Apr 10, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
GENOT in hoofletters. My eksemplaar van Die (100) gewildste Afrikaanse gedigte het van Leserskring opgedaag, en ek verlustig my behoorlik daarin.
Amper van blad tot blad duik ou gunstelinge op: baie wat ek op skool in die hart leer liefkry en uit die kop leer ken het. Eugène Marais, A.G. Visser, Jan F. Celliers, Totius , C. Louis Leipoldt, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers – almal wat die skoonheid van poësie in die jare 50 van die vorige eeu by hierdie seuntjie tuisgebring het.
Die ouer digters oorheers, wat seker te verstane is as ‘n mens na die metodiek kyk. Die koerantbylaag By, Leserskring en RSG het saamgespan om die gewildste gedigte in Afrikaans deur die publiek te laat kies – dit is dus deur en deur demokraties en Opperman se Verseboeke speel waarskynlik geen geringe rol in die samstelling van die erelys nie.
Sowat 1 300 gedigte is benoem, lees ek. Die 100 wat die paal gehaal het, verteenwoordig ‘n klein groepie van 35 digters. Al 35 is darem nie mense van my generasie nie. Ingrid Jonker, Antjie Krog, Breyten Breytenbach en andere maak deeglike buigings.
Geluk, oud-kollega J.C. (Jaap) Steyn, met die insluiting van jou Woord en sin. Ander oud-kollega Pirow Bekker (wat saam met Jaap aan Die Volksblad se subtafel gesit het) ontbreek verrassend.
HvD se persoonlike gunsteling Die dans van die reën van Marais het sewende plek behaal. Toe dit gisteraand voor slapenstyd weer lees … en weer … kon ek nie begryp hoekom slegs sewende nie. Marais se ander juweel Winternag (wat 108 jaar oud is) is darem bo-aan die lys. Sy Sneeuwitjie is ook daar – al is die Racheltjie de Beer-storie volgens oortuigende nuwe getuienis apokrief.
Maria van Elisabeth Eybers is nommer twee; Ma van Antjie Krog nommer drie. Maar wag, ek gaan darem nie al die geheimpies verklap nie!
Arm aan natuurgedigte is die bundel nie. Na my smaak móés o.a. die volgende treffende natuurverse egter beslis ook in die net opgeskep te gewees het: Theo Wassenaar se See-sonnet; Toon van den Heever se Haelwit getapelde wolke, W.E.G. Louw se Vaalvalk (wat sing soos hy draai, soos hy draai) en Leipoldt se Koperkapel.
Waar is hulle? Hoe op aarde het party wat ingesluit is, hulle dan uitgestof?
Maar die keuse was demokraties. En demokrasie is nie perfek nie. Benjamin Disraeli het dit mos al meer as ‘n eeu gelede as ‘n “dodelike lawwigheid” bestempel.
NASKRIF: Moet darem meld dat hierdie my blog nommer 996 is sedert ek in September 2006 met die tydverdryf begin het. Tyd om te besin? (hvd)
Feb 5, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Met Leserskring, RSG en By se soektog na die gewildste gedigte in Afrikaans het ek uit die staanspoor moeilikheid. Wat is gewilde gedigte en wat is mooi gedigte? Is die gewildste gedigte die mooiste gedigte en omgekeerd?
Om ‘n lysie van ‘n mens se eie vyf gunstelinggedigte op te stel, is die volgende groot vashaakplek. Kan ek verse wat deur die jare in verskillende omstandighede my hart geraak het, koeltjies lys en nommer? Jammer, bo my vuurmaakplek.
Vanoggend na twee groot geeste, Joan Hambidge en Kerneels Breytenbach, se keuse op Margot Luyt se program op RSG geluister (Margot, ook van Bultfontein, soos my liewe gade, het, terloops op ons troue op 31 Desember 1966 in Bultfonteinse NG kerk vir ons psalm 121 voorgedra: “Ek slaan my oë op die die berge …” Verheffend!
Hoop Joan en Kerneels vergewe my as ek uit my lekehoek die opinie waag dat hulle ook maar met die seleksie gesukkel het. Hulle wou dalk eerder verteenwoordigend wees – tydvakke, grootste digters, manlike en vroulike verteenwoordiging, daardie klas ding.
Nietemin, hulle had darem Winternag van Eugene N. Maraius op hul lys. Winternag is ook op myne – dalk een van die grootste (en mooiste en gewildste) gedigte in Afrikaans.
In my boekie word Winternag egter deur ‘n ander Eugene Marais-gedig uit die eerste plek gehou. Ek verwys na die weergalose Dans van die Reën (Lied van die vioolspeler Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn).
Dans vir ons , liewe suster, kom dans in daardie prag-Afrikaans:
O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
En haar oge is skaam;
En sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
Haar armbande blink en haar krale skitter;
Saggies roep sy. Sy vertel die winde van die dans.
En sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte, hulle dam op die bulttop, wyk rek hulle die neusgate
En hulle sluk die wind;
En hulle buk om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
En hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
En haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier:
Sy trap af van die hoogte;
Sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
Die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
O die dans van ons suster: meesterlik, meesterlik, meesterlik. Die heerlike reuk van reën op dorre aarde stuif weldadig op in my neusgate, en ek verwonder my opnuut oor die spierkrag van my taal, Afrikaans! Dankie, Eugene Marais! (hvd)