LOS DIE LASTIGHEID LINKS!

More uit Melkbos

‘n Langer lys “verduidelikings en regstellings” “versier” vandag Die Burger se bladsy twee as in ‘n lang tyd.

Daaroor veroorloof ek my geen grinnik nie. In my eerste boekie oor koerante se feilbaarheid, Scoops en Skandes (Tafelberg 1993), het ek al geskryf: “Die alewige gejaag van koerante om saktyd te haal, open inderdaad ‘n enorme spul bose gevare van liederlike foute, wat regskape redakteurs in wanhoop uitroepe uit die weer laat maak.”

Ek verklaar ook dat ‘n wakker beskermengel onontbeerlik is om die dreigende slagysters te help vryspring wat elke dag op die loer lê.

Met terugkerende pyn onthou ek verskeie geleenthede toe my eie beskermengel ‘n uiltjie geknip het. Moet my asseblief nie daaraan herinner nie!

Dat koerante nuus misvat, is ook geen onbekende verskynsel nie. Die nie-verskyning in Die Burger gister van ‘n klaarblyklike baasbrein in die renosterstropery wat vasgetrap is met vars horings, druppende van bloed, en miljoene rande aan skynbare bloedgeld in sy besit, is iets wat in die beste koerantefamilies kan gebeur.

Die diefstal van die Oppenheimerjuwele in die jare vyftig uit Little Brenthurst in Johannesburg is byvoorbeeld deur ‘n wyd gerespekteerde Suid-Afrikaanse oggendkoerant as on-nuuswaardig gewag. (Noem liewer nie die naam nie, want ek is bang ek onthou ná ‘n halfeeu verkeerd!)

Die uwe het in die sestigs self die Beatles se aanspraak dat hulle gewilder as Christus is, soos in dit in koerantidioom lui, op die pen geslaan omdat hy dit as godslasterlik beskou het. Dit is snippermandjie toe, liewe vriende, tot konsternasie van ‘n redakteur wat nie kon glo dat sy “oulike jong hoofsub” so ‘n warkop kan wees nie.

‘n Ontsnapte luiperd het in die 70’s deur ‘n toiletvenstertjie vir ‘n pas aangestelde kollega gegrom terwyl die wêreld en sy maat in Bloemfontein op sy spoor was … en die nuwe “koerantman” het nie die gesonde verstand gehad om die insident aan sy verstomde nuusredakteur bekend te maak nie.

Ai, ai … die mens – ook koerantmense – openbaar meermale irrasionaliteite wat ‘n yslike vraagteken oor die begrip homo sapiens laat hang.

Die toets is: hoe reageer ‘n koerant as hy so ‘n “mistykie” gepleeg het? Wat ek aan die voete van my Gamaliëls geleer het en loopbaanlank probeer toepas het, is ‘n beleid van hard terugslaan. Jy span jou beste mense in om te help red wat te redde is. Jy katrol die beste beskikbare kreatiwiteit in om op dag twee die opposisie te troef met so ‘n goeie opvolg dat hulle trane in hul oë kry, en eintlik half spyt is hulle het jou die vorige dag ge-scoop.

Deesdae gebeur dinge anders. Vandag op dag twee is Die Burger steeds sonder ‘n woord oor die polisiedeurbraak op die drumpel van die Krugerwildtuin.

So ‘n beleid van “los die lastigheid links” het ek voorheen ook al rede gehad om te vermoed, juis met ‘n vorige swaargewig-renosterstorie. De Wet Potgieter het in die koerant New Age die nuus gebreek dat ‘n uiters bekende veearts en bewaringskundige deur die polisie gegryp is oor die beweerde verskaffing van spesiale moeti vir die stropers se doofpyle. DB had niks .. en die volgende dag weer niks … en die volgende dag weer niks. ‘n Week later was daar ‘n onbenullige beriggie op ‘n binneblad versteek.

