Dec 11, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
Ek wil ‘n e-pos stuur, maar is onseker oor die adres. Moontlik sal ek die teiken tref met iets soos mikedevries@hemel.co.heelal.
Mike de Vries was rektor van Maties en direksielid van Naspers in die 90’s. Toe ek in 1994 die 47ste wêreldkongres van koerante in Wenen, Oostenryk, gaan bywoon het, het Mike vir my en Tokkie ‘n toerplan in fyne detail uitgewerk.
Ons is via die Romantische Strasse in Duitsland (met tradisionele dorpies soos Rothenburg) na die wonderskone Salzkammergut in Oostenryk. In Traunkirchen was ons tuis in die Seepension Zimmermann. Mike het vir ons presies beduie hoe om daar te kom.
Draai hier links, hier regs …
Hy het ook die naam van ons gasheer verskaf, en groete gestuur, wat met welaangename verrassing ontvang is. “O, herr De Vries … “
Oostenryk was Mike se geliefkoosde reiswêreld. Hy het dit soos sy handpalm geken.
Ek is aan die 1994-reis (met ‘n geleende Audi wat ek by die fabriek in Ingolstadt gaan optel het) herinner deur ‘n e-pos van my oud-kollega Goëthe (Ollie) Olwagen met 28 pragfoto’s uit Oostenryk terwyl die innige klanke van Quand le soleil dit bonjour aux montagnes (As die son die berge groet) die siel voed.
Ek kon Tokkie n.a.v. ‘n spyskaart in my foto-album nommer 39 herinner aan wat ons die aand van 30 Mei 1994 in die Hotel Inter-Continental in Wenen vir aandete gehad het. Die beesvleis was “Girardi Style” en die pannekoekies is met suurkersies opgedis. Ek kon haar ook herinner aan ‘n swierige dinee in Wenen se beroemde Rathaus, meesleurende Strauss-konserte en wat nog.
Ek sou haar kon herinner aan ons middernag-kaalbas-kaperjolle in die binnenshuise swembad van ons gasthaus in Zell-am-See. Ons was toe amper twee dekades jonger … Die volgende oggend is ons oor ‘n besneeude Grossglocknerpas in die Alpe, verby duiselingwekkende hoogtes en noutes soos die Hexenküche – gebruik maar die verbeelding.
Van die dorpies op ons roete had onvergeetlike name soos Heiligenblut. Die natuur was onbeskryflik groots.
Waar was ons nie oral nie? Ook in Inssbruck, onthou ek, en natuurlik Salzburg – die stad van Mozart. Oral het Mike paadjies, kuierplekke en oornagplekke in besonderhede aanbeveel.
Hemel, Mike, vanaand is ek opnuut dankbaar. Hoop maar waar jy is, is vir jou ewe sielsaangrypend as die Oostenryk wat jy so lief gehad het en so volledig aan my en Tokkie bekend gestel het. (HvD)
May 23, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Kyk, hierdie ou is lief vir sy wyntjie. As ware wynliefhebbers begin gesels, is dit egter dikwels bo my vuurmaakplek. Die geure van vrugte en neute wat hulle so behaaglik raakruik en –proe, ontwyk my gewoonlik. Wyn is vir my lekker (meesal) of nie lekker nie (by uitsondering).
Ek was die naweek by ‘n kelder wat die klem nie net op die neus, die smaak en die gewone sintuiglike gewaarwordinge van wyn laat val nie. Hy bemark sy wyne met ‘n ietsie ekstra; noem dit maar ‘n speelse sensualiteit.
Die name van sy produkte is al klaar prikkelend: Temptation, The Original Sin, Nymphomane …. Die simbole op sy etikette en brosjures voer die suggestie verder: ‘n naakte eva en die slang, slanke vrouefigure minus hul kleertjies in ‘n ring-a-rosy-kringetjie (kyk die Satyrica-etiket), ‘n dame met bloedrooi lippies by ‘n volmaak-ronde bloedrooi appel – ewe begeerlik.
Die kelder se naam is La Vierge (betekenisvol, die “maagd” in Afrikaans). Hy is in die prentjiemooi Hemel-en-Aarde-vallei, naby Hermanus, gebalanseer teen ‘n hang, omring van wingerd wat in diep herfskleure begin ryp raak. Draai regs, as jy van Hermanus se kant kom, by die Wine Village op die R43 na Kleinmond. Net 6,6 verder km op die R320 “sweef” die wit verdieping-gebou met sy uitnemende uitsig oor die skilderagtige vallei.
La Vierge (spreek uit La Vie-ersj) begroet jou met ‘n ondeunde lewensgroot beeld van ‘n meisie met ‘n rokkie wat doer wip by die trappies van die parkeerplek af. Die wip van die rokkie verklap die geheim van onderkleertjies wat uitdagend ontbreek.
Dit tref jou dadelik: die liefde vir die vrou en die liefde vir die wyn (die wyntjie en Tryntjie van die spreekwoord) loop hier hand aan hand, waarskynlik oor die bekoorlikheid en verleidelikheid wat aan hulle gemeenkaplik is.
Ou vriende, Chris en Annette van Rensburg wat wydsbeen in Bloemfontein en Kleinmond woon, het my en Tokkie aan La Vierge gaan bekend stel nadat ons die vorige middag al ‘n heildronkie met sy sprankelende, droë Cap Classique op die weersiens gedrink het. Die impak was onmiddellik.
La Vierge haal graag vir Oscar Wilde aan, bv. dat “the only way to get rid of temptation is to yield to it.” Hy nooi besoekers met die belofte dat “paradise awaits”.
Gaan oordeel maar self oor die “paradys”-storie. Die prentjie van La Vierge tussen die wingerde is egter diep ingegrawe in my gemoed. Ek kan dink dat as jy jonk is, ‘n wittetjie of rooietjie op die “champagne veranda” wat as’ t ware oor die wingerd sweef, die verbeelding kan laat huppel van die sensasie van nektar op die tong, tot die gevoel van sagte fluweel onder die vingerpunte, tot algemene ekstase.
‘n “Nymphomane-tjie” of twee kan by wyse van spreke tot ‘n “Affaire” lei – nog een van La Vierge se wynname. Maar wag, ek is 70 jaar oud.
‘n Mens besing verskillende kelders om verskillende redes. Vir La Vierge hef ek ‘n loflied aan oor sy ligging in daardie skilderagtige vallei; ook die smaakvolle bewondering vir die fynheid van die vrou en van goeie wyn wat hy so gloeiend uitstraal. Ten derde oor argitektoniese attribute soos strategies geplaasde toilette wat, sittend, die asemrowendste panorama bied.
Chris en Annette verseker dat die kos ewe verloklik en strelend vir die sinne is. Hulle kan oor kos oordeel, want Annette is self ‘n towenaar agter die kospotte.
Maar moenie dink om te swig vir La Vierge se versoekings kom goedkoop nie. Soos elke temptasie het dit ‘n prys – die Cap Classique kos iets soos R130 ‘n bottel. Vir liefhebbers met dik beursies is dit seker nie buitensporig nie, ek weet. Maar ek kan die wete nie uit my kop verdryf nie dat ek Nuy se voortreflike vonkeltjie (‘n vrugtige Sauvignon Blanc) teen R30 ‘n bottel kan opraap as ek tussen Worcester en Robertson reis. (HvD).