‘n Aangename stukkie koerantgeskiedenis raak in aansluiting by Sondag se viering van Afrikaans 100 by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein opnuut betekenisvol.
Ek verwys na ‘n spesiale buiging na Afrikaans van die dagblad “Rand Daily Mail” op 29 Mei 1959, ‘n jaar van landwye “Wonder van Afrikaans”-vierings.
Op die dag was die plakkaat van hierdie Engelsste van alle destydse Engelse koerante in Afrikaans. “Vandag praat ons Afrikaans”, het dit gulhartig gelui. In ‘n berig onder aan sy voorblad het gestaan: “Vandag lewer ons bewys dat in hierdie ou jingo-nessie in Mainstraat se wệreld ons ook Boere is.”
Die hoofartikel van die “RDM”, die blad se akroniem, was ook in Afrikaans, met ‘n Engelse vertaling daarby.
In hierdie demonstrasie van taal-welwillendheid is ‘n boodskap vir Gayton McKenzie en sy departement van sport, kuns en kultuur opgesluit. Hoe hoog ‘n mens ook al sy rol by die fees in die Vrystaat op die prys stel, sou ‘n uitnodiging in Afrikaans net in elke opsig prysenswaardiger gewees het.
Om iemand of ‘n instansie in sy eie taal te eer, verleen immers aan jou vriendelike gebaar ‘n wesenlike tikkie groter innigheid en geloofwaardigheid.
Dat die departement sy algemene besigheid eentalig in Engels doen, is in die Suid-Afrika van vandag geen verrassing nie. Vertaaldienste is egter oral beskikbaar. Baie sou die werkie dalk sommer pro amico wou verrig.
Ek voeg graag by dat ‘n mooi taalgesindheid nie net van een kant gekom het nie. Met die sluiting in 1985 van “The Friend”, Engelstalige oggendblad in Bloemfontein, het “Die Volksblad” hom in ‘n Engelse sub-hoofartikel gegroet. Na die Engelse gemeenskap is ook uitgereik in ‘n advertensie in hul koerant met die boodskap “You still have friends”.
Verskoon my dat ek die brokkie onbeskeie oprakel, maar as Volksbladman is ek nogal trots daarop, soos die “Mail” op sy Afrikaanse saluut van 29 Mei 1959 trots kon wees.
Die Departement van sport, kuns en kultuur het die kans verbeur om dieselfde lekker gevoel van trots te ervaar.
(Die kommentaar verskyn vandag ook as leserbrief in Die Burger en op Netwerk24.)