SONDER ‘N DRAAD

Middag uit Melkbos

My blog-argief was nog nooit nuttiger nie as toe Elna Smit, voorsitter van Melkbos-gemeente se Silwerkragvereniging, my Woensdagmiddag hande in die hare kontak.

Weens Eskom-aktiwiteite kan die orkes wat sou musiek maak, nie meer Donderdagoggend hul klankstelsel koppel nie. Kan ek asseblief kom help red? Wel, ek kan nie musiek maak of sing nie (wens ek kon), maar ek voel dit my ridderlike plig en het darem oor die 900 blogs in my argief. Kan seker gou ‘n paar storietjies opdiep.

‘n Storie wat Tokkie dadelik uit die kombuis aanbeveel, is in my blog van 23 Januarie 2013, Boudjies in die bos. Dis die storie van ‘n dame (?) se penarie op die S4 in die Krugerwildtuin toe ons haar met haar G-string op haar enkels betrap. Ek is dadelik entoesiasties. Ek en Elna besluit saam op die tema: DIE NAAKTE WAARHEID. Dan kan ek by die boudjiestorie ook enkele ander anekdotes oor ongemaklike oomblikke sonder klere vir dese en gene aanhaak – die uwe helaas ingesluit.

Van padstorie spring ek na twee badstories. Een keer het die Buurtwag uit pligsgevoel sy intense lig aanhoudend op my en Tokkie, weerloos kaal, in ons hoekbad laat skyn(16/2/2012). ‘n Pragtige jong besoekertjie is weer deur Ceres se aardbewing uit haar gasheer se bad gejaag met net ‘n waslappie as enigste bedekking (Uit Praat-Praat in Tamatiestraat, maar ook iewers in ‘n blog vermeld).

Daarna kom kaalbas-kirpatse in die swembad aan die beurt. Ek kan die Silwerkraggers inlig oor ‘n gesiene egpaar se nagtelike avontuur in ‘n onderdak-swembad in Zell-am-see, Oostenryk (Oos, Wes – Reismoles en ook iewers in ‘n blog). Ook oor ‘n vriendin, Alet van Dyk, se verleentheid op Aliwal-Noord. Toe sy vroeg in die huwelikslewe met ‘n Indiaanse kreet sonder ‘n draad by die deur uitstorm vir ‘n roetinekuiertjie in die koel water, sit haar man en ‘n kuiergas op die stoep grootoog die petalje en aanstaar (27 November 2008).

Langs die swembad kan dinge ook erg skeef loop, soos die bruid wat op die wittebroodsdae van haar tweede huwelik in Quebec, Kanada die bostukkie van haar Playboy-bikini al huppelende op ‘n trampolien verloor (17 April 2008).

Vir moleste by die see gaps ek uit Sakkie Perold se Glimlag of Grinnik die storie oor die ou wat by Waenhuiskrans deur die branders uit sy broek geskud word, en toe moes ontdek die reddende jêmblik is ‘n blikkie sonder boom (12 Novemer 2012).

Toe’s ‘n halfuur verby – nog net tyd vir twee kort storietjies wat oor ooms se vindingryke planne vir ‘n bietjie loerplesier. Een het meisies uit ‘n plaasdam laat spaander met ‘n witleuentjie oor ‘n “krokodil”. Die ander het sy mooi buurvrou haar handdoek laat afwerp vir die R500 wat hy hy buitendien vir hulle skuld (27 Februarie 2008).

‘n Vraag kan wees of dit nie perdalks ‘n skurwerige onderwerp vir ‘n byeenkoms van ‘n gemeentes se oues van dae is nie? Verneem graag as iemand so dink, maar naaktheid is mos darem van die sondeval af ‘n Bybelse onderwerp en ‘n aanvaarde (?) tema vir grapjastery. Tog ‘n bekende storie daardie ene van die Engelse predikant wat sy preek oor die sondeval onderaan bladsy twee skielik onderbeek. “And Adam said to Eve ….,” lees hy. Blaai om, blaai terug en blaai weer om. “And Adam said to Eve… “Toe bra moedeloos: “There seems to be a leaf missing!”

KAAL IN DIE KERK

Middag uit Melkbos

As matriekseun moes ek drie keer buk vir my laaste, my heel laaste, en my heel-heel laaste pakke slae. Een keer was nogal oor ‘n persoonlike mode-rebellie; die ander twee kere oor uit die koshuis glip vir rugby en vir fliek, laasgenoende in die matriekeksamen,

One o’ clock, two ‘o clock, three ‘o clock, rock – Bill Haley en sy Comets. Lekker!

Die klerekonfrontasie is vir die doel van hierdie skrywe relevanter. Ek is die aand eetsaal toe met ‘n krawat. ‘n Dasvereiste het gegeld. Mnr. Jack Slabber het daardie uitdaging van die klerereëls van Volkies se Jack Pauw-koshuis op die goeie ou Potch nie met welgevalle bejeën nie.

Hy het my dasloosheid as “onordentlik” bestempel, en ek het entoesiasties van hom verskil.

