Margaret Nienaber (née Wessels), wenner in 1991, ontvang ‘n ruiker by my. Watter diep spore het sy nie in die bankwese getrap nie!

In snerpende koue in die snerpendste Amerikaanse winter in jare – die “big freeze” het die media dit gedoop – het ek in Januarie 1977 in ons kelderwoonstelletjie in Crimson Court, Cambridge. Massachusetts, ure deurgebring voor die swart plastiekboksie, wat as die Van Deventers se TV-stel moes dien.

Ek was destyds Nieman Fellow aan die Harvard-universiteit, nogal ‘n eervolle status vir ‘n joernalis om te verwerf, maar dis nie juis deur die bankrekening van die verwerwer weerspieël nie. Buiten die komplikasie van ‘n platterige beursie had ons  huisgebondenheid ook ‘n ander oorsprong: my tweedehandse Toyoto Coronoa Merk II-stasiewa (1992-model) was feitlik daardie hele Januarie op sy oop parkeerplekkie onder ‘n berg sneeu begrawe.

Nietemin, ons kyk toe maar op wintersaande TV op elke denkbare kanaal, en kom in die proses uit by ‘n wedstryd vir ‘n Mej. Junior VSA waarin van die kandidate, buiten om mooi te lyk, allerlei dieperliggende kwaliteite geverg word. Jy moes op die skerm jou talent ten toon stel – sang, klavier speel, enigiets. Jy moes in sport jou merk maak. Jy moes as leier na vore kom. Ensovoorts.

Dié opset het my geprikkel, en ek het die idee “vir eendag” in my agterkop gebêre. Daardie “eendag” het gekom toe ek in 1980 redakteur van Die Volksblad word. Dié koerant was in sy gemeenskap hoog geag, maar was tog by ‘n sekere seksie jong lesers as die “vaal Boertjie” bekend – n etiket wat hierdie 39-jarige nie geval het nie. In ‘n breë aksie om aan daardie “vaalheid” te ontsnap, is onder meer die Matrieknooiwedstryd gebore.

Ek is met die Amerikaanse konsep na wyle Wynand Mouton, rektor, en wyle Dawfré Roode, een van sy adjunkte, en hulle het die idee gekoop. Ons sou jaarliks begin soek na top-presteerders met vele fasette, en vir die wenner ‘n aanloklike studiebeurs gee. Bankovs het groot aan boord gekom; later ook Absa, Phoenix Motors en ander.

Mettertyd  seuns bygehaak – die soektog is uitgebrei tot die Matrikulant van die Jaar, en verskeie wenners is van die skeermes-garde. Daaroor het ek my eie (bevooroordeelde) sienswyse – ‘n mooi matriekmeisie is altyd mooier as ‘n matriekseun! – maar ek verstaan die rasionaal. Suid-Afrika het baie verander van 1980 af, toe knap meisies nie juis met beurse oorval is nie.

Miskien klink dit onbeskeie, maar ek voel nogal groots oor wat deur die jare van die Matrieknooiwedstryd geword het, en veral oor die ongelooflike massa intelligensie, talent en ander voortreflikhede wat die koerant en sy vennote deur die jare daarmee ontbloot en openbare erkenning laat kry het

Daardie boompie wat ons 45 jaar gelede geplant het, het inderdaad geil gegroei. Dat dit steeds bestaan, ondanks Die Volksblad se sware lot, getuig seker dat die wortels gesond gevestig is. Eer en dank aan die res van die span boompieplanters, en eer en dank aan diegene wat die boom in latere jare natgelei en sorgsaam vertroetel het.

Ek lees in Die Papier dat Novus Media nou as nuwe mediavennoot toetree. In Die Papier self en in Nova News se 36 gratis gemeenskapskoerante landwyd, asook op Nova News se webblad, gaan ons boom nou verder groei.

Hoe dankbaar is ek as “Vader van die Matrieknooiwedstryd” nie oor die nuwe aarde waarin die boom sy wortels kan sprei nie.

Mag die Matrikulant van die Jaar-wedstryd se toekoms so mooi wees soos sy verlede. Kan ook net hoop die nuwe borge gaan dieselfde enome vreugde as ons baanbrekers uit die promosie put.

 

Deel dit: