SKOTE PETOORS, JOU RAMKAT-TAAL!

More uit Melkbos

Of Superkok Sarel boerewors braai, vetkoek bak, souskluitjies optower of biltong maak, hy het altyd die een of ander spesiale doepa byderhand. Mapstieks man, sy padkos is iets uit ‘n ander wêreld. Selfs sy slaptjips is superieur.

Nee, hierdie blog gaan nie oor kos nie, wel oor Afrikaans, soos belowe. Die uitdaging wat ek wil stel, is vertaal daardie liplekker-inleiding in idiomatiese praat-Engels. Nie so maklik nie, né!

Al daardie woorde kom uit ‘n lysie van oud-kollega Tom Ferreira van Afrikaanse woorde en uitdrukkings wat hulle nie sommer so woerts-warts in Engels laat omsit nie. Dit, in reaksie op ‘n e-pos van ‘n stuk wat Irene de Bruyn vir die SA Klub in Perth geskryf het.

Irene skryf: “ Although I am now living in Australia, where English is the prevalent language, I still find myself using Afrikaans words and expressions, either because there are just no equivalents in English, or the Afrikaans version is so much more pithy. Often the Australians I speak to are intrigued by the words and find them expressive, even when I give them a censored translation of their meaning. (It depends on the company).”

Sy gee dan voorbeelde soos gril (nie ‘n “mixed gril”l se gril nie!) , sommer, bakkie (in die kombuis en op die pad), voetstoots, dwaal, gogga, moffie, gatvol, gat sien, donder, jol, muti en kak en betaal.

Ek het daardie stuk rondgestuur met die opskrif “Hoera vir Afrikaans!”

Tom se reaksie: Pragtig! ‘n Mens kan byvoeg ….. dan noem hy al die woorde in die inleiding asook onderonsie, dit gaan klopdisselboom, kierang, luilekker, ondeund, niksnut, bossie, fundi, eish, taboe, kweperlat, en aangrypend (“gripping” is nie naastenby so aangrypend nie). Hy voeg ook die klassieke strikvraag by: Hoe vertaal ‘n mens “die hond kruip onderdeur die tafel”?

Ferdie Preller, ou skoolmaat, dra uit Pretoria die volgende by: skuins (dalk “slanted”, “at an angle from”, ens.) drafstap/draffie (nie dieselfde as ”jog” jnie), slenter (werkwoord en naamwoord) , bont/ rooibont (“red speckled”?), randjie (“ridge”, “hill”?) en vaal (beslis nie “grey” nie, nie dieselfde as “drab” nie, dalk iets tussenin.)

Eric Wiese, ook ‘n oud-kollega noem die woord vaak. “Lekker woord. ‘n Kind is vaak. Dis nie “tired” nie, dis nie “sleepy” nie. Dis vaak.” Aldus Eric.

Suné Greeff, mede-Sabiepark-eienaar, se bydrae is die woord bolangs, soos in bolangs skoonmaak.

Verdienstelike pogings die hele lot, meen ek. Ek beveel almal graag aan vir die lys wat iemand iewers skynbaar besig is om op die internet saam te stel en waarop tot dusver o.m. die volgende verskyn:

Van Irene de Bruyn self: jou bliksem, wag ‘n bietjie, nie so haastig nie, sakkie-sakkie, ou swaer, ja-nee, doedoe en doeks.

Van ene Rosie: naar (letterlik “bilious” maar ook “horrible”, “nasty”, “terrible” ens.), tjoepstil, moerse, morsdood en vrot.

Van ene Gavin: drol (“turd”, soos in daar’s ‘n drol in die drinkwater – “a turd in the drinking water”)!

Die uwe gooi graag ook ‘n paar in die pot. Sommer in die bondel is my kandidate: bleeksiel, wasbleek, wiktgeskrik, doodmoeg, potblou, hemelsblou. muisvaal, skreeulelik, spiertier, penorent, koekerig, rot en kaal, oumeide met knopkieries, op die koffie en pimpel en pers, plus ‘n paar uit die natuur: duiker, wildebees, klipspringer, kruidjie-roer-my nie, haak-en-steek en piet-my-vrou.

Kan nie al wees nie, kan dit? Lekker speel met jul eie lysies! (HvD)

DURE MANIERE

Middag uit Melkbos

‘n Joernalis se gevoeligheid vir sy lesers en vir dinge wat hul hartsnare sal aanraak, verklap sy of haar stoffasie. Party het daardie spesiale aanklank. Ander het dit eenvoudig nie. Een van my generasie wat dit gehad het, is Johan van Wyk. Een van die huidige generasie wat hiermee uitmunt, is Dana Snyman.

Sy Burger-rubriek in netjiese Engels om Engelse oor die vingers te tik oor hul onwilligheid om Afrikaans te praat, was weer ‘n Dana-treffer. Ditsem, Dana, hoor jy uit alle oorde. Ander rubriekskrywers klim ook in, sien ek. Dis ‘n groot kompliment. Gewoonlik wil elkeen sy of haar eie ding op sy of haar eie manier doen.

Dana slaan natuurlik die spyker kadoef op die kop – maar ek wonder of ons Afrikaanspraters nie gerus maar in ‘n groter mate hand in eie boesem kan steek nie. Is die hele skeefgetrekte praatpatroon in ons land nie maar grotendeels ons eie skuld nie? Ons laat ons Engelse landgenote immers begaan in hul dwarsheid. Ons slaan alewig oor in hul taal. Ons laat toe dat die teenwoordigheid van een van hulle ons so intimideer dat ons met mekaar “is” en “are” en “have” en “has” selfs wanneer dit nie regtig nodig is nie.

Mense, ons goeie maniere/bedagsaamheid/hoflikheid kos ons duur. Dit word skynbaar as ‘n kruiperige soort minderwaardigheid beskou. Dit word opportunisties misbruik en uitgebuit om ons “hairy backs” op ons plek te hou.

Wens iemand wil ‘n kampanje begin om die onding uit te roei. Ons moet vasbyt en Afrikaans bly praat met mense wat Afrikaans behoort te verstaan. Ons moet Afrikaanse gesprekke rustig in Afrikaans bly voer as die meerderheid in die geselskap Afrikaans verkies. Ons sal sien hoe vinnig sal ons die styfste van stywe bolippe laat skeef opkyk.

Op my lysie is vyf of ses voorkeurkandidate wat ek graag sal wil skud deur nie, soos hulle al gewoond geraak het, my beste Engelse voet voor te sit as hulle in die nabyheid is nie. Maar, alla kragtie, wat is dit dan dat ek so huiwerig is om hierdie stuk broodnodige “regstellende aksie” dadelik aan te pak?

Dis pure vrotsigheid waaroor ek my in my binnekamer skaam, vrees ek.

Naskrif: In private e-pos-korrespondensie het verskeie vriende hulle die laaste paar dae verkneukel oor die lang lys Afrikaanse woorde wat ‘n ding pront, kort en kragtig, skerp en treffend kan sê terwyl jy in Engels sal moet rondtas na ‘n omhaal van woorde om naastenby dieselfde oor te dra. Juweeltjies het na vore gekom. Volgende blog gaan weer oor ons besonderse taal, waarop ons gerus maar trotser mag wees as wat uit ons kop-onderstebo-igheid blyk.