Kiekies, negatiewe, bruin koevertjies … waaoor yl die ou man tog vandag? Ja, ek hoor hier in my Lazyboy in die hoek van die woonkamer op Melkbos die jongklomp se wysneusige kommentare.Maar ek kan uithaal en wys.
Op die foto is die bruin koevertjie waarna ek hierbo verwys. Lees ‘n bietjie op hom:
“Terwyl u die negatiewe byderhand het…”
“Beter kiekies met Kodak-film.”
“Vergroot jou beste kiekies. Dis uitstekende geskenke.”
Ek tref mev. VanD – dis nouTokkie – flussies met die koevertjie in die hand aan. Beste van alles: binne is seker 100 negatiewe van foto’s uit haar en wyle broer, Fanie, se kinderdae en later.
Sy kry dit by skoonsuster Maretha. Fanie is 10 jaar gelede in die aftree-oord Klaradyn in Brackenfell, Belville, oorlede. Hy was toe 77. Tot met sy aftrede was hy skoolhoof op Harrismith.
Hy was ‘n man van vele ambagte en talente, daardie swaer van my. Hy was onder meer ‘n versamelaar sonder weerga. Niks maar niks het hy laat verlore gaan nie.
Fanie was versot op sy boeke, veral oor die Anglo-Boere-oorlog (ABO). Dalk was sy boeke die naaste aan sy versamelaarshart. Of dalk sy waardevolle skilderye. Hy het seëls ook versamel – en uitsoekwyn, en plate, en knipsels oor vele onderwerpe. Hy het selfs ’n klomp outydse penpunte (daardie wat jy in die botteltjie ink gedoop het) in sy laai gehad. Trouens, wat het hy nie versamel nie?
Fanie het bowenal vriende versamel. Die Vriendelike Fanie het maklik nuwe maats gemaak maar ook die kuns geken om ou vriendskappe in stand te hou. Hy was iemand wat ’n mens in ’n goeie sin kan noem ’n allemansvriend. ’n Mens-mens wat as storieverteller uitgeblink het, met ’n aansteeklike geesdrif, humor, jovialiteit en lewensvreugde wat dit altyd lekker gemaak het om in sy geselskap te wees.
Met Fanie se heengaan is Klaradyn se medisynekas van een van sy belangrikste tonikums beroof. Sy opgeruimdheid, luimigheid, spitsvondigheid, sêgoed en stories kon sekerlik nie anders nie as om die mense rondom hom op te beur.
Hoeveel herinneringe maak daardie koevertjie nie los nie! Pure goud.