Met die herbeelding van Emily Hobhouse se staatsbegrafnis by die Vrouemonument is mense deur die ouwêreldse plegstatigheid meegevoer. Die waardige gebeurde in Bloemfontein het my joernalistieke geheue geprikkel oor ervarings by begrafnisse in ‘n lang loopbaan – nie almal ewe stigtelik, waardig en eerbiedig nie.

Die herinneringe verskyn vandag in Rapport op Netwerk24 by die skakel: www.netwerk24.com/stemme/aktueel/hennie-van-deventer-graf-chaos-jammer-ons-moet-die-lyke-terugruil-20261114-0998

*******                                

 Een kis was te kort, ‘n ander was te lank. Twee het onderstebo in ‘n graf getuimel toe die dra-band breek. En dan,‘n resep wat chaos waarborg, is natuurlik wanneer ingryping deur ‘n moedswillige ruilduiwel kort voor die teraardebestelling ontdek word.

‘n Begrafnis vind hoeka in somber omstandighede plaas, en die verwagting is dat dit ‘n eerbiedige afskeid  van die ontslapene moet wees. Dan gebeur soms die onvoorsiene. In ‘n koeranteverbintenis van langer as vier dekades het ek nogal ruim van laasgenoemde beleef.

Vroeg in my loopbaan hoor Herman le Roux, bekroonde sportredakteur van Die Volksblad en later ook van Beeld, by sy barbier in Bloemfontein van ‘n lyk-omruilery wat twee Vrystaatse begrafnisse 100 kilometer uit mekaar ontwrig het. Van die nuusredakteur kry ek ‘n briefie: “Boeta, hier’s ‘n lekker storie vir jou.”

Die geskokte families wou ‘n sluier oor die pynlike gebeure trek. Uit ‘n brokkie hier en ‘n brokkie daar (ook in Winniedorp, die toenmalige Brandfort, se kroeg) het die nat-agter-die-ore-verslaggewer egter ‘n soliede voorbladstorie gebou.

Vreemde lyke is in die twee kiste ontdek toe geliefdes wou afskeid neem. Dringende oproepe het tussen Brandfort en Trompsburg heen en weer gevlieg. Oplaas was daar twee lykwaens se jaagtog uit verskillende rigtings terwyl die geskokte roubeklaers wag.

Kort daarna  is drie volwassenes en drie kinders naby Parys in ’n motorongeluk gedood. Ek en ‘n fotograaf (Willem van der Walt) was op Klerksdorp met ’n ander opdrag, maar moes alles los en Parys toe afsit.

Vir die begrafnis op Sasolburg was drie vars grafte langs mekaar gereed. In elkeen sou een groot kis en een klein wit kissie begrawe word. Toe gee die band onder een van die kiste mee. Met ’n slag stort dit onderstebo in die gat, en tuimel bo-op die klein witte.

Pandemonium. Geskokte familielede is gillend agterna om die kiste te herwin. Waar is Willem? Dit was my eerste gedagte. Kommer was onnodig. Willem was op die rand van die ongeluksgraf. Aan die linkerarm had hy die slap lyf van ’n familielid wat flou geword het, in ’n stewige greep. In sy regterhand was sy kamera. Maar sy vinger op die sluiter het oortyd gewerk. Sy foto’s was grafies.

Vir die begrafnis van ‘n eerbiedwaardige inwoner van Bloemfontein – ‘n buitengewoon lang man – was glo ‘n verstelling op die nippertjie nodig om ‘n ekstra paar sentimeter aan beenruimte te wen. Met sy troupak 50 jaar tevore het dieselfde gebeur, is agterna gefluister.

‘n Boer van Odendaalsrus se probleem was net mooi die teenoorgestelde.  Hy was te kort vir sy kis.  Gelukkig was hy ‘n lid van ‘n boekklub en het elke maand sy boek oor die pos gekry. In sy plaaswoning was rakke en rakke vol boeke. Van sy boeke is toe by sy voete gepak om te keer dat sy oorskot rondskuif op pad graf toe.                              

In 1971 is dr. Albertus van Rhyn in Bloemfontein oorlede. Ek was nuusredakteur. Die redakteur, Bart Zaaiman, het oor my skouer kom loer dat ons die oud-redakteur se dood nie afskeep nie. Al wat leef en beef by Die Volksblad is opgekommandeer om ná werk sy roudiens in die NG gemeente Berg-en-Dal by te woon.

Die besoekende leraar, ’n ds. Louw, laat toe ons ore tuit deur  aaneen na die ontslapene te verwys as Gerhard van Rhyn – Albertus van Rhyn se seun wat in lewe regter-president in Noord-Kaapland was. Dat die verkeerde man as ’t ware  begrawe word, was verstaanbaar veral ongemaklik vir regter Gerhard wat in die voorste gestoelte al hoe rooier en rooier van aangesig geraak het.

 Nie net name word vergeet nie. ‘n Keer is die oorledene by die huis op ‘n koffietafel vergeet –  die kissie met sy as, bedoel ek. ‘n Seun  moes haastig huis toe, terwyl die orrel speel en speel.

Voor die kansel in die NG moedergemeente Ermelo by die gedenkdiens vir my studentevriend Vos Grey is ‘n hospitaalbed geplaas. Daarop het sy seun Jan – in ‘n korset weens ernstige rugbeserings na ‘n motorongeluk net voor sy pa se beroerte – die diens meegemaak, met sy pa se kis by sy voete.

Geklee in ‘n swart pak het hy saam met sy ma, Magdaleen, en die familie skuifelend die kerk binnegekom en tot voor in die mooi kerk gestap waar hy op die bed gehelp is. Met die sing van ”Genade onbeskryflik groot” en die ”Onse Vader” het hy orent gebeur en deur sy trane staande saamgesing. Hoe het ons nie, diep aangedaan, die man, ‘n latere Boer van die Jaar,  bewonder vir sy moed nie.