Uiteindelik is ek kamer toe gestuur om my “ordentlik” te gaan aantrek. Ek doen dit toe met mening, en keer terug in my blou dubbelborspak, beste Sondagdas, die lot. Die eetsaal dawer. Mnr. Slabbert – hy leef nog meen ek, maar is al diep in die 80 – word al hoe rooier in die gesig en wys my opnuut die deur.

Ek is daar uit, direk grootpad toe en ryloop toe na my ouerhuis op Klerksdorp (in 1957 was ryloop algemeen), waar ek voorspelbaar nie met ope arms ontvang word nie. Die Saterdag word ek agter in pa se Chevvie Fleetmaster geboender. Die hoof, dr. H.F.B. Muller, ‘n suur vent, wag grimmig in sy kantoor, rottang in sy hand….

Hoekom ek die hierdie storie opdiep? Wel, dis omdat ek iets oor die jeug se respek vir klerereëls op die hart het, en nie wil waag dat iemand my uitvang oor die geraamte in my eie kas in dieselfde verband nie.

Kom ons kry dit dus dadelik agter die rug: mea culpa – ek is ook skuldig. Ja, ek was maar goed moedswillig met die alewige dasdraery, en sal dus skynheilig wees as ek geen begrip vir jeugdige uitdagendheid teen gedwonge konformering openbaar nie.

Maar Hennie die haantjie moes op sy neus kyk – dit was die groot verskil met my pyn van die oomblik. Destyds kon jy ook die reëls uitdaag, maar gewoonlik teen ‘n prys. Vinnig-vinnig het die reëls gewen en jou agterwêreld gebrand.

Vandag is dit vir my of dinge half agterstevoor verloop. Die klererebelle is die oorwinnaars. Trouens, hulle word deur misleide gesagdraers subtiel en onsubtiel aangemoedig om selfs uitdagender te word en hulle al hoe minder aan reëls of standaarde te steur.

By die kerk is die kinders se kleredrag werklik vir die ou gryse ‘n bron van misnoegdheid. Seuns en meisies daag op in klere wat ek liewer nie sal waag om te probeer beskryf nie, buiten om te meld dat dit vir my, en ander ouer mense, soms maar uiters-uiters on-kerklik voorkom.

Ons verwag nie meer dubbelborspakke en dasse of sykouse en lang rompe mie. Maar onstigtelik is dit darem bepaald, soos die meisies gleufies en magies vertoon en die seuns se broeke dreig om oor die heupe grond toe te sak.

Selfs by die formeelste van formele okkasies op die kerkkalender soos Belydenisaflegging en nagmaal lyk die jongklomp meermale eerder na ‘n vrolike spannetjie pretmakers by ‘n informele tiener-uithangplek.

By ‘n onlangse nagmaal het graad 11’s en ouer kinders die brood en wyn uitgedeel. Mooi kinders, oulike idee. Maar mooi aangetrek? Moenie glo nie. Skynbaar was die strewe om so min as moontlik na pligplegers by die viering van die gewyde sakramant te lyk – eerder of hulle toevallig daar opgedaag het.

Die vrolike uitrustings van die spannetjie “informele diakens” is afgerond met ‘n bonte variasie op die tema plakkies – van daardie soort wat jy op die strand aanslof. Dat daar hoegenaamd plakkies aan hul voete was, was egter iets waaroor ons moet dankbaar wees, hoor ek. Dominee het laat glip die plan was oorspronklik om kaalvoet die kerk se gange in te vaar.

Klerekodes geld tog oral – mag jy byvoorbeeld kaalvoet gaan fliek? Of uiteet? Sekere restaurants sal jou gou die deur wys as jy die standaarde te ver probeer oorskry. Party het selfs stelle “moets en moenies” by hul deure opgeplak.

Hoekom is reëls hier aanvaarbaar, maar by die kerk taboe? Dáár “dryf dit jongmense weg,” soos ‘n besorgde leraarsvrou eendag iewers opgemerk het.

Wat die uwe ook nie begryp nie, is waarom kinders hulle vir okkasies soos matriekafskeide en sekere uitspattige partytjies so duur en deftig wil uitvat, maar vir die kerk wil hulle so “kasueel” as moontlik kom – in stranddrag as ‘t ware.

Ag, ek weet ek soek om gebrandmerk te word ….. ‘n regte Koos uit die oude doos, en dies meer. Maar ek wou dit van die hart kry en nou het ek … en voel ek ook sommer minder beswaard.

Meen, waarheen is ons op pad as ouer mense te bang is om vir voortvarende kinders sekere strepe te trek? (HvD)

TE SKURF?

More uit Melkbos

Hoe skurf mag ‘n ordentlike grysaard raak sonder om die grense van stuitigheid te oortree?

Hoop nie hierdie versie word as te skurf geag nie. Dit het, sonder identifiseerbare aanleiding, na ligte uit my kop op die kopkussing uit die bloute te binne geskiet:

Skaam vir hare

Koekie droom sy dans kaal voor ‘n skare,
Ongepla deur al die manlike stare;
Net skaam vir daai kolletjie kroesietjie-hare.

(HvD)