Hy was nog nooit op ‘n 90ste verjaardag nie.  Dus weet hy nie hoe om hom op sy eie te gedra nie. Aan die woord is een van Melkbos se “grand old men” (verskoon tog maar die Engels, Jacko!) wat vandag die 90-baken bereik.

‘n Luimiger, geestiger, spitsvondiger en soms stouter president van die Melkbosse Probusklub (‘n sosiale klub vir afgetredenes), sal jy ver moet gaan soek. Hy – waarskynlik die enigste 90-jarige aan die stuur van so ‘n klub in die land  – stel in dié opsig ‘n standaard. Elke byeenkoms met die rakker in die stoel is ‘n glimlag-ervaring.

Jacko Maree was voorheen prokureur op Ladysmith, later stadsraadslid en nog later LV vir Kliprivier.  In laasgenoemde hoedanigheid het hy ‘n aansienlike rol in die beraadslaginge voor die oorgang tot die nuwe bedeling gespeel.

Toe hy op Melkbos aftree, het hy nie kom stilsit en vir die branders kyk nie. Hy het o.m. as lid van die Stellenbosse Universiteitsraad ‘n aktiewe rol gespeel om Afrikaans aan sy alma mater se posisie te beskerm.

Twee hoogs leesbare boeke het in die tyd uit sy pen verskyn:  die ernstiger ”Kwessies” en die humoristiese “Kinkels en Karakters. In eersgenoemde word sy prikkelende sienswyses oor taal, politiek en die reg nie onder ‘n maatemmer verberg nie.  In laasgenoemde wemel die kleurryke karakters en word min heilige koeie ontsien.

Jacko het hom voorts ontpop as oorwoë meningskrywer in artikels en briewe in koerante …. en in ‘n stadium  as ‘n ridder van die ysterperd-brigade met ‘n kragtige Honda Gold Wing in sy  motorhuis. Hy was toe al verby 75.

Dat hy geblom blom het oor sy indrukwekkende glimswarte, spiksplinternuwe Gold Wing was gewis.

Die gogga het hom gebyt ná die dood van sy vorige vrou Barbi.  Hy is na ‘n instrukteur en was, soos verwag kan word, die oudste in sy klas. Die vorige oudste, het die instrukteur hom meegedeel, was 72. “Op 75 is die meeste motorfietsryers se aftree-ouderdom,” het die instrukteur meewarig bygevoeg.

Saam met Jacko in die klas was ‘n bloedjong dametjie met ‘n parmantige wippie in haar stap en vol sêgoed, asook ‘n jeugdige abandonering van inhibisies. Toe hulle die eerste keer, ná ‘n paar kort instruksies, die opdrag kry “fietse toe” neem sy die gryse Jacko in haar vertroue: “F.k, Oom, nou gaan ons ons gatte sien.”

Die een en ander in Jacko se intieme familie- en vriendekring was nie so vreeslik ingenome met sy nuwe gier nie. Van hulle het gevrees daardie meisie se woorde kan dalk op die ou einde van die dag (ekskuus, Naas) profeties uitdraai.

Maar nee, hy wou, en hy moes en hy het, al is hy uit sy rugbydae as heelagter vir Maties se eerste en tweede spanne in die 50’s al gebrandmerk as ‘n versigtige ou wat nie onnodig, soos die kommentators dit stel, sy lyf op die spel plaas nie.

Sy Gold Wing-era was toe wel ‘n goeie era, ‘n goue era met avontuurlike langafstand-ritte.  Hopelik hou sy skof anderkant 90 vir hom en gade Francis ewe veel avontuur en goud in.

Deel dit: