Ellispark is in die geheue van hierdie rugby-entoesias van langer as 70 jaar al sedert 1958 diep ingekeep.Op Ellispark het ek as Tukiestudent die eerste keer deurnag tougestaan vir ‘n staanplekkaartjie vir ‘n toets, op Ellispark het ek die eerste rugbytoets in my lewe bygewoon, op Ellispark het ek die eerste keer die Springbokke teen die All Blacks sien speel en op, Ellispark het ek daardie onvergeetlike verowering van die Wêreldbeker in voetestampend op die hoofpaviljoen meegemaak.
toustanery was vir die toets teen die Franse in 1958 – ook my heel eerste toets as toeskouer. Die Bokke het verloor 9 – 5. Maar was ek trots om my oud-onderwyser op Volkies, Potch, Johan Claassen, voor te sien opdraf as kaptein.
In 1960 was ek daar vir die toets teen die All Blacks wat die Bokke die keer gewen het, 13 – 0. Die linkervleuel, Hennie “Houtperd” van Zyl, met die nommer dertien op sy rug het sy een drie sommer vlakvoor my kom druk.
Legendariese oomblikke was dit in 1995 toe Joel Stransky se skepskop in die doodsnikke die Wêreldbeker huis toe bring – Springbokke 15, All Blacks 12. Wie sal die Boeing vergeet wat laag oor die vol paviljoene heen skeer? En wie vir Nelson Mandela in sy Springboktrui met die nommer 6 op sy rug?
Van 1974 tot 1980 was ek by Beeld en ons kantore ‘n klipgooi van die ikoniese veld. Baie middae is in die restaurant in die paviljoen gaan beesstert eet. Ellispark was toe ‘n Meneer van ‘n stadion met ‘n reputasie soos min.
Mettertyd het die skares begin kleiner word. Op die TV-skerm moes ek aanskou hoe toeskouer getalle dramaties bly krimp. Soms sit net ‘n handjie vol hier en daar – ‘n vernedering vir die Leeus as hulle hul opwindende hardlooprugby so voor rye leë sitplekke moet speel.
Nou kom Saterdag se toets teen Engeland en die nuus uit die noorde is droef. Kaartjies verkoop maar vrot. Dis te duur, dis te dit, dis te dat. Selfs die oorlog in Iran word geblameer, sien ek. Ja, daardie Trump-vent neuk mos als op!
Kan dit waar wees dat ons Saterdag gaan skaam kry oor die gapende rye oop stoele? Wag op die Engelse wat vol Twickenhams gewoond is, ‘n onaangename vreemde ervaring as hulle uit die tonnel kom? Gaan ons noordelike broers en susters werklik die Springbokke en hul land so in die skande steek?
Swak, Piketberg, as dit moet gebeur