Alle as is níé altyd net verbrande hout nie. Een soort word by krematoriums uit van die goedkoper soorte doodskiste plus hul inhoud herwin, en as laaste wens, by ‘n hartsplek van die bron van die verbrande materiaal gestrooi. Langs die kus, op ’n berg, in die bos, in die woestyn, op ver paaie – solank aan die bestemming vir die oorledene salige herinneringe gekleef het.

Onder die ongewone wense wat ek al gehoor het, is die wens ‘n gewese offisier in die SA weermag nogal van die ongewoonste. In sy hart het hy die pantserman gebly wat hy in sy uniformdae was. Geen begrafnis vir hom nie, was sy wens. Hy wil dat sy as uit ‘n tenk gestrooi word by die Pantserskool op Tempe, Bloemfontein.  In daardie aarde waarvoor hy so lief was, moet die ander tenks wat heen en weer dreun sy oorskot nog fyner maal en diep-diep in die Vrystaatse stof weg trap.

Sommige voorkeurbestemmings is nie net eksoties nie, maar ook avontuur­lik. ‘n Motorfiets-entoesias, begeer niks anders vir sy as nie as dat dit uit ’n valhelm in die Karoo geskud word terwyl die Harley-David­sons, BMW’s en Gold Wings volspoed bly voortdreun, en Nat King Cole sing “There goes my everything”.

’n Aardse wens van ’n Vrystaatse boer was dat sy as in sy beeskraal gestrooi word. Hy was vir sy Afrikanerbeeste liewer as vir enigiets anders. ’n Kaapse oubaas wou doodgewoon van sy voorstoep na sy ag­terplaas verskuif word, tussen die beendere van sy honde, wat ten minste lojaal aan hom was.

Die  Kruger-wildtuin is ‘n prima-bestemming.  So gewild soos die wildtuin as winter-vakansiebestemmking is, so gewild is dit blykbaar as laaste rusplek. By Lake Panic, gewilde voëlskuiling naby Skukuza, het iemand enkele jare gelede op die houtblad uitgekerf: “What I saw here you could not even imagine.” In daardie selfde hoekie het ek en my vrou, Tokkie, nogal ‘n vreemde verrassing beleef.  Noem dit ‘n “verrassing ná die verassing”.

‘n Familie (drie geslagte) het Oupa se assies op die waters kom strooi. Aandoenlike toneeltjie, al was die kindertjies allermins bedeesd by die gewyde plegtigheid. Darem ook ongemaklik intiem vir onvrywillige teenwoordiges! Later het ek gaan loer waar die kissie leeggemaak is. Die riete se blare was wit van die as.

‘n Ander bos-entoesias se laaste wens was glo om in die vlamme van ‘n vleisbraaivuurtjie in die boskampie Balule, langs die Olifantsrivier, naby Olifantskamp, op te gaan.  Sy mense het dit gerade geag om daardie aand liefs ‘n potjie te maak as om die gewone tjoppie en wors op die kole te gooi.

Die strooi van die as is nie altyd sonder insident of komplikasie nie. Die volgende het regtig met ’n oud-kollega gebeur: Oupa se as moet op Blouberg­strand in die branders gestrooi word. Al die familie is daar, in hul kerkklere. Die kerkklere blyk ’n lastigheid te wees, want dit is juis op daardie tyd hoogwater. Selfs met opgerolde broekspype kom jy dan nie ver nie.

Twee, drie proeflopies word gehou. Die langste naasbestaande kry daarop die sombere taak. Maar hy trap op ’n stuk seebamboes, struikel en verloor sy ewewig. Daar trek Oupa se laaste oorblyfsels met ’n slap bogie tot net voor sy tone.

’n Brander vat dit en begin dit uitstoot strand se kant toe, waar die verga­derde roubeklaers in stilte die seremonie sien skeefloop. Toe kies ’n meisietjie met twee bokstertjies en ’n wit rokkie met bytjies en blommetjies op die voor­pant plassend die hasepad.

“Tjips,” skree sy, “Oupa is op ons!”

Deel dit: