder ‘n wolk en haar opgewonde mededeling nou dat sy met die Vrystaatse Universiteit oor ‘n pos “onderhandel”) sou ek bepaald ingrypend anders gehanteer het as die redakteurs en joernaliste van die nuwe millennium.
Ook in die hantering van ander nuus sou outydse waardes geld: slaan die groot storie hard, maak die skouers oop, maar strewe na korrektheid, billikheid en ewewig. Met Joost se indiskresies sou my koerant byvoorbeeld nie tegelyk rapporteur en aanklaer geword het nie. “Rapport” het dit verkeerd gehanteer deur self deel van die storie te word. Punt. Uit-en-uit reklamemakery vir mense soos Pieter-Dirk Uys se “shows” sou snippermandjie toe gaan, nie op die voorblad kom nie.
Absoluut niks nuuts onder die tweede redakteurskap van HvD nie? Wel, seker tog iets. Meer as wat my inklinasie destyds was, sou ek waarskynlik kreatiewe toekomsdenke hopelik nie weer as my persoonlike domein beskou nie. Ek sou my mense meer aanmoedig om hul gedagtes vleuels te gee, en sou graag in die posisie gestel wou wees om hulle daarvoor te beloon, veral oor aspekte soos al die digitale uitdagings wat dalk ietwat bo HvD se vuurmaakplek is.
Maar ek sou in die eerste plek redakteur van my koerant wees. Die gedrukte weergawe sou my eerste en laaste “liefling” wees. Geen mens kan twee here dien nie, en wie op twee stoele probeer sit, val dikwels tussen al twee deur kaplaks op die grond.
Natuurlik sou die huidige base so ‘n ou tradisionalis, verknog aan outydse denke, nie eens vir ‘n redakteurspos oorweeg nie. Ek kan nogal aan ‘n paar mense dink wat taamlik verlig sou wees dat ‘n tweede HvD-skof ‘n ondenkbaarheid is en sal bly.
Naskrif: Na my destydse blog oor haar skielike verdwyning uit die Media24-firmament het Liza Albrecht taamlik onstoke soos volg gereageer: “Eerstens: My dienste by Media24 is nie ‘getermineer’ nie – ek het bedank. Tweedens: Ek begin op 1 April by ‘n ander mediamaatskappy werk. Derdens: Die reeds-getekende bedankingsooreenkoms wat deur Media24 aan my voorgelê is, dwing my tot stilswye tov die redes vir my bedanking. Ek hoop u vergewis u hiervan voordat u voortgaan om agterdog te saai.”
Niks wat ek destyds geskryf het, is deur me. Albrecht se reaksie verkeerd bewys nie. Ek staan steeds by elke woord. Haar mededeling oor die moontlikheid van ‘n pos in Bloemfontein werp in elk geval interessante lig op haar “tweedens”. Wat het dan geword van daardie 1 April-storie?
(HvD)
Jan 30, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Skrywende as een van die familie-in-die-tronk-garde wat die huidige generasie joernaliste betref (hulle weet van ons oues, maar erken nie graag die band nie!) moet ek waak om nie, as die kans hom voordoen, my te skerp oor vreemde hedendaagse praktyke uit te laat nie. Ek vermy graag die indruk dat ek byltjies slyp. Daarom probeer ek my betoog besadig stel.
Iemand moet egter die fluitjie blaas oor die onbehoorlike muur van stilswye ná die skielike terminering in raaiselagtige omstandighede van me. Liza Albrecht se dienste by Media24. Dié swye het ernstige moreel-etiese implikasies vir veral Afrikaanse koerante – die dagblaaie én Rapport.
Me. Albrecht is immers ‘n groot vis in die bedryf wat in November 2008 met fanfare op 34-jarige leeftyd bevorder is tot eerste vroulike redakteur van Rapport. Onthou, selfs die gedugte Rykie van Reenen was net redakteur in waarnemende hoedanigheid. Skaars drie jaar later is me. Albrecht onseremoniëel uit die redakteurstoel geskuif en het sy hoof van die Afrikaanse koerante se digitale platform geword. Die koerante se internet-aanbod sou voortaan haar nuwe verantwoordelikheid wees.