Sou dit wees omdat die Wildtuin se renosters nie Stormertruie dra nie?

(Naskrif: Dalk was die renosterstorie in ander uitgawes van DB. Ons Melkbossers was vir ons inligting egter van ander media afhanklik.) (HvD)

HOERE VIR DIE KONING!

More uit Melkbos

Met die Wit Trein op pad na die noorde, stop Koning George VI – die ou wat so pynlik gehakkel het (sien die fliek The King’s Speech) – in 1947 op Beaufort-Wes.

Die Cape Times wil toe ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring, maar ‘n ontbrekende kappie op ‘n “e” laat die stomme Engelse verslaggewer in ‘n gat trap. Hy berig, en sy koerant sit dit in die opskrif op die voorblad, dat die skare sy majesteit begroet het met krete van: “Hoere, hoere, hoere vir die koning!”

Ria Briers van die Goodwoodmuseum het my genooi om Dinsdag by ‘n werkwinkel oor humor van die ligter koerant van die joernalistiek te kom vertel, en die hoerestorie was een van dié wat ek opgedis het. Van my beste stories oor koerant-mistykies was al in hierdie blog ná die Woordfees op Stellenbosch. Hier’s, as toegiffie, darem nog twee of drie:

Gladys Steyn, laaste Sap-kandidaat in die Vrystaat, val uit in ‘n verkiesing. By Die Volksblad sit ‘n subredakteur met diaboliese dubbelsinnigheid die volgende opskrif op die berig: Gladys sit pot mis; hele Vrystaat Nat.

‘n Korrespondent van Die Volksblad berig uit die platteland¨ “Die bruid het pragtig in haar vertrek-uitrusting gelyk: ‘n ligblou gabardienpakkie met bypassende jassie. Albei is plaaslik goed bekend.”

‘n Ander ene, ook van die platteland, skryf: “Jannie Marais en Sannie Smit is Saterdag getroud. Dit beëindig ‘n lang vriendskap wat op skool begin het.”

Die opskrif was darem nie “Kwaaivriende” nie!

By die werkwinkel in Goodwood het prof. Frank Hendriks van UWK gepraat oor streeksvariëteite van Afrikaans. By hom leer ek toe die pragtige Boesmanlandse woord vir geslagsryp: “kweperbekwaam”.

Prof, Sandra Swart van Maties het ‘n akademiese dissertasie kom lewer oor “The laughter of the Afrikaner, towards a social history of humour”. Ek het nie geweet ‘n mens kan oor humor in die Anglo-Boereoorlog só filosofies-diepsinnig (maar boeiend, hoor!) praat nie. In my tyd was professore glad nie so jonk en aantreklik nie. Ook maar goed so!

Die uitgewer Danie Botha, onder andere redakteur van my tweede boekie, Flaters en kraters, het heerlik gepraat oor “Die lewe en humor van Fanus Rautenbach”. Hy weet dit nog nie, maar ek het by Melkbos kom aanbeveel dat ons hom hier MOET kry. Wie soek nog ‘n goeie spreker oor ‘n gewilde onderwerp?

In Die Burger was ‘n berig oor die werkwinkel, verrassend en nie op meriete nie, versier (?) met ‘n foto van die uwe in aksie (hierbo).

Die plaaslike grapjas, Danie Krynauw, stuur na aanleiding daarvan vir my die volgende boodskap: “Hennie, ek gee toe vanoggend vinnig die koerant vir Koos (gemeenskaplike vriend) en klim in die motor. Ek draai die ruit af en sê dat hy moet kyk daar is n foto in van Hennie van Deventer.

Koos: ‘In verband waarmee?’

Ek : ‘Hy is glo gevang vir dronkbestuur.’

En toe trap ek die petrol en ry weg… Groete, Danie.”

Die bokker, en dis nie eens so vreeslik vergesog nie! Gelukkig verskyn die woord “humor” in die opskrif langs die foto! (HvD)