
Ons vuurdoop met ‘n leeu in Sabiepark.
“Ingebore moorddadig en astrant, met al die toebehore van nagvisie, tande, naels, lis en nuuskierigheid”. Dié kleurryke beskrywing van leeus was die van ‘n kundige studentemaat. (wyle) Piet Henning van Chiredzi en Louis Trichardt.
‘n Waarskuwing dat leeus in Sabiepark is – selfs een leeu, soos op die oomblik – kan nie ander nie as om tegelyk opwinding en lugtigheid te skep. Jy wil die indringers /indringer graag sien, maar liefs beskut in jou motor of deur ‘n venster van jou huis.
Japie en Marita Louw van Grabouw, eienaars van 145, was te voet toe hulle hulle in leeu se kind vasloop. Hulle stap enkele jare gelede met Apiesdoring af piekniekplek toe. In Wildevy draai hulle links. Voor hulle in die driffie is ‘n leeufeesmaal aan ‘n jong sebra in volle gang. Die twee het vinnig geretireer. Dit was dalk die naaste mens-leeu insident binne die park.
‘n Bloemfonteinse vriend, wyle Ronnie Schoombie van Meiringspoort, erf 267 uit Wildevy, het hom yskoud geskrik toe hy op die ou wandelpad langs die rivier stoksielalleen ‘n leeuwyfie ontmoet. Die verbouereerde Schoombie vlieg om en dra sy knieë. Die leeu gee toe ewe vinnige pad – darem in die teenoorgestelde rigting!
Steven James-hulle van Abu Dabi het op besoek gekom met ‘n span voëlkykers. (Sy rekord vir ‘n dag was in ‘n stadium 146 verskillende geveerdes, meen ek. Die eerste Sabieparkvoëlgids was sy baba.)
Al soekende na voëls, loop Steven en sy span hulle toe op ‘n Sondagoggend op sy erf, Hogwards, erf 271 in Wildevy teenaan die Sabie, in ‘n leeu vas. Hy spring eenkant toe; die leeu, ewe verskrik, anderkant toe. Gerrie van Niekerk, destydse parkhoof, en sy mense word dringend ontbied. Hulle het skaars die leeu verdryf, toe rig Steven al weer sy allemintige verkyker op die boomtoppe
Sabiepark se grootste kollektiewe leeuskrik was in 1982. Met die park vol sorgvrye naweekbesoekers, vly ses leeus hulle op ‘n Saterdag op die trappies van die klubhuis neer. Hulle is lus vir ‘n troppie blouwildebeeste op die groen gras voor die gebou. Vir 90 gespanne minute word die park daardie oggend ‘n “jagplaas”. Vier leeus word in die bosse rondom die kantoor vasgekeer en doodgeskiet.
Mettertyd het Sabiepark “makker” geraak. Leeubesoeke het egter nie opgehou nie. ‘n Opportunistiese leeuin het selfs een nag in ligte reën op die kantoor se stoep kom skuiling soek.Op ‘n dowwe nagfoto sien jy net oë blink. ‘n Jongleeumannetjie het, op sy beurt, feitlik by ‘n huis se voordeur oorverdowend gebrul. Die vensters het gerittel en -bewe.
Vars in die geheue van die ouer garde is ‘n hardnekkige leeubesoek in die winter van 1999. Vyf leeus vertoef vyf weke – die langste beleg in die geskiedenis. In daardie tyd vreet hulle ‘n pad deur “ons” wild.
Die vrypostige vyf kom les hul dors een aand by ‘n sementdammetjie skaars tien meter van die braaiplek van Loeriebos, erf 334 in Wildevylaan, waar die desrydse baas, Dup du Plessis, houtgerus by sy braaiplek sit terwyl sy vrou, Minnie, in die kombuis werskaf.
Die volgende dag stap ek saam met buurman Dup (Loeriebos, nou Idube, is skuins oorkant Tarlehoet) na die oorblyfsels van ‘n jong kameelperd wat naby die dammetjie platgetrek is. Twee wyfies draf vlakvoor ons neuse verby – ‘n “ligte” skokkie!
By Tony Zimolong se braaiplek, ‘n entjie verder oos, voer dieselfde leeus net 15 meter van ‘n groupie verskrikte braaiers al grommend ‘n skynstormloop uit. Die grensdraad is gelukkig tussen hulle en die gevaar.

En as hy skielik wakker skrik?
Die leeu-vuurdoop van die Van Deventers was op 24 Junie 1998. ‘n Wandeling in Wildevy word deur die ontdekking van onmiskenbare leeuspore kortgeknip. Later spoor ons – darem per motor dié keer! – ‘n wyfie in Rooiboslaan op. Die aand word sy verdoof en verwyder. Tokkie word met ‘n stywerige glimlaggie by die slapende leeu afgeneem..
Leeus by die piekniekplek! In Sabiepark laat hierdie nuus die “bos-telegraaf” gons. Dié nuus trek soos ‘n veldbrand. Mense los alles en stroom rivier toe in die hoop op leeuplesier. Meer as een vangs is al daar waargeneem.
‘n Keer was ‘n groep Sabieparkers nog oor die rivier aan’t tuur toe ‘n wyfie uit die bloute opdaag. Skielik staan sy teenaan die gemesselde tafel waarop ‘n groepie mans, gewapen met verkykers, nekke rek. “Moet ek hardloop?” pers ‘n nuwe intrekker toe benoud deur dun lippe.
Leeus bly maar koning van die bos.