Oornag is dié hoëprofiel-dame egter nou ook uit haar nuwe pos, en sak en pak weg by Media24. Fluisteringe raak redelik algemeen oor die een of ander “insident” met ‘n ongemagtigde persmotor. Maar Media24 se koerante rep geen woord. Die verduideliking is dat ‘n “ooreenkoms” met me. Albrecht hul arms afkap.
Oppervlakkig gesien, hou só ‘n komplot van geslotenheid wedersydse voordele in, omdat me. Albrecht se val vir haar én Media24 ‘n diepe verleentheid moet wees. Vir die direksie beteken dit dat die onwysheid van ‘n avontuurlike eksperiment op topvlak finaal aan die kaak gestel is.
Ongelukkig word ‘n vername beginsel egter aangetas as ‘n mediamaatskappy sy eie en senior personeel se verleentheid per ooreenkoms kan verdoesel. Vir nuus geld immers net een maatstaf: nuuswaarde – nooit wie die potensiële slagoffers van slegte publisiteit ken of watter “kontakte” hulle het nie. By vorige geslagte is ingedril dat sulke dubbele maatstawwe ten enemale ongerymd is.
Geneva Overholster, redakteur van die Amerikaanse Des Moines Register, se indiskresies met haar adjudant en die gevolglike dubbele egskeiding is bv. in die 80’s teen haar wens deur haar eie koerant onthul (sien my boekie Flaters en Kraters). Dit is ‘n moeilike maar die enigste eerbare weg.
Kortom: skram koerante weg van interne nuus wat te “sensitief” is, gee hulle hul morele reg prys om oor andere se skandes en skades te berig, soos Rapport, ook in me. Albrecht se skof, nog nooit geskroom het om te doen nie. Jammer om dit so brutaal te stel. Dit is soos dit is.
Handhaaf jy ‘n ander standaard, diskrimineer jy blatant. Gapende afgronde van potensiële misbruik gaan oop. Nou kan ‘n redakteur of een van die gesin bv. van winkeldiefstal aangekla word. Dit kan maar snippermandjie toe, want ‘n presedent van bevoordeling bestaan.
‘n Tweede beginsel is op die spel. Dit is dat geen bestuurder, hoe oppermagtig ookal, ooreenkomste durf aangaan wat die reg van die maatskappy se koerante op publikasie van wettige nuus wegteken nie. Die redakteur moet die enigste finale arbiter wees oor wat hy (of sy) publiseer of nie, anders kapituleer hy (of sy) vir altyd sy (of haar) gesag en geloofwaardigheid.
‘n Klassieke geval in die Suid-Afrikaanse joernalistiek was kort ná die ontstaan van Rapport meer as 40 jaar gelede. Willem Wepener, ‘n redakteur met staal in sy murgpype, moes, met die koerant reeds op die rolpers, sy voet teen Marius Jooste, Perskor se grootbaas, dwars sit. Jooste wou die redakteur verbied om ‘n berig oor Perskor te publiseer, en het geweier dat die rolpers begin draai. Wepener het onwankelbaar soos ‘n rots bly staan. Jooste was die een wat moes kopgee.
Tobie Boshoff, senior redaksielid, se woorde was betekenisvol: ”Vanaand is Rapport gered. As Willem Wepener geswig het, het ek hierdie koerant net ses maande gegee.” Gielie de Kock het verklaar: “Vanaand het ons gesien wie is die baas van hierdie koerant en dit is nie Marius Jooste nie. Vanaand is Rapport gemaak.”
Ek wil nie moedswillig wees nie. Maar ek is bevrees joernaliste wat hulle deur hul besture laat muilband oor kwessies wat diepgewortelde joernalistieke beginsels aansny, bring daarmee hul verbondenheid tot persvryheid in die gedrang. Hoe kan jy duisende woorde skryf, plakkate swaai, dreunsing en toi-toi teen die Regering se “muilbandwet” maar jou eie bestuur se willekeurige inbreuk op die vrye vloei van inligting stoïsyns duld?