Drie staatsbegrafnisse het onverwagte kamees opgelewer wat dit in my herinneringe vasmessel.

Die minister van posterye en Vrystaatse leier van die Nasionale Party, Matthys Cornelis Grové Janse (Basie) van Rensburg (pa van die spanningskrywer Rudie) is op Vrydag 13 November 1970 in Bloemfontein begrawe. By Die Volksblad was dinge haarfyn georganiseer om op nommer 99,9 ‘n groot voorbladfoto in te glip van die kis wat uit die Tweetoringkerk  gedra word. Dit sou demonstreer hoe vars die nuus is.

Toe die koerant verskyn, staan in die onderskrif: “Hier kom die kis by die kerk aan”.  O wee. ‘n Hele uur is verniet gewag. Die skuldige, ‘n uiters betroubare man, was verleë en boetvaardig, maar sy fout was onomkeerbaar. Die drukkersduiwel loer maar altyd oor die skouer.

Op 16 Julie 1982 is mnr. C.R. Swart, eerste staatspresident,   in die Vrystaatse hoofstad gegroet: die diens was ook in die historiese Tweetoringkerk en teraardebestelling in die helde-akker in die Pres. Brand-begraafplaas op die hoek van Presidentlaan en Oliver Tamboweg (voorheen Kerkstraat), waar pres. Jan Brand (“alles sal regkom as elkeen sy plig doen”) van die Vrystaat ook rus. (Dit het later ook die laaste rusplek van presidente Jim Fouché en Nic Diederichs geword.)

Met die begrafnis verby, is mev. Nellie Swart – die ontvanger van ’n eredoktorsgraad van die UV vir haar sjarmante uitvoering van haar pligte as presidentsvrou – in die Universitashospitaal in die stad opgeneem. Sy ontbied toe die redakteur na waar sy, ’n siek bondeltjie mens, in haar hospitaalbed lê om ’n gepaste dankwoord aan die volk te kom haal.

Uit piëteit en ter wille van die goeie vrede laat hy hom die “royal command” welgeval. Die berig is die volgende dag op die voorblad. Daarna ontvang hy weer ’n oproep. Tant Nellie wil weer met hom praat. Hy ry maar weer hospitaal toe om te hoor wat dan nou, en tref haar ongelukkig en ontsteld aan.

Met bewende vinger wys sy na die opskrif: “Mev. Swart bedank volk”. “Hoekom is daar nie ’n ‘die’ voor die ‘volk’ nie?” Nou kan mense misverstaan wie sy wou bedank! (Woorde soos ‘plaasvolk’ was toe nog in orde.)

Na die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 was ‘n beroerde volk se oë intens gerig op sy staatsbegrafnis op Saterdag 10 September in Pretoria. Tientalle ratte moes perfek draai om die begrafnis in die Sondagkoerant Die Beeld behoorlik te dek. Dié is destyds in Johannesburg, Kaapstad en Bloemfontein gedruk.

Ter sprake is drie bedrewe motorfietsryers, ‘n helikopter, ‘n span verslaggewers van wie een inderhaas ‘n gebou moes uitklouter en nog een wat deur die Veiligheidspolisie gegryp word, asook, oplaas, ‘n rooi Mustang wat met ‘n kosbare pakkie foto’s oor die Vrystaatse vlaktes skeer.  Dit het al die bestanddele bevat vir ‘n ramp … of ‘n triomf.

My eie rol was klein. Ek het senuweeagtig die foto’s in Bloemfontein ingewag en daarna so vinnig as wat ek kon volgens opdragte uit Johannesburg gehanteer. Nogtans is die herinnering een van opwinding en die gevoel van adrenalien wat met ‘n boog spuit.

Naskrif: Wanneer die telefoon by die koerant lui, kan dit een van duisende dinge beteken: ‘n opgewonde vader wat die geboorte van sy eersteling wil aankondig, ‘n ramp, ‘n scoop, ‘n pluimpie, ‘n dreigement – selfs die somber mededeling dat die lewe vir iemand te veel geword het.

So ‘n traumatiese oproep het Susie Terblanche, eggenote van die nuusredakteur, Gert, in die vroeë 50’s ‘n middag om vyfuur ontvang. Al die inkomende oproepe ná vyf in die middag is destyds outomaties na hul huis deurgeskakel.

Oudergewoonte antwoord sy: “Volksblad hier”. Die stem is gejaagd. Hy sê sy is die laaste mens met wie hy sal praat en hierdie is die laaste versoek wat hy ooit sal rig. Hy staan met ‘n bottel miergif in die hand en hy gaan dit nou drink.  Hy wil net vra dat die nuusredakteur tog môre sal skryf hoekom hy sy lewe geneem het. Dit is alles sy skoonouers se skuld.

Sy praat mooi en probeer hom paai. Ten einde laaste belowe sy:  sy sal die boodskap gee. Toe raak dit doodstil. Dan ‘n geluid: die gehoorbuis wat in ‘n telefoonhokkie heen en weer swaai en tak, tak, tak teen die muur kap.

Die volgende dag hoor Die Volksblad by die polisie die hele  storie. Net ná vyf is hulle ontbied na die Hotel Bloemfontein in Maitlandstraat. ‘n Man het in ‘n telefoonhokkie miergif gedrink..

Mev. Terblanche was vreemd geroer deur die oproep. Sy gaan met ‘n kransie na AVBOB en vra dit moet op die man se kis kom. Aan die krans is ‘n kaartjie: “Ek het jou boodskap gegee.”

Deel dit: