
Die span op Melkbos se trappies met Tokkie se 80ste. Bykomend is skoonsuster Maretha van Wyk, links agter langs HvD, en Thomas se vriendin, Danielle Claassen, (sic), links voor langs hom.. Afwesig is Migael. Hy maak ondertoe sy solobuiging. Fotograaf: Thomas Claassens.
Liewe vriende
‘n Jaar met vele bakens snel verby: HvD se 85ste verjaardag, TvD se 80ste en die VanD’s se 60ste huweliksherdenking op 31 Desember. Vir Tokkie se 80ste is ‘n feesboekie saamgestel met mooi en liefdevolle hulde uit allerlei oorde, tot ’n skoolmaat en ‘n meisietjie uit haar eerste standerd-een-klas in 1966. Laasgenoemde onthou haar as die “mooiste juffrou”.
Ons kyk op die jaar 2026 terug met dankbaarheid vir genade onbeskryflik groot, gesondheid, durende lewensvreugde, plus-minus ons 55ste salige Sabieparkbesoek en heerlike ure op ons bankie langs die see, wyntjie in die hand.
Met Sabiepark is ‘n nuwe era betree. Die volgende generasie slaan nou die kitaar. Marisa het oorgeneem as “main konyn” in Wildevylaan, met Brent se beursie en kundigheid as nuttige hulpmiddels. Die Honda staan nou in Sabiepark. Volgende keer vlieg ons sommer Skukuza toe en land as’t ware by Tarlehoet se voordeur.
In ons woonstel op Melkbos is nuwe huurders. Sean en Esmè le Grange is ná 10 jaar weg en Mike en Hildegard Martin het ingetrek. Ons ruil ons Comrades-veteraan vir ‘n perdeman wat al op die rug van ‘n Julywenner was.
Geen nuwe boek het uit HvD se pen gekom nie, wel tientalle artikels en briewe in Die Burger, By, Rapport, Bruis, Plus50 en Platteland. ‘n Brief aan Platteland is aangebied op ‘n volle blad met drie foto’s – ‘n biezondere aangenaamheid vir die rustelose outeur.
In die nimlike Platteland is ook weer ‘n slag iets gewen ná ‘n lang droogte: ‘n hele piramide van twee dosyn fraai flessies met ingemaakte heerlikhede uit Robertson (Elana’s) vir ‘n kort stukkie oor Sabiepark.
‘n Spesiale okkasie vir ons was ‘n naweekbesoek van Jacob se stranddiensgroep uit Stellenbosch – maar net 22 studentesiele. Meubels is uitgedra en matrasse oopgerol.
In die nuwe jaar is ek en Tokkie 30 jaar lidmate van die NG kerk Melkbosstrand. Die Vrystaat lê ver terug op ons pad.
In verskeie opsigte was 2026 ook vir ons ons kinders en kleinkinders ’n bakenjaar.

Migael, die ruiter.
‘n Einde van ‘n era breek op George aan wanneer Mariza ná 10 jaar van toewyding en baanbrekerswerk die Legacy Centre se deure sluit. Die fokus vorentoe val dan op die Oudtshoornprojek waar Migael se “boerdery” fluks vorder. Bome raak groot, groente lewer oeste en ‘n bulkalfie dra nou by tot die diereverskeidenheid.
Die gesellige stoep in Raubenheimerstraat is ‘n kuierplek soos min en Johan ‘n entoesiastiese braaier. Migael vind vreugde uit o.m. perdry en legkaarte.
By die gesins Claassens is Jacob se “driekuns” vir die jaar veral vermeldenswaardig: sy graad (B.Comm.), die beleggings-kwalifikasie CFA (eerste vlak) en ‘n medalje op die Ystermankompetisie op Mosselbaai .
Thomas se primariusjaar by Eendrag het goed verloop. Hy durf in 2027 die finaal jaar van sy taai kursus, B. Rek. LL.B., aan. Christopher gaan matriek toe – presies 70 jaar na sy oupa Hennie in 1957. Hulle twee is die eerste en die laaste matrikulante in ons geledere.
Die arme ou moes eksamen skryf met ‘n morsaf sleutelbeen ná ‘n bergfietsongeluk – ‘n uitdagende sport wat oupa en ouma maar laat hart vashou.
Uit Penguin Place 11 ons innige Kerswense vir een en almal. Nie een van ons word jonger nie, soos verskeie sterftes en ongesteldhede onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut onderstreep het. Kom ons leef elke dag voluit, koester vriendskap, ondersteun mekaar en geniet mekaar se geselskap solank dit moontlik is.
Ons Nuwejaarswense kom weer uit Psalm 72, soos enkele jare gelede:
Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.
Hennie & Tokkie
25 November 2026